Menu terloops
In Wat om te kyk [13 Mar 2025]

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Daar’s (kos-)liefde in die lug… maar Kupido se pyl skiet ook mis


Gedink sake kan nie warmer raak in ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ nie? In hierdie episode is daar frustrasie, irritasie, hartseer en selfverwyt – alles bestanddele vir ’n vuurwarm ervaring met baie min tyd en ’n groot uitdaging. 

Deur Annelene Oberholzer

Stroom 'Kokkedoor Vuur & Vlam' S2

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Daar’s (kos-)liefde in die lug… maar Kupido se pyl skiet ook mis

Die Kokkedoor Vuur en Vlam-spanne moes pyle kies – óf rooi vir teenoorgestelde smake en teksture (opposites attract) óf blou (voëls van eenderse vere) vir smake en teksture wat klassiek by mekaar pas. En nog ’n kinkel . . . daar moet ’n vyeblaar, sjokolade en heuning iewers by die disse ingewerk word!

Terwyl sjef Bertus Basson en koskenner Kobus Botha die liefdestaal van kos liries besing het, was daar twee deelnemers wat ten spyte van die bloed, sweet en trane wat hulle in die stryd gewerp het, tog wel hul voorskote moes ophang. 

Kokkedoor vuur en vlam
Die spanne moes eers pyle kies voordat die groot kook begin het. Foto: Verskaf

Die uitdaging

Daar word gesoek na ’n hoof- en nagereg wat gepas is vir ’n romantiese afspraak. Maar die pyle se kleur gaan bepaal of daar vir teenoorgestelde smake en teksture (rooi pyl = opposites attract) of smake en teksture wat klassiek by mekaar pas (blou pyl = voëls van eenderse vere).

Kokkedoor vuur en vlam
Vandeesweek is daar gesoek na hoof- en nageregte wat gepas is vir ’n romantiese afspraak… natuurlik met heelwat kinkels daarby… Foto: Verskaf

Dis nie al nie. Daar moet sjokolade, vyeblare en heuning iewers in die disse ingewerk word. En elke gang moet ’n sterk vuur-element bevat. Party deelnemers het teen die tyd letterlik begin lyk soos bokkies wat in ’n skerp lig vasgevang is. Hulle het boonop net 90 minute om hul disse voor te berei.

Koebaai aan twee vasbyters

Kinkelbraaier Charlotte Minnaar (43), entrepreneur en eienaar van ’n spysenieringsonderneming, van Centurion en haar onthoubraaier-spanmaat Godfrey Davids (41), ’n tegniese klerk by die Mediclinic in die Paarl, moes vandeesweek groet.

Kokkedoor Vuur en vlam
Dié twee moes vandeesweek groet. Foto: Verskaf

Wat sê Charlotte?

KOKKEDOOR VUUR EN VLAM
Charlotte Minnaar. Foto: Verskaf

Jy het met die instap besef daar’s ’n “morantiese uitdaging” wat op julle wag. Het die ratte toe al in jou kop begin werk oor wat jy dalk gaan voorberei?

“Ons stap daai kombuis binne, Kobus en Bertus in netjiese uitrustings en orals waar ons kyk is dit net liefde. Die pragtige suurdeegbroodjies met botter, kerse en blomme orals. 

“My ratte het dadelik oortyd begin werk en miskien te veel te vinnig gespin . . . alle resepte op een slag in hierdie tuimeldroër van ’n brein. Eisj, hier kom ’n ding.”

Genade, jy roer een pot met ’n klitser in die een hand en voeg bestanddele met ’n maatlepel jou ander hand by ’n ander pot. Dan lees jy nog aanwysings ook. Hoe kry jy dit reg?

“Mammas is mos maar bekend vir multi-tasking. Jy kan mos nie opgee en net op ’n hopie gaan sit nie. Die kos moet op die bord kom.”

Daardie benoude giggel toe jy besef het die filodeeg is nog kliphard . . .  Hoe hanteer jy dit as sake soms skeef loop?

“Die lewe gooi elke dag nuwe uitdagings na jou kant toe. Partykeer word jy so ’n bietjie onkant gevang en dan spin jy eers so bietjie in ’n sirkel. ’n Mens moet maar seker altyd eers net stop, asemhaal en besef jy weet eintlik hoe om die situasie te hanteer. As als dan faal, phone a friend. Jy is nooit alleen nie.”

Jy’t ’n waardevolle lewensles met die kykers gedeel toe jy noem dat jy vir 42 jaar vir jouself moes leer aanvaar jy’s nie die verkeerde persoon nie, jy’s ’n original. Wat het hierdie kopskuif laat gebeur? 

“Toe ons besluit het om terug te kom Suid-Afrika toe, het ons geweet dit gaan nie ’n maklike aanpassing wees nie. As jy rock bottom tref moet jy as mens en mamma besef dat as jy nie opstaan en weer probeer nie, gaan jy nooit weet of iets sal werk nie.

“Daar was ’n paar redes vir die kopskuif. Ek het besef ek het familie, vriende en safari-kliënte wat agter my staan en as ek die probleem was, sou iemand lank terug al iets gesê het.

“Ek het ook besef daar moet ook sulke mense soos ekke wees. Daar is áltyd ’n kersie iewers wat ’n vlammetjie nodig het, om hulle net weer te wys daar is ’n straaltjie hoop daar buite – jy moet net nooit opgee nie. Ek het besef ek gaan shine!

“En dan, natuurlik, om gekies te word om deel te wees van Kokkedoor Vuur en Vlam. Dit was ’n hoogtepunt van hierdie McClughan-Minnaar se lewe. My ouma Hettie doen beslis ’n happy dance. Alles wat oor ons pad kom, gebeur vir ’n rede en niks is te groot om te handle nie. Skyn jou lig, al is dit donker daarbuite.”

Wat sê Godfrey?

Godfrey Davids. Foto: Verskaf

Hoe het jy by Kokkedoor Vuur & Vlam beland? Waar het jou liefde vir kosmaak, en meer nog, vir vuur begin?

“Ek het aanvanklik aansoek gedoen omdat ek myself op die proef wou stel. Ek wou wys dat ek dit werd is om deel te kan wees van so ’n groot produksie. Kos was maar altyd ’n deel van my. 

“Vuur het vir my begin waar ek eers iets toets . . . en dit soms verbrand. Later kry jy beheer oor die vuur en neem jy die leierskap wanneer dit by braai kom. So sorg jy dat dit wat op die vuur gemaak word, perfek is.”  

Jy’t gehoop vir ’n blou pyl. Het jy toe al reeds iets in gedagte gehad om voor te berei?

“Ek het niks in gedagte gehad nie. Ek was net bang om iets te kook wat teenoorgestelde disse sou wees [wat die geval sou wees indien Godfrey en Charlotte ’n rooi pyl getrek het] want dit vereis baie tegniek om smake wat nie eintlik by mekaar pas nie, te laat werk.” 

Was jy teleurgesteld oor Bertus se terugvoer dat die lamsribbetjie net nie krakerig en gaar genoeg is nie? Hoe verkies jy om jou lamsribbetjie te maak?

“Die kole was warm, jy’s onder druk . . . so enigiets kon verkeerd loop. Ek was glad nie teleurgesteld nie want ek sal enige dag of nag kritiek van een van Suid-Afrika se top-sjefs vat. Dis mos ervaring wat daar praat en boonop goeie raad wat uitgedeel word. Ek verkies my lamsribbetjie sappig met ’n lekker vetjie gebraai.” 

Wat is die mees romantiese dis wat jy nog aan iemand voorgesit het?

“Die mees romantiese dis moet seker daardie lekker lamspotjie wees wat ek al vir my vrou gemaak het. Ek kook meestal vir my vrou en kinders.”

Jy’t gesê dis demoraliserend om twee dae ná mekaar onder te wees. Hoe lyk die pad vorentoe vir jou? Sal jy weer aan so ’n werklikheidsprogram deelneem?

“Ja, dit is nie ’n mooi prentjie om twee dae onder te wees nie, maar wat kan ’n mens sê? Jy kompeteer met van die beste in die land en die feit dat jy deel uitmaak van die ervaring is net amazing

“Die pad vir my vorentoe? Ek sal kook en kook en nooit ophou kook nie. Ek sal beslis altyd nuwe resepte op die vuur probeer. Sal ek weer aan so ’n werklikheidsprogram deelneem? Nie gou nie. Kokkedoor Vuur & Vlam is beslis die grootste vir my. Ek is so dankbaar ek kon een van die 20 deelnemers wees.  Dalk sal ek dit tog iewers in die toekoms heroorweeg, maar ek wil graag vir ander ook die geleentheid bied om dit te ervaar wat ek ervaar het. Dit was ’n amazing span en amazing crew. Alles was net out of this world en ek sal dit vir niks en niemand verruil nie. Ek voel baie trots en baie geëerd om te kon deelneem. 

“Dan wil ek net dankie sê aan almal vir die geleentheid en vir die ervaring – van die staff, camera crew, produksie en sjefs tot by die manne wat die kole verskaf het. Dankie, dankie en nogmaals dankie!”

Kupido-kolskoot

Aan die ander kant van die weegskaal was daar weer twee deelnemers wat se disse deur ’n Kupido-kolskoot getref is. 

Kinkelbraaier Mike van Rooyen (37), ’n konsulterende sjef van Johannesburg en onthoubraaier-spanmaat Ferdi Uys (45), ’n produksie-adviseur in die mynbedryf, van Struisbaai, het koning gekraai met hul perfek-gebraaide tuna en pannekoek met bruin botter.

Ferdi (links) en Mike was die wenners van vandeesweek se uitdaging. Foto: Verskaf

Wat sê Mike? 

Wat het jy van die gekleurde pyl wat julle gekies het, gedink? Het dit jou bekommerd gemaak of stilweg laat juig?

“Ons was opreg opgewonde oor die uitdaging. Eerlik gesê, enige kleur pyl sou wonderlik gewees het want vir ons gaan dit alles daaroor om die uitdaging saam aan te pak en dit ons beste te gee. Dit gaan oor spanwerk, kreatiwiteit en om die beste te maak van wat ook al oor ons pad kom. Die blou pyl was perfek vir ons dis.”

Jy het ’n Mexikaanse sous met beenmurg gemaak. Is Mexikaanse disse een van jou go to-disse of watter ander lande se kookkuns inspireer jou ook?

“Ek is mal oor die geure van Mexiko. En ek was gelukkig genoeg om Tulum, een van die bekendste plekke in Mexiko, te besoek waar ek ’n paar werklik outentieke geregte geniet het. Daardie ervaring het my beslis bygebly. Maar as ’n span put ons inspirasie uit soveel verskillende oorde. Suid-Amerikaanse en Japannese kookkuns is ook ongelooflik inspirerend. Die vrymoedigheid en diepte van Suid-Amerikaanse geure gekombineer met die elegansie en akkuraatheid van Japanse kookkuns dryf my altyd om nuwe dinge te probeer.”

Wat het jy tot dusver van Ferdi geleer?

“Om saam met Ferdi te kon werk was so ’n lonende ervaring. Hy is ’n ongelooflike spanmaat en ek voel dat ons kommunikasie en begrip werklik dit versterk het wat ons as ’n span kon vermag. Sy kalm, gefokusde benadering is iets wat ek werklik bewonder, en ek leer so baie by hom elke keer as ons saam kook. Dit is beslis ’n spanpoging en ek is dankbaar om saam met iemand so passievol en toegewyd te werk.”

Jy is nie ’n vreemdeling wat wen op Kokkedoor Vuur & Vlam betref nie. Is elke wen vir jou anders? Hoeveel het hierdie wen vir jou beteken?

“Elke wen voel heeltemal uniek en ons is ongelooflik dankbaar en nederig vir elke wen. Dit gaan nooit daaroor om te verwag om te wen nie; dit gaan daaroor om alles wat ons het in die uitdaging te sit en saam te werk om iets spesiaals te skep. 

“Hierdie oorwinning was werklik betekenisvol, want dit is nog ’n tree vorentoe in ons reis van leer, groei en samewerking. Ons voel so geseënd om ons passie vir kos te kan deel en ook om onsself as ’n span aan te hou motiveer.”

Dié twee het soomloos saamgewerk om vandeesweek se uitdaging te wen. Foto: Verskaf

Wat sê Ferdi?

Wat is jou tipiese idee van ’n romantiese aand?

“Ek en my vrou langs die groot oseaan . . . sy met ’n glasie wyn en ek met ’n bier in die hand.” 

Het jy al ooit voorheen met heuning, vyeblare en sjokolade kos gemaak?

“Ek het wel al met heuning en sjokolade saam gewerk, maar nog nooit met vyeblare nie. Maar soos daar gesê word: Daar’s altyd ’n eerste keer.”

Van die ander deelnemers het ook tuna gemaak, maar jy het duidelik ook idees oor hoe daar met tuna te werk gegaan moet word. Deel gerus ’n paar van jou idees.

“Tuna is die beste vars uit die see. Ek maak graag sashimi (snye rou vis) met ’n bietjie balsamiese asyn of suurlemoensap. Anders braai ek dit met knoffelbotter, medium tot rare, soos ’n steak. Dan bietjie sout en peper en ek rond dit af met suurlemoensap.” 

Het jy en Mike mekaar eindelik voor die vuur gevind?

“Ja, ek en “Magic Mike” het eindelik mekaar gevind. Met my rustic kennis van kook en sy spesifieke, gesofistikeerde en fassinerende kennis van kos het ons daarin geslaag om interessante en mooi borde voor te sit. Waar oud en nuut mekaar vind . . .”  

Basies kan Bertus se terugvoer op julle disse met een woord opgesom word: Fantasties. Hoe het dit vir jou gevoel om dit te hoor?

“Dis altyd great om goeie terugvoer te kry, veral van iemand soos Bertus met sy breë kennis van kos. Hy’s ’n legend, nie net omdat hy in Kokkedoor Vuur & Vlam is nie, maar ook as restaurant-entrepreneur.”

En die res?

Hier is nog ’n paar foto’s van wat tydens die episode afgespeel het en wat die ander spanne aangevang het.


Kokkedoor Vuur & Vlam S2 saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uit. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.

Kyk ook die eerste seisoen op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies