Menu terloops
In Recaps & Resensies [6 Jun 2024]

‘Plaasjapie’ S2: ’n Skokkende aankondiging laat die trane loop


Verskeie deelnemers het in vandeesweek se episode van ‘Plaasjapie’ emosioneel swaargetrek. En toe moes hulle nog met ’n hindernisbaan klaarspeel.

Deur Annelene Oberholzer

Kyk Plaasjapie op DStv Stream

‘Plaasjapie’ S2: ’n Skokkende aankondiging laat die trane loop

Verlede week se episode van kykNET se gewilde werklikheidsreeks Plaasjapie het op ’n naelbyt-oomblik afgesluit. Niemand is huis toe gestuur nie, maar die spanne is geskommel en in hierdie episode moet die plaasbestuurders elkeen ’n spanlid die trekpas gee . . . Na die ander plaas toe!

Dis ’n taai ene vir Blue en Pieter.  En Ewan Strydom, programaanbieder, gee hulle grasie tot die Uitskop-uitdaging die volgende dag om die besluit te maak.

“Jis, hy [Ewan] kom net hier, broek is so kort, dan woel hy rond en dan gaan hy huis toe,” kom dit van Pieter. Dis vir Pieter baie moeilik om ’n besluit te neem want hy ken nie werklik een van sy nuwe spanmaats nie. Hoe gaan hy kies?

Blue dink dit is fantasties dat hy die kans kry om iemand na die ander plaas te stuur en hoop om iemand met wie hy in ’n bondgenootskap is, terug te verwelkom op Groenkloof.

“Dit gaan definitief ’n moeilike besluit wees, maar dit gaan ’n besluit wees wat ek voel is die beste vir my game en wat ek dink vir my die beste gaan wees,” sê hy aan sy Plaasjapie-spanmaats.

Blue dink dis die gepaste tyd om die drietal van Michelle, Liovian en André op te breek en een van hulle na Oranjezicht terug te stuur.

Oranjezicht

Die hoenders word gevoer, die land natgegooi en die nuuskierigheid vier hoogty. Monique wil by Pieter weet of hy al iemand in gedagte het. Pieter erken hy het geen idee nie, en dat hy vir Etienne bloot ’n dag langer as die res van hulle ken.

“Net ’n heads-up,” sê sy vir Pieter. “Etienne . . . Met hom is niemand veilig nie,” en sy vertel vir Pieter dat hy oor baie goeie oorredingsvermoëns beskik. Ook, as hulle na die Koöperasie-kuier toe moes gaan, sou sy, Zanie en Anelda teen Etienne gestem het. 

“Ons is eintlik maar pretty much g*tvol.”

Oor Pieter het sy van opinie verander en besef dat hy nou baie mag het.

“Ek moet hier bly en ek wil hier bly, en ek sal alles in my vermoë doen hier te bly,” sê sy en voeg by dat indien sy na Groenkloof teruggestuur word, sy beslis in haar peetjie sal wees as gevolg van Michelle en Liovian.

Pieter is nou deur Zanie én Monique teen Etienne gewaarsku. Maar hy voel ambivalent jeens Etienne. Hy het sy fisieke krag nodig, maar gaan dit dalk reg in Etienne se kraal speel?

“Ek dink op hierdie stadium hoop ek daar kom iemand van Oranjezicht terug,” vertel Etienne vir Pieter.

“Ek voel Zanie moet terug Groenkloof toe. As sy nie teruggaan nie, moet dit Monique wees. En dan is my laaste hoop net dat daar ’n Oranjezicht terugkom, want Pieter sal outomaties dadelik terugval by Oranjezicht, want die vier wat oorspronklik van Oranjezicht wat oor is, is verskriklik tight. Hulle kan maar weet hulle kan op my staatmaak,” is Etienne se versugting.

Groenkloof

André wens dat Pieter homself terugpos na Groenkloof toe sodat hulle almal weer bymekaar kan wees. Natuurlik hoop hy Blue doen ook dieselfde . . .

Blue sê vir Riaan hy is bekommerd oor hom omdat hy so eenkant en stil sit. Riaan erken dinge is net ’n bietjie te veel vir hom om te verwerk en dat hy voel alles val heeltemal uitmekaar uit.

“Die besluit wat ek môre gaan maak, gaan nie net vir my ’n positiewe besluit wees nie, maar dit gaan vir die OG [oorspronklike groep] ’n positiewe besluit wees. Jou face maak my bekommerd,” sê hy vir Riaan. Op sy beurt sê Riaan wanneer sy hart swaar is, is dit baie swaar. 

“So, op die oomblik is ek nogals bang dat die ou Oranjezicht Drie – Liovian, Michelle en André – dit lyk nie asof daar enigsins ’n inkomkans tussen hulle drie is nie. So, dit maak my nogals bekommerd, en ek gaan hulle definitief ’n run for their money gee. 

“En hulle gaan definitief môre geskok wees as ek een van hulle terugstuur Oranjezicht toe,” kom dit van Blue.

Terwyl die Groenklowers die mooi sonsondergang waardeer, verwys Liovian en Michelle na die stilte voor die storm. Ware woorde daai . . .

’n Nuwe dag

“Ek dink die realiteit het gisteraand baie groot ingesink dat waar ek vandag sit, en ek dink ek het vanoggend ’n moegheid aan my, maar ek dink dis van meer gedink as fisiek werk. 

“Ek weet op dié stadium sal Blue die beste besluit neem vir Groenkloof en ook vir die span vorentoe,” sê Riaan.

“Ietsie wat my pla, is die besering wat ek het, so, ek hoop nie dis baie fisiek nie,” is André se bekommernis oor die uitdaging wat op hulle wag en die spier wat hy in sy linker-bobeen gerek het. Liovian is baie simpatiek teenoor André en sy besering.

“Vandag is weer ’n emosionele ding want daar gaan weer skuiwe plaasvind en ek weet nie wat om te verwag nie,” kom dit van Michelle en sy sê sy mis ook haar kinders.

“Daar’s baie dinge… Ek het my ma verloor en my man het sy werk verloor. Ons het ons huis verloor. Ons het alles verloor, so ek weet wat swaarkry is . . . dat jy as kind kos kry en jou ouers moet honger gaan slaap. Ek weet hoe dit voel. 

“En die laaste twee jaar was net m**rse moeilik vir my. Finansieel . . . En ek heeltyd nog ’n werk gehad, ’n goeie werk met ’n goeie salaris. En my skoonsusters kyk verskriklik af op my, voel dit partykeer vir my,” sê Michelle terwyl sy magteloos teen die trane baklei.

“Ek gaan definitief vandag baklei – vir my kinders. Ek wil die geld hê om vir hulle te gee wat ek nooit gehad het nie,” kom dit vasberade van haar.

Op Oranjezicht woel Pieter nog met sy besluit. Hy besef Etienne praat nie altyd die waarheid nie, maar ook dat die ander drie meer die waarheid praat, maar nie alles vertel nie.

“Een persoon, op hierdie stadium, bepaal my hele game plan. En nou kan ek niks beplan nie want ek weet nie wie kom hiernatoe nie,” erken Etienne.

Die keuses

Ewan verwelkom die twee nuwe spanne by die Groot Werf en wil weet hoe dit gaan. Michelle sê Groenkloof is beslis ’n moeiliker plaas omdat dit teen ’n steilte geleë is.

“Daar was so hier en daar ’n bietjie werkies wat by ons meer in plek was as wat daar by Groenkloof in plek was,” sê sy. Sy voel hul landerye was natter en die diere het meer water gehad.

Blue word genooi om die keuse wat hy gemaak het, in Ewan se oor te fluister. Dan volg Pieter.

“Nou ja toe, kom ons maak daai laaste skuif!” sê Ewan aan die twee gespanne groepe.

“Michelle, Blue het vir jou gekies om oor te skuif Oranjezicht toe,” en daarmee nooi hy haar uit om haar nuwe spanklere te kom haal.

“En dan, Oranjezicht, Pieter se besluit . . . Monique.” Sy dink nie dis noodwendig ’n slegte ding nie. Etienne glimlag op sy eentjie.

Michelle vat die pad Oranjezicht toe. Foto: Verskaf

Die uitdaging

Elke span moet minstens twee emmers melk, twee dosyn eiers en vier sakke meel by die mark gaan aflewer. Die groot komplikasie is die hindernisbaan wat opgestel is tussen die produkte en elke span se markstalletjie. 

Die eerste span wie se stalletjie lyk soos die voorbeeld-stalletjie, is die wenners. Vir die verloorders wag daar ’n Koöperasie-kuier.

André maak die melkemmers vol vir Groenkloof – sommer twee gelyk – en maak dit sonder voorval oor die balansbalk. Op haar beurt is Michelle toe onder die modder met ’n hoed vol eiers waarmee sy onder ’n lae net deur die modder moet kruip.

Blue katrol die melkemmers in terwyl Michelle die eiers deur ’n baie nou metaalraamwerk vir Zanie aangee. Michelle ploeg vir ’n tweede keer deur die modder om nog eiers by hul stalletjie te kry.

Liovian kruip deur die modder. Foto: Verskaf

Blue moet hoogtrap tussen bande deur met die melk wat hy inkatrol het. Dan moet die melkbottels met die melk uit die emmers gevul word.

Zanie moet met die eiers in ’n sak met ’n tou oor ’n hoë hindernis klim. Sy trap mooi vas met daai vellies . . . En sy’s oor!

Pieter en Anelda is intussen reeds besig om hulle emmers vol melk oor te katrol terwyl Blue en André sukkel om hul melkbottels reg te rangskik. 

Pieter kry ook nie sy melkbottels heeltemal reg gerangskik nie en hardloop soos ’n vlakhaas na die voorbeeld-stalletjie om sélf te gaan kyk waar hy verkeerd gegaan het. 

Ook Blue besluit dis ’n wyse plan en hardloop ook heen en weer. Op pad terug na hul stalletjie, koop hy ’n bietjie grond, maar slaag daarin om gou weer regop te kom.

Pieter se melkbottels is reg terwyl Blue sommer sy hoed in die hardloop verloor. Eindelik is ook Groenkloof se bottels reg.

Etienne hardloop met die eerste sak meel tussen ’n mal-gevlegte groep toue deur. Intussen is dit Monique wat die hoë hindernis baasraak. Kort voor lank is Etienne met die tweede sak meel op pad terwyl Liovian twee keer reeds deur die modder moes kruip met eiers in haar tekkies.

Plaasjapie
Monique raak die hoë hindernis baas. Foto: Verskaf

Met die oorgee tussen die draad, breek een van die eiers wat Liovian aan Monique oorhandig. Kort voor lank is sy reg om die derde keer die hindernis die hoof te bied.

Etienne lyk gedaan en laat val die sak meel. Gou word hy gewaarsku: ’n Gebreekte sak meel beteken nie genoeg meel vir die stalletjie nie. Maar eind goed als goed vir Oranjezicht en hulle tree as die wenners uit die stryd!

Plaasjapie
Oranjezicht tree as wenners uit die stryd. Foto: Verskaf

Nabetragting

“Wat ’n rookie besluit van Blue. Ek weet nie wat het Blue gedink om vir Michelle terug te stuur nie. As dit nog Liovian of André was, dan was daar miskien ’n gap gewees, maar ek en Michelle was tight,” sê Pieter.

Toe Pieter later vir Michelle sê hy kan nie glo sy is teruggestuur Oranjezicht toe nie, vertel sy vir hom dat sy en Riaan glad nie oor die weg kon kom nie. Op sy beurt vertel Pieter vir haar dat Etienne nie so betroubaar is as wat hulle aanvanklik gedink het nie.

“Die enigste rede hoekom ek vir Etienne vertrou, is want ek weet Etienne het niemand anders om te vertrou nie. So, ek is die minste, slegste opsie wat Etienne op die oomblik het. Ek weet hy wil nie . . . definitief nie daar wees nie. So, hy gaan eerder saam met ons gaan. 

“Maar as Zanie uit is, kan jy nie vir Etienne vertrou nie want dan gaan Etienne ’n ander manier uitvind om hom uit die moeilikheid uit te kry,” sê Pieter.

Op sy beurt verseker Etienne vir Pieter dat hy hom self 100% by hom en Michelle skaar en dat hy beslis nie enige bondgenootskap met Zanie of Anelda sal vorm nie.

“Ek het definitief baie meer hoop in my longevity op Plaasjapie vandat Monique weg is. Ek weet ek kan nie vir Anelda vertrou nie en ek kan definitief nie vir Zanie vertrou nie,” is hoe Etienne die pad vorentoe sien. En hy bou voort daarop om vir Pieter te probeer oortuig hoe onbetroubaar Zanie en Anelda is.

By Groenkloof word Monique hartlik deur Riaan terug verwelkom. Liovian is egter onseker wat die toekoms vir haar en André inhou. Hulle is nou net twee Oranjezichters en drie Groenklowers.

André se gedagtes begin rondom sy pekelpennie te draai. Dalk is dit nou die regte geleentheid?

Riaan bereik breekpunt

Terwyl hulle na die skape omsien, vertel Riaan vir Blue dat hy met sy hart gaan speel.

“Ek is klaar. Ek is uit. Soos in uit, uit, uit,” is sy skokkende woorde aan Blue. “My hart is nie meer daar nie. Ek weet waar’s my limiet.”

Later erken Riaan hy voel emosioneel leeggetap en die laaste ding wat hy wil doen, is om Plaasjapie op ’n slegte noot te verlaat met onaangename herinneringe.

Plaasjapie
Riaan het erken hy is emosioneel leeggetap. Foto: Verskaf

“Daai positiewe Riaan wat altyd kon glimlag . . . uhm . . . is nou half en half emosieloos,” erken hy. 

Hy belowe vir Blue dat daar op sy stem vir iemand gereken kan word as Blue hom daarvoor wil inspan. Hy sê as Blue niks vir hom sê nie, gaan hy in sélf sy eie sout aftap om Blue s’n aan te vul.

Die gesprek met Riaan ontstig Blue. “Hy wil letterlik hê ons moet vir hom uitstem,” kom dit van hom terwyl hy sy trane afvee.

Riaan verseker Blue daar is iemand wat dit meer verdien as hyself, vandaar sy besluit.

Alhoewel emosioneel ontwrig deur Riaan se besluit, is Blue steeds gereed om strategie met Monique te gesels. Sy stel voor hulle manipuleer Liovian en André sodat een van hulle hul pekelpennie speel.

Blue stel voor hy veroorsaak ’n beroering deur vir Liovian te sê hulle gaan vir André stem omdat hy beseer is. Hy vestig sy hoop daarop dat Liovian dit met André sal bespreek en dat hy as gevolg van dié misleidende inligting sy pekelpennie gaan speel.

Maar Monique is intussen salig onbewus daarvan dat Blue twee pekelpennies het…

Sy gaan voort om die saadjie van twyfel by Liovian te plant dat André fisiek nie sterk genoeg is op die oomblik nie. Dan verander sy van taktiek.

“Maar ek voel . . . Riaan is hierdie stadium bietjie ’n loose cannon, want ek persoonlik voel nie veilig rondom hom nie,” sê sy vir ’n verbaasde Liovian.

“Monique probeer om vir my en André te oorreed om vir Riaan te stem, wat vir my nogal bietjie snaaks is om te glo want Blue, Monique en Riaan is die bestaande Groenkloof-span,” kom dit van ’n skeptiese Liovian.

Sy toets die water by Blue, wat ewe inskiklik beaam wat Monique vir haar gesê het. Hy sê ook hy wil net nie nou al huis toe gaan nie. 

Met die dubbelsinnige boodskappe is dit duidelik dat Blue en Monique wil hê daai pekelpennie moet gespeel word sodat dit ’n volgende keer makliker is om een van hulle uit te stem.

André voel oortuig dat sy naam op die blok is vanweë sy besering. En die onsekerheid oor wat wag, knaag aan hom.

Gaan dit uitwerk soos wat Blue en Monique dit wil hê?

Koöperasie-kuier

“Kyk, ’n boer moet veerkragtig kan wees, en om ’n Plaasjapie te wees, moet jy murg in jou pype hê. Maar die ding wat jy kan beheer, veral hier, is jou ingesteldheid,” is Ewan se boodskap aan die Groenkloof-vyftal.

Elke lid van die span kry ’n kans om hul mening te lug. Vertroue is die woord wat sterk na vore kom by Liovian en André terwyl Monique probeer om die brug tussen “ou Oranjezicht” en “ou Groenkloof” te oorbrug. Blue raak emosioneel en verwys na mense wat net soveel goedheid in hulle het en dat hy sy belofte gestand gaan doen.

“Ek gaan op my woord en my eer. So maklik soos dit. En, na aanloop, wat ook al vanaand gebeur, as ek môreoggend wakker word op Groenkloof, kan ek trots wees. 

“As ek vanaand Groenkloof se keuse is wat moet gaan, dan kan ek trots wees dat ek Groenkloof tot die einde toe was. En dat wat ook al die beste vir Groenkloof is, het geskied. En ek weet net ek het my volle gegee,” sluit Riaan die groepsgesprek af.

Dis Ewan wat die groep inlig dat die pekelpennie tydens hierdie kuier R50 000 gaan beloop.

Ewan skei twee emmertjies met sout van die ander en lig die groep in: “Vanaand is daar afgetap, daar is opge-top, die Mag van die Mes is gebruik én daar is munt geslaan.”

Die twee emmertjies verteenwoordig Riaan en Blue vir wie daar gestem is. En daar is ’n gelykop-uitslag!

Ewan lig Liovian, André en Monique in dat hulle veilig is. Hulle het wel die keuse of hulle ’n koppie sout uit hul eie fles vir óf Blue óf Riaan te skenk, kan die dooie punt ontlont word. Andersins word daar weer gestem – en net Liovian, André en Monique kan stem.

Monique steek hand op om sout te skenk. Haar sout word by Blue se emmertjie gevoeg.

“Die persoon wat nie hul sout werd is nie, is Riaan,” kondig Ewan aan.

Plaasjapie
Dis toe Riaan wat moet waai in die nuutste episode van Plaasjapie. Foto: Verskaf

Riaan groet

“Ek is hartseer, maar ek kan definitief wegstap sonder berou. Ek berou geen gedeelte vandat ek die dag voet op hierdie plaas gesit het nie. 

“Hierdie hele journey tot nou toe was vir my gewees om myself te vind, myself te bewys en tot op ’n punt, dink ek, persoonlik het ek baie meer hieruit weggevat as wat mense ooit sal weet. 

“Ek is baie trots op myself om hier te kan staan voor julle en te gekom het waar ek gekom het. Ek is trots op die mense wie ek hier agterlaat. Iedere en elk van hulle. My bloed bly groen.”

Plaasjapie
“Ek is hartseer, maar ek kan definitief wegstap sonder berou,” het Riaan gesê nadat hy uit Plaasjapie gestem is. Foto: Verskaf

Volgende keer

Vir die volgende beloningsuitdaging met elke span vir Ewan ’n driegang-maaltyd voorsit – maar dit moet regte, egte boerekos wees. 

Dis duidelik dat nie al die plaasjapies ewe handig in die kombuis is nie. Maar ten spyte daarvan, is dit die onderlangse gekonkel wat hoogty vier.


Plaasjapie S2 saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies