“Fauresmith is in die suidwes-Vrystaat. Hulle het dit die Skyn-Karoo genoem omdat hier kom drie natuurbiome bymekaar hiersô: die Vrystaat, die Karoo en die Noord-Kaap,” vertel Jacobus Silwer, projekspanlid, aan Lottoland help ’n dorp se aanbieder, Leah.
“Dis nie so ver van Bloemfontein af om vir ’n Sondagmiddag-rit te kom kyk hoe lyk die dorp hiersô nie,” kom dit van Ralie Bezuidenhout, eienaar van Mini Chicks op die dorp.
Op sy beurt nooi Godfrey Moitse, Fauresmith: Eenheidsbestuurder, Kopanong Munisipaliteit, in lieflike Afrikaans mense om te kom kuier. En hy noem dat daar hope toeriste-aantreklikhede én verblyf beskikbaar is. “Kom wees deel van die liefde wat ons het vir hierdie dorp,” sê hy.
Ralie se man en mede-eienaar van Mini Chicks, Hercules Bezuidenhout, vertel ook van die pragtige natuurskoon wat van Fauresmith so ’n mooi plek maak. Ralie voeg ook by van die gewilde jaarlikse perde-uithouritte wat hier gehou word. Dit vind juis binne die volgende week of twee plaas.
“Skaapwêreld, die windpompe, die perde . . . En dis ’n positiewe gemeenskap. Dis heerlik en vreedsaam en dis wonderlik om hier te bly,” vertel Ina Janse van Rensburg, gemeenskapslid.
‘Voorreg om al jou bure te ken’
“Die gemeenskap omarm mekaar regtig. En wanneer hier goed gebeur wat die hele gemeenskap raak, dan vat die hele gemeenskap hande,” kom dit van Jacobus.
Leah kan haar opgewondenheid oor Fauresmith nie beteuel nie. En sy deel al te graag ’n unieke brokkie oor die dorp: Dis net een van twee in die hele wye wêreld waar die treinspoor deur die hoofstraat van die dorp loop.

Lizamé Coetzee, projekleier, is hier gebore, maar het ’n paar ander paaie geloop voordat sy en haar man, Jacobus, vyf jaar gelede na Fauresmith teruggekeer het. Sy vertel dat hulle gewoonlik op pad terug van die Kaap af gereeld wonder wat op aarde hulle in die Vrystaat soek.
“En dan kom jy hier, en jy ervaar net ’n ongelooflike kalmte,” kom dit van Lizamé. En nadat Leah by Lizamé en Jacobus gaan inloer het, wil sy half-en-half haarself afvra wat doen sy wat Leah is, in die stad…
Lizamé en Jacobus is albei kunstenaars en hulle het in die verlede die hoërskoolkinders betrek om muurpanele in die dorp te verf. Drie jaar gelede het hulle tydens Covid ’n teater tot stand gebring en een keer ’n maand ’n groot vertoning daar gehou.
“Ons het hier die voorreg om al jou bure te kan ken,” vertel Jacobus.
Help, Lottoland help ’n dorp
Lizamé se groot droom die afgelope twee jaar is om die dorp se stadsaal te hernuwe. “Die stadsaal se verf is wel besig om heeltemal af te skilfer en jy kan sien hierdie gebou het duidelik baie liefde nodig,” gesels Leah oor die imposante stadsaal bykans bo alles uittroon.
Jacobus vertel dit het ’n tyd gelede bietjie afgebrand en herstelwerk is gedoen, maar die agteruitgang is sigbaar. Maar toe Leah die gebou binnestap, word haar asem byna weggeslaan. Ja, daar is baie werk wat gedoen moet word, maar die bekoring van die gebou is tasbaar. En daar’s baie potensiaal.
“Ons sal baie graag weer hier wil konserte sien, en wil kom fliek kyk en popcorn verkoop uit die snoepie uit,” droom Lizamé oor die pad vorentoe. Dan is daar troues en matriekafskeid-geleenthede wat smag na ’n bestemming soos dié.
Ook op hul Lottoland help ’n dorp-wenslysie is daar padtekens wat herstel moet word en straatname wat gevestig moet word. Ook ’n kunsprojek om 20 kunswerke in die dorp te installeer.
Lizamé se daar is meer as genoeg mense wat wil help en dat die grootste deel van die groep selfs nie ’n oproep drie-uur in die oggend sal ignoreer om te kom help nie.
Die groen koevertjie
“Dis nou nie drie-uur in die oggend nie en ek gaan nou nie vir jou bel nie, maar hierdie dorpie het so baie potensiaal,” kom dit van Leah voordat sy daardie groen koevertjie aan Lizamé oorhandig.

Die trane loop nog voordat Lizamé die koevertjie by Leah vat en kyk wat binne-in aangaan. R500 000 gaan baie help om Fauresmith se drome te help bewaarheid. En toe dit begin insink, kyk sy weer en weer na daai koevertjie.
En ja, sy was baie emosioneel, erken Lizamé. En toe het sy nie meer woorde nie. Ook Jacobus is stomgeslaan voordat ook sy trane loop.
Agt weke later
Leah erken Fauresmith het haar heeltemal uitgeboul – en dat sy beslis weer en weer hier gaan kom inloer.
Ekstra geld en ekstra hande maak dat ’n opgewonde Lizamé nie kan wag dat Leah en haar Lottoland help ’n dorp-span kom kyk wat hulle alles aangevang het nie.
Sy noem dat daar wel ’n paar swartgalliges was wat nie die projek ondersteun het nie, maar hulle is nou redelik stil. Dan was daar ook diegene wat voor die projek nie besef het hul straat het ’n naam nie!
Aanvanklik was daar net genoeg geld om die buitekant van die stadsaal te verf. Toe begin vriende om vriende te kontak. Danksy Strauss Jacobs, projekspanlid, het ’n vriend van hom ’n hyskraan geborg om die hemelhoë toring van die stadsaal te kan bereik.

Hy noem dat hulle die hoogte en die veiligheidsaspek daarvan fyn moes dophou.
“Ek is skoon verblind deur hoe wit en skoon daai stadsaal is. Dit is ’n nuwe gebou, dis wow!” sê Leah.
“Van ’n stadsaal wat nooit gebruik was nie, na ’n stadsaal wat, as jy nou instap, dan voel jy die happiness as jy daar instap,” kom dit van ’n gelukkige Lizamé.
“Ek wil amper sê in ’n dag se tyd het boere met mense gekom en die mense betaal. Ek dink in twee dae se tyd omtrent is die binnekant afgeskuur en reggekry vir verf,” vertel Strauss.
“Hier’s nou ’n paar gekwalifiseerde verwers in die dorp wat nie voorheen gekwalifiseer was nie. Hulle kán nou,” voeg hy by.
Intussen maak Leah nader kennis met die vleuelklavier wie se note baie jare laas deur mensehande gestreel is. Sy wens sy was die een wat dit kon doen, maar sy dink sy’s nie goed genoeg om die klawers te kielie nie.
Lizamé vertel van die groot oud-hoërskoolgroep op Facebook wat almal betrokke geraak het by die projek. Die ingangsportaal se restourasie is byvoorbeeld deur die Werda-klas van 1978 geborg.
Louis van Pletzen, wat al die afgelope 30 jaar in Londen woon, het R100 000 geskenk.
Lizamé was absoluut oorweldig en sukkel om sin te maak hoe iemand wat 30 jaar gelede al hier weg is, kans gesien het om so ’n enorme skenking te maak. Dit lyk asof Fauresmith jou die wêreld kan instuur, maar dat jou hartklop steeds hier bly.
“Ons het sommer begin maak en gesien hoe meer ons self kan doen, hoe verder kan ons met die geld kom. So, aanvanklik dit wat net genoeg was vir die stadsaal, het toe feitlik ’n dorp oorgedoen.
“Dis net goodwill, daar’s niks anders nie. Daar’s ’n betrokkenheid en ’n omgee,” sê Strauss terwyl die emosies besig is om hom te oorweldig. Ja, daar’s trane.

Groot verandering
“Daar’s ’n groot verandering straat-op en straat-af en dis baie mooi. En dis ’n lang legacy veral weer vorentoe,” kom dit van ’n trotse Isaac Tseletsoe, projekspanlid. “Ons dorpie was maar bietjie asvaal, baie prente het nou uitgekom wat geteken is, van jongelinge en groter mense.”
Luzamé vertel sy wou Vrystaatse kunstenaars betrek, maar dit het nie heeltemal ingepas by haar visie nie. Nou is die meeste van die kunswerke die kreatiewe handewerk van Fauresmith se inwoners. En die talent is verstommend! Saam met die hoër- en laerskoolkinders is daar ’n kunsprojek in die parkie begin. Dis wat gemeenskap vir Luzamé beteken – om almal te betrek en om te wys hulle maak saak, hulle is belangrik.

Ook Ina is deur die momentum van alles wat rondom haar gebeur het, meegesleur. “Toe dog ek laat ek [by] ’n paar ander dinge inspring en sommer doen. Nou ja, toe het ek begin sommer potte verf en geboue bietjie regmaak, met ’n span, ’n mens doen niks alleen nie. En dit is net so opwindend!”
“Onse plekkie was bietjie vaal gewees, maar ek is bly vir die persone wat aangevat het om weer onse dorpie mooi te maak,” Johanna Pholoana, eienaar van White House Fast Foods.
Luzamé het nie vir Johanna geken nie, maar toe kom sy een oggend daar met haar lieflike glimlag en vra of hulle nie ook haar kosplekkie kan kom verf nie.
“Maar toe spring hulle in en maak hom dié mooi plek. Wow! dis amazing.”
Verder het talle van die gemeenskap opgedaag om te kom help roosmaryn plant by die dorpsplein wat nou reggemaak is.
“Ons het begin met sewe mense, maar vanoggend dink ek is hier 600 mense. Mense het net ingeklim,” kom dit van ’n verbaasde Jacobus.
“Dit was ongelooflik. Ek kan amper sê elke dorp het maar sy ou knopg*tte en so, en op die ou end was die hele spul knopg*tte, almal van ons – al ons knopg*tte, bymekaar,” kom dit laggend van Strauss.
“Begin net waar jy is. Jy hoef nie die president te word om ’n verskil te maak nie,” is Lizamé se advies aan ander dorpe.
Strauss het nog heelwat om te sê. Deel daarvan is om Fauresmith se munisipaliteit te bedank. Hy glo as dit nie vir hulle gesindheid was nie, sou hierdie omtowering nie plaasgevind het nie.
“Dit wat hulle behaal het in ’n kort tydperk, is wat baie munisipaliteite in maande nie kan doen nie. Wat ek daaruit geleer het, is dat dit is moontlik as almal saamwerk,” kom dit van ’n baie trotse Jerry Moitse, Kopanong Munisipaliteit: Speaker en raadslid.
“As jy mooi dinge wil sien, moet jy daai mooi ding begin,” is sy boodskap aan die gemeenskap.
Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaand om 21:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.