Menu terloops
In Wat om te kyk [9 Apr 2025]

‘Ons ken almal ’n Adam’: Regisseurs vertel oor fliek wat op eie skoolervarings gegrond is


Die skrywer-regisseur Winford Collings en mede-regisseur Liyema Speelman se fliek, ‘Adam’, oor ’n tienerseun wat deur alle soorte hel op ’n militaristiese plaasskool gaan, is wel op hul eie skoolervarings gegrond, maar met temas wat strek van idealisme tot verkrampte manlikheid, is dié nie net húl storie nie. Soos hulle ook dan sê: ‘Ons almal ken ’n Adam.’ 

Kyk op Showmax

‘Ons ken almal ’n Adam’: Regisseurs vertel oor fliek wat op eie skoolervarings gegrond is
Kyk lokprent

Adam volg die storie van 18-jarige Adam wat deur sy ma, aangehits deur haar kêrel Rian, na ’n militaristiese plaasskool, Prinsloo Bush School, gestuur word waar die hoof, Derek, met wreedheid lei. Marko Vorster (Francois in Donkerbos) vertolk die rol van Adam, met Dirk Stoltz (Skemergrond, 7de Laan) as die hoof van die plaasskool, en die Safta-benoemde Inge Beckmann (Wyfie) as sy ma. Die indrukwekkende rolverdeling sluit ook die Safta-wenner Antoinette Louw (DAM), Dillon Windvogel (Spinners), en Paul Strydom (Reënboogrant, Spooksoeker) in. 

Adam, met die draaiboek deur Winford Collings en met Collings en Liyema Speelman as mederegisseurs, het onlangs op Showmax première. Dít ná die film, wat deur beide se hoërskoolervarings geïnspireer is, se kompetisiedeelname aan die Joburg Film Festival in Maart. 

Adam vorm ook deel van ’n projek wat Showmax, in samewerking met die Joburg Film Festival, geloods het om debuutregisseurs se projekte te ondersteun. Die vervaardigers is Blended Films, wenners van vier Silwerskerm-toekennings vir verlede jaar se speelfilm Hier.Na.

Terloops het met Winford en Liyema gesels:

Winford, terwyl jy en Liyema mede-regisseurs is, het jy die draaiboek geskryf. Kan jy my meer oor die storie se wortels vertel?

Winford: “Ek het ’n kosskool bygewoon, so ek het baie inspirasie geput uit die ervarings wat ek daar gehad het. Ek het die draaiboek aan die einde van matriek geskryf as ’n manier om sin te maak van alles wat gebeur het. Ek het destyds amper gedwonge gevoel om dit te skryf, want alles was vir my nog so diep tasbaar. En later, in my volwasse jare, toe ek deur nuwe weergawes van die draaiboek gewerk het, het ek nuwe dinge bygevoeg namate ek meer verstaan ​​het van dit beteken om ’n volwassene te wees, én wat dit beteken om ’n volwassene te wees wat vir kinders verantwoordelik is.

“Ek het die draaiboek vir ongeveer tien jaar gehad voordat Showmax die projek vir nuwe draaiboeke geloods het. Toe Liyema as mede-regisseur bygekom het, kon hy homself ook met die storie vereenselwig, want hy het soortgelyke ervarings as deel van ’n seunskool gehad. Ons kan albei vereenselwig met daardie gevoel van verkrampte manlikheid en die gevoel dat ons deur ’n sisteem versmoor word.”

Adam, Showmax
Adam volg die storie van 18-jarige Adam wat na ’n militaristiese plaasskool gestuur word. Foto: Verskaf

Liyema, hoe het jy betrokke geraak?

Liyema: “Ek en Winford het in 2019 kontak gemaak. Dit was nie lank voordat hy vir my vir die eerste keer van Adam vertel het nie. So, die saadjie is reeds toe geplant en dit het altyd in ons agterkop gebly namate ons vriendskap gegroei en ons as filmmakers ontwikkel het. Winford het uiteindelik in 2023 na my toe gekom met die draaiboek in die hand, en hy was soos, ‘Kom ons pitch dit’. Ons was in ’n jaar van net ja sê vir goed en groot spronge maak, so ons het dit gedoen, en ons was suksesvol.”

Ten spyte van die storie wat op jou eie ervarings op skool gegrond is, speel Adam in ’n heel ander omgewing af. Wat het daardie besluit gemotiveer?

Winford: “Die beginpunt vir my was om te dink aan die geweld wat ek gesien het, maar om dit nie in die omgewing van ’n kosskool te plaas nie. Want ons het al daardie film gesien, ons het al daardie boek gelees, jy weet? Ons het al Spud gehad. Ek het ook gedink aan wat gaan gebeur oor 20, 30 jaar wanneer hierdie seuns wat deur hierdie ontgroeningspraktyke gegaan het, grootgeword het. Wat dan gebeur as hulle aangaan om gesinne te hê, om kinders te hê, en om leiers te word. 

“Die karakters van Derek (Dirk Stoltz) en Adam (Marko Vorster) was dus my vertrekpunte – Adam as kind wat in hierdie sisteem ingekom het, en Derek as iemand wat deel is van ’n sisteem presies soos die een wat ek ervaar het, en wat dan voortgaan om daardie sisteem te versterk.

En die keuse om dit op ’n plaas te laat afspeel?

“Ek wou hê dit moes praat oor die angs oor die grondkwessie en wat dit beteken om grond te hê. In die film is daar ’n toneel waar Derek se seun, Marko (Paul Strydom), vir Adam vra, ‘Waaraan dink jy as jy na hierdie heining kyk?’ En Adam sê, ‘Gevaar’. En ons sien hoe dít in die Rian-karakter, uitspeel.

“Rian (Brendan Murray) het ook al hierdie ervaring by die plaas deurgemaak. Maar in plaas daarvan om hom harder te maak, het dit net die idee versterk dat daar altyd gevaar is wat vir jou wag. Dít het hom ’n baie paranoïese, angstige mens gemaak. Deur Rian wys ons dus die uitwerking van die aanhoudende boodskappe oor hoe onveilig ons as Suid-Afrikaners is. Dís iets wat ek persoonlik nooit gevoel het toe ek grootgeword het nie.

“En omdat dit op ’n plaas afspeel, het dit meer sin gemaak vir Adam om ’n storie te wees oor ’n konserwatiewe Afrikaanse man wat bots met ’n jong, voorstedelike wit kind. Hierdie twee mededingende ideologieë: ’n kind wat net wil teken en in kuns belangstel, teenoor hierdie ou van die plaas.” 

Daar is ’n interessante wisselwerking tussen die temas van manlikheid en moederskap in die film. Wat was die bedoeling hiermee?

Winford: “Een ding wat vir my belangrik was, was om altyd die ma’s sentraal tot die storie te hou, veral Carol (Inge Beckmann), Adam se ma. Die film begin en eindig met Carol. In baie, baie weergawes van die draaiboek was dit altyd Carol aan die begin en Carol aan die einde. Terwyl Adam die kern van die verhaal is, is daar hierdie deurlyn tussen hom en sy ma; hoe hulle geskei word van mekaar en hoe hulle herenig word. 

Adam, Showmax, Inge Beckmann
“Een ding wat vir my belangrik was, was om altyd die ma’s sentraal tot die storie te hou, veral Carol (Inge Beckmann), Adam se ma,” vertel die skrywer-regisseur Winford Collings oor Adam. Foto: Verskaf

“Terwyl die film deur vrae oor manlikheid oorheers word, gaan dit ook oor hoe mense daardeur geraak word. Susanna (Antoinette Louw), Derek se vrou, versterk daardie toksisiteit, terwyl Carol, op haar beurt, eerder daarin gedwing word.”

Liyema: “Dit is ook interessant hoe hulle albei hul krag wys en daarmee speel, want hulle het wel mag binne hul verhoudings. Susanna vind haar mag binne die intimiteit van die verhouding wat sy met Derek het, en dít is wanneer sy die huishouding kan beheer. Sy was nooit onderhewig aan Derek nie. Hulle is albei skurke. En dis hoekom ek haar karakter so lekker vind, en Antoinette het dit net briljant vertolk.”

Winford: “Antoinette is ’n besonderse aktrise, ’n plesier om mee te werk, en wat Liyema gesê het, is heeltemal reg. Susanna het haar eie weergawe van mag in daardie verhouding, en op die plaas. Dit was baie belangrik om haar dinamies te maak; ek wou nie hê sy moes net soos ’n slagoffer lyk nie. En ek dink sy sal die eerste wees om vir jou te sê dat sy nie ’n slagoffer is nie.”

Adam, Antoinette Louw, Showmax
Antoinette Louw vertolk die rol van Susanna. Foto: Verskaf

Vertel my van die rolverdeling. Ek dink byvoorbeeld nie julle kon meer in die kol gewees het met jul keuse vir die rol van Derek nie.

Winford: “Ek het grootgeword met Dirk Stoltz op 7de Laan. So die oomblik wat sy video-oudisie ingekom het, was ek soos, ‘Ek hoef nie eens hierna te kyk nie’. Ek het hom al soveel jare dopgehou; ek weet presies waartoe hierdie man in staat is.”

“Marko Vorster – hierdie is sy eerste filmrol, en hy was maar 19 jaar oud toe ons dit geskiet het. Ek het hom in Donkerbos gesien; hy het ’n redelike donker rol daarin, en destyds was hy 15. Ek het gevoel as hierdie kind só ’n rol op 15 kon hanteer, sal hy op 19 wondere met Adam kan doen. Adam is ook ’n baie donker rol. Dit is ’n moeilike rol, en ek dink dit sou vir enige jong akteur moeilik wees om te takel. Maar ek het geweet dat daar ’n sekere dapperheid in Marko is. Hy was een van ons eerste keuses, en hy het ’n ongelooflike oudisie ingestuur. Dit was belangrik om daardie twee rolle reg te kry, maar ek is so trots op die hele rolverdeling. Almal het net hul beste gegee.”

Adam, Showmax, Marko Vorster
Adam is Marko Vorster se eerste filmrol en volg ná sy rol in die bekroonde TV-reeks Donkerbos. Foto: Verskaf

As relatiewe nuwelinge in die bedryf – wat het julle geleer uit dié ervaring wat julle sal bybly?

Liyema: “Ek dink dit het my begrip van tegniese vaardighede verdiep in terme van hoe om ’n film te maak. Só ook wat dit verg om ’n leier te wees en wat dít werklik beteken, veral as jy mense het wat op jou staatmaak. Jy leer hoe om te inspireer terwyl jy ook vanuit ’n tegniese en sakeperspektief moet werk omdat jy ook die studio of die vervaardigers moet paai. Dít was ’n groot leerskool. 

“Ek het ook geleer om my intuïsie te vertrou. Jy kan jouself verloor deur perfeksionisme te probeer vind, om jouself in die wiskunde van dinge te probeer vind. Maar jou stem is uniek, en as jy net met jou intuïsie werk, sal jy altyd die wenskoot vind.” 

Winford: “Ek stem saam met Liyema. Maar ek sou ook sê, vertrou die storie. Veral vir my, nadat ek die film geskryf het, was daar tye toe twyfel ingesluip het en ek het gewonder: ‘Gaan dit werk? Gaan iemand hiervan hou? Maak dit sin?’ Ek moes vir myself sê: ‘Toe jy dit geskryf het, het jy die grootste vertroue hierin gehad. Dit werk.’” 

Was dit moeilik om die leisels as mede-regisseurs te deel? Hoe het julle ’n balans gevind?

Liyema: “Omdat ons reeds vriende voor Adam was, het ons reeds ’n vertrouensverhouding gehad. Ons het in die mikrofoon uitgeruil wanneer en soos dit nodig was. Die uitdaging was om ’n geïntegreerde stem te vind om hierdie film te skep. Ons moes take verdeel, maar ons het altyd vooraf ’n gesprek gehad om te verseker dat ons op dieselfde bladsy is. So, ons het ons eie styl van mede-regie gevind.” 

Winford: “Ek en Liyema het baie tyd spandeer om voor te berei, deur die draaiboek te werk, om die draaiboek vanuit ons albei se oogpunte te verstaan. En toe ons op die stel kom, het ek hoofsaaklik met die akteurs gewerk en hy het met die kameraspan en die tegniese span gewerk. So ons het elkeen ons pligte gehad. Dit het uiteindelik baie gehelp, want ons moes teen ’n vinniger pas skiet. Maar mede-regie het baie gesprekke vereis, moeilike gesprekke, en om nie bang te wees om daardie gesprekke te voer nie.” 

Hoekom moet mense Adam kyk?

Winford: “Dis ’n baie outentieke Suid-Afrikaanse storie. Dit raak aan iets waarmee elkeen van ons al te doen gehad het. Ná die filmvertoning by die Joburg Film Festival het mense uit alle oorde van die samelewing – oud, jonk, mans, vroue, swart, wit, bruin – almal het vir my gesê dat hulle hulself in Adam kan sien, of dat hulle hulself in een van die mammas kan sien, of hulle sou sê, ‘My pa is so.’ Iemand het vir my gesê: ‘Ons ken almal ’n Adam.’ So, dis ’n storie waarin elke Suid-Afrikaner stukkies van hulself kan vind en iets oor hulself kan leer.

Liyema: “Veral in hierdie tyd, waar ons as mans stadigaan herontdek wat dit beteken om ’n man in die samelewing te wees. Hierdie film praat ook daaroor, en dit vra die vrae, ‘Hoe skep ons ons eie pad? Wat is manlikheid vir ons?’ In gesprekke met vriende vind ek dieselfde herhalende tema, met almal wat vra wat dit beteken om nou ’n man te wees. Adam is een van daardie films wat dít ondersoek en vir jou die legkaartstukke gee om dit vir jouself uit te pluis.” 


Adam is nou op Showmax beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies