Jotam Schoeman is die kunstenaar wat verantwoordelik is vir die uitstekende en treffende illustrasies in Die stories van Afrikaans, ’n dokumentêre reeks oor die geskiedenis van Afrikaans.
Jotam is in Barberton in Mpumalanga gebore, het in Pretoria grootgeword en woon tans in Somerset-Wes in die Kaap. Hy het visuele kommunikasie studeer – eers ’n BA-graad en toe ’n honneurs in filmkuns met die oog op animasie. Hy is 37 jaar oud en werk voltyds as grafiese kunstenaar.
Hy vertel meer oor sy betrokkenheid by Die stories van Afrikaans en wat hy nog hoop om as kunstenaar te bereik.

Hoe lank het die illustrasies jou geneem? Is dit alles met die hand gedoen of het jy tegnologie ook ingespan?
“Ek het in November 2024 begin en behoort in Mei 2025 die laaste sketse te voltooi. Alles is digitaal met die hand geteken. So ek het tegnologie ingespan, veral om die ewebeeld van die individue akkuraat te kry.”
Wat was jou opdrag vir Die stories van Afrikaans?
“Die fotografie-regisseur van die reeks, PJ Kotze, het vir my gevra of ek digitaal ook teken en of ek die effek van ’n ontwikkelende skets op die skerm kan laat vertoon. Daarna het hy my aan Frankie Opperman, die regisseur van die reeks, voorgestel wat met ’n lang lys van woorde, portrette en tonele uit die reeks gekom het.”
Het jy jou eie navorsing gedoen of het jy dit by die vervaardigers gekry?
“Ek lees graag op oor ons geskiedenis, maar my kennis is vaal in vergelyking met die navorsing wat die vervaardigers gedoen het. Die span is wêreldklas, en hulle het my gevoer met verwysings. Maar ek het ook op my eie verder gaan oplees waar ek kan, siende dat ek ook moes wag vir die finale produk om mooi te begryp hoe die hele storie, die hele legkaart, van Afrikaans inmekaarpas.”
Hoeveel illustrasies het jy gedoen vir elke episode?
“Dit wissel. Daar was vyf woorddefinisies per episode vir die hoofstuktitels en dan tussen twee tot twaalf portrette per program, partymaal tot vier of vyf tonele, en twee of drie kaarte om te verduidelik hoe mense beweeg het en waar die grense van gebiede destyds gelê het.”

Van die sketse wat die kunstenaar Jotam Schoeman vir die reeks gedoen het.
Wat was die grootste uitdaging?
“Ek wou graag die geskiedenis akkuraat illustreer, maar ek het nie aanvanklik genoeg verwysings gehad nie. In daai stadium was die res van die span onbeskikbaar – op stel iewers of elders besig met die duisend take wat só ’n projek verg.
“So, ek het lank oor sekere dinge gewonder, byvoorbeeld oor hoe die slawe sou lyk wat in die Kaap aangekom het. My navorsing het my in sirkels gestuur. Ná ’n gesukkel het ek ’n paar toetslopies, om die tegniek te oefen, en ’n paar visuele idees vir die vervaardigers deurgestuur. Die vervaardigers het daarvan gehou en op die ou einde netso gebruik.”
Wat is vir jou die mooiste woord in Afrikaans?
“Ek geniet die lelikes ook, maar wat mooies betref, hou ek van ‘bewonderingswaardig’.”
Wat is jou groot droom as kunstenaar?
“Ek sal graag ’n boek wil publiseer – ’n waarnemingsprojek waarin ek klomp alledaagse dinge in sketse verheerlik.”
Wie of wat is jou grootste inspirasie?
“Sjoe, klomp dinge. Op hierdie tema: ons geskiedenis, om te kan begryp hoe die huidige situasie tot stand gekom het. Ek geniet om net te stap of te ry en mense, plekke en dinge waar te neem. Om te sien hoe die lig vanaf die son op ons land en sy mense val. Ek geniet om meer oor ander kunstenaars te leer – hoe kreatiewe pioniers dink en doen. Musiek. Vriende. Die natuur.”
Waar kan mense meer van jou kuns sien?
“Hulle kan inteken op my nuusbrief op www.jotamschoeman.art. Andersins hou maar dop op Instagram of Facebook, @jotamschoeman.art. Ek sal daar aankondig wanneer my werk weer aan die publiek te koop is.”
Die stories van Afrikaans word op Sondae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.