Die eerste uit 13 dorpe wat deel van kykNET se nuwe werklikheidsreeks, Lottoland help ’n dorp, vorm, is die dorpie Hofmeyr. En die gewilde sangeres Leah het hierdie besoek as ’n hoogtepunt beskryf.
kykNET-kykers is reeds bekend met Dankie, Lottoland en dit was vanweë die resultate van dié reeks waarin gesien is hoe mense hande vat om ’n groot verskil in hul gemeenskap teweeg te bring dat Lottoland help ’n dorp ontstaan het.
Volgens Maryke Hayward, bemarkingshoof van Lottoland SA, is Lottoland help ’n dorp juis begin om hierdie mense verder te ondersteun en nog ’n groter verskil in Suid-Afrikaanse gemeenskappe te maak. Die dorpe wat deel van die reeks uitmaak, is fondse toegeken, waarna hulle vier weke gehad het om projekte te voltooi om hul gemeenskap te verbeter.
Eerste indrukke
Leah se eerste indrukke van Hofmeyr was allesbehalwe gunstig. Daar was rommel net waar jy kyk. Maar toe sy die dorpie self binnery het alles net beter en mooier begin lyk.
“Ek was so verras. Toe voel ek baie meer welkom,” meen sy.
“Hofmeyr is die bymekaarkomplek van vyf roetes,” het Teresa Opperman, projekbestuurder van Hofmeyr Hugs of Hope verduidelik. “Hofmeyr was basies nog al die jare ’n deurgang.”
Tydens die laaste sensusopname was daar sowat 3 800 mense in en rondom Hofmeyr. Maar Teresa het gou uitgewys dat sake heeltemal anders oor die feestyd lyk. Dié dorpie wemel dan van die mense. Die meeste van die inwoners werk in die stede, maar Kerstyd keer hulle huiswaarts.
“Hier is sewe dwarsstrate en ’n klompie op-strate met ongeveer 30 gesinne wat in die dorp woon,” het sy aan Leah verduidelik. Altesaam is daar rondom 80 siele in die dorp.
Toe die dorp in 1972 ’n teerpad gekry het, het die inwoners se oë eers gedink dat dit net goeie goed kan beteken. Maar gou het die teerpad die dorp se toekoms in gedrang gebring. Die inwoners het daai teerpad gery na die groter dorpe, ander dokters gaan sien en hul kinders na groter skole gestuur.
“Stadig maar seker het ons dorp begin doodbloei. Besighede moes sluit, dokters moes toemaak. Die apteek het gesluit. Banke het toegemaak. Die laaste bank het in 2000 sy deure finaal toegemaak,” het Teresa vertel.
Leah kon nie verstaan hoe Teresa nog in die dorp aanbly nie. Maar vir Teresa was dit ’n maklike vraag om te antwoord.
“Die mense. Ons ken almal mekaar, ons dra mekaar se laste . . . ons bid saam, ons eet saam, almal speel saam.”
Hugs of Hope
Dan is daar ook Hofmeyr se Hugs of Hope. Dit is deur Teresa begin om bedelaars van die strate af te hou en hulle op te lei in iets wat hulle kan doen. Hugs of Hope bied deesdae verskeie opleidingskursusse aan.
“Wanneer die studente hul sertifikate in die hand hou, help ons hulle om ’n CV op te stel, aansoekvorms in te vul en dan in ’n beroep te plaas,” het Teresa verduidelik.
Die projek word vanuit die pienk kerk wat in 1933 gebou is, se kerksaal bedryf. Die pienk kerk opsigselwers is natuurlik ’n groot toeriste-aantreklikheid.
Ds. Ferdi Gouws is bietjie meer as drie maande in Hofmeyr. Hy lyk baie gelukkig in sy pienk kerk en het dit as ’n eer beskryf om in dié klein Karoo-dorpie te bly.
Leah het self ook voor die bekoring van Hofmeyr geswig.
“Elke liewe mens met wie ek al gesels het hier in Hofmeyr het letterlik ’n nuwe huppel in my stap gesit. Almal was so vriendelik. Sulke warmhartige mense. Hulle wil so graag hê mense moet saam met hulle trots op hul dorp wees.”
Teresa hoop self dat haar kinders nooit oor hul grootword-dorp sal skaam wees nie.
“Ek sal vir ewig vir die voortbestaan van Hofmeyr veg,” het sy gesê. Terselfdertyd het sy erken dat die dorp se rommelbestrooide ingang haar hart breek en dat sy bitter graag ’n behoorlike ingang tot die bekoorlike dorp wil bewerkstellig.
“Die boerevereniging, die VLV, die tuinbouklub, Hugs of Hope, die NG-kerk – hulle het almal gesê hulle is bereid om te help.”
Teresa het aan Leah verduidelik dat hulle van plan was om die rommel in die gruisgat te stoot, gelyk te maak en dan met geharde plante te bedek. Ook dat die heining om die gruisgat herstel moes word. Hulle het vir finansiering deur Lottoland help ’n dorp aansoek gedoen omdat die boere reeds baie van hulle kant af doen. Hulle sou hul swaar masjiene “gratis en verniet” vir twee weke na die dorp stuur om te kom help.
Die gemeenskap het ook aangedui dat hulle sal help met die plantmateriaal.
Ferdi het ook bygevoeg dat Hofmeyr ’n arm gemeenskap is wat nie oor die finansiële vermoë beskik om hul drome te kan verwesenlik nie.
Droom bewaarheid
Terwyl Teresa gedink het Leah is daar vir ’n feitesending voor daar besluite oor finansiering geneem kan word, was sy sprakeloos toe Leah ’n groen koevertjie optower. Dit was nie net sommer ’n koevertjie nie. Daarin was ’n belofte van R240 000 aan Hugs of Hope “sodat julle die dorp kan opknap en skoonmaak.”
En Teresa en haar span het net vier weke gekry om hul dorp reg te ruk.
Vier weke later
Groot, klein, oud en jonk het vier weke lank kragte saamgesnoer om Hofmeyr skoon te maak en reg te ruk. En hulle het dit met oorgawe gedoen. Leah kon nie haar oë glo toe sy die Karoo-juweeltjie binnegery het nie.
“Ek is sprakeloos! Dis ’n nuwe ingang, dis ’n nuwe dorp. Dis skoon. Dis mooi,” het sy laat hoor.
Teresa se aanvanklike droom van groen en bome moes vir eers op die lange baan geskuif word omdat skoonmaak die prioriteit was. ’n Verwelkomingsboodskap is vernuftig met klip op die grond uitgespel: “Wamkelekile. Welkom in Hofmeyr.” Langsaan is ’n reuseblom met blare wat deur klippe omsoom is. Binne elke blaar is daar blombeddings.
Elna Joubert, Schoombee Primêr se skoolhoof, het vertel hoe plante van die plase aangery is en hoe haar leerders gehelp het met die plantwerk.
“Toe ons hier [by die ingang] klaar is, toe gaan ons dorp toe. Ja, toe’s ons op ’n roll,” het Teresa vir Leah vertel.
Benewens die tuine buite en binne die dorp (van die inwoners het ook woes begin tuinmaak!) het sewe muurskilderye die dorp help opkikker. Ses van die muurskilderye wat vaal mure ophelder, deel dieselfde tema: Koester ons kinders. En ’n kunstenaar wat by Hugs of Hope betrokke is, het gesorg vir die kunswerk op die verwelkomingsbord by die ingang vanaf die hoofroete.
Ook die biblioteek en ’n paar huise het ’n nuwe verflaag gekry. Waar kalk nodig was, is daar gekalk. En die dorp se asblikke is helder geverf en spog met vrolike gesiggies wat saamdans in die ligte briesie.
Nuwe energie
“Almal het ingespring en gehelp. Dit was net ongelooflik,” het Teresa vertel.
“Mense was vrygewig en het hul eie tyd gebruik. Van hulle het hul besighede en die plaas net so gelos om te kom help.
Teresa het selfs vir Leah haar opkommandeer en die twee het kwas in die hand gehelp om van die muurskilderye klaar te verf voor die spertyd van 17:00.
Daar is ook vertel hoe verskeie mense bydraes uit hul eie sak gelewer het. En van terugbetaling wou hulle niks hoor nie want hulle het dit vir hulle dorp gedoen. ’n Groepie leerders het ook vir Leah ’n pragtige lied gesing.
Leah het ook gesels oor die stories wat agter elke muurskildery skuil. Een wat haar diep getref het was die storie van die kinders wat die hemel gaan haal het “want op Hofmeyr is dit hemel op aarde.”
Dit was juis Hugs of Hope se naaldwerksters wat besluit het om die geleentheid aan te gryp toe Leah en haar Lotto help ’n dorp-span ná vier weke kom inloer het. Hulle het hul pragtige kwilt-beddekens al te mooi uitgestal sodat die wêreld hul handewerk kan raaksien.
Hoop kring uit na buurdorpe
In ’n tyd waar positiewe verandering nodig het om uit te kring, het die opknapping van Hofmeyr ook rimpelings by die buurdorpe veroorsaak. Die hoop beskaam nie dat hulle ook self inisiatief aan die dag gaan lê om daardie dorpe te verfraai nie.
Vir Teresa was die vier weke onvergeetlik. Sy het vir Leah vertel die spesiaalste oomblik van die projek was toe sy besef het sy kan op mense staatmaak.
“Hofmeyr het besluit ons draai om. Ons gáán mooi wees want volgende jaar is ons dorp 150 jaar oud en ons wil trots wees op alles wat ons oor die laaste 150 jaar bereik het.
“Ons dorp het die afgelope vier weke haar wittebroodstasse gepak vir ’n wonderlike reis vorentoe. Ons sien uit om dit saam met haar mee te maak,” het Teresa gesê.
Lottoland help ’n dorp begin op 11 Oktober om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom dit op DStv Stream.