Menu terloops
In Wat om te kyk [20 Mar 2025]

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Brêkfis bring wraggies dié span tot ’n val


Reeds met die aanvang van die sewende episode van ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’, was dit duidelik: Hierdie gaan nie ’n mak dag wees nie. Bertus Basson en koskenner Kobus Botha se interessante aankoms het dit bevestig… 

Deur Annelene Oberholzer

Stroom 'Kokkedoor Vuur & Vlam' S2

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Brêkfis bring wraggies dié span tot ’n val

Vroegoggend kuier die deelnemers gesellig met ’n koppie boeretroos in die hand om die vuur – tot waar hulle vreemde boksies gewaar. Ja, nog ’n dag op Kokkedoor Vuur & Vlam het begin . . . Dit gaan weer ’n andersoortige dag wees, dis duidelik. Die beoordelaars Bertus Basson en Kobus Botha se aankoms maak dít sommer vinnig duidelik. Die twee daag saam op met Kobus as Bertus se passasier op sy brullende Harley Davidson, oftewel “oumansfiets” soos een van die deelnemers glimlaggend laat hoor.

Kokkedoor
Bertus en Kobus het saam op sy motorfiets gearriveer – en dít was maar net die begin van die dag se kinkels… Foto: Skermgreep

Die uitdaging 

Kokkedoor
Bertus verduidelik wat hy en Kobus van die deelnemers verwag. Foto: Skermgreep

Maar vandag gaan dit oor ontbyt, en nie enige ontbyt nie. Die deelnemers moet regstaan vir 12 motorfietsryers vanuit die Kaap. “Brêkfis-run, bra!” kom dit opgewonde van een van die deelnemers.

Vir dié motorfietsryers moes daar brêkfis gemaak word. Foto: Verskaf

Bertus en Kobus soek een volledige ontbyt wat eiers insluit. Die eiers moet daar wees en gesien kan word want, soos Bertus dit stel, dit eer die hoender en dis mos Kokkedoor.

Die tweede deel van die uitdaging gaan soos ’n action station wees: Of ’n wafel of ’n taco of ’n jaffle op die vuur. Nou word die rol van die boksies duidelik. Daar’s lootjies in elke boksie wat bepaal watter apparaat gebruik moet word.

Wenners en verloorders

Kinkelbraaier Lourens Engelbrecht (37), ’n vryskutsjef van Pretoria en sy onthoubraaier-spanmaat, Johan de Villiers (30), operasiebestuurder van Klein Roosboom naby Durbanville, was vol selfvertroue oor hul sukses, veral toe hulle die jaffle-lootjie getrek het.  

Hulle was reg. Bertus het erken hy sou baie ver ry om weer so ’n uithaler-ontbyt te kan nuttig.

“Ag, f*k”, was die woorde wat onthoubraaier én biker Suzie Wandrag (47), ’n smaakmaker en inhoudskepper van die Strand, geuiter het toe sy besef sy en kinkelbraaier-spanmaat Vendi Klaushofer (40), die operasionele bestuurder van ’n familierestaurant in Heidelberg (Gauteng) se vuurtjie is geblus. Sy het erken sy wou eers iets fênsie maak, maar toe besef eintlik is dit ’n braaibroodjie wat moet gebeur, maar teen daardie tyd het Vader Tyd hulle ingehaal. 

Koebaai aan Suzie en Vendi

Kokkedoor
Suzie en Vendi moes groet. Foto: Skermgreep

Wat sê Suzie? 

Kokkedoor
Suzie Wandrag. Foto: Verskaf

Jy is self ’n biker. Vertel meer! En hoe het jy gevoel toe jy hoor julle moet ontbyt vir 12 motorfietsryers maak?

“Ek ry self bike en het gewoonlik aan offroad-kompetisies deelgeneem tot waar ek te veel stopsels los geval het. Ek het toe maar besluit om eerder ’n ander soort motorfiets te koop . . .  

“Ek was toe baie in my noppies om te hoor ek kan ontbyt maak vir mý mense!”

Jy en Vendi het goed saamgewerk as ’n span. Wat het jy by hom geleer?

“Vendi is regtig so ’n goeie ou. Hy het my geleer om nie te ernstig te wees nie. Dinge gebeur en werk uit soos dit moet. Ons kan almal by Vendi iets leer.”

Wat lê nou vir jou voor? En sal jy weer aan so ’n werklikheidsreeks deelneem?

“Ek is weer woelig. Ek het klaar ’n idee vir TV aangestuur waar ek saam met vroue wil braai. 

“Ek bied ook nou smoking courses aan. My rissiesous (Donkiebyt) is ook binnekort aanlyn en in winkels beskikbaar. Ek het in 2021 goud en dubbelgoud vir Donkiebyt by die Aurora International Taste Challenge gewen. Kom ons kyk wat gebeur.”

Wat sê Vendi?

Vendi Klaushofer. Foto: Verskaf

Jy was lus vir ’n nuwe uitdaging wat ’n bietjie buite jou gemaksone was. Hoe ver het Kokkedoor Vuur & Vlam die grense vir jou verskuif?  

Kokkedoor Vuur & Vlam was verseker een van die moeilikste uitdagings wat ek al in my lewe aangedurf het, maar dit was ook een van die mees bevredigendste ervarings wat ek al gehad het.  

“Die reeks het my geleer om meer in myself te glo . . . Ek is normaalweg maar ’n man van min woorde, maar Kokkedoor Vuur & Vlam het my selfvertroue ’n lekker boost gegee!”

In ’n stadium het jy gesê die uitdaging was eintlik ’n maklike opdrag. Jy het ’n Franse roosterbrood-jaffle gemaak. Is dit iets wat jy ook in julle familie-restaurant sal doen?

“Ja, ek sal beslis die Franse roosterbrood-jaffle in ons familie-restaurant bedien. Ek het dit weer vir my gesin by die huis gemaak – en hierdie keer was dit foutloos.

“Die druk tydens die reeks is nogals rof. Dan is ’n mens se kop oral wat natuurlik veroorsaak het dat my jaffle een gróót flop was.”

Dit kom voor asof jy nie iemand is wat maklik tou opgooi nie. Is dit hoe jy in die algemeen optree?

“Ek is al deur baie moeilike en harde tye in my lewe, maar ek het nog nie, en sal nóóit, tou opgooi nie.  Jy moet net aanhou en dan sal jy deur enige storm kan loop. En ja, dis hoe ek ook maar is – ek pak die bul by die horings en kyk wat gebeur.”

Dit het gelyk of jy en Suzie as ’n span mekaar goed verstaan het. Wat sou jy as een van haar beste eienskappe beskryf?

“Suzie het ’n ongelooflike sterk persoonlikheid en sy gee ook nie op nie, en daarom het ons mekaar so goed verstaan en gelees. Sy maak nie ’n moordkuil van haar hart nie en haar eerlikheid en ons wedersydse respek vir mekaar het van ons ’n goeie span gemaak.

“Ek dink ons gaan lewenslange pelle bly.”

Is daar iets wat jy uit Kokkedoor Vuur & Vlam geleer het wat jou op die pad vorentoe gaan help?

“Die reeks het my geleer dat mens jouself daar buite móét sit en nie toelaat dat die vrees vir die onbekende jou ooit terughou in die lewe nie. The sky is the limit!

Dié twee kry goud in vandeesweek se episode

KOKKEDOOR
Lourens en Johan het tops uitgekom ná vandeesweek se uitdaging. Foto: Verskaf

Wat sê Lourens?

Kinkelbraaier Lourens Engelbrecht. Foto: Verskaf

Jy het gelag oor jou opvatting rondom motorfietse – toe jy gesê het in die verlede was ’n Harley Davidson vir jou ’n “oumansfiets”. Het jy nou van mening verander? En sal jy dit oorweeg om ook motorfiets te ry?

“Ek nog altyd gedink Harley Davidsons is vir ou ooms met lang hare en pony tails en vol tattoos, ooms wat meer sigaretrook as suurstof inasem en bier drink soos wat ’n pasgebore baba melk drink. 

“Maar die groep motorfietsryers wat opgedaag het en vir wie ons ontbyt kon maak was presies die teenoorgestelde. Wat ’n m**rse nice klomp mans! Almal is vriendelik en vol grappe. Dit was regtig aangenaam om hulle te kon ontmoet.

“Ek het as ’n jong laaitie motorfiets-ry baie geniet maar dit was altyd ’n quad bike op die plaas tussendeur die mielielande en stofpaaie. Ek het al ’n paar keer saam met my broer op sy motorfiets gery, maar ek is so ’n bietjie skrikkerig om dit alleen te doen. Maar wie weet, dalk sal ek eendag as ek groot is die tweewielmotorfiets ’n go gee.”

Was jy gelukkig oor die jaffle-lootjie wat jy getrek het? Deel gerus raad oor jou gunsteling-vulsel en hoe jy seker maak dis altyd smaaklik.

“Ek was bitter gelukkig oor die jaffle-lootjie wat ons getrek het en het gedink dit was die maklikste lootjie van die lot. Ek en Johan het van die begin af geweet wat ons daarin sou sit om ’n lekker jaffle te maak!

“In vandag se tyd is jaffles veel meer as net die gewone kerkbasaar-jaffle vol kerriemaalvleis. Mense raak regtig kreatief met dit waarmee hulle ’n jaffle vul en die moontlikheide is oneindig, soet of sout. ’n Vars jaffle is die beste! Ek gebruik noisette-botter vir lekker bros-gebraaide brood met die kante so effens gebrand.”

Jy het gesê jy’s g*tvol om tweede te wees en het jou World Sports Betting-keuse op julle as ’n span gemaak. Was daar in enige stadium tydens die uitdaging waar jy dalk begin twyfel het?

“Johan is ’n great spanmaat en ek voel ons het mekaar van die begin regtig baie goed verstaan. Ons kon saam ’n bietjie waaghalsiger gewees het met wat ons gebraai of gekook het, want Johan is die spanmaat wat altyd kans gesien het vir daai iets anders. Hy staan ook niks terug wanneer dit ’n bietjie meer moeite verg nie.

“Ons het die uitdaging met selfvertroue aangepak en regtig ons beste gegee om dit te kon wen. Daar sal maar altyd hier en daar ’n bietjie twyfel wees, veral wanneer jy so baie eiers moet posjeer en omdat mense se smaak verskil. Op die einde het ons net ons beste gegee.”

Dit was baie snaaks toe Jason Lilley van Jason Bakery in Groenpunt die té sagte geposjeerde eier gekry het. Jy het gesê “van al die f*kken eiers vat hy die d*nderse bord met die wit . . .” Hoe voel jy nou daaroor? Deel gerus jou wenk oor wanneer die asyn by die water gevoeg moet word wanneer eiers geposjeer word.

Many moons ago, toe ek en my vrou nog in die Kaap gebly het, het ons Jason Bakery ’n hele paar keer besoek en het dit vinnig een van ons gunstelinge geraak. Die koffie was altyd lekker en die verskeidenheid eetgoed altyd ’n bederf. Om Jason te kon ontmoet en as ons gas te kon hê, was regtig ’n groot voorreg. Wat ’n m**rse smart ou!!

“Toe Jason nou die één eier kry wat dalk so bietjie sagter gepoach was, was ek baie kwaad vir myself. Ek wou hom regtig beïndruk, nie teleurstelstel nie… Ek poach baie eiers vir ons Franse gaste op die plaas. Hulle hou van hulle eiers baie sag en net-net gestol, maar so verskil mense se smaak maar mos altyd.

“Deur die gekraakte eiers vir ’n paar minute in asynwater te laat lê, was ’n life hack wat ek iewers gesien het. Dit was die eerste keer dat ek dit gedoen het en ek self was baie verbaas oor hoe goed dit uitgedraai het. Wie nie waag nie, wen nie! Gewoonlik gooi ek asyn in die pot kookwater net voor ek die eiers wil poach. Dit help om die eier bymekaar te hou en ’n mooi vorm te gee.”

Jy het gepraat oor iets waar jy te vroeg tou opgegooi het en dat jy gedink het jy het vrede daarmee gemaak, maar nou het jy besef jou hart het nog nie. Sal jy omgee om meer daaroor uit te brei en waar jou hart nou is?

“Ek het in 2015 as ’n jong sjef by Overture vir Bertus [Basson] begin werk. Dit was die eerste keer dat ek in so ’n kombuis gewerk het, en dít vir een van Suid-Afrika se bekendste sjefs en restaurateurs. Bertus is tot vandag toe nog ’n sjef en restaurateurs na wie ek baie opkyk en by inspirasie vind. In 2015 was Overture se kombuis ’n baie hoë-druk en spanningsvolle kombuis omdat die standaard van dit wat aan die gaste voorgesit is, so hoog was! Maar ná net 4 maande in die Overture-kombuis het die druk eendag net te veel vir my geraak en het ek bedank…

“Party dae dink ek terug aan daai tyd en voel ek dat ek way te vroeg tou opgegooi het. Ek was nog so jonk in my sjef-loopbaan en kon nog so baie by Bertus en sy kombuisspan leer. Party dae wonder ek nog steeds hoe anders die lewe sou uitgedraai het as ek daai dag net my trots kon sluk en nog een keer kon deurdruk. Vandag doen ek steeds waarvan ek hou en gebruik ek meer as gereeld resepte en idees wat ek in die vier maande by Bertus geleer het om ons gaste op die plaas mee te beïndruk.”

Wat sê Johan?

Onthoubraaier Johan de Villiers. Foto: Verskaf

Jy’t gesê ’n jaffle moet lekker wees. Wat is jou gunsteling-vulsel vir ’n jaffle en hoe kry jy genoeg geur ingebou?

“Ek hou van ’n klassieke vulsel met beesvleis tamatie, knoffel, kruie en natuurlik ’n bietjie blatjang.”

Jy verwys na jou en Lourens as “Biscuits en Biltong”. Vertel ons meer. 

“Dit is ’n David Kramer-liedjie waaroor ek nog altyd mal was. Dit was ook my en Lourens se span-naam ná die mielies en potjie-episode [Episode 4]. Dit is ’n goeie Weskuskombinasie wat werk – net soos wat ek en hy in die kombuis saam werk.”

Vark met pikante heuning vol rissiebyt – wat ’n interessante kombinasie. Waar kom jou kombinasie-idees vandaan en wat is die vreemdste kombinasie wat jy nog gemaak het, wat suksesvol was?

“Ek eksperimenteer graag met kontraste – soet, suur, sout en hitte. Die HotHoney is iets wat ek gesien het wat hulle in Amerika op hulle pizza sit. Ek het wel gedink dit sal die jaffle ook goed komplementeer.”

Jason Lilley van Jason Bakery in Groenpunt het daai jaffle baie geniet en gesê hy gaan dit op sy spyskaart sit. Wat beteken dit vir jou?

“Dis ’n ongelooflike kompliment. Jason is ’n meester en dit is ongelooflik om te weet dat iets wat ek gemaak het aan sy standaarde voldoen.”

Hoe het jy gevoel toe Bertus eers vir julle as een van die top-spanne uitgesonder het, en toe as wenners? Was daar enige twyfel dat julle hierdie wen julle s’n sou maak?

“Ons het nie geweet hoe dit met die ander spanne gegaan het nie. Ons het net probeer die beste doen op die dag, maar ons het geweet ons kos was lekker!”

Jy en Mike is nou nuwe spanmaats. Hoe sien jy die pad vorentoe vir julle twee saam?

“Ek sien uit daarna om saam met Mike te werk. Ons het verskillende style van dinge doen, maar ek dink ons kan mekaar se sterk punte gebruik om ’n goeie span te vorm.”

En die res?

Hier is nog ’n paar foto’s van wat tydens die episode afgespeel het en wat die ander spanne aangevang het.

Skryf in!

kykNET soek nou na deelnemers vir Kokkedoor: Son & See, wat die vyfde gedaante van die Kokkedoor-familie is. Mense moet as ’n span van twee familielede inskryf en daar moet boonop ’n generasiegaping van ten minste 20 jaar tussen die twee spanlede wees. Daar word ook net na huiskokke gesoek word en dat daar nie deelnemers met ’n kwalifikasie as professionele sjef gaan wees nie. Kry die aansoekvorm by kyknet.tv en volg die stappe of stuur ’n e-pos na navrae@kokkedoor.tv


Kokkedoor Vuur & Vlam S2 saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uit. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.

Kyk ook die eerste seisoen op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies