Menu terloops
In Recaps & Resensies [20 Jun 2024]

‘Plaasjapie’ S2:  So byna-byna braai ’n meesterkonkelaar sy eie kierantjies!


As daar toekennings vir toneelspel uitgedeel moet word, is daar een spesifieke ‘Plaasjapie’-deelnemer wat loshande met sy mooipraatjies sal wen…

Deur Annelene Oberholzer

Kyk Plaasjapie op DStv Stream

‘Plaasjapie’ S2:  So byna-byna braai ’n meesterkonkelaar sy eie kierantjies!

Nadat daar heerlik boerekosdisse op die vuur die lig gesien het, en natuurlik ook agterlangs gekonkel is, moes Pieter Gous en Etienne de Villiers hul sakke in die vorige episode van kykNET se gewilde werklikheidsreeks Plaasjapie pak en huiswaarts keer. 

Gaan daar ooit eenheid tussen die oud-Groenklowers en oud-Oranjezichters bewerkstellig kan word? 

Groenkloof

“Dit voel amper vir my of ek ’n verlore stryd met die werf [voer] want die werf is glad nie wat dit moet wees nie. En ek sit nou wel net met drie lede saam met my . . . en een van hulle is een wat van die luiste is. 

“Blue is soms rustig ontspanne. Hulle verdien die negatiewe voordeel wat hulle gaan kry aan dié kant, hy en Monique, want hulle het nie hard ingesit nie.

“Dit lyk nie vir my, en ek het dit al gesê, maar dit lyk nie vir my soos ’n plaaswerf nie. Dit lyk soos ’n skrootwerf,” kla oud-Oranjezichter en plaasbestuurder André oor sy Groenkloof-plaasjapies.

Op sy beurt glo Blue plaasinspeksies is nie meer vir hom so ’n groot prioriteit nie.

“Ek dink ons is nou te naby aan die eindlyn en ek dink dat Oranjezicht se plaas is ver beter in stand gehou as Groenkloof,” erken Blue.

Oranjezicht

“Ek het actually so weird gevoel gisteraand om nie ’n stem te kry nie, want dit beteken die mense sien my nie as ’n bedreiging nie. Ek voel bietjie soos ’n niemand want die mense loop so nou en dan oor my hier, want ek is ’n saggeaarde mens. Maar ek besef ek kan die ding doen, ek moet rêrig net fokus en myself weer herinner hoekom ek hier is,” kom dit van Anelda.

“Ek is nie net hier om ’n getal vol te maak nie, en ek is ook nie net hier om ’n niemand te wees nie. Ek is flippen Anelda Price.”

Op haar beurt sê Michelle sy dink die drie vroue wat nou oorgebly het, is almal ystervroue en dat niemand meer hulself aan die res hoef te bewys nie.

Lootjies word getrek

Op Groenkloof word daar lootjies getrek – en dis André wat vir die tweede agtereenvolgende keer die plaasbestuurder-lootjie trek. 

“Dis vir my baie belangrik om definitief die waarde te lig van Groenkloof want daar’s iets op die spel. Daar’s ’n voordeel en ek glo ons het nodig,” sê hy en hoop om dit sover as moontlik te kan bewerkstellig.

Op Oranjezicht gebeur dieselfde: Zanie trek ook weer die lootjie en nes André is dit haar tweede dag in ’n ry dat sy as plaasbestuurder gaan optree.

“Ons is drie girls oor, dit voel vir my nog steeds ons is darem ’n sterker span. So, ek gaan weer positief uitdaging toe,” sê sy en vestig haar hoop op ’n wen vir  nog ’n dag langer op die plaas.

Uitdaging by die Groot Werf

Plaasjapie
“Vandag gaan ons kermis toe!” Foto: Verskaf

Die aanbieder, Ewan Strydom, verwelkom die twee spanne en val sommer dadelik met die deur in die huis oor die volgende uitdaging.

“Vandag gaan ons kermis toe!” verkondig hy onder luide toejuiging. En daar is vyf prettige speletjies wat op die spanne wag waar elke speletjie ’n sekere hoeveelheid punte tel. Die span met die meeste punte na afloop van die uitdaging, kry nie net die aand af nie. Hulle kry ook ’n beloning. Die verloorspan sal vir ’n Koöperasie-kuier moet aanmeld.

Die eerste uitdaging is om houtsirkels oor ’n teiken te gooi. Elke spanlid kry ’n kans en die span wat die meeste houtsirkels oor die teiken gegooi het, kry een punt. Groenkloof moet iemand laat uitsit omdat hulle vier is teenoor Oranjezicht se drie. Liovian sal dinge van die kantlyn af bekyk.

Om die spanne aan te moedig, wys Ewan vir hulle die hoop pannekoek wat hy glo reeds gebak het. Kermis voorwaar!

1. Houtsirkels 

Zanie en André is eerste aan die beurt. André is baie akkuraat en teken ’n punt aan. Blue en Anelda faal en die onus rus op Michelle se skouers om te kyk of sy meer houtsirkels as Monique oor die teiken kan gooi. En sy kry dit reg! Dit lei tot ’n uitklopronde met Blue en Anelda in die spervuur. Blue slaag met een sirkel. Groenkloof loop voor.

Plaasjapie
Die eerste uitdaging was om houtsirkels oor ’n teiken te gooi. Foto: Verskaf

2. Ketties 

Kettie-skiet is volgende op die lys. Vyf blikkies moet omval. Zanie klits twee om vir Oranjezicht, gevolg deur nog een. Met twee blikkies oor vir altwee spanne, is dit ’n gespanne stryd tussen Zanie en Blue – en dis Zanie wat weer sommer twee blikkies omklits.

Maar toe tel Ewan die kettie op vir beste uit drie tussen hom en Zanie. Ewan tref . . . die tafel. Toe tref hy twee blikkies en klop vir Zanie.

3. Appels en appelkose 

Tien appels in ’n kom met water en tien appelkose in ’n kom met meel is die volgende hekkie wat oorgesteek moet word. Die spanne mag die items slegs met hul monde uit die komme haal.

Monique het blitsvinnig ’n appel in die mond, maar Anelda moet haar hele gesig in die kom druk voordat sy sukses behaal. Kort voor lank vind Oranjezicht hul ritme en dis Anelda wat met die laaste appelkoos seker maak hierdie punt behoort aan hulle.

4. Kruiwastoot 

Die spanne begin aan die teenoorgestelde kant van die baan met een spanmaat wat stoot en een binne-in die kruiwa. Die eerste span wat die opposisie kan inhaal, wen ’n punt vir die span. Dis Zanie “aan die stuur” met Michelle in die kruiwa, terwyl Liovian kans sien om vir Monique te stoot. Weer is dit Oranjezicht wat punte aanteken.

Oranjezicht is veilig. Maar alles is nog nie verby nie. 

Plaasjapie
Dis Zanie “aan die stuur” met Michelle in die kruiwa. Foto: Verskaf

5. Musikale kratte 

Ewan het vyf speletjies voorberei en die laaste speletjie gaan ’n individuele wenner ook ’n beloning kry.

Ewan het ’n blinddoek aan en sy bekfluitjie byderhand. Terwyl hy speel, loop die spanne rustig om die buitebande wat in ’n ovaal geplaas is. Sodra hy ophou speel, moet daar gesorg word dat die plaasjapies baie vinnig hul sitvlakke op ’n krat in die middel van die ovaal kry.

Liovian is eerste sitplekloos. Monique is die volgende slagoffer, gevolg deur André. Blue stormloop vir Zanie sommer bo van haar sitplek af. Anelda moet koers kies met haar krat en dis nou net Michelle en Blue oor. En dis Michelle wat die prys wen: Pannekoeke, kaneelsuiker en haar persoonlike items wat tot nou toe weerhou was – dis haar slaapsak en droëwors uit Namibië.

Die verdere beloning vir Oranjezicht kom in die vorm van drie veerpyltijes en nege ballonne. Elke ballon wat deur ’n veerpyltjie getref word, verteenwoordig ’n beloning.

Zanie kan nie net kettie-skiet nie, sy kan ook veerpyltjies gooi! Nóg pannekoek vir Oranjezicht. Maar Michelle en Anelda se veerpyltjies tref ongelukkig nie die teiken nie.

Zanie wil weet of hulle hul pannekoek-beloning met Groenkloof kan deel.

“In die gees van vandag is dit ’n wonderlike gebaar. Julle mag absoluut deel,” kom dit van Ewan. En Monique raak skoon emosioneel oor wat daardie pannekoek vir haar beteken.

Terug op Oranjezicht

Die drie plaasjapies is baie gelukkig met hul prestasie van die dag. 

“Ek voel bietjie emosioneel omdat ek voel nie ek het rêrig bygedra aan Oranjezicht se wen vandag nie,” sê Anelda terug op die plaas. “Ek voel ek was maar net daar om ’n plekkie te vul. So, dis bietjie van my liggaam doen iets, maar my siel is nie by nie. Ek wil nou net ’n break hê.”

Intussen hoop Michelle dat sy en Anelda kan saamsmelt en vir Zanie huiswaarts kan stuur. En sy hoop op Groenkloof kan Liovian en André saamstaan om vir Blue uit te werk.

“Anelda is ’n bietjie van ’n kopseer, sy is ook jonk, nog lekker lus vir die lewe, nog lekker krag. Maar ek sien kans vir haar, ek sien kans vir Liovian, ek sien kans vir André en ek sien kans vir Monique.

“Zanie is vir my te fiks, te kompeterend. Ek wil nie noodwendiglik opeindig teen haar nie.”

Terug op Groenkloof

Die pannekoeke wag op die span, en hulle besluit dit gaan heerlik wees saam met koffie. Blue wil eers die diere water gaan gee en Monique is op soek na eiers.

“Blue op my lysie lê van dag een af toe ek op Groenkloof kom. Ek kan sien daar’s nie vuur, daar’s nie ywer, daar’s nie dryfkrag om te wen nie. So, ja, vir my is hy ’n meester-manipuleerder. Hy kan mense goed manipuleer. Hy’s nommer een op my lysie,” verklap André.

“Ek is net moeg, maar moeg gedink aan planne om mense so ver te kry om vir my te vote vandag sodat ek my pekelpennie kan speel sodat ék kan besluit wie gaan huis toe,” is Blue se strategie.

Kort voor lank is hy en Monique aan’t gesels by die hoenderhok en vertel hy vir haar hoe hy sy toneelspelvaardighede gaan opskerp om seker te maak daar word vir hom gestem.

“Hulle moenie vir jou stem nie en dan gaan ek soppy begin word en sê jy’s ’n ma, jy’t twee kinders. Ek wil vir jou graag ’n beter fighting chance gee. Dan, hopelik val hulle vir dit,” sê Blue. 

Hy vertel ook vir Monique dat hy haar vertrou en kom toe met die sak patats na vore: die nota wat hy aan die brand gesteek het in die sewende episode, het hom ’n ekstra pekelpennie besorg. En hy beplan om Monique saam met hom van ’n plek onder die top-5 daardeur te bewerkstellig. Solank Liovian net nie haar pekelpennie speel nie.

Gaan Blue dit regkry om vir André en Liovian te oortuig dat hy moeg, seer en uitgeput is? 

Planne word gesmee

“Is Zanie nie vir jou kompetisie nie?” wil Michelle van Anelda weet want sy glo Anelda begin besef Zanie is haar sterkste teenstaander. Dit lyk of Anelda Michelle se punt insien en sy noem dat hulle die volgende uitdaging nog steeds hul beste moet gee. As hulle dan verloor, kan hulle ’n plan maak.

“Nee, ek doen. Ek doen, want onthou aan die einde van die dag speel ek ook,” kom dit van Anelda. “Ek hoor jou. Ek hoor jou duidelik.”

Die (toneel-)spel duur voort

Op Groenkloof huiwer Blue nie lank nie. Hy gesels met Liovian en sê hy het ’n baie groot guns wat hy haar wil vra.

“Ek is hier om vir julle te vra om liewer vir my huis toe te stuur as wat julle vir haar huis toe stuur.

“Ek het nie kinders nie, so dit is nie so moeilik vir my om aan te gaan nie. Maar as daar een persoon is wat ek definitief ’n fighting chance wil gee, dan’s dit Monique,” draai hy die drama-krane met ’n bewerige stem oop. 

Maar Liovian is skepties. Kan sy vir Blue vertrou? “Want hoekom nou vandag?” is die vraag wat haar teister.

Blue sê vir Liovian dat sal ’n mors van geld wees as almal hul pekelpennies speel net omdat hulle ongemaklik voel. Op haar beurt glo sy Blue het fisiek nie so ’n harde spel soos die ander gespeel nie. Hy het baie van die uitdagings uitgesit, maar dalk speel hy die spel goed op ’n ander manier.

Inspeksietyd en dit gons op Groenkloof

Ewan kom op Groenkloof aan met sy notaboekie in die hand. Liovian en André staan by die dam en gesels. Sy het die beeste water gegee, André die skape. Maar gaan Ewan gelukkig wees met al die kampe? 

Terwyl hy sy inspeksie doen, vertel Liovian vir André meer oor Blue se “moegheid”. Hulle stem saam: dit klink net te maklik. André is verbaas dat Liovian vir Blue gesê het daar is drie pekelpennies nog in omloop: Monique, Liovian en André s’n. Hy help haar nie reg nie.

“Dis te easy om te sê dan stem ons almal vir hom, né. Dan kom hy ‘woeps, ek is veilig’ met ’n ‘Ewan, onthou daai dag met die veiling het ek dit of dat gekoop? So, die stemme teen my tel nou nie’,” kom dit van André, min wetende dat hy die spyker op die kop slaan!

Blue dreun voort oor die kans wat hy vir Monique wil gee, maar nes Liovian, bly André baie skepties.

“Op die stadium glo ek niks wat hy sê nie. Die plannetjie is net te maklik. Ek weet nie. Iets, iets, something fishy, something . . . iets is iewers besig om te kook in ’n pot. Voor ek hom nog geken het, het ek hom nie geglo nie. 

André besluit om in die teenoorgestelde rigting te gaan. 

Koöperasie-kuier

Liovian sê die besluit vir die kuier is op ’n goue bordjie voor hulle neergesit. Sy wonder of die realiteit is en of daar dalk iets anders daaragter skuil. Blue verseker haar daar is nie iets anders aan’t broei nie.

Blue erken dat hy gereed is om huis toe te gaan, waarop Ewan wil weet of daar dan gestem hoef te word.

“Ek dink die stem gaan definitief vir haar ook ’n geleentheid gee om te weet of sy regtigwaar die vertroue het in Groenkloof as ’n span,” verdedig Blue gou-gou.

“Die rede hoekom Blue nie net wou wegstap nie, is omdat hy dalk bang was dat daar was nie ’n stemgeleentheid nie. En hierdie is nou ’n geleentheid om vir hulle te bewys dat hulle kan my vertrou. En dit is waar my stem lê vanaand,” is Monique se reddingspoging.

“Die vraag kom ook by my op wat by jouself opgekom het . . . as ons dan nou reeds konsensus bereik het, hoekom moet ons dan nog vir mekaar bewys? Die konsensus is mos dan die vertroue. So, basies maak ’n stem dan nie eintlik sin nie,” sê André aan Ewan.

Liovian is ook aan boord met die idee van die konsensus wat bereik is “want it’s is too good to be true. En ek gaan ’n bietjie krap,” belowe sy.

Daar word besluit om wel voort te gaan met die stemmery by die soutstasie. Dis ook die tweede laaste kans om die soutpennies te speel en die prys van sout is R75 000.

André, Liovian en Monique het elk ’n stem ontvang. Maar dis Monique wat nie haar sout werd is nie en sy moet oppak en huiswaarts keer.

Plaasjapie
Cheers, Monique… Foto: Verskaf

Monique groet

“Ongelukkig het ek té veel, té vinnig, vertrou. Blue het vir my so voorgekom as so ’n down-to-earth-hartsmens. En dit wys jou eintlik so dat mense op die oog af net soos vir jou in die oë kan kyk en vir jou soos solidly kan jok, so oortuigend. Ek’s p*ssed off. Bef*k, actually.

“Ek dink ek het my kinders trots gemaak, maar ek wil net vir hulle wys ook al wen jy nie, jy moet nog steeds met ’n positiewe gesindheid uitstap, maar laat jy vorentoe beweeg, laat jy leer uit jou foute uit. En net dat jy nie moet vashou oor wat in jou verlede gebeur het nie. Dat jy moet opstaan en aangaan. En dis wat ek gaan doen.”

Plaasjapie
Monique: “Ongelukkig het ek té veel, té vinnig, vertrou.” Foto: Verskaf

Volgende keer

Blue, die poppemeester, moet fyn trap op Groenkloof. Maar hy glo niemand moet vir hom vertel hoe hy die spel moet speel nie. En tydens ’n uitdaging met ’n bekende boer as beoordelaar, word die lemoene gedruk dat die sap so spat.


Plaasjapie S2 saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies