Menu terloops
In Wat om te kyk [1 Des 2022]

Wat om te kyk op Showmax in Desember 2022


Wat om te kyk op Showmax vandeesmaand: Rassie Erasmus se opgang in die rugbywêreld in ‘Rassie: The Offical Film’; ‘Alles Malan’ se tweede seisoen; die finale aflewering van die epiese fantasiereeks ‘His Dark Materials’; tienerdrama ‘Tell Me Everything’ en nog meer.

Wat om te kyk op Showmax in Desember 2022

Wat om te kyk op Showmax in Desember – hier is ons top-keuses.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

Rassie

Rassie: The Official Film neem die kyker op reis saam met voormalige Springbok – en later Springbok-afrigter en nou direkteur van SA Rugby – Rassie Erasmus, soos hy sy lewe en loopbaan in oënskou neem. Ons sien eers die wêreld deur die oë van jong Johan (Rassie se doopnaam) soos hy tydens apartheid in Despatch grootword en op die rugbyveld uitblink. Later word hy Springbok en later nog word hy ’n rugbyafrigter wat veral vir sy reguit, prontuit benadering op en af die veld, asook sukses op die telbord, bekend geword het.  

Dié film het – soos ’n rugbywedstryd – ’n speeltyd van 80 minute waarin Rassie die sukses én uitdagings in sy loopbaan blootlê. 

Stroom vanaf 16 Desember op Showmax Pro en vanaf 23 Desember op Showmax. 

Kyk ook kortprent Life Lessons from Rassie Erasmus, en die dokkies Chasing the Sun en Two Sides op Showmax. 

Afrikaanse flieks: Beurtkrag & Vlugtig

Showmax se aanbod van Afrikaanse stories raak al groter – veral soos al meer nuwe flieks op dié platform beskikbaar word. Twee uitstaan-flieks wat vandeesmaand nuut is, het op vanjaar se Silwerskermfees hul debuut gehad: Beurtkrag en Vlugtig.

Beurtkrag, met die getroude paartjie Donnalee Roberts en Ivan Botha, se regie is deur die bekroonde filmmaker, Jozua Malherbe. Malherbe, veral bekend vir sy werk op Griekwastad en Bloedbroers, lei sy akteurs met empatie. Hy skep só ’n verhaal waarmee ’n mens op al die beste – en hartseerste – maniere kan aanklank vind.

Die storie draai om Jasper (Botha) en Fransie (Roberts) wat uit die staanspoor baie verskil, maar saam intrek en té veel flapperende rooi vlae doelbewus ignoreer. (Klink bekend, nè?) As beurtkrag hulle onverwags op die eerste aand in hul nuwe huis tref, probeer hulle die beste van die donker situasie maak. Hulle dans. Hulle raak dronk op die idee van liefde. Hulle onthou … maar saam met die onthou word die verkeerde boks oopgemaak en ontspoor die aand. Swaar bagasie word uitgepak en hulle word gekonfronteer met die swaar en donker verlede wat hulle saamdra.

Beurtkrag is ’n drama wat die kwesbaarheid van verhoudings blootlê.

Stroom Beurtkrag vanaf 12 Desember.

Vlugtig draai om die jong akteur, Simon Berg (Arno Greeff), wie se lewe ’n onverwagse wending neem as hy deel van die rolverdeling vir ’n herverbeelde Rooikappie-produksie word. Dit kom as ’n gulde geleentheid voor – die regie is immers deur sy se rolmodel, die befaamde teatermaker Andreas Vog. Maar dit blyk gou dat Andreas nie jou gemiddelde regisseur is nie en Simon loop onder die sadistiese Andreas se onortodokse metodes deur. Dis net sy medester, Chantel Opperman (Jane de Wet), wat hom bemoedig om voort te stoei.

Stroom Vlugtig vanaf 5 Desember.

Alles Malan S2

Die tweede seisoen van kykNET se gewilde gesinsdrama, Alles Malan, is uiteindelik op Showmax beskikbaar. 

Die tweede seisoen tel op drie jaar sedert ons die Malan-gesin ontmoet het met hul terugkeer uit Engeland. Dit blyk gou dat dat daar moeilikheid op die sakefront is as Frik (Ivan Zimmerman), deur ’n misdaadnetwerk genader word wat die familiebesigheid vir hul skelmskemas wil gebruik. Intussen het Frik se seun, Freek (Matheo Olivier) ’n nuwe liefdesbelangstelling, terwyl Elani (Greteli Fincham) ’n seer hart troos. Dan is daar ook Nico (Sean-Marco Vorster) en sy vrou, Lee-Anne (Nicole Fortuin), wat ’n baba verwag.

Die reeks speel in die Paarl, buite Kaapstad, af en is geskoei op die realiteite van die alledaags. Trouens – elke gesin het hul geheime, kry swaar en kan lekker baklei, maar dis deel van wat die lewe die moeite werd maak.

Ook in die rolverdeling is Nadia Valvekens en Albert Maritz.

Vanaf 1 Desember beskikbaar om te stroom.

Lees ook ons onderhoude met die Alles Malan-akteurs Nicole Fortuin en Greteli Fincham en Ivan Zimmerman en Nadia Valvekens.

His Dark Materials S3

Die derde en laaste seisoen van dié briljante fantasiereeks is gegrond op The Amber Spyglass, die laaste roman in Philip Pullman se Carnegie-bekroonde boektrilogie.

Die derde seisoen volg Lyra (Dafne Keen) en Will (Amir Wilson) se reis na ’n duistere plek vanwaar niemand al teruggekeer het nie. Namate haar pa se groot oorlog teen die Authority al nader kom, blyk dit ook dat dit hulle bitterlik gaan kos om die wêreld te red…

Die tweede reeks van die bekroonde reeks het ’n punt van 85% op Rotten Tomatoes. In hul vyfster-resensie het The Independent dit beskryf as “’n pragtige, broeiende visie van Pullman se wêreld, wat die kombinasie van kinderlike wonder en onheil behou wat sy boeke so aanloklik vir jong volwassenes maak.”

Nuwe episodes op Dinsdae vanaf 6 Desember.

Ramy S3

Ramy Youssef se bekroonde komedie Ramy draai om Ramy Hassan se soms ongemaklike, soms skreeusnaakse en soms rampspoedige ervarings as ’n eerste-generasie Egipties-Amerikaanse-Moslem-millennial in New Jersey.

Die reeks het al talle toekennings gewen, waaronder ’n 2020 Peabody-prys. Dit is ook vir drie Emmys en drie Critics Choice-toekennings benoem.

Die derde seisoen het ’n punt van 89% op Rotten Tomatoes met Rolling Stone wat skryf: “Dit verg ongelooflike selfvertroue om na die soort netelige emosionele plekke te gaan waar Ramy liefs woon. Al wek die reeks by tye geweldige ongemak, is dit uiteindelik die moeite werd.”

Vanaf 19 Desember beskikbaar om te stroom. 

Tell Me Everything S1

Tell Me Everything is ’n heerlik-snaaks, moedige coming-of-age-tienerdrama. Dit volg die 16-jarige Jonny Murphy, wat ná ’n traumatiese gebeurtenis heimlik met ongediagnoseerde depressie en angs struwel. Soos hy en sy vriende die druk van tienerwees in ’n wêreld van alomteenwoordige tegnologie en sosiale media heldhaftig probeer navigeer, verken hulle ook hul seksualiteit en eksperimenteer met drank, dwelms en seks soos hul identiteite vorm aanneem. 

Die rolverdeling sluit in Eden H Davies, Spike Fearn, Callina Liang, Tessa Lucille, Carla Woodcock en Lauryn Ajufo.

Vanaf 14 Desember beskikbaar om te stroom. 

The Vow Season 2

The Vow se eerste seisoen volg die storie van ’n sogenaamde selfverbeteringsgroep – NXIVM – en hoe dit in ’n kultus-nagmeerrie ontaard het. Die leier, Keith Raniere, is aan onder meer sekshandel skuldig bevind, maar dis betrokkenheid van die aktrise van die destydse tienerreeks Smallville, Allison Mack, wat veral die media se aandag getrek het.

Die tweede seisoen fokus op Raniere se hofverhoor en gee ’n intieme blik op die binnekring se gedrag en optrede. Dit sluit getuienis van die verhoor in, gesprekke met medestigter Nancy Salzman, asook eksklusiewe telefoononderhoude met Raniere vanuit die tronk. Die Suid-Afrikaner Mark Vincente, ’n uitgesproke voormalige lid van die kultusgroep, is, soos in die eerste seisoen, ’n prominente karakter.  

Die eerste seisoen het wyd lof ingeboesem en volgens die resensies wat al in is, is die tweede seisoen selfs beter. Variety skryf: “Wat die vertelling betref, is dit skerper en duideliker as The Vow se eerste aflewering. As ’n sielkundige portret, is daar min anders in die nie-fiksie ruimte wat met dié intensiteit kan meeding.”

Vanaf 7 Desember beskikbaar om te stroom. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies