Menu terloops
In Wat om te kyk [1 Apr 2023]

Wat om te kyk op DStv in April 2023


Wat om te kyk op DStv vandeesmaand: Twee rillerreekse, ‘Without Sin’ en ‘Angela Black’; ’n splinternuwe seisoen van ‘Lui maar op, Belinda’, ’n nuwe Afrikaanse toevoeging tot die ‘Real Housewives’-franchise, en nog.

Wat om te kyk op DStv in April 2023

Wat om te kyk op DStv in April 2023 – hier is ons top-keuses.

Let wel: datums, tye en vertonings kan verander. Hierdie skedule is slegs vir SA DStv-intekenare. Vir die volledige skedule en besonderhede oor reekstye en die betrokke kanale, kliek hier.

Angela Black S1

Angela Black is nie aldag maklike kykstof nie. Inteendeel: die temas van huishoudelike en geslaggebaseerde geweld word vroeg in dié sesdelige reeks se boublokke vasgelê. Downton Abbey se Joanne Froggatt vertolk einste Angela Black, ’n ma van twee wat nie uit die hel van haar huwelik met ’n gewelddadige man kan ontsnap nie. Maar dan word sy deur ’n man genader wat haar man se siekste geheime aan haar blootlê en haar wêreld word op sy kop gedraai. 

Ook deel van die rolverdeling is The Flight Attendant se Michiel Huisman en Samuel Adewunmi. 

Common Sense Media skryf oor dié reeks: “’n Hoë vlak van spanning en meedoënlose misleiding weef ’n gevoel van angs en benoudheid deur elke episode van hierdie raaiselreeks.”

Weeklikse episodes vanaf Donderdag, 26 April, om 22:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) en DStv Online. 

Die Real Housewives van die Wynlande

Die Real Housewives van die Wynlande is die splinternuwe Real Housewives-reeks wat volg op die eerste Afrikaanse weergawe van die franchise, Die Real Housewives van Pretoria. Onder die vroue is skoonheidskoninginne, ’n dokter én ’n doktor en genoeg glans vir ’n leeftyd. 

Weeklikse episodes vanaf Donderdag, 20 April, om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Online. 

Lui maar op, Belinda S3

Daar wag vreugde, komedie én trane in die nuwe seisoen van Lui maar op, Belinda. Brümilda van Rensburg vertolk steeds die naamrol teenoor Annelisa Weiland (Annetjie) terwyl Duncan Johnson (Ian), Wian Taljaard (Dirkie) en Carmen Maarman (Maggie) steeds sorg vir heerlike vermaak. Eric Nobbs, wat die geliefde karakter Frans gespeel het, is oorlede tydens verfilming van die nuwe seisoen en is steeds in die eerste drie episodes te sien. Die rol van Frans word daarna deur die veteraan-akteur Chris van Niekerk vertolk.

Die reeks volg die wel en weë van ’n groepie aweregse karakters wat by ’n hardewarewinkel in George werk. Aan die einde van die vorige seisoen het Belinda ontdek sy het borskanker. Met die aanvang van die nuwe seisoen word dié storielyn hervat – ’n wipwarit van emosies wag op kykers soos dié reis van Belinda uitgebeeld word. 

Weeklikse episodes vanaf Maandag, 3 April, om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Online. 

Without Sin S1

Die Line of Duty-aktrise, Vicky McClure, word deur die bank vir haar spel in die rillerreeks Without Sin geprys. Daarin vertolk McClure ’n ma wat in diepe rou gedompel is nadat haar tienerdogter vermoor word. As sy dan later die man wat agter tralies vir haar dogter se moord is, konfronteer, is sy geskok deur dit wat sy ontdek. 

Volgens The Guardian het die reeks dieselfde tipe gravitas en trefkrag as Happy Valley. Dit ontvou as beide ’n sielkundige riller én ’n ontdekkingstog deur die nuanses van rou. 

Weeklikse episodes vanaf Donderdag, 13 April, om 22:00 op M-Net (DStv-kanaal 101 en DStv Online).

Net Mens

Die dokumentêre kykNET-reeks Net Mens neem die lewensverhale van plaaslike bekendes onder die loep. In April is daar vier episodes waarin daar dieper in die mens agter die naam gedelf word. Op 9 April maak Binnelanders se Cindy Swanepoel haar hart oop; op 16 April is dit die sanger Refentse se beurt; op 23 April vertel die sepie-akteur Hykie Berg sy storie; en op 30 April is die gewilde kletsrymer Early B voor die kamera.

Weeklikse episodes vanaf Sondag, 9 April, om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Online. 

Op reis met my beste vriend S1

Neels van Jaarsveld se miniatuur-spikkelworshond, Lulu, is amper net so bekend soos hy. In hierdie nuwe reeks gaan Neels, Lulu en kykers vir ander bekendes en hul troeteldiere ontmoet. Saam gaan hulle alles doen – van hondevriendelike roomys tot met dieresieners praat.

Weeklikse episodes vanaf Saterdag, 8 April, om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Online. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies