Menu terloops
In Recaps & Resensies [10 Apr 2024]

‘Lottoland help ’n dorp’ S2: ’n Spanpoging uit die boonste rakke in die Koue Bokkeveld


Die tweede seisoen van kykNET se gewilde werklikheidsreeks Lottoland help ’n dorp se projekte het dié keer groter begrotings en die duur van die projekte is ook van vier na ses weke verleng.

Deur Annelene Oberholzer
‘Lottoland help ’n dorp’ S2: ’n Spanpoging uit die boonste rakke in die Koue Bokkeveld

“Die vier weke word nou ses weke en ons is baie opgewonde om te sien wat hierdie 13 dorpe hierdie seisoen gaan vermag,” sê Maryke Haywood, bemarkingshoof van Lottoland oor die nuwe seisoen van Lottoland help ’n dorp.

“Met hierdie reeks gaan ons weer na dorpe wat ek nog nooit gesien het . . . Of van gehoor het nie,” verklap die sangeres en aanbieder, Leah. Maar daar is geen twyfel nie – sy is bitter opgewonde oor dit wat voorlê.

‘Dis jou huis’

As die kenmerkende temaliedjie begin speel met “Dis jou huis, dis jou dorp, dis jou land . . .” kan jy maar weet – jy gaan iets ervaar wat uniek en besonders is.

Vandeesweek is dit Prince Albert’s Hamlet se beurt, ’n lieflike boomryke dorpie in die Koue Bokkeveld.

“Jy ry letterlik in die dorp in en dan ewe skielik ry jy deur ’n boord en dan’s hier weer ’n stukkie dorp,” kom dit van ’n verbaasde Leah.

“As jy nou oos ry van hier af, dan gaan jy in die Tankwa Karoo in. So, ons is op die kant van die Boland,” verduidelik Adrian Wolfaardt, projek-spanlid. 

Hy vertel ook dat die nedersetting in 1861 gestig is, maar dat prins Alfred Ernest Albert, koningin Victoria se tweede seun, reeds in 1860 die Kaap besoek het. JC Goosen, wat die stigter van die nedersetting was, het dit na hom vernoem – vandaar die naam: Prince Alfred’s Hamlet. Hy verduidelik voorts dat ’n hamlet ’n klein landbounedersetting is en basta daarmee dat dit die prins se perd was . . .

“Ons kom al geslagte lank hier aan op Prince Alfred’s Hamlet. Ek is bevoorreg om die vyfde geslag hier te wees. Die sesde geslag is betrokke en die sewende geslag is ook daar,” vertel Danie Goosen, voorsitter van die Hamlet Forum en projek-spanleier.

Hy beskryf hul dorp as ’n unieke dorpie omdat die plase tot reg langs die dorp strek. En vir Leah is dit moeilik om deur die wingerde en boorde te stap en die versoeking te weerstaan om sommer net daar en dan ’n peer te pluk.

Passie en liefde

“Ons is lief vir die dorp want dis vir ons ’n passie. Die wortels lê diep en ons bly in ’n mooi omgewing . . . Maar dit gebeur nie vanself nie. Jy moet mense hê met passie wat deel wil wees van so ’n dorp en wat ook trots is [daarop]. Ons motto is almal moet welkom voel hier,” sê Danie.

“Die meeste van ons inwoners is indirek of direk betrokke by ’n boerdery. So, jy is maar gebind aan die grond hiersô,” vertel Alma Goosen, projek-spanleier.

Die vrugtebedryf is die groot aantrekkingskrag vir mense wat werksgeleentheid soek en die dorp is besig om vinnig uit te brei.

“Hier’s ’n klomp arm mense, minder-gegoede mense, wat hiernatoe kom – hulle sien dit as ’n geleentheid om hulself te verbeter,” sê Danie.

In 2021 het die Hamlet-forum tot stand gekom toe daar besef is betrokkenheid van die gemeenskap is nodig om die dorp se standaard te handhaaf. Dit het onder meer behels dat die forum ’n spreekbuis moes hê by die Witzenberg-munisipaliteit en by Ceres se Besigheidsinisiatief.

In Leah se opsomming is “hierdie dorp ’n plek waar mense regtig bymekaar kom. Dis mooi.”

Jacklyn Maurice, projek-spanlid, sê die forum het hom laat besef almal in die gemeenskap het mekaar nodig en dis hoekom hy sy gemeenskap gemotiveer het en “ons werk almal lekker saam.”

“Toe ek hier grootgeword het, 70 jaar terug, het mense sekere dinge gedoen om die gemeenskap te bou. En ons het nou weer ’n geleentheid om dit te doen. Ja, dis ’n voorreg om daarby betrokke te wees,” kom dit van Albert.

Dit blyk dat die pragtige kannas langs die pad van Ceres na Prince Alfred’s Hamlet Alma se idee was en kort voor lank het sy mense ingespan om die plantwerk te doen.

“Ek het ’n filosofie . . . dat mense wat in ’n skoon en netjiese omgewing bly, is vriendeliker. Hulle is gelukkiger en hulle is ook meer verdraagsaam. En jissie, dit is wat ons nodig het in hierdie land,” vertel Alma.

Waarmee kan Lottoland help ’n dorp bystand verleen?

“Sport en ontspanningsgeriewe is belangrik in ’n gemeenskap,” laat Danie hoor. “Ons kan mooimaak tot op ’n punt, maar dan het jy hulp nodig om ook die jeug en die inwoners besig te hou oor naweke wat die werkery dalk nie gebeur nie.”

Alhoewel Leah baie beïndruk is met hoe skoon die dorp is, is daar wel twee areas wat effe vervalle is. Een van dit is die Vlakkie-krieketveld naby die tennisbane.

“Dis so mooi, want hulle het dit letterlik vir hulleself daar geskep . . . Van niks af nie. Daar het hulle nou ’n krieketveld. Maar tog, dit kan soveel beter,” sê sy. 

“Vlakkies-krieket het maar ontstaan by ons vir die feit dat ons gesien het dat die kinders op die straat is, en hoe nutteloos is kinders as hulle net nie ’n doel rêrig het nie” sê Izak Snyders, voorsitter van Vlakkies-krieket en projek-spanlid. En hulle doel met Vlakkies-krieket is om te kyk of hulle nie ’n verskil, al is dit net één verskil, in iemand se lewe kan maak nie.  

Izak vertel ook in sy lekker Bolandse bry dat hulle met ’n bal wat net bietjie harder as ’n tennisbal is, speel. 

“Ons het hierdie Vlakkie-krieket ge-begin met vier klubs en dit was in die jaar 2013. Skielik het hierdie ding net ’n blom geraak en die geur wat hy afgegee het as gevolg van dissipline . . . dink ek krieket het net gegroei en gegroei,” sê hy.

Die ander projek wat die Hamlet-forum graag wil sien vorentoe gaan, is die omheining van die tennisbaan om dit te beveilig.

Maar, voeg Alma by, daar is ook ’n derde projek: die speelparkie in Kliprug.

“By Kliprug was daar baie vandalisme. Dit lyk regtig baie sleg. Daar’s rommel. Dit val eintlik letterlik uitmekaar,” som Leah dit op. Maar sy sien die potensiaal van nuwe ervarings in die parkie waar boerbokke ongestoord aan kartonbokse vreet.

Die groen koevert

Leah noem aan Danie dat Lottoland baie positief voel oor sport. En dat hulle graag ’n bydrae wil maak aan Prince Alfred’s Hamlet. Met die oopmaak van die koevert laat ’n bewende Danie hoor: “Julle laat my keel toetrek!” En toe hy sien daar word R500 000 beskikbaar gestel aan die Hamlet-forum, loop sy hart oor van blydskap.

Toe Leah wil weet of die span reg is vir die ses weke-lange tyd wat hulle gegun word om die projekte te voltooi, sê Danie elkeen van die span is in hul wegspringblokke, gereed vir wat kom.

Leah twyfel vir geen oomblik daaraan dat die span van 17 die projekte sal voltooi nie, maar sy hoop dat die hele dorp sal saamstaan en help waar nodig.

6 weke later

’n Glimlaggende Danie neem plaas op ’n stoel in die middel van die pad. 

“Welkom terug, ons het baie om vir julle te wys,” heet hy die Lottoland help ’n dorp-span terug.

Hy vertel vir Leah hulle het nie net die projekte self afgehandel nie, maar hulle kon ook ’n paar ekstra goed doen. By die Vlakkie-krieketveld kon hulle twee velde in plaas van net een doen. Nuwe kolfblaaie is gemaak en bome is geplant.

Die munisipaliteit het ook die span verras deur voor te stel dat die area rondom die tennisbane met 50 m vergroot word en dat die hele terrein geëlektrifiseer word. Maar met hul beperkte begroting, kon hulle dit nie bybring nie. 

Tot hul grootste verbasing het die munisipaliteit ’n bydrae gemaak om die veranderinge moontlik te maak.

Danie sê dit het hulle R300 000 uit die Lottoland help ’n dorp-beursie gejaag, maar dit moet vir ’n leeftyd hou.

Kliprug, eens ’n vervalle parkie, is nou kleurvol!

“Dit lyk soos ’n splinternuwe plek wat hulle van vooraf gebou het,” sê ’n verbaasde Leah.

“Oestyd is nou voluit aan die gang. So ons moes baie mooi vra vir hulp van die boere se kant af, maar hulle het planne gemaak en ons gehelp, net soos die kontrakteurs in die dorpe – ongelooflike samewerking,” laat ’n dankbare Danie hoor. “Dit was ’n spanpoging soos 100.”

“Ons jeug is nou verheug,” kom dit van Jacklyn. “Nou kan ons netbal op die veld sit, en street soccer en dominoes.”

“Die skoonmaak het baie, baie, baie gekos . . . hárd gewerk. Ons het saans tot sewe-uur toe geverf. Die kinders het gehelp verf,” vertel Gwendoline Maurice, projek-spanlid.

Projek-spanleier JB & Thérèse Erasmus van Geldenhuys Slaghuis het ook hul kant gebring.

“My spannetjie wat ek hier bymekaar getrek het, is haweloses,” sê JB. “Sewe-uur in die oggend is hulle op die bakkie gelaai en dan’t ons maar begin skoonmaak van ’n kant af. Daardeur het ons hulle lewens ook verryk, glo ek.”

Thérèse stem saam en skeer saggies die gek met JB toe sy vertel: “Party mense se lywe was maar seer van lyne op die grond verf vir ’n krieketbaan, dan dra ons maar ’n koeldrankie of iets aan. So gaan [hulle] verder aan.”

“Dis nie ’n grap nie,” kom dit ewe ernstig van JB. En toe moet hy maar saamlag.

“Dis ongelooflik wat mens in ses weke kan doen, van saamstaan . . . die gemeenskap saam met die munisipaliteit. En ’n positiewe gevoel wat jy ervaar in die hele Prince Alfred’s Hamlet. Dit maak vir ’n mens positief. 

“En dit skep vir ’n mens die geleentheid om na ander gemeenskappe uit te reik binne die munisipaliteite en te sê ‘hier was die voorbeeld’,” sê Heloise Truter, Witzenberg-munisipaliteit se bestuurder: Omgewing en Geriewe. 

Alma vertel tydens die herbeplanning van Kliprug, het die besigheidseienaar oorkant die pad uit eie sak permanente besproeiing aangelê vir die hoek. Dit het toe in ’n kleurvolle tuin ontaard.

Die span kan nie genoeg dankie sê vir wat moontlik gemaak is deur Lottoland help ’n dorp se bydrae nie. 

Maar nou skuif die verantwoordelikheid na die gemeenskap, soos Izak dit stel: “Ek dink hier was ’n massiewe redding. Nou is dit ons gedeelte om te sê julle het ons gehelp, hiervandaan moet ons mekaar help om vorentoe te gaan.”

Maar eers moet daar gebraai word om dankie te sê aan almal, ook aan diegene wat agter die skerms gewoel het. 


Lottoland help ’n dorp saai Woensdae-aande om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies