Bertus Basson druk sy Land Rover se neus in die rigting van Dwarskersbos aan die Weskus in die tweede episode van In die sop se derde seisoen. Dié bekoorlike dorpie het drie restaurante, maar dis by See Kaia Restaurant waar die span gaan woel en werskaf.
Die eienaars, Jimmy en Louise Basson, is al 37 jaar getroud. Hy het jare lank in Vanderbijlpark vir Sasol gewerk, maar toe besluit dié twee vyf jaar gelede dis tyd vir rustiger leef. Waar dan nou beter as aan die Weskus.
Louise vertel hulle het altyd spyseniering vir die familie gedoen en sy was lank in die kosbedryf. Die restaurant het gevolg.
“Ons het vir ons aftreewerk gekoop. Dis baie werk, rêrig baie werk,” lag sy.
Buurman Dewaldt Schultz bly reg oorkant See Kaia. Hy was eers nie baie geneë met ’n gelisensieerde besigheid daar nie, maar sê hy en Jimmy kom baie goed oor die weg.
Ook André Potgieter die afgelope 12 jaar in Dwarskersbos bly, is ook ’n lojale See Kaia-besoeker en sy vertel hoe gasvry Jimmy en Louise is.
Op die spyskaart
Jimmy vertel hulle het baie uitgebrei en aangepas vandat hulle die restaurant gekoop het – van ’n heerlike groot skadutent buite tot ’n kroeg binne.
“Die winkeltjie was hiersô, ons het hom net bietjie probeer groter maak . . . meer produkte aanhou, juis vir die karavaanpark,” voeg sy by. Hulle is die ideale bestemming vir kampeerders wat tandeborsels en dies meer agterweë laat bly het.
“Ons maak ons eie biltong, patties en schnitzels. Die patties was my begin, maar Jimmy het dit so bietjie oorgevat, maar dis nog steeds lekker,” terg sy haar wederhelfte. Louise is ook die biltongmaker met jare se ervaring in die bedryf.
“Ons altwee kook eintlik, maar as ek iets nie weet nie, sê Louise vir my ‘Jimmy, doen dit so’. En dis bitter min dat ek vir haar sê ‘doen dit so’. Dan val ek maar by haar in,” verklap Jimmy.
Pizzas is baie gewild, maar Jimmy se eisbein loop soos stroop. André het groot lof vir hul eisbein en is seker dat hul pizza “die beste in die Weste” is.
Waar kom die naam vandaan?
“As jy agter ons gaan kyk, daar in die hoek, daar is ‘Ons See Kaia’ (’n kleibordjie teen die muur). Dit is ’n geskenk wat ons by ons bure op die dorp gekry het . . . wat vir jare lank in hul huis gehang het. En hulle het dit vir ek en Louise kom skenk. Dit is my en Louise se See Kaia,” vertel Jimmy.
Geldsake
“Ons finansies is bitter min op hierdie stadium,” erken Louise. “Jy koop van dag tot dag, want jy kan nie meer ’n 5 kg-boks hoendervlerkies koop nie.”
“Jou toerusting hou net so lank,” voeg Jimmy by. “Ons ou toerusting – ek het dit maar self probeer regstel op my eie manier. En dan werk dit weer vir ’n maand of twee. Ons is besig om onder te gaan.”
Dis duidelik dat dit Jimmy baie diep raak. Kort voor lank kom die sakdoek uit om die hartseer trane weg te vee.
Familiesake
Hulle mis “die kleintjies” – hul vier kleinkinders. Hul dogter Mara het twee dogtertjies en hul dogter Eloise het twee seuntjies. Dan is daar ook die diepe hartseer en kommer oor Mara. Sy het klierkanker en ondergaan chemoterapie.
“Ja, dis moeilik. En vir ’n ma en pa om so ver te wees en jy kan nie altyd daar wees nie . . . Ons kan nie bekostig om ’n bestuurder aan te stel of ’n hoofsjef om die plek vir ons te bestuur terwyl ons weg is nie,” sê Louise.
In hierdie stadium is die enigste oplossing om beurtelings by hul kinders te gaan kuier wanneer hulle dit kan bekostig.
“Ek dink ek is té trots, as ’n pa en as die broodwinner van die huis, té trots om uit te gaan en te sê ‘weet jy wat? Tot hier, ek kan nie meer nie. Ek klop nou aan die deur. Help my.’ Louise is die een wat my in die laaste tyd aangemoedig het om te bly glo dinge sal beter gaan,” vertel ’n emosionele Jimmy.
Opgee en toesluit is nie iets wat hierdie paartjie gaan doen nie.
Bertus parkeer sy Landy voor die See Kaia
Hy sê hy kan sien dat Jimmy “nogal spin” as dit besig raak omdat die kombuis nie baie groot is nie.
Die volgende ding wat hy wil weet is hoekom daar ’n vurk in die toeklaprooster is. Jimmy is gou om te verduidelik dat dit voldoende spasie verskaf sodat sy toasties nie platgedruk word nie. Ja, dié boer kan ’n plan maak . . .
“Jimmy en Louise is die sout van die aarde,” som Bertus die paartjie op. “En hulle doen hul beste om hulself aan die gang te hou.”
Proetyd en besluite
“Dit was vir my verskriklik om te weet Bertus Basson . . . [en ek] Jimmy Basson moet vir hom kos maak.” Ook Louise se senuwees het geknaag en sy weet al wat hulle kan doen, is bloot net hul beste.
Nog voor Bertus sy mes en vurk optel, wil hy meer weet oor wat hy “kaggelk*kkies” noem teen die muur. Dis alles goed wat die mense uit die gemeenskap vir hulle maak, vertel Louise.
Die spyskaart bevat om en by 80 geregte en dit pla Bertus. Hy dink ook die kos kan ’n bietjie beter en varser wees. En hul openingstye (7 dae ’n week) is vir hom wild.
“Sal dit vir jou lekker wees om op ’n Maandag af te wees?” vra hy vir Louise. Toe sy ja daarop antwoord, is Bertus se reaksie: “Great. Nou maak Maandae toe.”
Ontbyt-tyd is ook nie besig nie. Volgende besluit: Hou op ontbyt bedien.
“Jy’t ’n dranklisensie. So, jou prima-tyd is middag- en aandete. Oorbegin is fine,” stel Bertus hulle gerus. Vir die eerste keer is Louise sigbaar aangedaan.
Misi en Bertus smee planne
Bertus wil See Kaia verander in ’n pub & grill. En Misi hou van daai idee! Sy gaan by die blou en wit tema buite hou. Sy weet ook Bertus gaan die kombuis wil oopbreek en groter maak.
Misi en die span is oorgehaal om aan die werk te spring, al het sy effe oorweldig gevoel deur die grootte van See Kaia met die eerste oogopslag.
Dag 1
“Kom ons raak sommer van alles ontslae. Daai moet uit, want dis in sy m**r in,” is hoe Bertus die eerste dag aanpak. Kort voor lank waai die naambord buite ook . . .
Dis swaar vir Jimmy om te weet goed gaan uitgebreek word, veral dit wat hy met sy eie hande gebou het. Maar hy weet as hy die anderkant van die muntstuk bekyk, hy na iets kyk wat beter gaan wees.
“Hy was nie baie impressed toe hulle uitgekom het met sy houtrakkies nie. En die een mannetjie het vir die ander een buitekant gesê ‘let’s break it’ En toe trap hulle so op die houtrakkie. Ek dink dit was nogal ’n bietjie emosionele ding vir hom gewees,” slaan Louise die spyker op die kop. En sy raak al hoe meer op haar senuwees. Ook oorweldig deur alles wat so vinnig gebeur.
Die vonds van ’n ou glas-stortdeur en ’n kaggel (of is dit ’n braai?) agter nog ’n muur wat verwyder word, laat Misi al hoe breër glimlag. Dinge val nou vir haar nog beter in plek.
Dag 2
Misi het toue van allerhande verskeie teksture wat sy inspan om See Kaia ryk te laat voel aan natuurlike elemente.
In die kombuis is Bertus besig met voorbereidingswerk. Nee, die winkelsous gaan nie meer ingespan word nie. Hier word daar vandag ’n nuwe bedruipsous (basting) geskep.
Dis ook tyd vir Bertus om vir Jimmy en Louise weg te neem van See Kaia. Hy neem hulle na Kokerboom Kaas, ’n klein kaasfabriek in die nabygeleë Velddrif. Teen sy verwagtinge in, is die kaas ongelooflik en inspirerend.
Die eienaar, David Malan, en sy vrou het vier jaar gelede na Velddrif verhuis. Die voormalige restaurateur was op soek na iets om te doen. Toe stuur sy vrou hom op ’n kaasmaak-kursus – en hy begin om 1 kg kaas elke dag te maak. Deesdae verkoop sy kase soos soetkoek.
Sy wenresep? “Baie eenvoudig, wees die eerste een. En wees die beste een wat daar is.”
Bertus wil weet of iemand in Dwarskersbos vars mossels verkoop. Nee, kom die antwoord. Daar het jy dit – en Bertus sê as Jimmy dit begin verkoop, sal David al die pad van Velddrif ry om dit daar te kom eet.
Intussen op Dwarskersbos is dit ’n geskaaf uit ’n ander wêreld om van die verf op die buite-banke ontslae te raak.
“Dit is nou regtig ’n ondankbare werk,” besluit Misi. “Hulle [die span werkers] staan daar asof hulle in die Apocalypse is, met goggles en maskers. Dis nie AfrikaBurn nie.”
Waar staan Jimmy en Louise nou?
Bertus het nog dinge op die hart wat hy met die twee wil bespreek. Hy vind Soverby Lapa net voor Dwarskersbos die ideale plek om dit te doen.
Hy noem goeters soos bokkems, kaas, Weskus-wyn, snoek en nog vele meer – om vir hulle te laat besef daar is iets positief aan die trotse Weskus-leefstyl. En dat dit mense ’n rede sal gee om by hulle te kom inloer. Bertus sê hul bestaande kos is nie regtig spesiaal nie, ook dat die meeste van hul geld in hul vrieskaste lê – en dat dit lank gaan neem voordat die vrieskaste leeg gekook is.
“Jy moet leer om vir iemand nee te sê,” moedig hy vir Jimmy aan. Soos om nie meer toasties te maak nie . . . maar eerder vars Weskus-mossels. Louise kan nie glo dat dit net R40 kos vir 1 kg vars mossels nie.
“Hy het nie doekies omgedraai nie en hy het vir ons gesê . . . maar dit is die nuwe begin, dit is hoe jy moet wees. Moenie ’n people pleaser wees nie. Dit is my spyskaart, dit is wat ons aanbied,” vertel Jimmy.
Hy en Louise kan nie wag om hul nuwe See Kaia te sien nie, maar die oomblik mag dalk net te groot wees.
“Ek gaan moet ’n hele paar tissues in my sak hê,” kom dit saggies van Louise.
“Ek sal net vanaand my oë toemaak en ‘dankie, Vader’ sê,” is Jimmy se reaksie.
Dag 3
En dis hoe dinge uitgedraai het. Fotos: Verskaf
Ná ’n rustelose nag gevul met nagmerries oor hul kombuis, het Louise vroegoggend ’n boek gaan haal om vir Jimmy te teken hoe aaklig die kombuis lyk waaroor sy gedroom het. Jimmy het net kliphard aan die lag gegaan en vir haar gesê om rustig te raak want dit gaan nie so lyk nie.
Met hul hand-aan-hand naderstap na hul restaurant, erken Louise dat die trane baie vlak lê. En kort voor lank word die eerste van baie sneesdoekies ingespan. Ook Jimmy se trane loop.
Jimmy se blydskap oor die houtwerk wat hy nie verniet gedoen het nie, is tasbaar. Van dit is weer in rakke omskep.
“Dis awesome, dis beautiful,” fluister ’n oorstelpte Louise.
Bertus se uitnodiging aan Jimmy om na sy nuwe speelgoed in die kombuis te gaan kyk, word eers van die hand gewys want Jimmy kan nie sy woorde tussen die trane deur vind nie.
Die nuwe voorkoms van die winkel het ook nie veel gehelp om hulle hul asem te help vind nie. Dis van basies tot stylvol, elegant en uitnodigend getransformeer.
Die kombuis is pasgemaak vir die kleiner spyskaart en die nuwe pizza-oond gaan sorg dat Jimmy nie drie verskillende oonde moet inspan om een pizza te maak nie.
’n Nuwe naam en ’n nuwe spyskaart
Bertus stel hulle amptelik voor aan die See Kaia Pub & Grill. Louise is baie bly om haar pa se twee lampies van toentertyd op een van die rakke te sien. Dit was voorheen in die kroeg gewees.
“Dit was nogal vir my baie emosioneel om te sien dis daar,” sê sy.
Die nuwe spyskaart is trots Weskus met snoek en tjips, ’n paar pizzas, burgers, vars Weskus-mossels, slak-broodjies en gebraaide hoendervlerkies.
“Dis die goed wat mense wil eet as hulle vinnig ’n dop kom drink,” is Bertus se raad.
Die gaste daag op
Elke gas word hartlik by die deur ontvang deur Louise. Jimmy se seun, ook Jimmy, sê hy kon sien sy ouers was maar op hul senuwees met hul aankoms, maar hoe lekker dit was om te sien hoe dit verdwyn het toe die twee van vooraf verlief geraak het op See Kaia.
“Dis baie meer grênd kan ek amper sê, maar dit bly Weskus en ons voel steeds baie tuis,” is hoe Judy dié nuwe ervaring opsom.
In die sop: Restaurant-evolusie word Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.