Ambisieus, lewenslustig en doelgerig is ’n paar van die woorde wat ’n mens sou gebruik om die karakter Nina de Wet in Diepe Waters te beskryf. En terwyl akteurs dikwels soos dag en nag van hul karakters verskil, is Nina en die aktrise Reze-Tiana Wessels ’n welkome uitsondering.
Albei droom groot, is lojaal, maak die beste van elke dag, en kies familie bo alles. Dit is juis omdat hul waardes en persoonlikhede só ooreenstem dat Nina ’n baie spesiale plek in Reze-Tiana se hart het.
Tussen Reze-Tiana en Nina is die grootste verskil hul ouderdom en selfvertroue. Maar vir die 27-jarige Reze-Tiana, wat tot dusver in haar loopbaan nog net tienermeisies vertolk het, is dit lekker om uiteindelik ’n bietjie meer volwasse te kan speel.
Van skaam skoolmeisie tot volwasse swemmer
Toe kykers Nina ontmoet het was sy nog ’n skaam skoolmeisie, maar oor die afgelope twee jaar het Nina matriek voltooi en sy is ’n paar harde houe deur die lewe toegedien. Dít het haar gedwing om vinnig meer volwasse besluite te neem. En nou met die aankoms van ’n nuwe karakter, Damian (vertolk deur Luan Jacobs), gaan dinge net meer interessant vir Nina oor die volgende maand of twee raak.
Soos haar karakter, is Reze-Tiana ook oor die afgelope paar jaar deur moeilike tye, maar nes Nina laat sy haar nie maklik onderkry nie.
Nina is baie spesiaal vir my en het my al baie geleer. Ek is opgewonde vir kykers om te sien hoe Nina oor die volgende paar maande gaan groei. Ek glo dat die lewe in seisoene gebeur en al sien ek uit na die toekoms, geniet ek elke oomblik van hierdie seisoen.
Reze-Tiana Wessels
“Ek dink ek en Nina is albei mense wat kies om die glas halfvol te sien. Sy het ongelooflike ouers en verhoudings en ek dink dít is nog ’n vlak waarop ons connect. Toe my ma vir die eerste keer tydens Covid met kanker gediagnoseer is, was dit ’n bitter moeilike tyd vir my en my familie,” vertel Reze-Tiana.
“Ek was nog nie deel van die TV-bedryf nie en het toe net met kinderteater klaargemaak omdat alles weens Covid en die inperking gestop het. Dit was ’n baie onsekere tyd en ek onthou hoe moeilik dit was omdat ons ook nie my ma kon ondersteun nie. Sy moes alles alleen doen omdat ons haar nie kon besoek nie. Maar dit is in sulke tye dat ’n mens regtig perspektief kry oor die lewe en alles rondom werk en my ma het my regtig sterker gemaak as persoon.”
Drie maande ná haar ma met kanker gediagnoseer is, het sy in remissie gegaan, totdat dit in 2022 weer teruggekom het.
“Dit was asof ons alles van vooraf moes herleef en dit het selfs moeiliker gevoel. Jy besef nie altyd hoe kosbaar die lewe is nie. Maar dit is hierdie hele ervaring wat my nog meer dankbaar gemaak het vir die klein dinge in die lewe, soos die feit dat ek elke dag kan wakker word, gaan werk en tyd spandeer met die spesiale mense in my lewe,” vertel Reze-Tiana.
“ ’n Mens weet nie altyd wat die einde van jou lewe gaan wees nie, maar al die seer wat ek al beleef het, het my geleer dat ’n positiewe uitkyk belangrik is. Ja, jy mag hartseer of teleurgestel voel, maar jy moenie in daardie plek bly nie. En ek dink dít is ook hoe Nina deur die lewe beweeg. Sy moes al deur baie teleurstelling werk, veral omdat sy soveel druk op haarself plaas. Maar tog laat sy nie toe dat dit haar lus vir die lewe verander nie. Ek dink ek is wel ’n bietjie beter as Nina wanneer dit by praat kom. Sy bly soms te lank stil en dan ontplof sy, ek praat weer oor my probleme en beweeg vinniger aan.”
Haar ouers is haar alles
Nina wil dalk nie altyd dinge deel nie, maar as sy wil, weet sy haar ouers is altyd daar – nog iets wat Reze-Tiana en Nina in gemeen het.
“Haar ouers is haar alles en haar grootste ondersteuners en dit is presies dieselfde vir my. Ek kom ook uit ’n baie close familie. Ek onthou nou nog hoe my ouers eendag ingeroep is nadat ons ’n loopbaan-expo by die skool gehad het, omdat ek net een opsie vir ’n loopbaan gehad het,” vertel Reze-Tiana terwyl sy effens lag.
“Ons moes almal ’n plan A, B en C kies en daar was iemand om ons te help met ons loopbaanbesluite. Ek het toe aangedui dat my plan A, B én C aktrise is. Die meneer het toe vir my ouers verduidelik en gesê dit is fantasties dat ek so vasbeslote is om ’n aktrise te word, maar dit is ’n moeilike bedryf en dit sou beter wees as ek ander opsies ook het. My pa het onmiddellik geantwoord en gesê dat dit vir hom wys dat ek determined en doelgerig is en as dit is wat ek wil hê, dan ondersteun hulle my 100%.”
En dit is toe presies wat sy gedoen het.
Dans, dans, dans deur die lewe
Selfs as jong en talentvolle danser het Reze-Tiana geweet dat sy nie ’n loopbaan as danser wou hê nie, en eerder ’n aktrise wou wees.
Sy dans al van die ouderdom van drie af en is steeds verskriklik lief vir dans. Wanneer sy nie op stel is nie, gee sy danslesse vir jong dansers, sowel as paartjies wat graag lesse vir hul troudag wil hê. Sy het al selfs ’n paar glanspaartjies gehelp met hul eerste dans vir hul troues.
“Dit is so spesiaal om te sien hoe paartjies van daai eerste les tot hul troudag groei. Baie kan glad nie dans wanneer hulle begin nie. Maar saam groei hulle en lag hulle en leer hulle dat dit eintlik nie saak maak hoe dit op jou troudag gaan lyk nie. Daar is nie ’n reg of verkeerd nie, solank julle dit geniet. En dit is ’n goeie les vir die lewe oor die algemeen, maar ons almal kort soms ’n bietjie help.”
’n Spesiale oudisie
Reze-Tiana self is nie te bang om op iemand se knoppie te druk wanneer sy ’n doelwit wil bereik nie. Sy het al in talle flieks voor Diepe Waters gespeel en was vir twee jaar ’n gasspeler op 7de Laan. Diepe Waters is egter haar eerste langdurige TV-rol – een waarvoor sy ekstra moeite moes insit om los te slaan.
“Toe ek vir die rol oudisie, het ek uitgevind dat ons ’n tape moet instuur van hoe ons swem. Nou ek kan dans en perform, maar my broer is die swemmer in ons familie. My doggie paddle sou my beslis nie gehelp het nie. Ek het toe onmiddellik my broer gebel – wat eintlik ’n rekenmeester is – en hy het by die werk afgevat om my voor my callback met swemlesse te help,” vertel sy laggend.
“Ons het sommer by Midstream-swembad gaan swem en ons het borsslag, freestyle en backstroke geoefen. Maar toe dit by butterfly kom, het ek vir hom gesê dit gaan nie werk nie. Die lesse het my beslis daai edge gegee wat ek nodig gehad het. Ek is nou nog dankbaar dat alles toe mooi uitgewerk het. Ons het natuurlik ook deur die show swemlesse gekry, maar ons arme stunt doubles is die mense wat meeste van die tyd in die koue water is.”
Reze-Tiana sien uit om oor die volgende paar maande verder met haar karakter te groei.
“Nina is baie spesiaal vir my en het my al baie geleer. Ek is opgewonde vir kykers om te sien hoe Nina oor die volgende paar maande gaan groei. Ek glo dat die lewe in seisoene gebeur. Al sien ek uit na die toekoms, geniet ek elke oomblik van hierdie seisoen.”
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.