Die Suid-Afrikaanse fliek Fried Barry is enig in sy soort: stylvol, surrealisties… en sommer ook lekker trashy.
Fried Barry is geskep deur die Suid-Afrikaanse filmmaker Ryan Kruger. Kruger is bekend vir die regie van edgy storie-gebaseerde rockmusiekvideo’s waaronder Taxi Violence se “The Turn”. In elke produksie is daar ’n kenmerkende vlak van grinterigheid en doom. Dís ’n “Ryan Kruger-ding” – só ook dan in Fried Barry.
Fried Barry is ook letterlik ’n “ding”. Dit is nie heeltemal soveel van ’n ding soos John Carpenter se klassieke gruwel The Thing uit 1981 nie, maar wek tog dieselfde ontsag en vrees as ’n alien wat eers ’n junkie ontvoer en dan sy liggaam beset. Barry word as’t ware gyselaar hou.
Hierdie psigedeliese grindhouse-wetenskapfiksie-gruwel en donker komedie (ja, ons weet, what a combo!) is gegrond op die gelyknamige kortfilm, ook deur Kruger. Daarin het Kruger ’n off-the-wall agt-delige reeks van eksperimentele kortes gemaak om ’n “dwelmverslaafde van sy kop af in ’n vervalle gebou” uit te beeld. Dit is ’n hoogs gestileerde skepping van groteske skoonheid wat talle toekennings gewen het en só die fondasie vir ’n vollengte vertelling gelê het. Hier neem dit dan ook ’n wetenskapfiksie-element aan om die oorspronklike visie uit te brei.
Ikoniese vertolking
Een van Kruger inspirasies is Gary Green, ’n akteur met wie Kruger al telkens gewerk het. Green lewer ’n absoluut ikoniese vertolking in die kortfilm, asook in die vollengte prent. Green, blyk dit, het homself só diep in die rol van die heroïenverslaafde niksnut Barry ingeleef dat dit ’n no-brainer was om Green ook die rol in Kruger se donker en surrealistiese vollengte-rolprentdebuut te gee.
Green het ’n intimiderende voorkoms met ’n tipiese skurk-look wat ’n rol soos dié noodsaak. En só ook is die karakter dan met hom in gedagte geskep. Hy vertolk die rol met oorgawe en behou Barry se effe kens energie. Maar in dié vertelling speel die lamsak se agtergrondstorie ’n groter rol in sy vertolking.
Dis nie ’n vleiende portret wat Kruger van Barry skets nie. Hy’s ’n smeerlap-skelm tuis én uit die huis. Dit is dan ook juis wat hierdie wilde rit so genotvol maak – hy is eintlik die onwaarskynlikste kandidaat vir ’n alien van die buitenste ruim om menswees te ervaar.
Fried Barry is in wese eintlik ’n gritty road movie met meer as 100 akteurs wat die trek meemaak. Daaronder tel ervare spelers soos Chanelle de Jager, Sean Cameron Michael, Grant Swanby, Hakeem Kae-Kazim, en Deon Lotz.
De Jager is te sien as Barry se lankmoedige partner Suz, terwyl Cameron Michael ’n onvergeetlike en waardevolle bondgenoot word in ’n tipe van One Flew Over the Cuckoo’s Nest-hoedanigheid.
Fried Barry se rolverdeling stel Kruger in staat om ’n zany wêreld te skep, propvol karakters en gesigte wat elk iets uniek tot die storie voeg.
Sensories oorweldigend
Kruger se grootste inspirasies “is David Cronenberg, Steven Spielberg, John Carpenter en Chris Cunningham”. Hy vergelyk sy vermoë om tussen genre en styl te beweeg met dié van Danny Boyle. Sy indrukwekkende genre-buigende filmdebuut is somber, buierig en ervaringsgebonde.
Die rou impakwaarde daarvan herinner aan Mad Max: Fury Road. Dit roep ikoniese oomblikke op wat jou sintuie bombardeer met oorweldigende beelde en klanke – the stuff of nightmares.
Fried Barry neem jou op ’n malle malemeule-rit soos Barry se besetter sy liggaam tot die uiterste beproef. Hy bevind homself in baie verregaande situasies wat strek van die naglewe van die middestad tot meer intieme ruimtes.
Dit is beide ontstellend en snaaks om te sien hoe Fried Barry by sy nuwe liggaam en grimmige samelewing probeer inpas soos hy gewoond raak aan goed soos dansvloere tot vuil woonstelle. Al wat jy kan doen is om te kyk hoe Barry se vlees aan nuwe vorme van ekstase en marteling onderwerp word.
Dis ’n bisarre seks-, dwelm- en rock-&-roll-toer deur die skadukant van die menslike natuur wat dit tot kultusstatus verhef.
Tog, hierdie freak show is beslis nie vir almal nie.