Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir Desember.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Harry & Meghan
In dié in-diepte dokumentêre reeks deel die hertog en hertogin van Sussex ’n intieme, dikwels roerend en soms skokkende blik op hul hoëprofiel-liefdesverhaal. Oor die loop van ses episodes sien die kyker alles van die vroeë dae van hul hofmakery tot die latere uitdagings wat gelei het tot hul besluit om ’n tree of 20 van die eeue-oue koninklike instelling te vat.
Die reeks sluit gesprekke met vriende en familie, asook kommentaar van geskiedkundiges in wat die ongemaklike status quo van die monargie in vandag se wêreld uiteensit. Daar word ook onder meer gekyk na die koninklike familie se verhouding met die pers. Dís juis deels dié vergiftigde verhouding, sê Harry, wat sy ma, wyle Prinses Diana, uiteindelik haar lewe sou kos. Diana is in 1997 ná ’n hoëspoedmotorongeluk in ’n tonnel in Parys dood nadat haar voertuig deur paparazzi op motorfietse gejaag is. Dis ’n herhaling van die hartseer, van dié duurste prys, wat Harry wou verhoed, kom dit in die dokkie deur. Daarom het hy en Meghan van voltydse rolle in monargie afstand gedoen.
In die breë is dit egter nie ’n dokkie oor twee van die beroemdste mense in die wêreld nie. Eerder oor die onderliggende waarheid dat ons wêreld, en al die verskillende samelewings wat daarin dobber, te lank al by ’n kruispad verkeer. Ons behandel mekaar nie met genoeg respek, omgee of sorg nie. Ons is vuil van vooroordeel en veragting. Harry en Meghan is, so bekend soos hulle is, in die groter prentjie ’n blote voorbeeld van wat gebeur as ons deur ons slegste en selfsugtigste impulse gelei word. Dis wat gebeur as kilheid bo kindness seëvier.
Natuurlik gaan almal ’n eiertjie oor die dokumentêre reeks te lê hê. En dis nou maar so dat Harry & Meghan etlike nuwe kyk-rekords vir Netflix gaan opstel. Dalk breek die internet soos destyds met daai foto van Kim K. Ek sou geld daarop sit.
Die bekroonde Liz Garbus is die regisseur. Verwag daarom iets besonders wat die visuele en estetiese samestelling van die vertelling betref. Garbus het met vorige projekte, waaronder as regisseur op The Fourth Estate en Love, Marilyn, en as uitvoerende vervaardiger op Britney vs Spears en I Am Vanessa Guillen, ’n kenmerkende visuele styl ontwikkel wat dit regkry om aan die onderwerp vas te klou sonder om dit te aanbid.
Vanaf 8 Desember op Netflix beskikbaar.
Blindspotting S1
Blindspotting is reeds vir ’n tweede seisoen hernu, so jy kan jouself maar in die verhaal verdiep.
Die reeks volg op die bekroonde en gelyknamige fliek wat in 2018 vrygestel is. Die storie draai om ene Ashley wat ’n chaotiese dog snaakse (’n mens moet lag anders gaan jy huil, of hoe?) eksistensiële lewenskrisis ervaar as haar lewensmaat, Miles, skielik agter tralies beland. Sy en hul 12-jarige seun het dan geen ander heenkome as om by Miles se ma en halfsuster in te trek nie. Die reeks is bestaande uit agt episodes en is deur Daveed Diggs (Snowpiercer) geskep. Die akteurs wat Miles en Ashley in die fliek gespeel het, beliggaam weer die karakters in die reeks. Rafael Casal vertolk Miles en Jasmine Cephas Jones (Hamilton) speel Ashley.
Blindspotting het ’n punt van 100% op Rotten Tomatoes. Die kritici se konsensus lui: “Blindspotting is die seldsame verwerking wat bo die bronmateriaal verhef is… Dit is ewe snaaks as aangrypend, terwyl dit die ongelooflike ensemble – gelei deur die boeiende Jasmine Cephas Jones – baie ruimte gee om uit te blink.”
Stroom dit vanaf 14 Desember op Showmax. Die fliek-weergawe is ook op Showmax beskikbaar om te stroom.
Lookism
Dié anime-reeks is ’n verwerking van die gelyknamige en gewilde Webtoon-animasiereeks wat sedert die 2014-debuut miljoene aanhangers opgebou het. Die reeks, in die oorspronklike Koreaans met Engelse onderskrifte, se premis is immers tydig en relevant in ’n samelewing wat ’n premie op die uiterlike plaas. Die protagonis is ’n hoërskoolleerder wat nie inpas nie. Hy lei ’n dubbelle lewe soos hy tussen twee verskillende liggame – wat as’t ware die teenoorgestelde van mekaar lyk – ruil.
Vanaf 8 Desember op Netflix.
Ook deel van my redakteurskeuse vir Desember:
The Witcher: Blood Origin
Blood Origin is ’n voorverhaal wat in ’n elwewêreld sowat 1200 jaar voor die gebeure van The Witcher afspeel. Dit vertel die storie van hoe sewe uitgeworpenes se wraaktog teen ’n haas onstuitbare mag tot die skepping lei van ’n soort “prototipe” van die Witcher wat ons dan later leer ken. Só ook bring dit die samevoeging van die verskillende wêrelde – van monsters, die mensdom en elwe – mee.
Die rolverdeling sluit sterre soos Minnie Driver en Sophia Brown, asook die ikoniese Michelle Yeoh in.
Die reeks bestaan uit vier episodes en is vanaf 25 Desember op Netflix beskikbaar.
Guillermo del Toro’s Pinocchio
Een van die geliefste, heerlik donker verhale word deur ’n sorgvolle hand in ’n gesaghebbende, betowerende pragtige film omskep – ons verwag egter niks minder van die briljante Guillermo del Toro (Pan’s Labyrinth, The Shape of Water) nie.
Del Toro se verwerking van Pinocchio het ’n punt van 97% op Rotten Tomatoes. Die resensente se konsensus lui: “Guillermo del Toro se Pinocchio doen sy titel ten volle gestand – bedoelende dit is ’n visueel verstommende verwerking wat sy bronmateriaal se donkerte omhels.”
Onder die stemkunstenaars tel Tilda Swinton, Ewan McGregor, Cate Blanchett en Finn Wolfhard. Die stop-animasie is deur die legendariese Mark Gustafson behartig.
Vanaf 9 Desember op Netflix. Hou dop vir Riëtte van der Wat se resensie wat binnekort verskyn.
Brian Wilson: Long Promised Road
In Brian Wilson: Long Promised Road neem dié legendariese medestigter van die Beach Boys die kyker op ’n meevoerende en intieme reis deur sy loopbaan soos hy sy herinneringe en stories met die Rolling Stone-redakteur, Jason Fine, deel. Fine is ook een van Wilson se jare lange vriende, wat help om die vertelling meer natuurlik te laat vloei. Die gesprek tussen die twee word afgewissel met argiefmateriaal van die groep se opnamesessies. Daar is ook home videos wat jou regtig ’n onopgesmukte blik op die Wilson-familie gee.
Daar is ook onderhoude met kunstenaars wat deur die ikoniese Beach Boys beïnvloed is… Of bloot net, soos miljoene mense wêreldwyd, deur Wilson as misunderstood musikale genie stomgeslaan is. Dit sluit bekendes soos Elton John, Bruce Springsteen, Nick Jonas, Taylor Hawkins en Jakob Dylan in. As jy enigsens kennis dra van Wilson se persoonlike tragedie en trauma wat agter-die-skerms van die Beach Boys-roem afgespeel het, weet jy dié dele van sy storie is amper absurd. Dis real life ervarings waarby fiksie nie kan kers vashou nie.
Die dokkie het ’n punt van 89% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes. The Hollywood Reporter meen dit is eweneens “’n portret van vriendskap en liefde soveel as wat dit oor musiek gaan”.
Beskikbaar om te stroom vanaf 15 Desember op Showmax.
Nog aanbevelings
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →