Tydens verlede week se episode is daar ’n paar benoude spronge gemaak, die waarheid oor ’n pekelpennie verdoesel en Milandie Grimbeek is huis toe gestuur.
Groenkloof
Dis ’n gedempte oggend wat heers op Groenkloof. Nie net het Liovian vir Etienne by hulle weggevat nie, maar Milandie is ook weg. Twee spanmaats weg op een dag… Monique sukkel met haar hart-kop-besluit oor Milandie en dis ’n emosionele oggend vir haar.
“Ons is almal g*tvol vir bully beef, ons almal soek net suiker saam met ons fricken koffie en nou moet jy iemand waarvan jy hou, waarvoor jy omgee, moet jy uitstem,” kom dit met ’n hartseer stemmetjie van haar. “So, ek moet net sluk dit en hope it pays off.”
“Pak julle sakke,” lees Monique die dag se briefie. “O, my donner,” kom dit van Zanie. “Nee, rêrig?” wil Blue weet. “Ek sweer,” bevestig Monique die inhoud van die briefie.
Dis Riaan wat die lig sien. “Top-10, julle!” terwyl Anelda baie ongelukkig verklaar dat sy gisteraand haar sak gepak het.
Oranjezicht
Dis Liovian wat die mandjie na die groep bring.
“Goeie môre, Oranjezicht. Dis die winde van verandering wat waai. Pak julle sakke, ontmoet my later op die Klein Werf,” lees sy voor.
Daar word gegis oor wat dit beteken en woorde soos “switch, interessant en oukei” duik op.
“En hier kom nou weer change. So, ja. Hierdie is nou glad nie vir my ideal nie,” kom dit van Etienne terwyl hy sy sak pak en kombers opvou.
“Al wat dit vir my kan beter maak, is as ek wel vir Groenkloof sien, en sien Milandie is nie meer daar nie. Ja, hierdie is nie goed nie.”
“Die probleem by Oranjezicht is ons wil buddy-buddy. Ek dink ons is te close aan hierdie kant, ons moet strategies beginne dink. Ek dink dit is half wat ons nodig het,” is Michelle se gedagte oor die moontlike verandering.
Klein Werf
“Ons koppe is heel deurmekaar, want wat beteken dit?” wil Blue weet op pad na die Klein Werf.
“Gaan ons plase ruil, gaan ons mekaar uitstem? So, dit is ’n hele senuweeagtige gevoel wat op die plaas heers. Maar op ’n manier sien ons ook uit na die verrassing wat voorlê.”
By Klein Werf vertel programaanbieder Ewan Strydom vir die twee spanne dat hulle, nes Riaan dit verstaan het, nou die amptelike top-10 is. Hy wil ook weet of hulle reg is vir die dag se uitdaging. Almal beaam kopskuddend dat hulle reg is.
“Maar eers, daar’s nou vir julle gesê om jul sakke saam te bring. Vandag gaan ons spanne skuif,” is Ewan se volgende woorde.
Hy sê het vroeër die oggend na die soutsilo’s in die Koöperasie gaan kyk en gevind daar is twee mense wat die minste sout opgegaar het.
Dit is Zanie (Groenkloof) en Liovian (Oranjezicht). Hulle word aangesê om te bly staan waar hulle is terwyl die res van die twee groepe op hul spankleure moet gaan staan.
Hy laat vir Zanie en Liovian omruil en oorhandig hul nuwe spanklere en -kleure aan hulle.
Nadat die twee hul nuwe kopbande om hul hoede gedraai het, wag die volgende taak: Zanie moet iemand van die oorspronklike Oranjezicht kry om by haar aan te sluit. En dit moet ’n man wees. Liovian kry dieselfde opdrag.
’n Muntstuk gaan bepaal wie van die twee eerste sal kan kies. Dis Liovian wat eerste kan kies en sonder huiwering noem sy Riaan se naam. Hy fluister “dankie, dankie” aan haar toe hy langs haar gaan staan. Zanie kies vir Pieter.
Nou kom daar weer ’n kinkel. Die nuutverkose manne moet nou ’n vrou kies. Riaan kies vir Michelle en Pieter kies vir Anelda. Op haar beurt kies Michelle vir Blue en Anelda kies vir Etienne. Blue kies vir André en Monique word deur Etienne gekies.
Die uitdaging
Vandag word daar ’n veiling gehou. Elke span gaan 5 000 Plaasjapie-munte ontvang, waarna hulle op verskeie items kan bie.
“Daar is items wat jul plaas se waarde kan opstoot, en dan is daar items van ’n meer persoonlike aard wat oorhandig sal word aan die persoon op wie die bod val,” verduidelik Ewan die prosedure. Hy vertel ook dat daar ’n blinde bod ingesit kan word op items wat bedek is.
Die eerste item laat almal dadelik regop sit: ’n toeknyprooster, wors, tjoppies en ’n lekker knoffelbroodjie. Groenkloof verseker ’n suksesvolle bod van 700 Plaasjapie-munte!
“Daai’s ’n ou koei se vleis,” laat Pieter droogweg hoor en vertel tot groot vermaak vir Oranjezicht dat hy eintlik baie van bully beef hou.
Die volgende item is ’n Husqvarna-bossiekapper en die bod begin op 300 Plaasjapie-munte. Dis Oranjezicht wat dit vir 700 Plaasjapie-munte koop.
“Ons sal die bure se gras gaan sny,” kom dit laggend van Etienne terwyl Monique al te pronkerig met “haar” bossiekapper rondparadeer.
Dan volg ’n toe item. Weer is dit Monique wat 500 Plaasjapie-munte daarop waag. Dis ’n spanningsvolle oomblik voordat Ewan die item oopmaak: Skilpadjies! Daar gaan beslis heerlik geëet word op die plase later die aand.
Dan volg daar ’n blywende item: ’n wasmasjien – en dis Riaan wat 500 Plaasjapie-munte daarvoor hoes.
Lieflike, goue stroopsoet en krakerige koeksusters en ’n tuisgebakte melktert laat almal na hul asem snak. Maar Ewan speel nie met die prys nie. Die bod begin op 500 Plaasjapie-munte. En toe dit by 1 100 Plaasjapie-munte begin draai, roep Riaan hokaai namens sy span. Dis weer Monique wat die hoogste bod ingesit het.
Oranjezicht verspeel nie ’n enkele oomblik nie en voor jy kan sê “mes” word daar heerlik weggelê aan die koeksisters, wat Monique as “so crispy en so soet” beskryf.
Die volgende item is weer toegemaak. Die bod begin op 300 Plaasjapie-munte en gou klim dit na 500 Plaasjapie-munte. Blue se bod is die hoogste – en hy wens vir iets lekker of iets wat hy met Groenkloof kan deel.
Tot groot vermaak van almal is dit beslis iets wat nét Blue kan geniet: ’n gekookte eier!
Riaan is redelik ontsteld. “As ek sê stop, stop. Nie eers flinch nie. Stop! Ek kan hom [Ewan] lees. Ek het veilings gedoen vir ’n lewe.”
In die stadium het Oranjezicht 2 900 Plaasjapie-munte en Groenkloof 3 400 Plaasjapie-munte oor.
Die volgende toe item is vir ’n individu, vertel Ewan die spanne. Riaan smeek sy span om by 300 Plaasjapie-munte te stop. Maar Ewan begin die bod op 300 Plaasjapie-munte . . .
Dis weer Blue wat 500 Plaasjapie-munte aanbied vir die bedekte item. Dit is toe inderdaad ’n nota, een wat hom ’n ekstra pekelpennie in die sak bring! Net daar skeur Blue die nota op, verbrand dit en stap stil-stil terug na sy span.
Dit sluit ook die veiling af, maar dis nie die einde van die dag se verrassings nie. Ewan lig hulle in dat daar ’n ietsie ekstra op die plase afgelewer is en dat hulle mooi daarna moet kyk.
Hy moedig die twee spanne om hul nuwe spanmaats beter te leer ken en seker te maak hulle is reg vir die volgende uitskop-uitdaging.
Terug by Groenkloof
Blue is in ’n tweestryd oor sy tweede pekelpennie. Wat gaan hy antwoord as die span wil weet? Hy besluit hy sal ’n storie opmaak oor ’n oproep wat hy na sy ma- en ouma-hulle kan maak.
Liovian sê sy dink die landerye kort nog baie water. Blue sê hulle het dit al twee keer die oggend gedoen, maar dat die son baie warm is. André sê hy is ’n bietjie geskok met die toestand van die plaas.
“Dit lyk meer na ’n skrootwerf as ’n plaaswerf,” sê hy.
Riaan voel baie ontwrig omdat dit net hy en Blue is wat oorgebly het van die oorspronklike Groenkloof en sê alles voel vir hom abnormaal dat hy vervreemd voel op hul eie plaas.
Terug by Oranjezicht
Pieter is die enigste oorspronklike Oranjezichter wat oorgebly het. Hy voel vir die eerste keer in die reeks senuweeagtig.
“Gister was vir my fantasties. Nou sit ek in ’n groep op ’n plaas saam met my ou spanmaats saam wie ek glad nie wil wees nie,” kom dit sugtend van Etienne. Intussen probeer hy by Monique uitvind wat die vorige aand gebeur het by die Koöperasie-kuier.
“Ag, ons het maar net almal besluit ons stem vir Milandie,” sê sy en erken dat dit baie moeilik was om vir Milandie te stem.
“My posisie in Oranjezicht, sou Etienne vir my vra of my nader en sê ‘weet jy wat, ons moet weer saamspan en weer ietsie begin’ . . . Ek sal reguit vir hom sê ‘staan hier brood op my voorkop?’ I don’t think so,” sê sy.
Nuwe verantwoordelikhede
Op Groenkloof besluit Michelle sy sal die skape onder haar vlerk neem.
“Toe sien ek hier was maar min gewerk. En toe besef ek ek gaan nou weer van vooraf moet begin werk, waar alles tip-top was by Oranjezicht.”
“Ek moet sê ek is geskok, want die toestand van dié plaas…” begin André en Michelle voltooi sy sin: “ . . . is skokkend.”
“Nee, hier’t hulle nog niks gedoen nie. As ek moet vergelyk met Groenkloof se werf . . . Oranjezicht . . . nee, nee, nee,” gaan ’n ontstelde André voort.
“Weet jy wat is die hartseer ding? Ons het so hard gewerk om ons plaas dáár te kry. En nou begin ons onder,” bekla Michelle hul lot teenoor André.
Op Oranjezicht erken Anelda aan Pieter dat dit bietjie mooier daar is as op Groenkloof.
“Jisss, Oranjezicht lyk baie, baie beter as Groenkloof! Ek voel so ’n bietjie in die gesig gevat. Dis hoekom ek sê ek voel nog soos ’n gas,” erken Anelda later.
Zanie en Anelda besluit hulle sal die verantwoordelikheid vir die varkies en die hoenders tussen hulle opdeel en dat dit reg is om Pieter by die beeste te hou. Zanie en Michelle besef ook dat die kombuis baie netjieser is as die een wat hulle by Groenkloof aftergelaat het.
Op Groenkloof probeer Riaan vir Michelle en André wys hoe om met die gieter te werk, maar die twee wil veel eerder hul Oranjezicht-metode met die emmers toepas vir natgooiwerk. Riaan laat sak sy kop en gieter voort op sy ou manier.
Michelle is glad nie gelukkig met Riaan se strategie nie. Hulle moet die water aandra en dan gooi hy net nat. Sy wil hê almal moet dieselfde doen sodat almal ewe moeg kan wees.
“So, moenie jy daar met jou ou gietertjie staan en net so ’n bietjie natmaak, en half natmaak in my opinie, en dink die werk is klaar nie,” sê sy.
Liovian probeer by Blue uitvis wie die sterkste in hul oorspronklike span was. Hy sê dit was Etienne en Milandie. Na die gesprek is Liovian in tweespalt omdat Etienne gesê het Blue is nie eintlik iemand wat weet wat hy wil doen nie.
Intussen is Blue besig om planne te smee vir ’n bondgenootskap met Riaan.
Wat is Ewan se verrassing vir die spanne?
“Gebruik die plank en bakstene om ’n hout-houer te bou,” is die instruksie wat Riaan voorlees.
Hy besluit dis maklik om te doen, maar Michelle besef dat dit nie werklik die geval is nie. Riaan het begin om die bakstene en plank bymekaar te sit, maar dit werk nie uit nie. En dis juis sy wat die prosedure uitwerk om die houer te bou.
“En toe’s hy sommer stil. So, weer eens het ’n vrou net vir hom gewys dis hoe dit gedoen word,” laat Michelle hoor.
Op Oranjezicht word daar goed saamgewerk. En dis Pieter wat nog ’n stukkie papier tussen die hout gewaar. Op die stukkie papier staan daar dat die persoon wat dit gevind het, die nuwe plaasbestuurder is.
“Ek wou nie die plaasbestuurder van Oranjezicht al op die eerste dag wees nie. Omdat ek ook in die minderheid is. Ek en Etienne ken mekaar nou al vir ’n dag, maar die res; jy weet nog nie regtig waar, en hoe en wat nie,” sê hy en terselfdertyd voel hy dis ’n sterker span as sy vorige span.
“Maar sterker is nie altyd beter nie,” sluit hy af.
Op Groenkloof is dit Blue wat die lootjie vind en die nuwe plaasbestuurder word.
“Iewers is higher powers besig om vir my beskerming elke dag te stuur, want as dit nie die ekstra pekelpennie is wat ek wen nie, dan is dit ’n plaasbestuurderskap wat tussen hout weggesteek is.”
En net daar verkoop hy sy selfgeskepte waarheid om sy tweede pekelpennie te verdoesel. Hy vertel vir die groep dit was ’n oproep huis toe. “Ek kan ’n video call huis toe doen,” brei hy uit. “Dis hoekom my trane amper uitgeval het.”
Die spelers begin speel
Pieter wil by Zanie weet hoekom sy hom eerste gekies het en nie vir Etienne nie.
“Etienne het my omgevurk aan daai kant, so – dis hoekom,” lag sy terwyl Etienne onskuldig pleit.
“Ek vertrou hom glád nie. Net die rukkie wat ons hier was het hy my, Anelda en Monique weer drie verskillende goed gesê. So, allerhande storietjies. So, ek vertrou hom glad nie, glad nie,” sê Zanie.
Fluister-fluister is Etienne besig om Pieter sover te kry om een van die vroue in die span aan hulle kant te kry, anders gaan hulle die twee mans een vir een elimineer. Hy stel Anelda voor.
“Ek dink definitief Pieter en Zanie kan ’n konneksie vorm. So, ek gaan dit maar net weer onder sy aandag bring: onthou net sy’s ’n gatherer, sy soek informasie en sy vind al hierdie goeters uit, maar aan die einde van die dag gaan sy hom ook onder die bus gooi,” is Etienne se mening.
Terwyl Pieter sukkel om die pad vorentoe uit te werk, is Zanie en Monique vasbeslote om van Etienne ontslae te raak. Zanie noem aan Monique dat Etienne beslis pylreguit op haar gaan fokus, maar hulle sal nie teen Monique gaan nie.
Krieweling in die kamp
Die kole is reg vir die tjoppies en wors en Riaan neem die taak op hom om dit gaar te maak. Maar Liovian is ongelukkig. Diep ongelukkig.
Sy voel die plaas se instandhouding is nie van die beste nie en sê aan Michelle dat daar ’n bietjie vasgevat moet word.
“Riaan moet gaan. Ek dink ek en sy persoonlikhede gaan ’n klein bietjie bots, nie lelik nie, maar ek weet almal sê nou hy het ons baie welkom laat voel. Hy het ons nie baie welkom laat voel nie,” sê Michelle en sy baseer dit daarop dat hulle moet aanpas by wat reeds daar is.
Etienne pols Anelda oor bondgenootskappe en begin die spel dat hy met haar wil saamwerk. Tydens die gesprek speel hy kliphard op haar gevoel, maar gaan Anelda daarvoor val?
“Nie een van ons val rêrig vir ’n praatjie van Etienne af nie. Hy gaan basies sy asem mors. Hy kan maar met Pieter gaan praat,” kom dit later ferm van Anelda.
Op sy beurt werk Blue aan Riaan om, sou hulle by ’n Koöperasie-kuier opeindig, sy pekelpennie te speel. Blue is natuurlik ook bereid om syne te speel. Al het hy twee…
Hallo, Ewan!
Ewan daag onverwags by Groenkloof en Oranjezicht op om uit te vind hoe dit met die twee nuwe spanne gaan. Hy kom om die nuwe plaasbestuurders in te lig oor ’n nuwe kinkel rondom hul verantwoordelikhede.
Die lootjie kom met ekstra verantwoordelikheid wat of ’n stok in die speke kan wees of iemand die hef in die hand gee.
Wie is die agteros, die steeks donkie, wie is die swart skaap, wie is die wolf in skaapsklere, wie is die vark in dié feëverhaal? wil Ewan weet.
Die plaasbestuurders moet een van hul spanlede die trekpas gee na die ander plaas toe!
Volgende keer
Wie gaan die trekpas kry? Riaan voer ’n gewigtige gesprek met Blue, en Etienne . . . wel, hy’s Etienne. En solank hy woorde het om mense van plan te laat verander, gaan hy dit doen.
Plaasjapie S2 saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.