Menu terloops
In Recaps & Resensies [6 Mar 2024]

‘In die sop’: Derde seisoen begin met ’n oase in die middel van Kuilsrivier


Sjef en restauranteienaar Bertus Basson het weer koers gekies met kykNET se werklikheidsreeks ‘In die sop: Restaurant-evolusie’ om restaurante met hul haakplekke te help. Saam met die dekorkenner Misi Overturf word daar gemik om radikale veranderinge teweeg te bring.

Deur Annelene Oberholzer
‘In die sop’: Derde seisoen begin met ’n oase in die middel van Kuilsrivier

Eerste aan die beurt in dié seisoen van In die sop is Suzie’s Coffee Shop in Kuilsrivier; ’n “huisrestaurant”, soos Bertus dit noem. Dis natuurlik vernoem na Suzie Mathys. Sy bedryf dit saam met haar man, William, wat stilweg in die agtergrond ondersteun, en hul seun, William-John.

Einste William het die saadjie van “koffie en koek” geplant, maar Suzie was aanvanklik nie so seker nie. Sy kon nie eers koek bak nie! Maar vandag is dit ’n heel ander storie.

William-John met sy besigheidsgraad is die man wat hul bemarking hanteer. Hy vind dit soms uitdagend om met sy ouers te werk omdat hulle volgens hom nog “old school” is, maar baklei sal hulle nooit as te nimmer nie.

In die sop S3
Suzie en William Mathys se restaurant was eerste aan die beurt in die nuwe reeks van In die sop. Foto: Verskaf

Wat sê die gaste?

“Jy kom hiernatoe en jy vergeet jy gaan geld uithaal om te betaal. Maar jy wíl betaal. Hier gaan dit om meer as die koffie en die brood,” vertel Quinton Adams, opvoedkundige sielkundige.

Die ligging van Suzie’s Coffee Shop word as belangrik beskou vir nasiebou, is Marlene le Roux, hoof uitvoerende beampte van Artscape, se siening. “Dis in die middel van alles waar mense van verskillende kulture en tale mekaar kom ontmoet.”

Ja, bevestig Suzie. “Hier kom nie verskillende kleure van mense nie, hier kom net mense.”

Toe en nou

Willy, soos Suzie haar man noem, vertel dat hy van ’n baie konserwatiewe gemeenskap kom en dat hy van gemengde herkoms is. 

“Dit het veroorsaak dat ek ’n groot passie ontwikkel het vir mense. Be intentionally kind to everybody.”

Hy vertel ook laggenderwys dat Suzie baie lekker kos kook, maar sy “laaik nie van kook nie.” 

Tussen die skertsery deur, erken Suzie dat sy op die ou einde maar moes inspring “in daai kosbesigheid, want hulle gaan my in daai kombuis heeltemal – soos my ma sal sê – verfomfaai.”

Roosterkoek

Roosterkoek was een van die eerste items op die spyskaart. In die buite-oond gebak boonop.

“Die roosterkoek is natuurlik ’n treffer,” vertel Quinton. “Wanneer ek hier kom, wil ek dit sommer van die rooster af eet.”

Die bekende kunstenaar, Willie Bester, is ook een van hul gereelde gaste. Hy het net een groot wens – en dit is dat Bertus-hulle asseblief tog nie die roosterkoek van die spyskaart moet afhaal nie. 

Met haar sagte Kaapse brei, kan dr. Dawn Rhoode, ’n plaaslike gemeenskapsleier, dit nog lekkerder laat klink as sy wegtrek met haar “goostegbgoodjie en moegkoffie. . . en o, gonnatjie Piet, die kwyl loop nou van luskgy”.

Tierlantyntjies en waardevolle herinneringe

Oral binne die huis is daar interessante versierings en kontrêpsies teen die mure. Ou nommerplate, ’n afleweringsfiets en onder andere ’n koper “primus-stofie” wat uit vervloë se dae kom. Suzie sê sy wil hê dat die mense na dit alles moet kyk en vergeet om oor die kos te kla . . . Sy vertel ook dat die stoel waarop sy nou sit, die een is waarmee sy grootgeword het. Dis vir haar baie emosioneel om oor te praat en sy bly vir ’n tydjie stil. En dan onthou sy die swaarkry van Covid-19 en hoe sy haar ma, broer en suster in een jaar verloor het. 

Als is oud

Vriende het haar aangemoedig om in te skryf tydens die vorige twee seisoene. Maar Suzie was nie lus dat iemand vir haar voorskryf nie. Sy het besef hulle kry swaar, maar dat hulle soveel mooi goed het. Tog is daar baie leemtes.

William-John sê die kombuis het baie aandag nodig. Die stoof is oud, die mikrogolf is oud… “Ons maak dit net-net aan die einde van die maand. Al ons energie is in die besigheid. Ons het seker nog twee maande oor,” vertel hy.

Dis vir Dawn ’n hartseer saak want “waar gaan ons onse moegkoffie en goostegkoek kry?” 

MacGyver-dinge in Kuilsrivier

Bertus was met die intrapslag by Suzie’s Coffee Shop opgewonde oor wat hy gesien het. Foto: Verskaf

Met die intrapslag is Bertus opgewonde oor wat hy sien en vertel dat hy in die buiteland graag by huisrestaurante inloer. Toe vang sy oog die ge-‘MacGyver-de’ ketel bo die deur. Ja, erken Willy. Hy en die kunstenaar, Willie Bester, doen maar dinge so saam-saam.

Die pizza-oond, iets wat Willy ook self gebou het, het ook Bertus se aandag getrek. Daar is een of twee tegniese kwellinge met die rook wat die huis binnekom. Maar wat Bertus laat glimlag het, is die pizza-oond se deur – inderdaad ’n regte elektriese oond se deur . . .

Bertus beplan en proe

Die ratte woel in Bertus se kop met alles wat verander moet word en hoe die vloei in die kombuis kan verbeter wanneer dit besig raak. 

Die twee hoofdisse op hul spyskaart is pizza en roosterkoek. Suzie erken die pizzas is op die spyskaart omdat William-John gesê het dis wat die jongklomp verkies. Hierdie pizzas kom egter met ’n kinkel. Dit word ook met roosterkoekdeeg gemaak. Dié deeg is Suzie se resep. Verder maak hulle ook hul eie burgers. Bertus proe alles en dit maak William-John baie gespanne. Wat daarvan as Bertus nie van hul kos hou nie? Ook Suzie is diep bekommerd. Maar Bertus is geboek vir daai roosterkoek. Dit bly. Tog dink hy die spyskaart moet ingekort word. Ook die pizzas bly op die spyskaart, alhoewel daar aan verander gaan word.

Hier kom dit!

Suzie het byna-byna iets oorgekom toe Bertus haar inlig dat Misi die plek oranje gaan verf. Maar gelukkig terg hy net. Sy wil betrokke bly, ook in die kombuis. Maar Bertus het iets daaroor te sê – en dit is dat die toekoms van Suzie’s Coffee Shop nou in William-John se hande lê.

“Ek het altyd gedink ek’s daai goose, maar eintlik het Bertus my dadelik laat verstaan hy praat nou met William-John want hy was die een agter die idees.”

Misi maak planne

“Tannie Suzie is bekommerd, maar al hulle goed gaan weer terugkom. Dit gaan net ’n bietjie herrangskik wees,” vertel Misi. Die tuin gaan ook opgeknap word. Sy het klaar ’n pêl gebel om te kom help. 

“Oom Willy is baie heilig op sommige van die plante. Hy’t ’n baie mooi storie vertel van mense wat hier kom lafenis soek,” sê Misi, maar vertel dat die mure geverf gaan word en ’n skaduboom geplant gaan word. Misi sê sy weef graag ’n goue draadjie deur haar werk. En Suzie was ’n naaldwerkonderwyseres. Toe word daar oor haar laslappiekombers (quilt) gepraat. En dit inspireer Misi om daardie patroon op die buitemuur te herhaal.

En Bertus? Hy is van plan om sélf daai pizza-oond af te breek. . .

In die sop Suzie's
Die buitemuur voordat Misi die laslappiepatroon aangebring het. Foto: Verskaf
In die sop Suzie's
En die buitemuur nou! Foto: Verskaf

Chaos, chaos, chaos

William-John kon nie glo hoe chaoties dit eensklaps was nie. Al die mense, al die goed wat geskuif word. Dit het hom emosioneel gestem want dit bring weer herinneringe van toeka op.

Suzie is effe ontstig toe haar goed van die mure afgehaal word. 

“Onthou, ek het daai goed met ’n doel daar gesit. Dis my manier van eer gee aan wat Mamma-hulle vir ons gedoen het.” Sy erken sy was baie hartseer om te sien hoe alles van die mure afgehaal en geskuif word. Die trane het begin loop en Willy het getroos.

Koebaai, kombuis

Geen genade is in die kombuis getoon nie. Hout het gespaander, en alles wat kon beweeg en skuif, is beweeg en geskuif. William-John se vrees was oor wat alles gaan uitkom omdat hulle van die ou goed agtertoe gebêre het. 

Bertus het hom maar net so ’n kyk gegee wat hom laat dink het hulle het al erger gesien.

Verf en hamerswaai

Die geel ge-MacGyver-de koffiekan is deur Misi bygekom en dit is dieselfde groen geverf as die koffiekan op Suzie se logo. Sy het die bodem laat uitsny en dit in ’n stoeplig omskep. En dit word teen dieselfde hoek gemonteer as die koffiekan op die logo. 

Die Paintmaster-span se aansteeklike entoesiasme het baie gehelp om die moraal van die span te lig. En gewapen met ’n hamer wat Thor jaloers sou maak, het Bertus die pizza-oond getakel. So tussen die swaaie deur laat hoor hy “dis ’n lekker manier om van jou frustrasies ontslae te raak.”

Maar Willy se oond gee nie maklik bes nie. Kort voor lank erken Bertus: “Om ’n oond af te breek, is d*nnerse harde werk” en daarmee gee hy die hamer oor aan ander. 

William-John weet sy pa gaan nie baie gelukkig wees nie maar vir hom was die oond ’n regte pyn in die “you know what”. Dit was harde werk en het Willy twee maande geneem om te bou. Sy riglyn? YouTube.

Dag 2

Propvol uitdagings. Deurmekaar. En elders is Willy en Suzie gespanne oor wat by hul huis besig is om te gebeur. “Kwit jong, wat de hel vang die mense aan daar?” wil sy weet. 

Bertus maak ’n plan en stel die twee voor aan Nate en Adele Smith van DNA Café wat in die tweede seisoen van In die sop verskyn het. Kykers sal Nate ook herken as ’n deelnemer aan kykNET se koswerklikheidsreeks Kokkedoor Vuur & Vlam. Hy vertel die Mathys-gesin dat Bertus na die kos sal kyk, Misi die dekor doen en dat hulle na die span-kant moet kyk.

Tydens ’n gesprek met die gesin by Zevenwacht, maak Bertus dit duidelik dat hulle mooi moet dink oor die pad vorentoe en die rol wat elkeen daarin gaan speel. Die restaurant-besigheid is ’n jongmens-besigheid en beide Suzie en Willy is reeds in hul 70’s. Vir haar voel dit of sy nie meer saak maak nie, maar Suzie besef sy moet iewers ’n ander rol begin speel. Sy sien dit as ’n openbaring van iets wat sy nie verwag het om te leer nie. Op sy beurt voel Willy verlig dat hy minder instandhouding gaan doen met dié dat die restaurant nuwe toerusting gaan kry. Maar Suzie glimlag stout en sê sy gaan hom genoeg instandhouding gee in die huis.

Weerwraak van die pizza-oond

Eers moes Bertus uitvind hoe moeilik dit was om Willy se pizza-oond af te breek. Nou is dit die nuwe oond se beurt om hom en die span te laat sweet. Dit vat meer as twee ure, vier manne en baie sweet om dié oond vier meter te skuif.

“Daai pizza-oond is m**r swaar. Dis nie ’n grappie nie,” sê Bertus.

Dag 3

Misi ontdek iets wat haar verras – daar is twee liggies bo die nommerplaat in die motorbuffer en hulle werk!

“Ons kry dit altyd op een of ander manier gedoen, dis net hoeveel die rev-meter in die rooi gedruk word. En hierdie keer was hy nogal daarsô,” erken sy laggend.

Die terugkeer

Dis ’n trotse William-John wat sy ouers aan die nuwe Suzie’s Coffee Shop voorstel. Suzie herken onmiddellik die laslappie-motief op die muur.

“Goeie genade, ek het net so oorweldig gevoel toe ek daar omstap en ek sien hierdie, en ek besef dis mos eintlik quilt-werk en die steke is daar. Nee, jirder, julle,” laat weet ’n oorstelpte Suzie.

Die volgende verrassing is dat dit nie meer Suzie’s Coffee Shop is nie, maar nou Suzie’s Huisrestaurant heet. Niks kon haar voorberei wat op sou wag met die instap by die tuinkant nie. “Jirre, jirre, wat het hier gebeur?!” Willy was nie minder opgewonde nie. Die fonteintjie werk weer . . .

Maar die grootste oomblik was toe Suzie sien haar goed is daar. Wel op ander plekke, maar daar. Die trane het begin loop. Sy haal haar bril af en druk huil-huil teen Willy vas wat haar probeer troos. Kort voor lank sien Willy wat Misi met die motorbuffer aangevang het. Hy sê hy wou nog altyd die liggies reggemaak het en toe hy sien dit werk nou, was dit vir hom “kwaai”. In die kombuis is hy verbaas dat daar niks hout is nie. 

“Is net stainless steel,” kry hy uit. Hy lag darem skeefweg toe William-John vir hom vertel dat sy twee maande-lange projek lof gekry het van een van die span wat gesê het: “Jinne, die oom het dit darem lekker styf gebou.”

Misi, wat ’n sagte plekkie het vir sentiment, vertel dat die laslappie op die stoel haar inspireer het. Vir haar is ’n laslappie stukkies van almal wat in harmonie bymekaar kom.

“Hierdie is 100 keer oor ’n ontsettende spanpoging van ’n hartsplek af. En ek dink Tannie Suzie en Oom Willy verdien dit,” sê sy.

Die gaste daag op

“Dis hulle hart wat hier binne-in is en dis oorweldigend,” sê hul dogter, Tanya Mathys. Sy sê sy het geweet haar ma gaan huil. Haar pa het haar die meeste verbaas. 

“Hy weet nie eintlik hoe om dit te aanvaar as iemand vir hom iets gee nie want hy het sy hele lewe lank vir die gemeenskap gegee. Hy het nie geweet wat om te doen met alles wat vandag vir hom gegee is nie.”

“Dis so hulle, iemand moes net gekom het en gesê het kom ons blaas net ’n bietjie vars asem in,” is Ingrid Jones se gevoel.

En toe word daar ’n loflied gesing so tussen die trane en die vreugde deur . . .


In die sop: Restaurant-evolusie word Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies