Menu terloops
In Redakteurskeuse [3 Mar 2026]

Wat om te kyk: Sit dié stories op jou moet-kyk-lysie vir Maart 2026


’n Splinternuwe reeks van die Yellowstone-skepper Taylor Sheridan, ‘The Madison’; kinkels en nog kinkels in die 50ste seisoen van ‘Survivor’; en ‘Niggies’ se debuut op Showmax tel onder my top-keuses vandeesmaand.

Deur Rozanne Els
Wat om te kyk: Sit dié stories op jou moet-kyk-lysie vir Maart 2026

Hier is my voorstelle vir wat om te kyk vandeesmaand.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

1

The Madison S1

Vanaf Maandag 16 Maart 2026 om 21:00 op M-Net en DStv Stream (DStv-kanaal 101). 

In die amptelike lokprent vir die nuutste storie uit TV-skepper Taylor Sheridan se kreatiewe meesterbrein, The Madison, sien ons die terugkeer van twee toneelspel-legendes, die Oscar-benoemde Michelle Pfeiffer en Emmy-benoemde Kurt Russell, na die kassie. Dié twee vertolk die hoofrolle as Stacy en Preston Clyburn in dié sesdelige reeks wat as ’n besonderse intieme reeks deur Sheridan beskryf word.

Sheridan is buiten sy sukses met die Yellowstone-franchise ook die skepper van Landman, wat onlangs vir kykNET in Afrikaans oorgeklank is. The Madison is ’n alleenstaande reeks en nie deel van die Yellowstone-wêreld nie. Dit is wel ook ’n neo-Western en is, reeds voor die reeks se première middel-Maart, vir ’n tweede seisoen hernu. En ja, daar is iets aangrypend aan die Clyburns se verhaal wat ’n mens sommer dadelik intrek soos ons hul reis vanaf New York tot die valleie en pieke in die suidweste van Montana volg. En waarom die lang trek? ’n Verpletterende tragedie wat die hele gesin tot stilstand ruk. 

Buiten Russell en Pheiffer, sluit die rolverdeling ook nog bekende gesigte in soos dié van Patrick J. Adams (Mike Ross in Suits), Matthew Fox (Jack Shephard in Lost) en Will Arnett (Gob in Arrested Development), en Beau Garrett (Firefly Lane).

2

Suidooster S12

Suidooster

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DSTv-kanaal 144) en om 18:30 op kykNET & Kie (DSTv-kanaal 145) uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.

Dít wil gedoen wees! Suidooster het verlede jaar sy tiende verjaardag gevier en vandeesweek het dié immergewilde plaaslike sepie se 12de seisoen begin. En sommer met volop drama.

Dié lot skrywers gee ons nie ’n enkele oomblik om asem te skep nie. Vandeesmaand het ons byvoorbeeld reeds ’n siekte wat vir Rhafiek en die res van die Samsodiens op die ergste laat voorberei, terwyl Angie, Wade en Zoë wraggies wéér in ’n liefdesdriehoek verstrengel is… En dis maar net die begin van die nuwe seisoen!

3

Voetspore: Suid-Amerika 3

Voetspore Suid-Amerika 3

Voetspore: Suid-Amerika 3 begin 11 Maart om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. 

Die Voetspore-span, onder leiding van Johan Badenhorst, voltooi met dié seisoen van die meeslepende avontuurreeks hul vertellingstrilogie oor dié skouspelagtige deel van die wêreld. Die nuwe seisoen, bestaande uit 13 episodes is die derde een wat op Suid-Amerika fokus, en dié keer kom Venezuela, Guyana, Suriname, Brasilië en Uruguay onder die loep. 

Onder die hoogtepunte tel Venezuela se Mérida Teleférico, die hoogste en tweede langste kabelkarrit ter wêreld, en ’n reis vanaf die Amasone-kom tot die Atlantiese Oseaan in Brasilië. Hulle sluit af in Uruguay, waar die eerste reis na Suid-Amerika drie jaar gelede begin het.

“Dié drie seisoene oor Suid-Amerika was ’n epiese avontuur en ’n reis van meer as 45 000 km,” sê Johan. “Hierdie laaste tog was meer as 16 600 km en het met sy eie uitdagings en vreugdes gekom. Dit is dertien episodes met ’n span wat deur dik en dun bymekaarstaan, en wat hierdie deel van Suid-Amerika in al sy fasette ervaar het. Om dit in ’n TV-reeks te beleef, gaan kykers beslis vasgenael hou. Wat ’n voorreg!”

4

Survivor S50

Vanaf Sondag 15 Maart 2026 om 18:00 op M-Net en DStv Stream (DStv-kanaal 101).

Outwit. Outplay. Outlast. Kan julle glo ons trek nou al by die 50ste seisoen en 25ste bestaansjaar van Survivor!? Die reeks is waarskynlik een van die suksesvolste realiteitsreekse (van enige aard) nog en met goeie rede. Daar is altyd hope drama, intrige, rugstekery en kinkels wat jou na jou asem laat snak.

As deel van die feesvieringe, is die 50ste seisoen ’n bietjie anders. Survivor 50: In the Hands of the Fans herdenk nie net hul allemintige seisoen-mylpaal of hul kwarteeu op TV nie – dis ook ’n dankie aan die kykers. Só, vir dié seisoen is die produksieontwerp en die meganika van die speletjies via ’n aanlynstemproses deur kykers gekies. Die 24 deelnemers is terugkerende spelers vanuit vorige seisoene, en sluit die bekroonde White Lotus-skepper en regisseur Mike White in. En ja, natuurlik is die aanbieder Jeff Probst ook terug (…en nogal met ’n lekker kinkel!).

5

Oscars 2026 

oscars

Kyk die Oscars op 16 Maart 2026 omstreeks 01:00 op M-Net en DStv Stream (DStv-kanaal 101) of om 19:00 op MM1 en DStv Stream (DStv-kanaal 104).

Die 98ste Academy Awards keer terug na DStv – oudergewoonte kan julle voor die voëls opstaan en dit of 01:00 (op ’n Maandag!) regstreeks saam die Yanks kyk, of julle kan wag tot ’n meer beskaafde uur later die dag. Die komediant Conan O’Brien wat weer as die aand se gasheer terugkeer.

Ryan Coogler lei vanjaar se Oscars-stryd met 16 benoemings vir sy grensverskuiwende rolprent Sinners, waarin Michael B. Jordan die hoofrol vertolk. Jordan is dan ook vir sy spel in dié fliek as beste akteur benoem. Met dié 16 benoemings troef Sinners die vorige rekord van 14 benoemings wat deur All About Eve (1950), Titanic (1997) en La La Land (2016) gedeel is.

Lees meer hier oor wie en wat vir vanjaar se Oscars benoem is.

6

Niggies

Vanaf 25 Maart 2026 op Showmax beskikbaar.

Niggies, gegrond op ’n ware verhaal, word met sorg gelei deur die bekroonde regisseur Jaco Bouwer. Dit vertel oor die twee twaalfjarige niggies, Issie Fourie en Petro Nel, wat in 1966 in die rustige dorpie Odendaalsrus in die Vrystaat ontvoer en vermoor is en hoe Issie se broer, André, daarna alles in die stryd werp om die skuldige aan die pen te laat ry – ’n veldtog wat sowat 20 jaar sou neem. 

Kykers wat dié reeks op kykNET misgeloop het, kan dit vanaf einde-Maart op Showmax kyk.

Erica Wessels, Jacques Bessenger, Beer Adriaanse, Cintaine Schutte en Roeline Daneel maak onder andere deel van die rolverdeling uit.

Riëtte van der Wat skryf in haar resensie oor die reeks se toorkrag: “Elke skoot vertel ’n storie, of bevat ’n stukkie simboliek: twee skoolrokkies wat nooit gedra sal word nie, hang gestryk en reg vir die skooljaar wat die volgende dag sou begin; twee draad-tuinstoele, vrolik geverf, staan leeg voor die huis; twee lykies, onder wit lap, word van die moordtoneel af weggedra… Dis dalk teen hierdie tyd ’n cliché om dit te sê in resensies, maar Erica Wessels gee regtig hier ’n meesterklas in toneelspel.”

7

One Piece S2

Vanaf 10 Maart 2026 op Netflix.

Dié reeks se tweede seisoen is soos die eerste uittog merendeels in Kaapstad geskiet. Intussen het produksie aan die derde seisoen van dié reeks ook reeds in Kaapstad begin met Iñaki Godoy (Monkey D. Luffy), Mackenyu (Zoro), Emily Rudd (Nami), Jacob Romero (Usopp), Taz Skylar (Sanji), Charithra Chandran (Miss Wednesday), en Mikaela Hoover (Chopper) wat na die Moederstad vir verfilming teruggekeer het.

Dié reeks is gegrond op die gewilde Japanse manga deur Eiichiro Oda en vertel oor die avonture van die seerower Monkey D. Luffy en sy berugte bemanning soos hulle na ’n legendariese skat, One Piece, soek.

One Piece het reeds byna 100 miljoen kykers en is een van Netflix se mees afgelaaide reekse nóg.

Hou dié stories ook dop:

  • Guy Ritchie – reeds welbekend met die wêreld van Sherlock Holmes ná die Robert Downey Jr/Jude Law-flieks – is die regisseur en uitvoerende vervaardiger van Young Sherlock (vanaf 4 Maart op Prime Video), ’n nuwe reeks wat die oorsprongsverhaal van dié karakter ondersoek. Sherlock word deur Hero Fiennes Tiffen vertolk met Colin Firth, Joseph Fiennes, Donál Finn en Max Irons wat ook deel van die rolverdeling uitmaak. 
  • Patricia Cornwell se Kay Scarpetta-boeke is die grondslag vir Prime Video (vanaf 11 Maart 2026) se Scarpetta. Nicole Kidman vertolk die naamrol as ’n forensiese patoloog wat op misdadigers jag maak. Ook in die rolverdeling is die bekroonde akteurs Bobby Cannavale en Jamie Lee Curtis.
  • Die sielkundige riller Imperfect Women (vanaf 18 Maart 2026 op Apple TV) is gegrond op Araminta Hall se gelyknamige boek. Daarin speel Elisabeth Moss, Kerry Washington en Kate Mara drie beste vriende wie se hegte vriendskap en lewens deur ’n misdaad – en die ondersoek wat daarop volg –verpletter word. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies