Menu terloops
In Onderhoude [16 Mei 2025]

Lea Vivier se Melanie saai vrees in kykNET se ‘Die nuusmakers’


Haar karakter is welbekend aan enigiemand wat al deur ’n “herstruktureringsproses” by die werk gegaan het… En ja, as Melanie Palmer, die sakebestuurder wat die lewensvatbaarheid van die ‘Nuus om 7’-span op ‘Die nuusmakers’ moet bepaal, is Lea Vivier se karakter ’n bekende paaiboelie. Sy vertel meer. 

Deur Rozanne Els
Lea Vivier se Melanie saai vrees in kykNET se ‘Die nuusmakers’
Kyk lokprent

“Wat soek sy hier?”

Die ontvangs wat op Melanie Palmer wag as sy by die Nuus om 7 se kantoor instap is een van agterdog en vrees. Te verstane, meen die aktrise Lea Vivier wat dié karakter op kykNET se nuwe dramareeks, Die nuusmakers, vertolk. Melanie, ’n besigheidskonsultant, is immers daar om die finansiële vooruitsigte en lewensvatbaarheid van die nuuskanaal vas te stel. As sulks is haar blote teenwoordigheid ’n bedreiging vir die nuusspan wat op hul beurt vas oortuig is dat sy van die hele lot van hulle ontslae gaan raak. 

“Deel van die beskrywing wat ek vir Melanie ontvang het, het gelui, ‘If Barbie had made an assassin’,” vertel Lea. “Niemand weet wat sy daar soek of wat haar agenda is as sy aanvanklik daar opdaag nie. Maar sy maak beslis almal op hul senuwees. Want ja, sy gee nie om oor jou gevoelens nie, sy gee nie om oor die interpersoonlike verhoudings nie. Dit kom als neer op die bottom line.” 

Gedugte span

Lea, veral bekend vir haar spel op DAM en Diepe Waters, is as Melanie deel van ’n gedugte rolverdeling, wat onder andere ook Niggies se Roeline Daneel, Wolwedans in die Skemer se Rolanda Marais, White Lies se Brendon Daniels en Recipes for Love and Murder se Arno Greeff insluit.

Die reeks vertel oor ’n nuusspan wat dag in en dag uit die bulletin vir die aandnuus op televisie saamstel. Die fokus is hoofsaaklik op Rolanda se karakter, die gesoute nuusleser Adri Joubert, die stem van die aandnuus. Maar as Adri deur ’n persoonlike tragedie getref word, beleef sy hoe haar eie lewe nuus word.

Die regte goud van hierdie storie is in die karakters en Karen (Jeynes) het pragtige karakters geskryf.

Lea Vivier

As sulks word sowel die kuns en aard van verslaggewing onder die loep gebring, as die mense agter die skerms, en die interpersoonlike verhoudinge wat in hul alledaags die botoon voer. Maar dis juis vir daardie interpersoonlike dinamiek waarvoor Lea se Melanie nie ooghare het nie. Inteendeel – sy meen die span se oordeel is deur die kompleksiteite daarvan geaffekteer. Soveel so dat hulle die pad byster geraak het – en hoekom sy as konsultant ingeroep is. 

’n Bietjie Stella, ’n bietjie Kelly om Melanie te skep

Lea het haar karakter deels op The Morning Show se nuushoof Stella Bak (vertolk deur Greta Lee) in die tweede seisoen van dié bekroonde drama geskoei. Soos Stella, is Melanie nie iemand wat oor ander se gevoelens omgee nie, benadruk sy. “Sy is baie swart en wit.”

Sy het wel ook elemente van die bemarkingspesialis Kelly Jones (vertolk deur Scarlett Johansson) in die fliek Fly me to the Moon bygevoeg, synde Melanie, soos Kelly, “sjarme en emosionele manipulasie in sekere omstandighede gebruik om te kry wat sy wil hê,” verduidelik Lea. “Melanie is hiperintelligent. As sy ’n vertrek binnetree, sien sy onmiddellik wat sy moet doen en hoe om die situasie te hanteer om te kry wat sy wil hê.”

Nuusmakers
Lea Vivier meen haar karakter in Die nuusmakers, Melanie, het min tyd (of agting) vir mense se gevoelens. Foto: Verskaf

Haar voorbereiding vir Die nuusmakers is gelei deur ’n vraag wat sy altyd vra voordat sy in ’n karakter se skoene klim: “Wat is die ding wat sy die meeste in die wêreld wil hê? Waarvoor sal sy voor ’n bus inspring? Wat is haar motivering? Al waaroor Melanie omgee, is om suksesvol te wees in dit wat sy moet doen. Sy gee letterlik nie om oor enigiets anders nie. So as iemand ’n probleem met haar het, dink sy nie dit is haar verantwoordelikheid om dit aan te spreek nie.” 

Tog, voeg sy by, maak hierdie kilheid nie van Melanie emosieloos nie. “Sy het definitief emosies, maar dit hou verband met haar motivering en dat sy dalk kan misluk in haar taak. En dit maak haar teleurgesteld in haarself, of soms gefrustreerd as sy voel sy bereik nie haar volle potensiaal nie. Haar hoofdoel in die lewe is om alles perfek te doen – ’n onredelike verwagting, maar dís Melanie.”

Opnuut waardering

Sy lag vir hoe naïef sy oor nuuslesers voor dié projek was – veral omdat sy self ervaring het met kykers se miskenning van die grense tussen karakters en die akteurs wat hulle vertolk. “As akteurs word ons dikwels as die karakter gesien. Baie mense maak die fout om te vergeet dat daai akteur ook ’n baie vol lewe by die huis waarvan hulle glad nie weet nie.

Lea Vivier as Melanie in Die nuusmakers op kykNET.
Lea Vivier is deel van ’n gedugte rolverdeling in Die nuusmakers op kykNET. Foto: Verskaf

“Maar vir die een of ander rede het ek daai selfde fout gemaak toe ek na nuuslesers gekyk het. En nou het ek ’n nuwe waardering vir die feit dat hulle ook baie vol, baie komplekse, baie uitdagende lewens by die huis het. Nes enige ander mens, ja, maar dan is hulle boonop op ons skerms waar hulle ’n beeld van absolute beheer, van kalmte uitstraal. Ek het net opnuut waardering vir die vaardighede wat dít verg,” vertel sy. 

Karakters gaan kykers intrek

Oor die ander karakters in die reeks, meen Lea dat dit juis hul uiteenlopendheid is wat die storie so meeslepend vir kykers gaan maak. “Die regte goud van hierdie storie is in die karakters en Karen (Jeynes) het pragtige karakters geskryf. Hulle is so uniek en ek is vas oortuig dat kykers in hul interpersoonlike konneksies gaan inkoop.

“Mense gaan wíl sien hoe elke karakter ontwikkel en hoe die verhoudings tussen die karakters ontwikkel. Dit is net heerlik.”


Die nuusmakers begin Dinsdag, 27 Mei om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies