In die derde episode van kykNET se werklikheidsreeks In die Sop: Restaurant Evolusie se derde seisoen beweeg hulle op ’n heel ander terrein – vol liefde en planne!
Vir Misi bly die reeks ’n hartsprojek, maar haar ma se onverwagte siekte en oorskuif na ’n sorgeenheid het ook op persoonlike vlak groot uitdagings gebied. Dit is dieselfde plek waar haar pa in die verlede opgeneem is, en vir Misi was daar een groot ding om te doen: Om haar ma se kamer op te vrolik met pragtige muurpapier en haar eie fyn dekor-idees.
’n Emosionele Misi vertel dit het binne ’n dag gebeur en haar ma het nog gesê: “Ons In die sop nou my kamer.”
Dit het die ratte in die span se kop in ’n nuwe rigting gestuur met ’n liefdadigheidsprojek wat die hartsnare gaan roer. Bertus het geweet van die Durbanville-kinderhuis en hy het gedink dis ’n briljante idee om wat Misi by die ouetehuis gedoen het, by die kinderhuis toe te pas. Dié kinderhuis bedien die gemeenskap reeds vir 140 jaar.Die kinderhuis lê baie na aan die hart van Johanna Strauss, die bestuurder van die kinderhuis, en Louise Coetzee, fondswerwingsbestuurder.
Terloops, nie al die inwoners van die kinderhuis is weeskinders nie, maar ook kinders wat van hul ouers weggeneem is ingevolge ’n hofbevel.Johanna verduidelik baie mooi dat hulle nie hul inwoners gedurende vakansietye terugplaas by die huis waaruit hulle verwyder is nie, maar probeer tog so ver moontlik dat die kinders by familie tyd spandeer.
Die kinderhuis fokus daarop om die kinders te leer hoe om in ’n gesin te funksioneer. Daarom groepeer hulle kinders van 2-18 saam in een huis en Johanna vertel dié stelsel werk goed.
Maar daar is baie uitdagings op finansiële gebied. Bok Radio-omroeper Success Lekabe, die kinderhuis-ambassadeur, vertel hoe moeilik dit is om die deure oop te hou sonder die hulp van die staat of die plaaslike munisipaliteit. Daarom het hulle verskeie fondsinsamelingsinisiatiewe deur die jaar, ’n tweedehandse boekwinkel en ’n welsynswinkel, aldus Johanna.
Marco Haasbroek, bemarkingskomiteelid, glo vas dat Bertus en Misi die Durbanville-kinderhuis van ’n broodnodige energie-inspuiting gaan voorsien.
Wat sê die inwoners?
Cindy het as 11-jarige by die kinderhuis beland. “Ek het geleer om close te raak met mense en dit was baie nice want hier het ons net vir mekaar gehad,” vertel sy.
Ook Luke het as 11-jarige in die kinderhuis beland. Dis nou sy agtste jaar hier.
“Ek het in die kinderhuis gevoel ek is deel van ’n familie . . . ’n Groot, groot familie,” sê hy en glimlag breed.
Liefde en trauma
Louise en haar man is kinderloos en sy vertel haar kollegas terg haar dat sy nou 144 kinders gekry het. Sy erken dis nie maklik nie, want daar is baie emosies betrokke.
“Ons werk eerstehands met ons kinders en hul emosies en trauma. Jy leer ken hulle op ’n persoonlike vlak.”
“Ek is ongelooflik lief vir kinders,” sê Johanna. “Dis asof hierdie kinders onder my vel inkruip, elke dag.”
Sy is baie opgewonde oor die vooruitsig van Bertus en Misi se handewerk want, erken sy, die huise en die kombuise is nie mooi nie.
Elke huis het sy kruis . . . Óftewel klein kombuis
Hoe dinge gelyk het voordat die span van ‘In die sop’ hul moue opgerol het. Foto’s: Verskaf
Sandra woon reeds die afgelope agt jaar in die kinderhuis.
“As die kombuise groter was en ons sekere toerusting gehad het, is ek seker ons sou baie meer herinneringe kon maak. Met bak, byvoorbeeld. Dis lekker om te bak, veral met die kleintjies. Jy leer vir hulle wat om te gebruik en wat om te doen.”
Cindy voel ook die kombuis is “nogals klein”.
“Ek weet ons het gelove om die tannies in die kombuis te help toe ons jonger was. En dis elke week dieselfde kos, net op verskillende dae. So, as dit net different proe en different is – hulle sal dit love,” vertel sy.
Luke sien uit na iets nuuts want hy voel daar sal mooi daarna gekyk word, juis omdat dit nuut is.
Veilig sonder worries
In hierdie stadium maak Feedem gedurende die week kos vir die inwoners. Johanna is baie opgewonde oor Bertus se koms en dat hy met die kinderversorgers gaan werk om ’n meer huislike gevoel rondom die kos te skep, want naweke rus die kosmaaktaak op hul skouers.
Sandra sê: “Dit is ’n tydelike huis waar die kinders bly, maar dis belangrik dat dit vir hulle soos ’n huis voel, dat hulle voel hulle behoort iewers. Of dat hulle veilig is. Hulle hoef nie te worry waar hulle kos vandaan gaan kom nie.”
Yolande Snyders, ’n vrywilliger by die kinderhuis, se droom vir elke kinderhuiskind is dat hulle geïnspireer sal word deur die mense wat hier deur die hekke kom, “Dat hulle sal sien hul drome maak saak.”
Bertus op die werf
Van ’n klein begin met 44 kinders, het dit vandag gegroei tot ’n tuiste vir 144 kinders. Daar is 12 huise en elke huis het ’n huismoeder wat 12 kinders onder haar vlerk het.
Bertus wil met die intrapslag een van die huise van naderby beskou.
“Ek kan net dink hoe belangrik dit is vir die kinders om te kan goed eet, saam eet en natuurlik ook ’n huislike gevoel te kry vir kos,” is sy vertrekpunt. Hy verstaan ook hoekom Johanna voel die buitekant moet ook aandag kry.
Die bykomende geboue is in 1988 voltooi en Bertus sê vir hom lyk dit soos ’n institusie. Ook die kombuis is vir hom onprakties. Dit moet harde werk wees om vir 12 kinders hieruit kos te gee. En met net ’n elektriese stoof in die kombuis is hulle beslis nie beurtkrag-bestand nie.
Proetyd
Bertus word deur die dagmoeders Bernadette Morris en Joline Esau op hul kos getrakteer. Joline vertel middagete is groente, rys en vleis en Bernadette sê aandete is gewoonlik ’n ligte maal: Toebroodjies, ’n vrug en ’n sap.
“Dis nogal lekker kos, maar dis baie bruin,” is Bertus se reaksie en hy dink dis tyd vir vernuwing.
Hy word ook ingelig dat baie van die kinders nie weet hoe om met ’n mes en vurk te eet nie. Dis die dagmoeders wat hulle leer hoe om dit reg te gebruik, al gaan dit maar sukkel-sukkel aan die begin. Joline vertel dat dit ook interessant is hoe die kinders onthou hoe hul ouers kos vir hulle voorgesit het en hoe dit van kultuur tot kultuur verskil.
“Kinders onthou waar hulle vandaan kom,” sê sy.
Die winkel
Alles in die winkel is donasies uit die gemeenskap. Dit wat nie in die huise gebruik kan word nie, word hier van die hand gesit om hul fondse ’n hupstoot te gee. Louise sê die winkel is baie besig en baie gewild. Dit is ’n tydjie gelede opgegradeer en nou het hulle aansienlik meer besoekers. Johanna verduidelik dat al die geld wat hier gemaak word, aangewend word vir die kinders se skoolklere.
Bertus het reeds ’n paar idees om hul inkomste aan te vul. Wat van ’n koffiemasjien? Selfs gebak . . . Hy is ook beïndruk met die stoepkant en stel voor dat daar Saterdae boerewors hier gebraai en van die hand gesit word.
“Boereworsrolle is in ons bloed,” sê Bertus.
‘Dit is nie ’n restaurant nie’
“Ons is ’n bietjie van ons normale paadjie af,” erken Bertus want hierdie projek is nie ’n restaurant nie. “Maar hierdie storie is belangrik om te vertel en dis amper belangriker as om ’n restaurant reg te kry. Hierdie is nie twee gelukkige eienaars nie, maar 12 gelukkige kinders waarvoor ons werk.”
Die mure gaan waai
Misi stel Bertus gerus dis net ’n enkele muur . . . en natuurlik het sy weer ’n vriend nadergehark wat kombuiskaste bou!
Dan is daar nuwe banke, ’n regte kombuistafel met spasie vir almal. Maar gaan alles volgens In die sop se reëls binne die begroting en daardie demoniese drie dae-spertyd klaargekry word?
Hul strategie is om een van die huise reg te ruk en te hoop dat ander mense na vore sal kom om die res ooreenkomstig oor te doen.
Dag 1
Die skrik-vir-niks-span arriveer met baie moed en durf vir hierdie reusetaak. Daar word gekap, gehamer en Paintmaster is ook byderhand om die dogtershuis reg te ruk.
Misi en dekorkoördineerder Elize Buys kies koers na die winkel. Misi verduidelik dat daar ’n tema in die dekorwêreld is waar rou hout steeds ’n pragtige fokuspunt skep en dat sy die bestaande rakke gaan behou.
Met die enkelmuur in sy peetjie, besluit nutsman Hendri Hamman en Misi om die wit teëls in die kombuis te herwin. Daar word nie sommer net weggegooi nie. Die verbrokkelende Marley-teëls staan egter nie ’n kans op herwinning nie en Misi gaan nuwe linoleum op die kombuisvloer sit.
“Ek dink nogal hierdie gaan ’n great episode vir ons wees om deur te werk. Hier is baie meer werk vir Misi as vir my. Sy gaan haar g*t afwerk,” laat ’n geamuseerde Bertus hoor.
Dag 2
Bertus kom met sy Defender aan by die kinderhuis – tot boordens gelaai met donasies uit Stellenbosch. Hy vertel dat sy seuntjie wou weet wat ’n kinderhuis is. Nadat hy die konsep aan hom verduidelik het, het sy seuntjie summier ook speelgoed geskenk.
Misi is onstuitbaar want alhoewel dit nie op hul program verskyn nie, word die tuin by Huisie 2 ook getakel. Sy is baie beïndruk met Edmond se handewerk daar en sê dit voel nou of die stukkie aarde asemhaal. Sy is ewe opgewonde oor die kombuis en oor PG Bison wat bord daarvoor geborg het.
Intussen is Bertus en sy sjefspan, Rahim Cassiem en Armand Durandt, in die hoofkombuis van die kinderhuis doenig. Bertus vra net een ding van hulle: wat hulle maak, moet flippen lekker wees. Ja, flippen lekker.
Die Binnelanders-akteur en deesdae fotograaf Ramey Short kom loer ook in. Hy het in die einste kinderhuis grootgeword en het onmiddellik positief reageer toe Bertus en Misi hom genader het om betrokke te raak.
“Dis my huis waar ek grootgeword het en, snaaks genoeg, ek is al ’n paar jaar uit die kinderhuis uit maar ek voel nog steeds hier’s broers en susters wat hier is… Al ken ek hulle nie.”
Hy het ook nie gehuiwer toe Misi hom aansê om ’n oorpak aan te trek en te help verf nie.
“Dit is baie lekker om betrokke te wees, want ek weet op my klein bietjie, sit ek iets terug vir Durbanville-kinderhuis.”
Ook Heleen Meyer, koskonsultant,’ is deur die In die sop-span genader om mense aan te moedig en te wys hoe maklik dit is om lekker en gesond te kan eet met alledaagse bestanddele.
Sy is aan die huismoeders en -vaders voorgestel in Atlantic Studios se kombuis en in ’n japtrap gewys hoe iets eenvoudig soos ontbytpap op 10 verskillende maniere voorgesit kan word. En maklik boonop.
Dis nie die enigste verrassing nie. Twee gewilde Suidooster-akteurs, Dean Smith en Theodore Jantjies, kom loer ook in.
Dean sê alhoewel die gehoor hulle warm ontvang, is hulle nie die helde nie.
“Julle groet nou hier vir ons en julle waai vir ons, maar ons is nie eintlik die heroes nie, dis eintlik julle wat hier sit, wat die heroes is. Ons moet vir julle dankie sê vir wat julle doen. Ons weet mos Wade, die character, kom uit ’n foster huis uit . . . Maar ons sien nie altyd die mense wat agter die skerms is om vir daai kind hoop te gee [nie].”
“Mense soos julle word gebore en nie gemaak nie. Daai is ’n spesiale mens wat kyk na ’n kind en ’n kind laat veilig voel,” sê Theodore. “Iets gebeur met ’n kind eventueel as ’n mens vir ’n kind liefde wys. Dankie dat julle liefde konstant wys.”
Die gesprek
Bertus gesels met Johanna en Louise by Chocolat Bistro om uit te vind hoe hulle oor die proses voel.
Johanna glo die spasie gaan mooier wees en die huismoeder gaan beslis meer gemotiveerd wees om kos te maak vir die kinders in die [nuwe] spasie.
Louise dink dat hierdie verandering selfs op skoolvlak die kinders positief gaan beïnvloed.
“Dit gaan hulle oor die algemeen net so warm en tuis laat voel. En vir ons is dit soos ’n droom wat waar geword het.”
Dag 3
Ná die ‘In die sop’-span getoor het.
Dit sous. Modder. En flippen lekker wortelkoek – Armand se ma se resep. En die bonkige bank veroorsaak dat die deur afgeskroef moet word om dit na binne te bring.
Toe Louise en Johanna hardlopend na die winkel se kant kom vir die groot oomblik, het hulle letterlik in hul spore gestop.
“Ja, die emosies het hoog geloop. Dit het gevoel of ek appel sluk al die pad,” sê Louise, duidelik oorstelp met die resultate. Nie sy of Johanna kon hul trane keer toe hulle die lieflike winkel binnestap nie. Die DCH Boutique het twee name bygekry: Annie & Finn, die bekendste weeskinders ter wêreld.
Op die stoep is daar ’n groot gasbraaier vir die Saterdag-boeries, danksy Weber wat dit aan die kinderhuis geskenk het. Bertus sien dit as ’n ideale geleentheid om die ouer kinders met die nodige opleiding daarby betrokke te kry.
Die kombuis is die volgende besoekpunt. Beide Johanna en Louise is op soontoe, duidelik oorrompel met Misi se nuwe tuin.
“Dit kan nie wees nie,” is al wat Louise kan uitkry toe Bertus vir hulle aansê om hul oë oop te maak in die kombuis.
Eindelik is daar nou genoeg spasie vir almal om saam te eet, saam te kook en te integreer.
Die inwoners het gejil, gegil en hande voor die mond die verandering gadegeslaan. Een het laat weet dit lyk baie meer na ’n hotel.
En Misi wat gewip het van die werk en die ekstra tuin? “Dis net ’n groot warm hug vir my hart as jy hoor hoe dankbaar mense is.”
Ook Bertus was aangedaan. “Dit was so lekker gewees toe ons hoor hoe die kinders skree toe hulle die huisie ingeloop het vir die eerste keer. Van opgewondenheid. Want dis nuut en dis mooi.”
Besoek Durbanville-kinderhuis vir meer inligting/donasies.
In die sop: Restaurant-evolusie word Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.