Menu terloops
In Sepies [11 Mar 2026]

‘Diepe Waters’: Die duiwel is los en ’n koeël klap! 


In ’n senutergende toneel in Woensdagaand se episode van die kykNET-telenovela ‘Diepe Waters’ het Schalk (Izak Davel) heeltemal kop verloor en vir Rossouw (Altus Theart) geskiet. Altus vertel meer oor hoe hulle dié intense toneel aangepak het. 

Deur Redaksie

Kyk 'Diepe Waters' op DStv Stream

‘Diepe Waters’: Die duiwel is los en ’n koeël klap! 

Dat dinge só in Diepe Waters kon uitdraai, sou niemand kon voorspel nie. Ja, daar was nou al weke lank tekens van geweld en manipulasie deur Schalk Viljoen (Izak Davel), maar om Rossouw te skiet?

Die pad tot hier

Dit het als begin toe Schalk se huwelik met Leandri (Christel van den Bergh) skipbreuk gelei het. Hoe anders? Schalk het vir maande haar gedreig, vir haar gejok en twee keer sy hand teenoor haar gelig. Sy móés wegkom, vir haar en haar drie kinders, Marco (Xander Venter), Danie (Chartyn van Heerden) en Hanneli (Carla Schönfeldt), se veiligheid.

Dít het Schalk reeds baie moeilik verwerk. Soos Izak in ’n onlangse onderhoud gesê het: “A leopard never change its spots. Schalk het probeer, maar hy het net ongelukkig daardie element tot sy karakter dat hy enige oomblik kan ontplof.” 

Hy skree op Hanneli in publiek, dreig Leandri en ’n kas of twee word selfs stukkend geslaan in sy woede-uitbarstings.

Toe kom daar ’n kinkel… Leandri en Rossouw (Altus Theart) begin al meer tyd saam spandeer. Leandri begin by Swarts & Swarts afrig en is boonop mos ’n sosialemedia-kenner wat dié swemklub daarmee kan help. Aanvanklik het Rossouw nie werklik ooghare vir haar nie, maar hoe meer hulle tyd saam spandeer, en hy die emosionele letsels wat Schalk op haar gelos het, raaksien, raak sy hart tog sag.

Diepe waters
Hoe meer tyd Rossouw en Leandri saam spandeer, hoe meer verdrink Schalk in sy eie woede. Foto’s: Skermgrepe

Dadelik kon kykers sien híér is iets aan die gang – en hulle was mal daaroor. Maar hoe meer tyd Rossouw en Leandri saam spandeer, hoe meer verdrink Schalk in sy eie woede. Hy agtervolg die paartjie, hou hulle dop en hy kook van woede. 

’n Nuwe man in Leandri se lewe kan hy net nie aanvaar nie en Schalk wil wraak neem. Terwyl Leandri en Rossouw tuis op ’n romantiese afspraak is, betrap hy hulle heeltemal onkant. Maar hy wil hulle nie net konfronteer nie – daarvan getuig die pistool in sy hand.

Woorde wissel en dan klap die skoot…

Lof vir Izak se toneelspel

“Dit is so lekker om so intense toneel saam met Izak en Christel te speel. Ons ken mekaar al jare en is so gemaklik met mekaar,” vertel Altus. “Veral met Izak, wat so ’n sagte persoon is, is dit ongelooflik om te sien hoe Schalk in ’n toneel uitkom.”

DIEPE WATERS
“Izak het lekker all guns blazing die toneel aangepak en dit was werklik intens,” het Altus Theart oor dié toneel vertel.

Dit is Rossouw se karakter wat deur die koeël getref is en plat op die vloer lê. En om dinge te vererger, weet die kykers nog nie of Rossouw dit lewend uit dié tragedie gaan maak nie.

“Hats off vir Izak wat so ongelooflike karakter geskep het en na hierdie skiettoneel toe kon bring. Ek en Christel was in ’n stadium ’n bietjie skrikkerig vir Schalk,” voeg Altus by. “Izak het lekker all guns blazing die toneel aangepak en dit was werklik intens.”

Toe die toneel egter verby was, is dit die saggeaarde Izak wat Altus eerste van die vloer af opgehelp het.

Marco neem beheer

Marco kom gelukkig net betyds by hul huis aan om sy ma se lewe te red. In ’n emosionele toneel oorreed hy vir Schalk om vir hom die geweer te gee, sodat hy vir sy ma kan skiet.

Dít was egter nooit sy plan nie, want die volgende oomblik tref die geweer Schalk so hard teen die kop dat hy bewusteloos grond toe val.

Diepe Waters
Marco (Xander Venter) het wonderbaarlik die traumatiese situasie met sy pa ontlont.

“Dit is altyd opwindend om sulke groot tonele met jou karakters te doen. Dit daag jou uit as akteur om in só ’n toneel te speel,” sê Altus.

“Ek self speel nie met die gehoor se reaksie in gedagte nie. Dis hoekom dit altyd so lekker is om ná die tyd te sien wat die kykers se reaksie is.”

Vir nou sit die kykers op hete kole. Gaan Schalk in die tronk bly? Gaan sy kinders hom kan vergewe? Gaan Rossouw volkome herstel? En indien wel, is daar ná dié traumatiese skietvoorval nog plek in sy lewe vir Leandri?


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies