Menu terloops
In Redakteurskeuse [5 Apr 2023]

Redakteurskeuse vir April 2023


Wat om te kyk: Een van 2023 se TV-bestes, ‘Beef’; die finale seisoen van die lieflike reeks ‘The Marvelous Mrs. Maisel’; en ’n aksiebelaaide spioenreeks, ‘Citadel’, is die redakteurskeuse vir April 2023.

Deur Rozanne Els
Redakteurskeuse vir April 2023

Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir April 2023.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

Beef

Vanaf 6 April 2023 op Netflix

Beef, ’n komedie-drama met Ali Wong en Steven Yeun in die hoofrolle, is sonder twyfel een van vanjaar se TV-kroonjuwele. Ja, dis nou eers April en daar moet nog baie water in die TV-see loop, maar dié storie is uitsonderlik. Die gesaghebbende manier waarop obsessie en woede hiér uitgelê word – en nogal met ’n haas perfekte balans tussen drama en komedie – is genoeg om my te oortuig dat dié een op ’n vir-altyd-moet-kyk-lys moet wees. 

Die reeks, bestaande uit tien episodes, draai om die nagevolge van ’n padwoedevoorval tussen twee vreemdelinge. Yeun vertolk Danny Cho, ’n sukkelende kontrakteur met ’n grootse chip op sy skouer, terwyl Wong haar voete in die skoene van ’n entrepreneur met ’n prentjiemooi lewe plaas. Ons kan maar net toekyk hoe ’n intense vete ná die voorval tussen die twee ontwikkel. Niks – geen verhouding of deel van hul lewens – is veilig van die tentakels van hul langdurige twis nie. 

Die reeks het ’n punt van 99% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes. Peter Travers van ABC News bestempel dit reeds as vanjaar se “mees verslawende nuwe reeks”.  

Barbara Evert van die Observer skryf weer: “Beef omsluit werklik moderne woede, en al die verskillende redes daarvoor.”

The Marvelous Mrs. Maisel S5

Vanaf 14 April 2023 op Amazon Prime Video.

Miriam “Midge” Maisel (Rachel Brosnahan) het inderdaad ver gekom sedert haar eerste dronk grappe op die verhoog in die eerste seisoen van The Marvelous Mrs. Maisel. Dié reeks, wat sy debuut in 2017 gemaak het, is uit die pen van een TV se skepper-ysters, Amy Sherman-Palladino. Sherman-Palladino is ook bekend vir haar werk op The Gilmore Girls en Bunheads. Dís juis dan ook daarom dat ek van die begin af geweet het dat dié vertelling nie brieke gaan hê nie. Voorwaarts mars, met ’n missie natuurlik, is hoe Sherman-Palladino ’n ding doen.

Soos met The Gilmore Girls en Bunheads, het sy egter ook hier ’n vurige vrou as die protagonis. Dít dien deels ’n doel as een van die legkaartstukke van die premis. Die storie begin immers in die laat-50’s afspeel en vroue-grapmakers op die verhoog is ongewoon en onwelkom. Dat sy heel toevallig op dié verhoog beland – nadat haar man haar met sy sekretaresse verneuk glo omdat sy eie verborge stand-up komediedrome aan skerwe lê en sy dan toevlug in die sagte omhelsing van ’n paar doppe vind – laat egter ’n meer blywende indruk wat die premis betref. 

Oor die afgelope vier seisoene het daai enkele besluit om op ’n verhoog vir haar eie omstandighede – voor en met vreemdelinge – te lag, haar hele wêreld omgekeer. Tussen kinders grootmaak en die verbrokkeling van haar huwelik, het Midge ook harde klippe gekou om haarself in ’n seksistiese bedryf te probeer bewys. Iets wat goed uitgebeeld is, is hoe hierdie seksisme die toksiese aard van kompetisie tussen die enkele vroue in die bedryf uitbuit en voortdryf. 

Aan die begin van die vyfde – en finale – seisoen is die big time uiteindelik binne Midge se bereik. Altans, so dink sy…

Deur al die seisoene heen, blyk The A.V. Club se lof in 2017 steeds geldig te wees. In hul destydse resensie is The Marvelous Mrs. Maisel beskryf as ’n reeks “wat so vol selfvertroue as sy heldin is – en wat ’n heldin is sy nie.”

Buiten Brosnahan, sluit die rolverdeling ook die uitmuntende Tony Shalhoub, Alex Borstein, en nog vele meer in. 

Citadel S1

Vanaf 28 April 2023 op Amazon Prime Video.

Jy moet weet as ’n reeks vir ’n tweede seisoen hernu is nog voordat die eerste seisoen sy debuut gemaak het, dat iets groot broei. Só is dit dan met Citadel, ’n nuwe aksiebelaaide spioenriller uit die Amazon Prime Video-stal. 

Die reeks, met Game of Thrones se Richard Madden en Quantico se Priyanka Chopra Jones, draai om ’n onafhanklike wêreldwye spioenagentskap, ene Citadel, wat deur ’n magtige sindikaat, Manticore, uitgeroei word.

Agt jaar later ontmoet ons dan twee voormalige Citadel-lede, Mason Kane (Madden) en Nadia Sinh (Chopra Jones). Albei se geheue is destyds uitgewis om hulle te help om van Manticore te ontsnap. Sedertdien lewe hulle met nuwe identiteite en kan niks van hul Citadel-dae onthou nie. Dis dan totdat Mason deur ’n voormalige Citadel-kollega, Bernard Orlick (die fantastiese Stanley Tucci) uitgesoek word. Mason moet help om Manticore se planne vir ’n nuwe (lees: baie slegte, aaklige, groot nee) wêreldorde te fnuik. Hy is vinnig om vir Nadia – sy voormalige partner – ook te betrek. Dié twee spioene begin dan ’n missie wat oor die wêreld heen strek om Manticore voor stok te bring.

Natuurlik is daar ook klompe geheime en vonke wat tussen dié twee spat. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies