Vir jare was Annetjie die regterhand van die magtige At Koster (Hans Strydom) in Binnelanders. At kon dalk vir Conrad (Hykie Berg) en die res van die raad om sy pinkie draai, maar as dit by die administrasie van die hospitaal of Kiepersol kom, is daar net een main konyn. Lorraine.
Nee, kyk, jy kan maar die CEO, die parkeerwag, ’n verpleegster of haar beste vriendin wees; in Annetjie se oë word almal dieselfde behandel. En as sy eers op jou spoor is, kan jy maar weet daar is moeilikheid (of ’n ongemaklike verhouding) op pad.
Annetjie is baie goed in haar werk, maar soos wat kykers die afgelope paar weke weereens gesien het, is die liefde nie juis ’n area waarin Annetjie uitblink nie. Haar wires word heeltyd vir een of ander rede gekruis en meeste van die tyd val Annetjie halsoorkop verlief op iemand wat onbeskikbaar is of wat haar hard friendzone. Ja, dit is nogal cringe om te kyk, maar kan ’n mens ook later skater… Soos toe Annetjie ’n paar weke gelede nuwe gesigprodukte begin gebruik het om jonk te lyk vir haar hot working date met Binneland se eie McSteamy. Natuurlik was dit ’n ramp. Annetjie kon uiteindelik nie die funksie bywoon nie, omdat haar gesig rooier as ’n tamatie was – én dit obviously met die kleur van haar rok sou bots.
Dit het my glad nie verbaas nie, want Annetjie was nog altyd ongelukkig wat sake van die hart betref. Sy moet nog leer dat mans nie vir haar dieselfde lojaliteit as haar geliefde kat-kinders gaan wys nie… Sy bly egter ’n fees op die skerm.
terloops het vir hierdié skrywer en aktrise sewe vrae gevra oor die meer as tien jaar wat sy al by Binnelanders betrokke is, die lekkerte van skryf en voor die kamera wees.
Wat het jou passie vir skryf en acting ge-spark?
“Ek het nooit gedink ek sal skryf nie en dit het amper per ongeluk gebeur dat ek by Binnelanders betrokke geraak het. Ek het myself eerstens as ’n akteur gesien. As kind was ek baie teruggetrokke en onseker van myself, maar ek het gou besef as ek bietjie van ’n nar is, dat mense nie besef hoe ongemaklik ek is nie en kan ek ook sommer enige spanning ontlont. Dít is seker waar die acting saadjie geplant is.
“Toneelspel is ’n manier om met ander te kommunikeer sonder dat jy jouself hoef te wees. Jy kan wegkruip agter jou karakter, kostuum en die teks. Ek dink ook baie akteurs moet eintlik sielkunde gaan swot, want die proses om sin te maak van ’n karakter is baie soos om jouself en die mense om jou te probeer verstaan. Om te verstaan hoekom mense doen wat hulle doen, hoekom hulle is soos hulle is – dít is wat my fassineer. En dis ook waar my skryfwerk begin.”
Annetjie kan nogal blind wees vir ander se emosies en sy kan soms onsensitief voorkom. Ek dink en hoop ek is darem meer intuïtief oor emosionele onderstrominge. Soms wil ’n mens net gil, ‘Read the room, Annetjie!’.
Lorraine Burger
Jy vertolk al vir jare hierdie geliefde karakter. Hoe het jou reis as akteur en skrywer met die Binnelanders-familie begin?
“Ek het in 2009 vir Binnelanders begin skryf, sonder veel ander skryfervaring en dit was ’n behoorlike vuurdoop. Tot op daai stadium was ek nog net ’n aktrise en skryf is ’n heel ander tipe vorm van kreatiwiteit.
“As jy skryf moet jy ’n geheelbeeld hê oor die ganse prentjie. Jy moet elke karakter se emosionele ontwikkeling in gedagte hou en hul storielyne laat inpas by ’n geheel wat ook moet sinmaak en boei.
“As akteur werk jy meer mikroskopies. Jy fokus baie meer op jou eie karakter, hoe jy hierdie persoon lewe gee en oortuigend vertolk. Om ’n skrywer te wees kan op sy beurt weer ’n erg eensame beroep raak. Toe ek by Binnelanders begin skryf het, het ek nooit gedink ek sal ook ’n rol vertolk nie.
“Ek het Annetjie aanvanklik net as ’n off -screen-karakter geskep. As ek reg onthou het sy eers in 2012 ’n verskyning gemaak. In daai stadium was sy hoofsaaklik ’n soort klankbord vir ander karakters, maar die rol het mettertyd gegroei en ontwikkel.”
Hoe beïnvloed dit vir jou as akteur om deel van die skryfspan te wees?
“Ek is al ’n paar jaar nie meer permanent deel van die Binnelanders-skryfspan nie. Maar selfs toe ek nog voltyds geskryf het, het ek baie selde vir Annetjie spesifiek geskryf. Dit was ’n besluit wat ek doelbewus geneem het juis omdat ek dink dit kan gevaarlik wees om té subjektief met die karakter om te gaan. ’n Ander skrywer bring iets na die karakter toe wat ek dalk nooit sou verwag nie. Dis wat haar interessant hou. Daar is verskillende storie-ontwikkelaars wat verskillende storielyne hanteer, so ek kon haar aan iemand anders oorgee en fokus op ander karakters.
“Ek dink wel om beide ’n skrywer en ’n akteur te wees gee vir ’n mens meer insae in die hele proses van so ’n produksie. Om saam met die ander akteurs en regisseurs en crew op die vloer te wees, het beslis van my ’n meer volronde skrywer gemaak wat die moontlikhede en uitdagings van die genre baie beter verstaan. Om deel van die skryfspan te wees, het my weer ’n groter waardering vir die mense agter die draaiboeke gegee, want ek weet ook onder watter druk en met hoeveel beperkings en bepalings húlle werk. Dis net jy en die rekenaarskerm wat iets uit die niet moet skep.”
Annetjie is ’n baie interessante karakter en oor die jare het sy beslis ’n transformasie ondergaan. Hoe sou jy sê het hierdie karakter oor die jare verander?
“Sy’t beslis meer driedimensioneel geraak. Sy’t nie met ’n groot backstory opgedaag nie en ’n mens het baie min van haar geweet. Sy was aanvanklik net ’n streng, puntenerige irritasie. Iemand wat nie veel empatie het met die medici se administratiewe tekortkominge nie.
“Maar ek dink sy’t al meer menslik geraak soos ’n mens van haar eie struwelinge en weerloosheid bewus geraak het. Agter die pêrels en die liaseerwerk is ’n vrou wat soms eensaam raak en na liefde smag. Maar sy’t nie daar vasgehaak nie. Die afgelope jaar of wat het sy daadwerklik begin vriende maak met haar kollegas en baie meer ontdooi.”
Nie almal hou van Annetjie nie, maar daar is goed aan haar. Hoe verskil julle?
“Ons klerestyl verskil beslis! Ek leef in gemaklike klere en dra weinig veel grimering of juwele. Iets wat ons wel in gemeen het, is die liefde vir ons katte. Ek het drie! Ek dink ook ons is albei lojaal en redelik standvastig in ons oortuigings. Annetjie is ook nie iemand wat graag die reëls ignoreer of breek nie. Dit maak my seker baie vervelig, maar ek is presies dieselfde. Ek hou van struktuur en orde en daarsonder sukkel ek om te funksioneer of selfs kreatief te wees. Aan die ander kant kan Annetjie nogal blind wees vir ander se emosies en sy kan soms onsensitief voorkom. Ek dink en hoop ek is darem meer intuïtief oor emosionele onderstrominge. Soms wil ’n mens net gil, ‘Read the room, Annetjie!’.”
’n Mens kom vinnig agter dat jy ’n regte lus vir die lewe het. Wat inspireer jou?
“Daar is niks so inspirerend soos mense wat onverpoos werk om iets te bemeester nie. En die coolste van hulle almal is musikante! As ek kon teruggaan in tyd sou ek op drie voor die klavier gaan sit en aanhou speel het totdat ek in ’n band kon wees. Ek luister konstant musiek. Alle soorte, van alle plekke en tye, goeie musiek, power musiek, solank dit my iets laat voel.
Om deel van die skryfspan te wees, het my weer ’n groter waardering vir die mense agter die draaiboeke gegee, want ek weet ook onder watter druk en met hoeveel beperkings en bepalings húlle werk. Dis net jy en die rekenaarskerm wat iets uit die niet moet skep.
Lorraine Burger
“Iets wat seker by musiek aansluit, is dansers. Ek het ’n obsessie met dansers. Die harde werk en dissipline wat dit neem om alles wat jy doen so moeiteloos te laat lyk, is totaal verstommend.
“Dan die ongerepte natuur. As ek voel ek raak ’n bietjie mal, is die beste terapie om iewers heen te gaan waar ek ver kan sien. Iewers waar jy oor die horison kan uitkyk. See of berg of veld. Dit maak my rustig om nou en dan te besef ek is net ’n baie tydelike spikkel in hierdie wêreld. Dit vat so ’n bietjie van die pressure af en gee ’n mens perspektief!”
As jy ’n storielyn vir Annetjie moes skryf wat jy as akteur sou love om te speel, wat sou dit wees?
“Dit sal lekker wees om te sien hoe sy ’n werklike verhouding hanteer met ’n man wat opreg in haar belangstel. Sy sal skielik moet aanpasbaar wees en nie altyd haar sin kan kry nie en ’n ander persoon in ag moet neem… Lekker uitdagings vir Annetjie. Of andersins, Annetjie die aksieheldin wat moet help om iemand uit die kloue van die dood te red. Verkieslik met ’n wapen in die hand.”
Binnelanders saai op weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook op DStv Stream) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.