In die voorlaaste aflewering van die tweede seisoen, bevind sangeres en programaanbieder Leah en die Lottoland help ’n dorp-span hulle in Lady Grey, so kort duskant die Vrystaat, net binne die Oos-Kaap.
“Dis groen, dis prentjiemooi. Jy ry deur die dorp en daar’s een teerstraatjie waarop hulle baie trots is. En soos wat jy dieper die dorp inry, sien jy net absoluut die mooigeit, die natuurskoon van Lady Grey,” sê Leah. “Hierdie dorp is verseker nie grys nie!”
Dis jou dorp
“Lady Grey is Noordoos-Kaap en as jy nie weet waar dit is nie, moet jy dadelik kom kyk,” nooi Viljean Burger, projekleier en stigter: Molweni Bantwana Outreach, mense na hierdie versteekte juweel.
“Die dag toe ons getroud is, toe vra ek ‘hoe lank gaan ons nog in hierdie dorpie bly?’ en toe sê my man ‘nie een van ons kinders sal hier gebore word nie’. Dit is nou 44 jaar later en die kleinkinders speel nou al op die grasperke rond,” vertel Viljean.
Hannes Labuschagne, projekbestuurder, vertel hulle het ongeveer ’n jaar gelede uit die stad na die platteland getrek. Hulle hoofoorweging was ’n beter leefstyl, skoon lug en skoon water.
“Ek dink wat hierdie plek spesiaal maak, is regtigwaar sy mense. Ek dink baie plekke kan dit sê, maar hiersô is dit regtigwaar iets waar mense inspring en alles doen,” spog Soon Cloete, gemeenskapslid.
Hannes het ook te vertel dat die mense hier wonderlik is en dat hulle in die tydjie wat hulle hier woon, meer vriende gemaak het as tydens hul 20 jaar in Witbank.
“[Lady Grey] was sir George Grey se vrou en sy het soveel affairs gehad dat hulle haar later van die boot af wou gooi,” lig Viljean ’n geamuseerde Leah in.
Maar daar is heelwat ander aktiwiteite wat heeljaar lank in Lady Grey plaasvind. Daaronder tel die Royal Macnab-jagkompetisie met sy Skotse tema, die uitmergelende Skyrun, en vir jare was daar die Passiespele.
“As jy nou ouerig is en jy wil net op jou stoep sit, dan is daar plek vir die stoep. Maar as jy regtig belangstel en jy’s deel van die gemeenskap, is jy die heeltyd besig. Ek weet nie hoe jy aftree hier nie want jy’s heeltyd betrokke by jou gemeenskap,” laat Viljean hoor. “Dis jou ingesteldheid wat dit lekker maak hiersô.”
Help, Lottoland!
As jy deur die dorp ry, kom jy by die hange uit waar die bekende Lady Grey-dam is.
“Dis nie net ’n dam nie, dis ’n bymekaarkomplek. Dis ’n herinnering. Dis ’n plek waar die mense met nostalgie praat. Dís hoekom dit belangrik was om in te skryf en om weer die dam sy regmatige plek te gee in Lady Grey,” sê Viljean.
Leah is baie dankbaar sy’t haar vellies aan vir die staptog na die dam want dis nie ’n maklike roete nie. Maar Viljean spoor haar aan en sê dis juis deel van dit wat die dam-ervaring die moeite werd maak.
“Ons inskrywing is ‘Dam van drome’. Ek het spesiaal gesê dis ‘van drome’ want die ou mense droom nog oor die dam en die jong mense gesels oor die dam, so dit is ’n dam van drome,” verduidelik Viljean. “Die dam is regtig die middelpunt, en met reg. Kyk net hoe mooi is dit hiersô.”
Leah sê dis duidelik dat daar nie goed na die area gekyk word nie. Rommel lê rond, relings is gebreek en die water is ook ’n bietjie vuil. Sy kan wel die potensiaal raaksien wat onder andere piekniekplekke en ’n ruimte vir optredes inhou. Maar harde klippe gaan hier gekou word!
“Daar’s mense wat vir ses jaar nog nie daar was nie want hulle kan nie daar kom nie. En ek glo ons moet teruggee aan die mense dat hulle weer kan deel word daarvan, want dit lyk aaklig nou,” sê Viljean.
“Die toiletblok is op die oomblik ’n murasie. Ons sit met ’n fonteintjie wat baie moeilik is om by uit te kom. So, die hele gedagte is dat ons kyk na die besoeker se ervaring vanaf die parkeerterrein tot waar hulle by die piekniekterrein uitkom en dit benut,” is Hannes se hoop vorentoe.
Mooi, maar gevaarlik
Vanaf die bopunt is Leah oorweldig oor die prag daar onder. Vir haar voel dit soos ’n skildery wat iemand gemaak het.
“Maar dit is definitief ook ’n bietjie gevaarlik. Jy gaan bitter versigtig moet wees. Daai relings gaan moet sterk wees, hulle gaan moet nuut oorgedoen word, en ek weet dit is ’n groot werk. Ek dink ook nie dit sit in elkeen se broek om so hoog te gaan en ’n bietjie instandhouding te doen nie,” sê Leah.
Intussen droom Viljean van kinders wat na die dam gaan vir swemlesse en om te leer van natuurbewaring. Vir haar gaan die dam nie net oor toerisme nie, maar ook om ’n leerervaring vir die kinders te skep.
Hannes vertel op sy beurt dat swem baie gewild is, juis omdat dit so warm kan word in Lady Grey. Veral skoolvakansies is daar heelwat kinders wat na Kollasgat of die dam gaan om te swem. Hy sê hulle het al op ’n dag 500 kinders by hul huis sien verbyloop op pad na hierdie lieflike lafenis.
Hannes beskryf die vier komponente van wat met die dam beoog word:
- die parkeerarea
- die regmaak van die pad,
- die piekniekarea met ’n bruggie na die fonteintjie asook die ablusiegeriewe en die relings
- die algehele opruiming van die area.
Op haar beurt glo Viljean dat hierdie projek die eerste van nog baie gaan wees.
Die groen koevertjie
“Ons kan absoluut die passie sien. Ons wil so graag hê dat Lady Grey ’n dorp vir almal sal raak. Ek kan myself sien hiernatoe kom en kom vakansie hou,” is Leah se woorde aan Viljean terwyl sy die groen koevertjie aan haar oorhandig.
“Nou’s ek bewerig,” erken Viljean. Die inhoud van die koevert belowe R497 000 aan Lady Grey om die dam en omliggende area te herstel en op te gradeer.
“Toe ek sien Leah haal die koevert uit, toe’s dit asof dit heeltemal surreal is. Ek het nie besef dit sal ooit gebeur nie, maar dit was ’n groot opgewondenheid.
“Met die Here se genade, né. Dit is maar net genade, al hierdie goed wat gebeur. Ek dink dis ’n koevert van hoop. Lottoland gee vir ons hoop in die platteland.”
Sy sê die span wat agter haar staan, het belowe die oomblik dat sy ’n koevert in haar hand het, “start ons die enjins”.
Ses weke later
Met hul terugkeer na Lady Grey, is dit ’n opgewonde Leah wat nie kan wag om te sien wat alles gebeur het die afgelope ses weke nie.
“As jy uitkyk van die berg af en jy kyk oor Lady Grey en jy sien die landskap . . . Dit lyk regtig asof Heidi een of ander tyd gaan uit-pop en begin jodel! Dit is ’n storieboekprentjie, dis ’n skildery en dis so mooi.”
“My man het gesê ons sal nie nog ’n projek in die huwelik kan hanteer nie,” is Viljean se reaksie toe Leah wil weet hoe die ses weke afgeloop het. Maar vir haarself was dit net een groot fees.
Sy bars van trots oor die samewerking uit die gemeenskap en hoe almal eienaarskap gevat het van dit wat hulle voor verantwoordelik was.
Maar, erken sy, hulle het darem ietsie vir Leah gelos om te doen. Sy moet opklim tot bo teen die berg en die laaste stukkie verfwerk afhandel.
“So, vandag skiet ek die hoogtes in. Letterlik,” aanvaar Leah die opdrag. Sy sê Lady Grey se mense het werklikwaar berge versit.
Daar word vertel dat Lottoland help ’n dorp kwalik die dorpsgrense verlaat het, toe’s Chris Oosthuysen, projekspanlid, met sy masjiene daar om te begin werk aan die pad.
“Ja, ek was lank betrokke by 4×4. Een van die slegte dinge was dat ons nie die 4×4-ouens hier kon invat nie want die pad was so in ’n toestand. Toe Lottoland betrokke raak, toe besef ons maar hier’s iets wat kan gebeur om hierdie hele ding reg te kry,” vertel Chris.
Hy het dadelik sy toerusting aangebied. “Ek het ’n excavator en al die implemente van die plaas gebring en ek het vir hulle dadelik gesê ek is in.”
En binne ’n week en ’n half was die pad rybaar.
Die klippe wat in die pad was, is elders aangewend om terrasse mee te bou, die ablusiegeriewe te herstel, en nooks & crannies te skep. Dit is ook gebruik om die nuwe bruggie na die fonteintjie te bou.
“Die moeilikste gedeelte van die werk was die klippe wat ons moes uit gaan haal het uit die berg uit en opgedra het. Want ons het niks klip gekoop nie,” vertel Trevor Konstabel, projeklid. Al die klippe wat daar gebruik is, het hulle uit die natuur gaan haal. Net sement en sand is aangekoop.
Daar is selfs ’n gedeeltelike amfiteater gebou sodat die piekniekarea vir funksies en optredes ingespan kan word.
Die bestaande trappies na die dam is skoongemaak en gewas. Daar was wel gedeeltes wat weer oorgebou moes word.
Vir Leah is die nuwe heining presies waarop sy gehoop het. Nou kan daar soveel meer en soveel verder gesien word en veiligheid is verseker.
“Toe alles nou verby is en ons dink alles is nou reg, toe kom die tuin-groep in en hulle begin met bakkievragte vol tuingereedskap en plante en die Yuccas én wat is die regte name van die plante, want dis ook belangrik. Dis toe opgesit,” vertel Viljean.
Graffiti is van die rotswande verwyder, asblikke is deur die munisipaliteit verskaf en die algemene gevoel is dat alles mooier lyk as selfs 20 jaar gelede!
“Hulle sê ‘hoe verskuif jy ’n berg?’ Klippie vir klippie. Elke mens in Lady Grey, en dis waarvoor ons so dankbaar is, was deel van die projek gewees. Die kinders is opgewonde, die grootmense is opgewonde en natuurlik, dit gaan verskriklik baie beteken vir ons toerisme,” sê Viljean.
Op ’n nat en modderige dag word die pad na die dam amptelik geopen.
Viljean sê sy het die projek baie geniet, maar daar is veral een oomblik wat vir haar as die lekkerste oomblik van alles uitstaan. “Die heel lekkerste was toe ons die lint geknip het en ons almal van die hele gemeenskap het onder een sambreel gestaan.”
Lottoland help ’n dorp saai Woensdae-aande om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 22:00 gepubliseer.