“Ek is klaar. Ek is uit. Soos in uit, uit, uit,” was Riaan Snyder van Piet Retief se skokkende woorde aan Blue in verlede week se uitsending van kykNET se gewilde werklikheidsreeks Plaasjapie. Die trane het gevloei, veral van Blue se kant, en Riaan se wens om die reeks te verlaat, het waar geword.
Nuwe plaasbestuurders
Dis weer tyd om lootjies vir ’n nuwe plaasbestuurder te trek. Op Groenkloof is dit André en hy voel opgewonde oor wat voorlê. Onder luide toejuiging op Oranjezicht is dit Zanie wat die lootjie triomfantelik omhoog hou.
“Regte tyd, regte plaas, regte alles. Ja, nee, timing was perfek gewees,” kom dit glimlaggend van haar.
Liovian sê sy was aangenaam verras toe die mandjie, benewens die lootjies, sonder die gewone brief daarin, daar beland het. Maar die plaasjapies het vermoed dat daar iets aan die broei is omdat hulle vir programaanbieder Ewan Strydom by die Koöperasie moet ontmoet.
Koöperasie-kuier met ’n kinkel
Ewan noem aan Oranjezicht dat Riaan nie sy sout werd was nie. Ook dat daar munt geslaan is en dat die pryspot nou op R865 000 staan.
Vir die beloningsuitdaging moet die twee plase vir Ewan ’n heerlike driegang-maaltyd voorberei. Maar nie sommer enige driegang nie. Dit moet ’n boerekos-middagete wees!
Elke span kry ’n boks met basiese noodsaaklike bestanddele wat by die onderskeie plase afgelewer gaan word. Die spanne moet onder mekaar besluit watter spanlid of -lede gaan vir elkeen van die disse verantwoordelik wees.
- Vir die voorgereg soek Ewan ’n lekker slaai. “Maar belangrik, vir die voorgereg moet julle al die bestanddele in die mandjie in julle slaai gebruik,” plaas hy ’n demper op hul aanvanklike entoesiasme.
- Vir die hoofgereg wil hy ’n proteïen, ’n stysel en groente op die bord sien. Die koppe knik instemmend.
- Vir die nagereg is daar drie verskillende opsies, resepte ingesluit.
Die plaasjapies het ook die keuse om van die produkte wat hulle op die plaas verbou, te gebruik in enige van die drie gange.
Die wenplaas wen persoonlike luukshede terug wat elkeen van hulle van die stad af saamgebring het. Praat van ’n stewige skeutjie motivering!
En dan die kinkel . . . Altwee die spanne gaan by die Koöperasie-kuier wees. Dan die skokkende aankondiging dat twee mense tydens dié kuier die plaas gaan verlaat. Daar kan vir enigiemand gestem word, ongeag op watter plaas die persoon hom- of haarself bevind. Dit sorg vir ’n paar kennebak-op-die-grond-reaksies.
Dis nie al nie. Die prys van sout in die vorm van die pekelpennie staan op ’n allemintige R75 000. Dit is ook die derde laaste keer waar die pekelpennie gespeel kan word.
“Hierdie beloningsuitdaging is ’n grote, want die persoon of persone wat vandag se beste dis voorberei, sal vanaand veilig wees by die Koöperasie-kuier. En dis ’n individuele dis. Dit beteken niemand sal by jou kan sout aftap nie – en dít sal ek eers vanaand by die Koöperasie-kuier bekend maak,” is die wortel wat Ewan voor die twee verdwaasde spanne se neuse rondswaai.
Die beoordelaars
Ewan het twee persone ingeroep om te kom help met die beoordeling van die disse, en dis die twee finale onthoukokke van die eerste seisoen van Kokkedoor: Vuur & Vlam – dis die naaswenner Nate Smith en die wenner Karen Els!
“Gebruik daai vuur-element tot ’n voordeel vir jou. Jy weet, dit bring regtig ’n ander smaak uit in jou kos. En jy weet, pamperlang daai vuurtjie. Jy het verskillende hitte-elemente wat jy kan gebruik – en hitte-areas – tot jou voordeel,” is Karen se raad.
“Die belangrikste deel vir my wanneer ek voor ’n bord kos is, is om te onthou I came to eat, reg? Dis E.A.T. E is execution. Is wat jy gemaak het wat jy my belowe het? So, moenie vir my sê jy gaan ’n bredie maak, dan gee jy my sop nie.
“Tweedens, die A is appearance. Lyk dit soos iets wat ek wil eet? En laaste, die grootste deel . . . sal ek sê is ‘taste’. So, daai drie vir my is 25%, 25% en die grootste deel is op taste. Hy tel 50% daar vir my,” kom dit van Nate.
Met die twee se wysheid agter die rug, kondig Ewan aan dat die spanne vir ’n kort tydjie kan beraadslaag voordat hulle in die Koöperasie vir bestanddele (buiten dié in die mandjie) gaan soek.
Wie gaan wat doen?
Groenkloof se Blue gaan die voorgereg maak, en by Oranjezicht gaan Zanie die slaai takel. Hul mandjies bevat onder andere babaspinasie, roketblare, spek, feta, ingelegde vye en neute. Karen sê sy is baie bly om die spek te sien omdat dit so tipies Suid-Afrikaans vir ’n slaai is.
Op sy beurt sê Nate die grootste versoeking waarteen gestry moet word, is om die slaai net te meng. Hy soek diepte van geure, en dan noem hy ook ’n goeie slaaisous om die slaai te komplementeer.
Blue is opgewonde en vol vertroue dat sy slaai goed gaan wees, ’n treffer soos hy dit noem.
Vir Oranjezicht is dit Michelle en Etienne wat hand opsteek, met André en Liovian slaggereed om Groenkloof se naam hoog te hou met die hoofgereg.
Die proteïen-aanbod bestaan drie moontlikhede: biefstuk op die been, pork belly en ’n heel hoender. Vir stysel is daar stampmielies, rys, aartappels, patat en mieliemeel.
Karen sê daar moet gedink word aan wat jy op ’n Sondagmiddag gëeet het nadat jy van die kerk af by die huis kom. Op sy beurt sê Nate die plaasjapies moet familiekos maak, kos waarvan hul families gaan hou.
Etienne sê hy is baie gemaklik om met vark te werk. Michelle steun hom daarin. André en Liovian kies die heel hoender.
“Kosmaak is right up my alley. Ek geniet dit om in die kombuis te wees by die huis en ek geniet dit om saam met my man en kinders kos te maak. Ja, dit voel net lekker om myself te kan uitleef met kos en geure,” sê Liovian.
Malva-, sago- of ’n Jan Ellis-poeding is die opsies waaruit Monique vir Groenkloof en Pieter en Anelda vir Oranjezicht moet kies. Maar dis nie genoeg vir Ewan nie, hy soek vla daarmee saam.
Monique, ’n selferkende soettand-slaaf, kies sago. Pieter en Anelda kies malva. Hy het as jong man gebak, maar erken kosmaak is nie sy forté nie.
Die spanne kry drie uur om hul boere-meesterdisse voor te berei. Die proe gaan op die plase wees en hulle moet sorg dat daar netjiese tafels gedek moet wees vir die boordeling van hul disse.
Een, twee, drie . . . Kook!
“Ek verander in ’n sjef!” kom dit van Blue terwyl hy deur die verpligte bestanddele vir sy slaai werk. Hier sny, daar sny en dan gaan dit werk . . .
Anelda en André is baie doenig met die hoender en maak die res van hul span gespanne. Gaan die hoender betyds op die rooster beland?
André beplan om die hoender teen ’n lae hitte te braai. “My tegniek gaan stadige kole wees vir vandag se hoenderbraai.”
Ook op Oranjezicht is dit ’n bedrywigheid uit ’n ander wêreld. Byna-byna interpreteer Anelda die resep verkeerd, maar gelukkig is Pieter byderhand om te red.
“Dit gaan goed vandag, maar ek weet voor my heilige siel . . . as my pork belly nie wen vandag nie . . .dan dink ek gaan ek huis toe. Daar’s ’n baie groot moontlikheid,” kom dit van Etienne.
Monique is baie bly sy het sago gekies.
“So, dis nie iets wat gebak moet word en kan brand aan die onderkant nie. Haaa, vir ’n blonde kan ek dink, né?”
Konkel tussen die kosmakery deur
Terwyl Etienne gelukkig met sy pork belly, is hy bekommerd oor wat tydens die Koöperasie-kuier kan gebeur. Hy kry vir Michelle eenkant langs die dam. Maar dit vind nie ongesiens plaas nie. ’n Geïrriteerde Anelda wil weet of hulle dan nie werk het om te doen eerder as om strategie te bespreek nie.
Etienne sê vir Michelle haar kop is op die blok en dat daar teen haar gestem gaan word.
“Ek sal nie hierdie informasie met jou gedeel het as dit nie nodig was nie,” verseker hy vir Michelle. “So, ek vertrou julle vir my longevity in hierdie game baie meer as wat ek hulle vertrou.”
Sy volgende teiken is Zanie en fluister-fluister vertel hy vir haar dat hulle opsies Pieter of Michelle is.
“So, as een van hierdie twee wen, sê nou maar Michelle, dan gaan ons vir Pieter. Altwee van hierdie kan nie wen nie,” is van sy fluisteringe. En hy erken dat hy reeds by die Koöperasie-kuier vroeër vir Michelle en Pieter van mekaar geskei het.
Maar Michelle is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie.
“Die konkelry terwyl ons gekook het, het my heeltemal omvergegooi. Hulle moet nou op hou hanna-hanna en ons moet hierdie ding aan die gang kry,” sê ’n verviesde Michelle. “Really? Wil jy nou sommer self jouself uitstem?”
“Hy gaan verseker wen, ek weet dit. Sy pork belly gaan definitief wen,” sê Zanie vir Pieter.
“Ons is almal van die idee dat indien hy nie wen nie, gaan ons almal . . .” is Pieter se reaksie. Hy en Zanie stem saam: Etienne is die teiken as sy pork belly hom pootjie. Pieter erken ook dat Etienne Zanie se naam genoem het as die persoon wat uitgestem moet word.
“Ek kan haar glad nie vertrou nie. Ek kan regtig nie met haar werk nie. Ek weet nie eers hoekom het ek dit probeer nie. Maar ek weet Michelle sal kan deurdring na Pieter toe – en hulle sál my glo, want ek hamer net heeltyd by Michelle ‘hierdie girls laaik jou glad nie’. So, bly jy by die boys of gaan jy saam met die girls? Kies een,” is Etienne se strategie.
“Ek kan nie ’n goeie slaai maak nie . . . dis hoekom ek wens ek kon my game ge-uplift het,” kom dit van ’n onstelde Zanie. “So, wat ek nou al weet as ek nie . . . my slaai wen nie, gaan ek tien teen een my pekelpennie moet speel.”
Opdientyd op Oranjezicht
Etienne en Zanie is krapperig met mekaar oor hoe sy die slaai moet voorsit.
“Sy wil blare op my pork belly sit en ek sê dit kom nie op hierdie bord nie. Ek wil hê my bord moet mooi lyk want ek wil graag hê . . . ek wil nie huis toe gaan nie,” kom dit vurig van Etienne.
Later bied hy vir Zanie so ’n halfwas-verskoning aan. “Ek het nie bedoel om . . .” en hy laat dit daar.
Pieter sê die konkelry tydens die kokery was intens.
“Dis ’n Etienne-ding. Ek dink nie dis ’n ding wat enigiemand sal verwag het nie. Etienne probeer net hierdie ding te speel en ek dink hy gaan hom probeer speel. Maar almal weet wat aangaan. So, sy dae is definitief getel, behalwe as hy heeltyd wen.”
Etienne speel gasheer vir Ewan, Karen en Nate. Hy noem die slaai Zanie se deconstructed vy-en-bacon-slaai voordat hy breedvoerig oor die pork belly-dis uitwei. Hy sluit af met Pieter en Anelda se malva-poeding en vars vla.
Karen is gek oor die slaaisous wat die hele slaai bymekaar bring. Nate voel die slaai kon kleiner en ’n bietjie mooier gewees het, maar die geure is beslis daar.
Karen voel die hoofgeregporsies kon fyner gesny wees terwyl Nate dink die pork belly is baie goed gedoen.
“Hy lyk vir my baie lekker, soos ’n sonde,” swaai Karen die malva-poeding lof toe.
Met die wegstap herinner Ewan die plaasjapies aan die Koöperasie-kuier later. Hy noem ook dat die plaas wat gewen het, se vlag daar sal wapper.
Opdientyd op Groenkloof
Blue sê hy het na Karen se advies geluister om die sout en soet geure te ontwikkel vir sy slaai.
“Julle, dis ’n fantastiese slaai,” kom dit van Nate.
“Ons hoofgereg is ’n bord vol kleurvolle liefde, soos julle kan sien. Eg Suid-Afrikaans met ’n lekker spatchcock hoender wat ons op die kole gebraai het vir julle” stel Liovian haar en André se hoofgereg voor. Karen is beïndruk met hoe hulle die witrys in pikante rys omskep het.
André se hoender ontlok heelwat komplimente – van die krakerige velletjie tot die egalige deurbraai. Vir Karen proe dit soos ’n Sondag-oondhoender op die vuur.
Monique se sago-poeding, voorgesit in ’n blikkie, is ook ’n verrassing vir die beoordelaars. Die sago is perfek gekook. Dis duidelik dat daar ’n paar taai besluite op Nate en Karen wag.
Wat dink die beoordelaars?
Zanie se slaai het hulle nie beïndruk nie, alhoewel die hoofmaal en die verskillende elemente daarmee saam, goed deurdink is. Die nagereg was “oordonderend soet” vir Karen.
Blue se slaai word as restaurantgehalte beskryf, veral omdat hy bloot net ’n vuur en ’n gat in die grond tot sy beskikking gehad het. Die hoender was heerlik, maar daar was droeër dele. Monique se nagereg was vir hulle soos ’n geskenkie. “Jy kies hoe jy hom wil eet,” sê Karen.
Watter dis is die beste? Dit sal eers later bekend gemaak word. Oor die algemeen gee hulle Groenkloof twee punte: Vir die slaai en die sago. Oranjezicht kry een punt: Vir hulle hoofgereg.
Oranjezicht is verpletterd toe die groen vlag gewapper word. En as daar ’n dak bo die Groenklowers was toe die wenner aangekondig is, sou dit tot in ’n ander provinsie gelig het.
Boonop wag die luukshede wat hulle moes agterlaat, ook op hulle: Blue se batterywaaier teen die hitte, Monique se kussing en boek, ’n boek vir Anelda en ’n slaapsak vir André.
Stilte en strategie op Oranjezicht
Dis maar ’n bedeesde groepie wat besig is om skottelgoed te was en op te ruim op Oranjezicht.
“Ek dink op hierdie stadium . . . almal sal bang wees om teen my te kom bied. Maar ja, ek hoop en bid dat daai beoordelaars vandag dink die groente en die pork belly was fenomenaal, saam met Michelle,” sê Etienne.
Plan A is dat Etienne moet huiswaarts keer. Maar as hy die wenner is, dink Pieter Blue moet Plan B wees. Hy is net nie seker hoe Anelda daaroor gaan voel nie. Maar sy verbaas hom deur te sê in hierdie stadium is dit elke man vir homself.
“Ek dink Etienne gaan prime suspect number one wees vir almal. So, ons het nou al klaar beplan om nie vir Etienne te stem nie. Net met wat ons weet, gaan miskien die hele ander kamp vir Etienne stem,” kom dit van Pieter.
Intussen word daar op Groenkloof bespiegel wie hierdie keer tasse gaan pak: Pieter, Etienne of Michelle? Die Groenklowers gaan nie teen mekaar stem nie, glo André. Hy, Blue en Monique besluit Pieter is hul teiken.
Anelda het egter ’n belofte aan Blue gemaak. Ten spyte van haar woorde vroeër, vertel sy vir Zanie sy gaan nie sout by hom aftap nie. Later oorreed Zanie vir Anelda om dan vir Monique te stem. Sy belowe. En Michelle, Pieter, Zanie en Anelda verenig op Monique.
Maar moeilikheid huiwer op die horison. Blue het steeds sy mes hef-diep in vir die Oranjezichters en kan nie wag vir soete weerwraak nie . . .
Koöperasie-kuier
Dit is die eerste gesamentlike Koöperasie-kuier vir die twee spanne. Ewan sê hy weet hulle brand om te weet wie die beste dis voorberei het, en dus ook veilig is. Hy haal een van die geroeste soutemmertjies uit en sit dit voor die gespanne groep voor.
“Die beste individuele dis van die dag, is Blue!” Absolute ongeloof, en natuurlik ook blydskap vir Blue.
“Jou slaai het vir hulle [die beoordelaars] gesing op daai bord,” vertel Ewan vir Blue.
Monique maak van die geleentheid gebruik om ’n ou koei of twee uit die sloot te grawe, soos toe daar destyds tydens die eerste Koöperasie-kuier geïmpliseer is dat sy nie haar sout werd was nie en fisiek nie sterk genoeg is nie.
“Nou is die fisiese aspek iets wat dalk nie in jou guns tel nie.” Terselfdertyd doen sy ook ’n beroep op die lojaliteite van die oorspronklike Groenkloof-bande.
Etienne sê: “Ek dink die ou bande was dalk nie noodwendig goed vir ’n individu gewees nie. Die nuwe bande is dalk soveel beter.”
Blue pleit by die plaasjapies om nie oorhaastig te wees om hulle pekelpennies te speel nie. As almal nou wel hulle s’n speel, neem dit R600 000 weg van die pryspot. Hy sê daar moet vertrou word op die mense met wie daar bondgenootskappe gevorm is.
Stemtyd
Ewan herinner die plaasjapies daaraan dat twee mense vanaand huis toe moet gaan. Vier soutemmertjies maak hul verskyning. Daar is afgetap en pekelpennies is ingespan.
Etienne, Monique, Pieter en Zanie se soutemmertjies verklap dat hulle vier se koppe op die blok is.
Pieter se naam word eerste genoem en sy emmertjie word leeggetap. “Geniet die bully-beef en die baked beans, ek gaan nou ’n cheese burger geniet,” groet hy.
Die tweede persoon is: Etienne!
Die pryspot het nou gekrimp tot R790 000.
Etienne groet
“Ek weet ek speel hard, ek weet ek’s intens. Ek het nie gedink ek is so ’n groot bedreiging vir iemand wat vir presies dieselfde goal as ek gaan nie. En ek weet, as ek enige van die ander deelnemers was, sou ek ook nie teen myself in die finaal wou wees nie.
“Ek dink ek en hy [Pieter] stap weg met presies dieselfde gevoel. Ek weet dis omdat ons so goed gedoen het, dat die res nie daarmee kon deal nie.
“Ek gaan definitief die goeie behou. Ek het verskriklik baie geleer. My waardering vir lewe, overall, dink ek is seker die grootste ding wat ek saam met my huis toe vat.”
Pieter groet
“Ek het te veel met ’n span gesit wat gesukkel het. En ek moes daai persoon wees wat die beste persoon is om ons daaruit te kry. ’n Speletjie soos Plaasjapie – is nooit die leeu wat die game wen nie, dis altyd die jakkals – en ek voel ek was te veel van ’n leeu gewees. En dis hoekom ek, jy weet, is waar ek is.
“Die plaas was ’n great experience vir my gewees en daar’s baie nuwe ervarings en goed wat ek moes oorkom het. Maar dit het my ook gehelp om te wys wie ek is, jy weet, en waar ek inpas in die samelewing.”
Volgende keer
Blue bieg aan Monique dat hy ’n ekstra pekelpennie het. Gaan die twee saam die wa tot aan die einde kan trek? Maar iemand dink Blue is ’n meester-manipuleerder. En Anelda is besig om haar eie stem te vind.
Plaasjapie S2 saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.