Of dit nou ’n werklikheidreeks soos die uiters gewilde Love Island, of ’n kookprogram soos Masterchef is – die saadjie daarvoor is dikwels elders geplant, met die oorspronklike reekskonsep wat dan van, byvoorbeeld, Brittanje na Amerika uitgevoer word.
Van die suksesvolste reekse nog het só ontstaan, onder meer die Amerikaanse weergawe van Ricky Gervais se meesterreeks The Office, wat, as ’n mens die twee weergawes moet vergelyk, net wys hoe sleg iets opgefoeter kan word.
Gervais se skepping het uit net twee seisoene bestaan, maar in daai 14 episodes is meer komedie-kuns as in die 201 episodes van die Amerikaanse reeks wat daarop gevolg het.
Trouens, die Yanks se weergawe het sy sukses grotendeels op die rug van Steve Carell se vertolking as Michael Scott gebou. Toe dié akteur in die sewende seisoen weg is, het die reeks ge-tank. Anders as die Britse The Office, kon die storie – en skryfwerk – nie op sy eie staan nie.
Netflix volg ’n soortgelyke roete met Murderville, ’n remake van Murder in Successville, ’n relatiewe suksesvolle Britse reeks wat deur die BBC vervaardig is.
Wat dié program destyds onderskei het was dat daar nie veel teks was nie, en dit wat wél bestaan het, is nie met die gasakteurs gedeel nie. Improvisasie was die hoofbestandeel wat dikwels op skreeusnaakse tonele uitgeloop het.
‘Die naam is Seattle, Terry Seattle’
Die akteur Will Arnett, bekend vir die skerp komediereeks Arrested Development, en sy diep, growwe, onmiskenbare stem as BoJack in die bekroonde Netflix-animasiereeks BoJack Horseman, is die dryfkrag agter dié Amerikaanse probeerslag.
Oor die loop van ses episodes sluit bekende akteurs by Arnett se karakter, senior speurder (die “senior” in die titel is vir hom baie belangrik) Terry Seattle aan, as hulle kamma-kamma met hul speurder-opleiding besig is.
Sharon Stone (Mosaic), Conan O’Brien en Kumail Nanjiani (The Big Sick) tel onder die genooides wat Arnett as deel van hul opleiding moet help om moordsake op te los. Sedert sy partner, Lori (vertolk deur ’n foto van Jennifer Aniston) etlike jare gelede vermoor is, weier hy volstrek om weer met ’n permanente sidekick opgesaal te word.
Moenie bloei op Sharon Stone nie
Hoewel die improvisasie-premis sterk deurkom, is die storielyn – die saak wat opgelos moet word – maar saai.
Dis wel waarskynlik die idee.
Die fokus is nie juis op die storielyn nie, eerder die ongemaklike situasies waarin dié bekendes geplaas word en hoe hulle dit lag-lag laat uitspeel.
Eerste prys is as hulle nie hul lag kan hou nie en, á la van die beste episodes van Saturday Night Live, karakter breek.
Dit werk eintlik net in twee episodes, terwyl die Sharon Stone-episode wys waarom die reeks as ’n geheel platval. Die aktrise breek nie een keer nie. Nie eens as sy ’n “lyk” moet oopsny en ’n onmenslike hoeveelheid bloed (letterlik onmenslik, geen mens het so baie bloed nie) op haar spuit. Die hele toneel is ’n flop.
Bygesê, haar vermoë om te improviseer is egter dalk beter as al die ander akteurs wat in Murderville betrek word, juis omdat sy nie probeer om snaaks te wees nie. In kort, she’s too good for this shit.
Die episodes volg ook soos herhalings van mekaar. Ja, die tropes van procedurals soos Law & Order en Castle word wel só groot gespeel dat ’n mens nie kan help om daarvoor te lag nie (soos die vermoorde partner-trope en Seattle se mislukte huwelik), maar Arnett se Seattle is ’n onderontwikkelde karakter en dít is ’n helse probleem.
Sonder Seattle as ’n sterk sentrale punt is daar min wat Murderville bymekaar hou – of kan bymekaar hou.
In ’n improvisasie reeks soos dié, is dit eintlik die hoofkarakter se uitsluitlike rol.
Nuut is nie altyd beter nie
Murderville is boonop ’n ongewone reeks vir Netflix. Dit sê baie oor hoe dié stroomdiens nuwe goed probeer om mededingend te bly soos meer stroomdienste dié mark betree. Netflix het al bykans elke genre en hybrid-genre onder die son ’n kans gegee in ’n poging om kolskoot met inhoud te wees wat wél werk.
’n Goeie ding van die program is dat Murderville ’n vreeslike onskuldige program is. Daar’s geen skurwe humor of gewaagdheid nie. Die formaat is nader aan die van ’n speletjiesprogram met ’n spesifieke verloop waarvan daar nie afgewyk word nie.
Elke episode begin met ’n moord en eindig met ’n onhulling van wie die regte moordenaar is. Daar word egter nie genoeg geleentheid aan die gasakteurs gebied om die storie in ’n onverwagse rigting te neem nie. Dis deels omdat Arnett elke episode in ’n baie bepaalde rigting stuur – ’n doelbewuste besluit, maar ’n verkeerde een.
Van die elemente wat in die formaat ingebak is, maak min sin. ’n Irriterende voorbeeld hier is as Arnett een van Ellen DeGeneres se gunsteling-speletjies vir gaste op haar geselsprogram gebruik. ’n Gehoorstuk word vir die gaste gegee en hulle moet dan woord-vir-woord herhaal wat Arnett vir hulle sê. Omdat hulle die woorde aan ’n akteur sê, en nie iemand met geen idee wat aangaan nie, val die grap plat.
Murder in Successville is (gelukkig) in Suid-Afrika op BritBox beskikbaar en bied ’n veel snaakser alternatief as die Netflix-weergawe.
Kyk ook:
Lees ook hierdie resensies
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →