In hierdie episode bevind die Lottoland help ’n dorp-span hulle in Vrede in die noord-oostelike Vrystaat.
“Ons lag, ons huil, ons werk baie hard. Ons sien baie plekke, ons ry baie ver, maar die belangrikste van alles van hierdie program is jy sien hoe mooi jou eie land is,” vertel sangeres en programaanbieder Leah oor Lottoland help ’n dorp.
Dis jou dorp
“Dit voel vir my daar’s ’n bietjie van ’n old school charm. Van die ouer geboue het nog behoue gebly en die ou verf is steeds, én die name, teen die mure. En dis vir my so mooi,” vertel Leah oor Vrede.
“Vrede is regtig ’n pragtige klein dorpie in die Oos-Vrystaat met ongelooflike mooi natuurskoon. En ek dink jy gaan dit eers regtig besef as jy hier deurry. En die ander mooi deel van Vrede is hul mense,” sê Carla van Rooyen, sameroeper: Opknappingsprojek.
Wanneer mense vir Stephan Fourie, projekspanlid, sê hulle is nie seker waar Vrede is nie, antwoord hy hulle dat dit die mooiste plek is waaraan hy kan dink.
Vir Gert Botha, mede-eienaar: Cairncross, is een van die grootste voordele van ’n klein dorpie dat jy nie kilometers hoef te ry om by jou werk uit te kom nie.
“Hier het ons nog tyd. Ons bel sommer vir iemand sewe-uur vanaand en ons sê ‘hoorie, man, ons kom gou oor en ons braai ietsie’ en dit word gedoen,” vertel hy.
“My graad-eentjie loop swembad toe en terug en my graad-ses loop dorp toe en hy gaan koop vir hom roomys en terug. Dis veilig, dis lekker om hier groot te word. Sport, dinge, buitelug, plaas, né,” sê Wilma Odendaal, projekspanlid.
“Dit lyk net so stil, dis glad nie so stil nie. Ons is so ’n lekker boeregemeenskap. Ons ondersteun mekaar, ons is almal lief vir mekaar, ons kuier elke naweek saam. Almal. Dis ’n ongelooflike dorp om in te bly,” kom dit van Cathy Bosman, projekspanlid.
Carla vertel die oorspronklike plaas se naam was Krynauwslust en iewers was daar glo ’n onderonsie oor die naam. Een ou wou dit Paddadors noem en die ander Vrede of Krynauwslust. Toe word daar blad geskud en gesê daar’s nou vrede – en so word die dorp toe Vrede,” vertel Wilna.
“Vrede, het ’n vriendin gesê, praat verskriklik baie. Dis nie soos van skinder van mekaar nie, maar almal weet, ‘Jis, jy’t ’n pap wiel gehad, oom Piet het jou gehelp’. Dit gaan swaar met iemand in die hospitaal – dis nie net jou vriende wat daar stop nie. Dis sommer mense van die dorp wat aflaai en vir jou ’n chocolate kom bring, want almal ken mekaar.”
“Hier gaan dit nie oor of jy ryk of arm is nie, of waar jy bly nie. Of wie jy is nie,” sê Gert.
Frans Kruger, spanlid, is ook baie betrokke by die dorp en hy wil graag sien dat Vrede voortbestaan sonder om soos ander klein dorpies agteruit te gaan nie.
Carla vertel dat daar verlede jaar byeengekom is en besluit is dat almal oor dieselfde goed kla, maar niks daaromtrent doen nie. Daar is toe besluit om Ntando4Vrede te stig en dit staan vir “Vrede vir Vrede”.
Leah vertel met die deurry dat die stoptekens, slaggate en ’n paar vervalle geboue tekens van verval bevestig.
Help, Lottoland
Carla neem vir Leah na die stortingsterrein en wys hoe die rommel nou in die nabygeleë stroom inwaai. As dit reën, beland van die rommel boonop in die dam. Die stortingsterrein het baie werk nodig, ook die gedeelte waar dit begin oorloop het in die gebied wat nie eintlik deel van die oorspronklike terrein was nie.
Selfs die pad na die stortingsterrein is toegegooi onder die rommel.
Carla verduidelik dat fondse wat moontlik deur Lottoland beskikbaar gestel word, steeds met fondse uit die gemeenskap aangevul sal moet word.
“Jy skenk die skaap, jy braai die skaap, jy koop die skaap terug. Die geld bly amper in dieselfde sirkeltjie maar buitegeld is so broodnodig, want ons is net so ’n klein gemeenskappie. Ons kan net soveel doen,” sê Wilma.
Ook op die projekspan se lysie is die vernuwing van hul stoptekens. Soos Leah tereg opmerk, kan daar kwalik gesien word waar daar gestop moet word. Ook die ingang het aandag nodig met die verwelkomingsborde. Ook die Poskantoor en die Engelse kerk moet skoon- en mooigemaak word.
Die groen koevert
So tussen die rommel deur, is dit Leah wat vir Carla met ’n groen koevertjie verras. Dit gaan moeilik om te lees want emosies is besig om vir Carla te oorweldig. Toe sy sien Ntando4Vrede gaan R500 000 ontvang, was daar geen keer aan die trane nie.
“Daar huil ons albei,” erken Leah. “Dit was net so ’n mooi oomblik gewees want jy kan sien sy’s regtig iemand wat so baie gee. Sy het net soveel passie.”
“Hierdie is soos ’n goue begin vir ons,” sê Carla. “Daai groen koevert het vir my hoop beteken.”
Ses weke later
“Welkom terug in Vrede. Dit was ’n wonderlike ses weke, maar ons is baie bly julle is terug,” kom dit van Carla. Sy erken hulle het ’n “histeriese oomblik” gehad toe die werklikheid van die ses weke wat voorgelê het, hulle getref het.
“Ons het besef ons weet eintlik nie wat ons doen nie en ons moet nou bitter vinnig ’n aksieplan kry,” vertel sy.
Leah het haar bedenkinge gehad of die stortingsterrein ooit uitgesorteer kon word. Daar was net soveel rommel en vuilgoed. Maar toe Carla haar neem na die plek wat voorheen oortrek was met alles denkbaar, kon sy haar oë nie glo nie. Nie ’n papiertjie in sig nie . . .
“Sprakeloos, heeltemal sprakeloos,” kry Leah dit uit. “Ek het regtig gedink ons is by ’n ander plek. Dit kón nie wees nie. Hulle het die grootste taak absoluut net 100% reggekry.”
Daar is ’n nuwe pad na die stortingsterrein geskraap, ’n heining is opgesit en ’n sekuriteitshuisie gebou.
Stephan erken hy het nooit gedink hulle sal die stortingsterrein kan regruk nie.
“Dis op ’n moeilike tyd ook. Dis op ’n tyd van die jaar waar ons eintlik op ons besigste is met ander kontrakwerk. So, ons het werklik niks beskikbaar gehad nie.
“En ek moet sê, almal hier rondom waar ons gewerk het, het verstaan en hulle het gesê ‘hoorie, vat toerusting, kom ons gaan doen dit gou-gou’.
“En binne die eerste twee weke het ons eintlik al 80% klaar gewees,” vertel Arno Joubert, tegniese adviseur: Opknappingsprojek en mede-eienaar: ALS Group.
Hy vertel ook die Munisipaliteit het 80 werkers gestuur om te kom help. ’n Verdere 120 mense uit die Vrede-gemeenskap het ook kom hand bysit.
“Boere, trekkers, almal het letterlik ingespring om te kom help. Die tannies van die Vroue-Landbou-unie het kom papiere optel. Dis eintlik nogals ’n riem onder die hart om te sien hoe almal inspring om te help,” sê Arno.
Boonop het die munisipaliteit drie sekuriteitsbeamptes beskikbaar gestel om seker te maak mense strooi nie rommel buite die aangewese area nie. Daarmee saam ook ses mense wat daagliks gereed staan om dit wat deur die wind rondgewaai word, op te tel.
“Die afgelope ses weke in Vrede was ’n marathon, maar dit was ’n lieflike reis wat ons aangepak het, veral met ons plaaslike besigheidsmense, die boere, die munisipale werkers, ons raadslede . . . Al die rolspelers,” sê Gugulethu Mhlongo-Ntshangase, munisipale bestuurder: Phumelela Munisipaliteit.
Mbuyiselwa Kobeni, burgemeester: Phumelela Munisipaliteit, sê hulle werk met almal saam en verwelkom enigeen wat in ’n vennootskap met die munisipaliteit wil werk. Hy wil seker maak dat Vrede skoon en aantreklik is en dat mense hier kom ontwikkel en belê.
Vusimuzi Thela, hoofsweep en raadslid: Phumelela Munisipaliteit, is opgewonde oor hoe hierdie inisiatief na nabygeleë dorpe in die Phumelela-gebied sal versprei.
Dis duidelik dat daar goeie bande met die plaaslike owerheid tot stand gebring is en dat daar ’n tasbare gevoel van positiwiteit in die lug hang.
“Kyk, as jy saam met ons geloop het en jy’t saam met ons gewerk tot waar dit vandag is, ’n mens kan eintlik nie jou kop rondom dit kry nie, maar ja, dis die mooiste asgat in die Oos-Vrystaat!” kom dit van ’n baie opgewonde Carla.
Maar dis nie net die stortingsterrein wat haar oë laat blink nie. Nuwe stopstrate, straatname en ’n lieflike uitnodiging wat jou by die ingang tot Vrede verwelkom, is deel van hierdie fenomenale transformasie.
Ook word daar opknappingswerk aan van die ouer geboue in die hoofstraat gedoen.
Lettie Barkhuizen, projekspanlid, vertel selfs die jongspan het ingespring om te help met hierdie dorpie wat net nie meer mooi was nie.
“Ons het begin net deur netjies te maak. Toe begin ons geboue verf, ons begin strate verf . . . die sypaadjies. Ek meen, ek het nie eers meer geweet hoe lyk ’n sypaadjie eintlik wat geverf is nie. En die randstene en als. Dit lyk sommer net weer anderster. Dis iets waaraan ons nie meer gewoond was nie. Maar dit lyk pragtig nou,” vertel Frans.
Dis maar net die oortjies van die seekoei. Daar’s op soveel verskillende plekke skoongemaak, geplant, nuwe borde opgesit, die ou vliegveld se aanloopbaan is weer sigbaar . . .
“Ons was party aande vodde, maar dit was ’n lekker moeg,” sê Lettie. Sy noem ook as sy nou ’n papiertjie sien rondlê, stop sy en tel dit op.
Carla en haar span het 17 gebiede geïdentifiseer wat besighede kan borg, en binne ’n dag is al 17 aangeneem.
Arno vertel dat hulle ongelooflik baie borge gekry het.
“Ons moenie hoop verloor nie, en ons moet besef dit begin by ons. As ons ons ingesteldheid positief hou, en ons ingesteldheid is iets van ‘ek wil gee en ek wil doen’, dan gaan jy dit regkry,” is Carla se boodskap aan die res van die land.
En hoop. Soos wat Lottoland help ’n dorp se groen koevert na hierdie dorp gebring het.
Lottoland help ’n dorp saai Woensdae-aande om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 22:00 gepubliseer.