Brooklyn Nine-Nine is, sonder twyfel, een van die beste TV-komedies nog. Dit is ook, soos Parks & Recreation, en Schitt’s Creek, een van daai komedies wat eers in latere seisoene deur meer kykers ontdek is. Teen sy laaste asemteug het dit kultstatus bereik.
Dan Goor, ook die skepper van die bekroonde en briljante The Good Place, het met die reeks dit reggekry om ernstige temas met ’n kombinasie van genialiteit (ja, regtig), oorspronklikheid en lawwigheid te laat tref.
In kort draai dit om die speurders van ’n Brooklyn-polisiekantoor (spesifiek, soos die titel aandui, die 99th precinct). Dis juis die karakters – tesame met die akteurs wat hul nommerpas vertolk – wat jou bakkies kielie.
Onder leiding van kapt. Raymond Holt (Andre Braugher) moet Jake Peralta (Emmy-wenner Andy Samberg), Rosa Diaz (Stephanie Beatriz), Amy Santiago (Melisssa Fumero), Terry Jeffords (Terry Crews), Charles Boyle (Joe Truglio), en die onafskeidbare lamsakke Hitchcock (Dirk Blocker) en Scully (Joel McKinnon Miller) dié deel van Brooklyn se boewe vasstrek.
Die sake kan soms absurd wees, óf geweldig relevant – soos as ’n saak van seksuele teistering op Amy se lessenaar beland midde #MeToo. Dis egter áltyd vol weldeurdagte kinkels met geëwenaarde humor.
Die agtste en laaste reeks van die Emmy-bekroonde komediereeks het ’n punt van 89% op die resensiewebwerf op Rotten Tomatoes, met die kritici se konsensus wat lui: “Brooklyn Nine-Nine spreek groot kwessies in ’n gepaste, ingewikkelde finale seisoen aan, om sodoende, sonder om humor prys te gee, die oomblik in ag te neem” (met betrekking tot die konflik oor onder meer polisiegedrag in New York en die res van die VSA).
Seisoen 8 is pas op Showmax beskikbaar en nou kan jy die volle reeks, S1-8, binge.
John Wayne Gacy: Devil in Disguise
John Wayne Gacy: Devil In Disguise volg die koelbloedige verhaal van een van die wêreld se mees berugte reeksmoordenaars. Wat dié dokumentêre reeks van vele ander onderskei – want, ja, die ware misdaad-genre bereik ’n versadigingspunt – word vertel deur Gacy self. Daarmee saam sluit die reeks ook die vertellings van dié in, wie se lewens onherroeplik deur Gacy se moordadigheid verander is.
Die regisseur is Rod Blackhurst, wat ook die prysenswaardige Amanda Knox se regie behartig het, en ’n soortgelyke aantrekkingskrag vestig ’n atmosfeer waarin jy as kyker vasgevang word.
Die sesdelige dokkiereeks bevat ure se onderhoude met die moordenaar – meeste van dié beeldmateriaal is nog nooit vantevore gesien nie. Dit is, op ’n sekere vlak, steurend om nou na hom te luister, sowat vyftig jaar ná die moorde. En dan is daar ook nuwe vrae wat geopper word, insluitend of iemand anders dalk ’n rol in die moorde van Gacy se 33 slagoffers gespeel het. Soos met Amanda Knox, word die kyker tot op ’n plek van onsekerheid geneem wat selfs feite laat verdof.
Die dokumentêre reeks het ‘n 100% kritici-gradering op Rotten Tomatoes.
Op Showmax vanaf 4 Februarie.
The Tinder Swindler
The Tinder Swindler vertel die storie van ’n kamma-miljardêr wat sy lyf playboy op Tinder gehou het. Maar dit draai toe uit hy is allesbehalwe, en ’n groep vroue neem hul voor om dié liegbek te laat boet nadat hy hulle van miljoene beroof het.
Die dokkie-film het ’n punt van 100% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes met die topresensent Kevin Maher van The Times (UK) wat dit as die “Jaws van dokumentêre films oor internet-dating” beskryf het.
Dit begin as Cecilie met dié aantreklike vabond op die dating app, Tinder, match – sy kan amper nie haar geluk glo nie. Dís mos die man van haar drome! Helaas – as sy uiteindelik ontdek hy is glad nie die suksesvolle internasionale sakeman waarop sy haar hart verloor het nie, is dit te laat. Hy is vort met alles wat sy gehad het.
Cecilie ontdek dan sy was nie sy enigste teiken nie en dié vroue span dan saam om wraak te neem en hom voor die hof te bring.
Die meesleurende dokkie is deur dieselfde span wat die briljante The Imposter en Don’t F**k with Cats, gemaak het. Paste Magazine het juis gewys op die “frenetiese energie” wat The Tinder Swindler met Don’t F**k with Cats deel.
Stroom nou op Netflix.
Kyk ook:
C.B. Strike: Lethal White
Hierdie misdaadreeks is gegrond op die vierde boek in J.K. Rowling se Cormoran Strike-reeks oor dié privaatspeurder en sy vennoot, Robin Ellacot, se ondersoeke.
Rowling skryf die boeke onder die skuilnaam Robert Galbraith.
Strike: Lethal White volg Strike se ondersoek na die moontlike rituele moord van ’n jong meisie jare gelede nadat hy deur ’n man met ’n geestessteurnis genader word.
Terselfdertyd gaan Robin undercover om die afpersing van ’n parlementslid te ondersoek.
Stroom nou op Showmax.
Lees ook
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →