In dié episode is dit Vaalwater in die Limpopo-provinsie wat ’n hupstoot van die Lottoland-span ontvang.
Dis jou dorp
“Vaalwater is beslis nie vaal nie, dis bosveld, dis vlaktes . . . Maar dan’s dit hierdie tropiese areas wat ewe skielik begin,” kom dit van sangeres en programaanbieder Leah. Sy is baie beïndruk met die skoonheid van die omgewing tussen die Waterberge.
“Dis tipiese bos-omgewing wat vir ons baie spesiaal is. Ons sit gereeld met luiperds wat ons die spore van optel. So, jy bly rêrig baie na aan die natuur hier,” vertel Johannes Kleinhans, voorsitter: Vaalharts Sakekamer en eienaar: Berchtesgaden Game Reserve.
“Die naby-leef aan Moeder Natuur is wonderlik.”
Shane Dowinton en sy vrou, Laura, het in 1993 van Australië na Vaalharts gekom. Hy is die plaaslike leraar by St. Johns Church en ook die eienaar van Horizon Horseback Safaris.
Ook hy kan nie uitgepraat raak oor die skoonheid en die natuurlewe hier in die Waterberg nie. Om van die wonderlike gemeenskap nie te vergeet nie.
Vaalwater is die beste plek vir Summe Kamupambe om te bly. Hy sê hy het al in verskeie ander dele van Suid-Afrika gebly, maar volgens dit wat hy in Vaalwater sien, is die eenheid onder die gemeenskap anders as wat hy elders ervaar het.
Johannes vertel vir Leah hulle self het eers ses jaar gelede Vaalwater toe getrek. En toe maak sy lekker brei sin, want hulle het in die Boland grootgeword.
“In ’n stadium in ons lewe het ek en my vrou vir ons gesê, weet jy, ons wil bos toe gaan. En Vaalwater het vir ons getrek,” vertel hy. Vir hom en sy familie wat gereeld Botswana toe gegaan het en daar gaan kamp het, voel Vaalwater net soos Botswana wanneer jy bos toe gaan.
“Vaalwater is eintlik soos ’n weggesteekte juweel, maar nie so baie mense ken die dorp nie,” noem sy aan Johannes. Hy dink dis omdat dit so ’n klein dorpie is.
Tog loop al die verkeer wat deur die Waterberg loop, deur Vaalwater. Volgens Johannes is daar tot soveel as 85% van die boerdery op wild gefokus. Die Waterberge is ook die grootste konsentrasie van wildboerdery in Suid-Afrika.
Johannes noem ook dat Vaalwater die afgelope paar jaar agteruitgegaan het. Dít het tot ’n bietjie antagonisme onder die mense gelei.
“[Hulle sê] ‘Dit kan nie meer nie, dit wil nie meer nie, dinge werk nie lekker nie, niemand help ons nie’, en ja, van die Sakekamer se kant af wou ons graag daai bal omdraai en weer positiwiteit terugsit in die gemeenskap en in die mense,” som hy dit op.
Hy vertel van die nuwe deurpad wat SANRAL gaan bou en dat dit die dorp gaan verander. Ook dat die gewag op die pad ontwikkeling in die dorp terughou.
“Internasionale jagters, besoekers aan die Waterberge, ry deur Vaalwater. Ek is ’n inwoner van Vaalwater, en dit is vir my sleg om dit te bied aan die mense daarbuite,” sê Johannes.
“Die Boeresaal is in die 1950’s begin toe boerderye in die gebied goed gedoen het en die boere ’n sentrale plek wou gehad het waar hulle bymekaar kon kom,” sê Shane. Dit was juis deel van die bymekaarkom dat dinge uitgebrei het. Dit sluit die tennisbane in, wat vandag maar treurig lyk.
Dis vir hom ook hartseer dat die Boeresaal nie meer die ware middelpunt van die dorp is nie. En hulle wil dit so goed as moontlik weer herstel.
“Die tuine en die tennisbane en die netbalbane is ons dadelike droom. Ons het ’n dames-netbalspan in hierdie dorp, ons kan netbaltoernooie hou. Ons het baie tennisspelers in hierdie dorp.
“As ons weer tennistoernooie kan hou van mense van buite af inbring. Jy weet, dit bring alles weer mense in wat geld spandeer in jou winkeltjies en jou restaurantjies en al hierdie tipe van plekke,” sê Sonja Harmse, spanlid en mede-eienaar: Muvhimi Buffalo Safaris.
“Al daai fondse kan ons weer terugdelg in die Boeresaal in om soos ons aangaan, te opgradeer.”
Help, Lottoland
“Dit voel vir my ons het ’n bietjie boendoe-bashing op die tennisbane gedoen. Jy moet oor die grassies, die plante klim . . . Dis ’n bietjie van ’n oerwoud,” erken Leah nadat Johannes haar daarheen geneem het.
“As jy dit kyk so van die kant af, dan gaan dit baie dieselfde lyk as die bos op my plaas lyk waar die rooibokke loop. Iemand het eendag die grappie gemaak en gesê ‘dis nie ’n tweede Wimbledon wat besig is om te groei hiesô nie’,” vertel Johannes vir Leah.
Die tennisbane is vandag vir hom ’n ander prentjie as toe hulle destyds hier geland het. Toe het die mense nog tennis gespeel en die kinders het op die gras baljaar. Vandag is dit onmoontlik om selfs net ’n tennisbal hier te probeer bons.
Die lapa se dak is halfpad herstel verlede jaar – uit eie sak. Maar nou het die fondse daarvoor, en vir soveel meer wat nog gedoen moet word, opgedroog.
Vanweë die gebrek aan tennisbane waarby die skole kan baat vind, neem ouers hul kinders uit die skool na ander skole waar daar sportgeriewe is.
Leah sê dis allesbehalwe wat Lottoland help ’n dorp wil sien gebeur. Inteendeel, hulle wil hê die kinders moet in die dorp bly en dat dit besoekers trek.
Die groen koevert
Net daar op die oorgroeide tennisbaan is dit Leah wat vir Johannes met ’n groen koevertjie verras. Dis uitstekende nuus! Die Vaalwater Sakekamer gaan ’n hupstoot van R386 000 kry om die nodige opknappings te kan doen.
Dis ’n oorstelpte Johannes wat vir Leah vra of hy haar maar mag “hug” want hierdie is vir hom ongelooflike nuus. Hy sê Leah moet seker maak sy het haar tennisrokkie en -skoene aan met hul volgende besoek oor ses weke, hy sal sorg dat daar rakette en balle is.
“Ek het dit glad nie verwag nie. Jy haal nie sommer vinnig woorde uit my mond uit nie. Ek dink redelik op my voete, maar ek was . . . vir ’n oomblik was ek stil gewees,” sê Johannes.
Ses weke later
Johannes sê hy dink dis die eerste keer in ses weke dat hy kans kry om te sit om ’n koppie koffie te drink. Maar die man is baie opgewonde. Hy kan nie wag om vir die Lottoland help ’n dorp-span te wys wat alles vermag is nie.
Nie net het hulle gedoen wat hulle onderneem het om te doen nie, maar daar is ook ekstra goedjies by.
“Ek stap uiteindelik op die tennisbane en, eerlikwaar, mens se asem word weggeslaan. Dis die mooiste, helderste blou. Dis netjies, daar is nie ’n grassie of ’n ding op daai baan nie. Dit is reg om op te speel. Dit is beautiful! Dit is rêrig of jy in ’n swembad wil induik . . . ek kan nie dink enigiemand gaan dit kan miskyk nie,” kom dit van ’n opgewonde Leah.
Op haar beurt vertel Sonja dat die tennisbane in ’n baie slegter toestand was as wat aanvanklik gedink is. Maar hulle het ’n goue middeweg gevind en nou is alles uitgestorteer.
’n Moeë, maar gelukkige Summe vertel dat die span tot tien-uur die vorige nag gewerskaf het om seker te maak die ligte vir die tennisbaan word geïnstalleer.
En gemeenskapslid Hampie van Staden is net so opgewonde op wat alles vermag is.
“Ek is net te bly om te sien daar’s weer ’n baan, ’n baan waar ek miskien ook nog eendag weer bal kan gaan slaan. Dit het jou hartseer gemaak. Jy het die bane gehelp bou – en hier, voor jou oë, elke slag as jy verby ry lyk dit slegter. Ek het nooit enige redding vir die baan gesien nie. Blykbaar was ek verkeerd . . .”
Johannes vertel dat die ligte en nette nie met die begroting gedoen kon word nie. Maar gesprekke met die verskaffers het vrug afgewerp en opwindende dinge het gebeur.
“Iets wat ongelooflik is wat gebeur het, is ek het so twee weke terug ’n oproep gekry van ’n dame af wat gesê het maar sy sien hierdie blou hier langs die pad van die tennisbane en dit staan uit en sy’s nuut op Vaalwater.
“En sy is ’n groot jukskeispeler en sy sien hier’s nie bane nie. Kan hulle nie êrens so iets begin nie? En Vaalwater spog vandag met ’n jukskeiklub wat ook vandag geopen word,” vertel Johannes.
Leah is baie beïndruk met alles wat vermag is, onder andere die heining en ’n besproeiingstelsel. Boonop het mense verniet goed, ook hul dienste, beskikbaar gestel.
Terwyl Leah en Johannes besig is om die tennisnette op te stel, kom draai Henk Tijssen by hulle. Hy is die mede-eienaar van Eating “My Way” en die plaaslike kwekery. Al die pad van Nederland.
Vir hom was Vaalwater voorheen ’n chaotiese plek, maar wat hy die afgelope ses weke sien gebeur het, het beslis ’n onuitwisbare uitdrukking op hom gelaat. Veral die entoesiasme van die gemeenskap.
“Dit het vir my aangesteek om betrokke te raak en ek het hiernatoe gekom om te vra kan ek lid word van die Sakekamer. En toe sê hulle ‘ja, jy is so entoesiasties, jy moet maar betrokke raak’ en nou wil hulle my op video vat,” kom dit van ’n opgewekte Henk.
“Die grond het behoort aan bepaalde boere ook in die omgewing wat hulle geskenk het destyds om die Boeresaal te begin mee. Hulle is teenwoordig vanoggend hier saam met ons en ons het net gedink dis goed om dit amptelik vir hulle te gee en te sê ‘dit is wat ons van die Sakekamer se kant af teruggee vir julle vir die groter gebruik van die volle gemeenskap’,” vertel Johannes.
Jason vertel van nog ’n lieflike oomblik van die dag – en dit is toe daar lede van die oorspronklike tennisklub as eregaste die verrigtinge kon bywoon. Joan Baber is die oudste lid van die klub en sy was die een wat die lieflike blou lint amptelik geknip het om die tennisbane oop te verklaar.
Sechele Sebolai, burgemeester: Modimolle Mookgophong Munisipaliteit, is ook slaggereed om sy raket en tennisballe nader te trek en ’n paar kishoue op die nuwe blou baan te dien.
Die Boeremark wat op dieselfde dag plaasgevind het, is oorweldigend deur die gemeenskap ondersteun. Maar tot Leah se grootste teleurstelling was die pannekoekstalletjie so oorweldigend besig dat sy nie haar pannekoek-fieks kon kry nie.
Lottoland help ’n dorp saai Woensdae-aande om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 22:00 gepubliseer.