Op die nippertjie moes André Mouton sy tasse pak want sowel Blue as Liovian het hul pekelpennies, teen ’n hemelhoë prys natuurlik, gespeel. Dit het hom weerloos gelaat en dit het die einde van sy tyd op kykNET se gewilde werklikheidsreeks Plaasjapie beteken.
Groenkloof
En toe’s daar net twee . . .
“Ek en Liovian kom oor die weg maar ek dink dit is meer daai wat ons so ligte jabs gee vir mekaar. Sy haat my guts. Sy haat die way hoe ek die game gespeel het, maar ek het die game gespeel vir my om my hier te bring by die top-5. En, come on, dit het gewerk!” spog Blue.
Op haar beurt voel Liovian dat Blue nooit gemaklik rondom haar sal wees nie en sy wil in ieder geval nie hê hy moet gemaklik voel nie.
“Gisteraand wou hy vir André nog in die spel gehad het want sy presiese woorde aan my was André is nie sy kompetisie nie,” sê sy.
Intussen daag die oggend se mandjie op – met ’n interessante kinkel. Daar word van die span verwag om seker te maak hul melk en eiers is gereed vir die oggend se finale plaasinspeksie. Die beste plaas se inwoners gaan ’n voordeel geniet in die uitskop-uitdaging.
Oranjezicht
Anelda verras haar spanmaats met haar nuwe voorkoms – weg is die styfgekamde hare en die trendy krullebol laat die twee verstom, en vol komplimente! Haar motief vir die nuwe voorkoms is dat sy hoop vir meer vryheid as deel van die top-5.
“Dit wil ook wys dat ek nou ’n leeuwyfie is,” sê sy.
Maar dan is die oomblik verby en word daar geskarrel om die plaas reg te kry vir inspeksie. Anelda maak Zanie daarop attent dat die hoenderhok vuil is.
“Zanie is net so orals. Sy doen als half. En dit irriteer my nou want hoekom is jy dan nou so orals? Doen een ding klaar,” is Anelda se gevoel.
’n Reënbui het vroegoggend hul werksaamhede effe vertraag en hulle moet behoorlik woel om alles afgehandel te kry voordat hulle na die uitdaging gaan. Daar was ook nog nie tyd vir ontbyt nie. Maar Zanie sien kans vir als.
’n Bietjie lui
“Ek dink Blue is bietjie lui. Gewoonlik het die emmers sommer hier vir hom gewag en hy kon net lekker bietjie watertjies strooi. So, ek het vir hom gesê hy moet aangaan en ek het die wingerde natgegooi. En ek dink hy’s . . . hy’s lui,” kla Liovian oor haar spanmaat wat sy vingernaels sit en skoonmaak terwyl sy na die varke omsien.
“My arms is seer, my bene is seer, my lyf is seer – maar die mind en die hart en die siel is gesond. Soos ek die game strategies hard gespeel het die hele tyd, sal ek dit vandag definitief, you know, fisies hard moet speel om nie vandag huis toe te gaan nie,” sê Blue wat hoop om onder die top-4 te wees.
“Ek dink ons moet vir Blue uitkry, hy het net ’n te manipulerende manier en die guns is altyd aan sy kant. Dalk is hy maar net gewoond sy way kry en hy maak maar net seker alles is in sy guns, maar . . . I’m not giving up without a fight,” kom dit vasberade van Liovian.
Die laaste inspeksie
Die programaanbieder Ewan Strydom kom aan by Groenkloof en kies koers na die hoenderhok waar hy dadelik sien daar is nie skoongemaak nie. Hy is wel tevrede met die kweekhuis.
In plaas van die verwagte melk en eiers wat hy kom haal, word hy ingelig dat daar net eiers beskikbaar is. Ewan is nie baie gelukkig daaroor nie.
By Oranjezicht kry hy wel eiers én melk. En dit maak hom gelukkig.
Die Klein Werf – belonings, verrassings en ’n swaardra-al-aan-die-eenkant uitdaging
Die plaasjapies lyk soos verkluimde nat hoenders toe hulle by die Klein Werf opdaag. Ewan verduidelik dat dit van hier af vorentoe elke plaasjapie vir hom- of haarself sal wees om te bepaal wie die wenner van Plaasjapie gaan wees.
Die uitdaging behels dat elke plaasjapie 20% van hul liggaamsgewig in sewe sakke sout op hulle skouers moet balanseer. Die persoon wat dit die langste regkry, is veilig by die gesamentlike Koöperasie-kuier. Elkeen gaan stem en net die wenner is veilig.
Die span wie se plaas deurlopend goeie terugvoer van Ewan en sy verskillende gaste gekry het, gaan ’n voordeel geniet tydens die uitdaging. Dit beteken hulle gaan daardie 20% van hul liggaamsgewig in net ses sakke sout moet balanseer, ’n voordeel wat die balans daarvan makliker gaan maak.
“Oor die afgelope 16 dae het Groenkloof 40 eiers gelewer, Oranjezicht 39 eiers. En dan kom ons by die melk. En kyk, die melkery het harde werk geverg.
“Groenkloof, julle het ’n totaal van 17 emmers melk gelewer. Oranjezicht, 18 emmers. Daar’s hard gewerk op die plase en ek het julle gesê dit gaan of vir, of teen julle, tel. En vandag is die dag.
“Die beste plaas is . . . Oranjezicht!” kondig Ewan aan, tot jubelende vreugde van die drietal wat nou skoon vergeet het van reën en koue.
Maar daar’s nog meer wat wag. Vir elke persoon wat langer as 30 minute uithou met die sout op hul skouers, gaan Ewan ’n sekere bedrag terugsit in die prysgeld. Dus, hoe langer daar uitgehou word, hoe meer geld is op die spel.
Met daardie verantwoordelikheid vierkant op hul skouers, roer Ewan die pot deur hulle te nooi om saam met hom te kom vleis braai. Dit lyk asof van die plaasjapies dit oorweeg, maar die verhoogde pryspot is baie aanloklik.
Nadat die eerste halfuur verstreke is, kondig Ewan aan dat elkeen van die plaasjapies R10 000 teruggesit het in die pryspot. Nog ’n halfuur verstryk en die pryspot staan nou op R615 000, en ’n halfuur later word dit opgeskuif na R665 000!
Dis ’n taai uitdaging en daar word gekreun en gesteun en daar verloor Blue sy balans na twee en ’n half uur. Eindelik gee Liovian ook bes. Zanie volg en dis hier waar Anelda die kans aangryp om haar plan aan Blue te fluister. Ja, Zanie is in die visier vir die twee . . .
Na drie en ’n half uur staan die pryspot op R795 000 danksy Anelda en Michelle wat nie tou opgooi nie. Maar toe skuif Anelda se voet en sy moet van die krat afklim. Dis Michelle wat veiligheid vir haarself verseker.
Terug by Oranjezicht
Michelle is verbaas dat Zanie eerste van hul groep was wat afgeklim het en dat Anelda die een was wat vasgebyt het.
“Well frickin’ done, julle het nie geroer nie. Dit het gelyk of julle nie eers beweeg nie. Ek was . . . gmph . . . all over the place,” loof Zanie haar spanmaats. Sy erken later dat die spel vir haar verander het met twee mense wat sterker as sy is.
Michelle en Zanie gesels oor Blue en daar word gesê dat hy ’n groot bedreiging is. Zanie voel Anelda is ook ’n groot bedreiging want sy’t “gekook vandag”.
Terug by Groenkloof
Blue kan kwalik sy arms gelig kry en hy sê dit voel of hy deur ’n trein getrap is.
“Dit was die moeilikste uitdaging wat ek nog ooit in my hele lewe gedoen het. Maar ek voel definitief ook, ja, verlig dat ek nog hier is – en ek is bly dat die boerpot al weer ’n stewige hupstoot gekry het,” sê hy.
Hy vertel vir Liovian dat Anelda en Michelle vir Zanie gaan stem. Hy besef hy het twee opsies: of hy, Anelda en Liovian kan sout aftap by Zanie, of hy kan sterk oud-Groenkloof bly en saam met Zanie en Anelda vir Liovian stem.
Plan B . . . vir Blue?
Anelda het haar bedenkinge oor Zanie en wonder wat sal gebeur as die volgende uitdaging weer ’n sterk persoon vereis. Maar Blue het vir haar gesê daar is ’n Plan B wat hulle kan inspan – om vir Liovian te stem.
Zanie vertel vir haar dat Blue ook vir haar ’n naam gegee het: Liovian. Maar sy vertel vir Anelda dat hulle nie vir Michelle daarvan moet vertel nie.
Zanie besluit sy gaan sout by Blue aftap want hy het beslis meer invloed as Liovian.
Intussen smee Anelda haar misleidende planne goed deur vir Michelle en Zanie te laat weet sy sal vir Blue stem as dit is wat hulle wil hê. Maar haar lojaliteit aan Blue loop sterk van die eerste dag af . . .
Maar selfs Blue begin twyfel oor hoe hy die pad vorentoe gaan aanpak om op die plaas aan te bly.
“Ek gaan by Blue sout aftap want ek glo hy’s ’n boelie. Die manier hoe hy optree en sy taktieke . . . ek voel net nie gemaklik met dit nie en ek dink dat hy dit nie verdien om verder in die spel te wees nie,” sê Liovian.
Intussen skud Anelda en Michelle hand oor hulle besluit om vir Zanie te stem. En Blue is vas van plan om tot die bitter einde toe te veg.
Maar Liovian volhou by Blue.
“Persoonlik hou ek nie van sy manipulerende manier en houdings nie. Ek sien dwarsdeur Blue. Hy is so deurskynend soos ’n stukkie plastiek.”
Koöperasie-kuier
Ewan wil by die top-5 weet hoekom hulle dink hulle verdien om aan te bly.
Blue is eerste aan die beurt.
“Ek het in my swakheid regtigwaar my hart uitgespeel, my beste gegee, my kant gebring op die plaas en definitief myself gekom vind op die plaas,” sê hy en voeg by dat hy nog steeds baie het om te bied. Ek verdien om hier te wees, Ewan, want ek het geveg om hier te wees.”
“En ek kan sê, jammer Blue, vir ons as vier vroue . . . Ons kan verskriklik trots wees op onsself as vroue en ek dink ons het nodig om mekaar aan te cheer, nie net op die plaas nie maar ook buitekant,” stel Liovian haar kant.
“Elkeen het sy deel op verskillende aspekte gebring. So dit is maar een van daai goed. As jy vat, soos jy gesê het, is jy jou sout werd, is jy ’n harde werker? Is jy ’n goeie, harde spanspeler? Het jy jou deel bygedra op die plaas en by die uitdagings?
“Het jy nie mense bedrieg en om die bos gelei nie? En het jy regtig verhoudings met mense gebou? Was jy eerlik met mense gewees? Dan dink ek, as dit so is, dan verdien jy om hier te wees vanaand,” is Zanie se reaksie.
Ewan keer terug na die stemmery, waar daar net sout afgetap of bygesit kon word, met die sout-emmertjies. Daar word twee emmertjies op die toonbank neergesit. Daar is vir Blue gestem, en ook vir Zanie.
“Die persoon wat nie hul sout werd is nie, is . . . Zanie,” kondig hy aan.
Zanie groet
“Ek glo my kinders sal baie trots wees op my. Elke liewe een van hulle het vir my gesê ‘Mamma gaan eerste huis toe gaan, hulle gaan Mamma eerste huis toe stuur’. So, ek dink ek het hulle tog verras en verbaas.
“Plaasjapie was vir my die beste, beste, beste ervaring en avontuur van my hele lewe nog. Dis ’n voorreg gewees om die geleentheid te gehad het om deel te wees van dit. En al wat ek wil hê is dat my dogter kom en sê ‘ek wens ek was soos my ma’. En as ek my seuns in die mix ook gooi, dat hulle kan sê ‘ons wens ook ons was soos ons ma. Bang vir niks nie’.
“Ek het myself besef ’n mens mag na ’n egskeiding die lewe geniet. Daar’s geen rede hoekom jy jouself moet aanhou straf daarvoor en skuldig voel nie. ’n Mens mag na dit . . . het mens die reg om steeds die lewe te geniet.
Wat skuil in die mandjie?
Ewan het reeds tydens die Koöperasie-kuier die top-4 gewaarsku dat daar ’n groot uitdaging op hulle wag by die Groot Werf. En die briefie in die mandjie bevestig dit.
Blue kan nie help om te wonder of hulle vir die top-3 of die top-2 gaan meeding nie. Wat van pylreguit vir die wen? Blue sê hulle het al geleer dat Plaasjapie vol verrassings is.
Anelda is vas van plan om nie die uitnodiging te verloor nie. Sy wil sommer haar plek in die top-2 vasmaak! Maar sy maan vir Michelle dat indien daar vandag ’n raaisel of iets is wat aanmekaar gesit moet word, Blue ’n sal voorsprong hê.
Anelda oorweeg ’n bondgenootskap met Michelle, maar besef ook dat Michelle en Liovian ’n goeie verhouding het en as hulle al drie deurdring na die volgende ronde, sal hulle haar teiken. As sy vandag wen, gaan sy vir Michelle haar tasse laat pak . . .
Die uitdaging
“Ek is ’n bietjie bang vir wat voorlê, dit lyk soos ’n boot camp,” kom dit van Anelda toe hulle by die Groot Werf verwelkom word.
Die plaasjapies moet verskeie produkte by Ewan kom aflewer. Daar is ses bottels melk, ses eiers en 16 aartappels. Dit moet oor ’n hindernisbaan karwei word tot waar die produkte by Ewan afgelewer word.
Met elke produk wat afgelewer word, ontvang elke plaasjapie ’n sleutel. Sodra drie sleutels bekom is, is daar ’n trommel wat oopgesluit moet word. Binne-in is daar ’n blikkie sout wat oor die linkerskouer gegooi moet word.
Die eerste een wat eerste afhandel is veilig by die Koöperasie-kuier, wat terloops die laaste Koöperasie-kuier van die seisoen sal wees. Die wenner is ook verseker van ’n plek in die finaal!
Verder, die persoon/persone wat die meeste sout in hul silo’s opgegaar het, geniet ’n voordeel in vandag se uitdaging. Dit is in die vorm van een bottel melk, een eier en een aartappel wat reeds by hul stasie besorg is. Verder geniet die persoon/persone ook ’n 20-sekonde voordeel wanneer die uitdaging afskop.
By Anelda en Michelle is daar nooit sout afgetap nie, iets wat Ewan as merkwaardig beskryf. Maar een van hulle het die Mag van die Mes ontvang, en dis daardie een koppie sout wat aan een van dié twee die meeste sout besorg het.
Volgende keer
Wie het die meeste sout in haar silo? Daar word verwoed gegrawe vir aartappels en iemand word in die hindernisnet vasgevang. Is Anelda besig om vir Michelle ’n rat voor die oë te draai oor haar stem vir Blue? Gaan Liovian se beskrywing rondom Blue vir Michelle help om ’n belangrike besluit te neem?
Blue is vasberade om mense te wys hoe mooi sy hart werklik is. En daar bly ’n enkele uitdaging oor. En die wenner gaan wegstap met die titel van Plaasjapie!
Plaasjapie S2 saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.