Op skou – die naam van kykNET se realiteitsreeks sê presies waaroor dié program gaan, maar dis egter nie plattelandse landbouskoue of die enorme stedelike skoue waar daar alles van paddas tot perde te sien is wat onder die loep geneem word nie. Hier gaan dit eerder oor skoue met ’n spesifieke fokus, met die reeks wat dan om buitengewone skoue en stokperdjies draai.
Passie en waagmoed
Ingrid Engelbrecht, een van die vervaardigers van Op skou, vertel in ’n mediaverklaring hoe dié program om die ongewone stokperdjies en passies van doodgewone mense draai.

“Elke episode het ’n ander tema: van honde en karre tot dans en skoonheid – daar is iets vir almal. Op skou volg verskillende mense in hulle voorbereiding vir ’n skou of kompetisie en wys ook hulle deelname daaraan,” vertel sy.
Die reeks vier passie en die waagmoed om drome na te jaag. En, verduidelik Ingrid, die deelnemers aan hierdie uiteenlopende reeks skoue is nie afhanklik van hul passie om ’n inkomste te genereer nie.
Kosbare stokperdjies
“Ons het besef hoe kosbaar ’n stokperdjie kan wees,” aldus Ingrid. “En elke persoon wat in Op skou verskyn, het ’n spesiale storie en emosionele motivering wat hulle dryf om hulself aan hierdie kompetisies bloot te stel.”
Die reeks bestaan uit agt episodes, met elke episode wat oor iets heeltemal anders gaan.

In die eerste episode val die kollig op die mens se beste vriend. Daar word na verskillende afdelings en aspekte van hondeskoue gekyk, en kykers leer van die toegewyde deelnemers aan hierdie geleenthede ken.
Onder hulle tel Dory. Sy het aanvanklik uithouritte met perde gedoen, maar ná ’n baie slegte val het honde haar weer op die been gehelp. Stoffel, haar optelwoefie, het met sy ratsheid telkemale oor haar kombuisdeur tot binne in haar hart gespring en haar op die pad van nuwe lewensvreugde geplaas.
Dan is daar ook Susan (68) – sy neem al vir die afgelope 18 jaar aan honderatsheidskompetisies deel. DaiDai was aanvanklik net haar troeteldier, maar dié klein uitblinker draf sommer met haar eie leiband in haar mond die roete saam met Susan wanneer sy ander honde om die baan lei.
“Die eerlikheid van hierdie stories is waarby kykers aanklank sal vind,” meen Ingrid.
Op skou wys vanaf Woensdag, 7 Mei 2025, om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.