Menu terloops
In Onderhoude [24 Feb 2026]

‘Ek haat hom’: ‘Diepe Waters’ se Izak Davel vertel oor ‘psigopaat’ Schalk


Die akteurs Izak Davel en Christel van den Bergh maak hart oop oor hul gelaaide ‘Diepe Waters’-storielyn en kykers se wipwaentjierit soos die Viljoen-gesin uitmekaarval.

Deur Redaksie

Kyk 'Diepe Waters' op DStv Stream

‘Ek haat hom’: ‘Diepe Waters’ se Izak Davel vertel oor ‘psigopaat’ Schalk

Lanklaas het ’n sepiefamilie vir kykers só warm onder die kraag gehad. Toe die sogenaamde Viljoen Vyf verlede jaar in Diepe Waters se Boskruin opgedaag het, was hulle die nuwe gesigte wat met hul ambisie en werksetiek die ander swemmers kwaai kompetisie gebied het. 

Ja, Pa Schalk (Izak Davel) en Ma Leandri (Christel van den Bergh) was streng, maar dit alles was met die doel voor oë om hul drie kinders die heel beste swemmers te maak. Maar een vir een het Marco (Xander Venter), Danie (Chartyn van Heerden) en Hanneli (Carla Schönfeldt) onder die aanhoudende druk begin struikel.

Diepe Waters
“Op die oog af lyk Diepe Waters se Schalk (Izak Davel), Leandri (Christel van den Bergh), Marco (Xander Venter), Danie (Chartyn van Heerden) en Hanneli (Carla Schönfeldt) soos net ’n sportiewe familie met gekoördineerde oefenpakke en ’n liefde vir wen. Maar agter die glimlagte en sosiale media-profiele lê daar ’n wêreld van koue beheer, druk en manipulasie met die krake wat vinnig begin wys het,” het Tarren-Lee Habelgaarn al in die verlede oor dié karakters geskryf. Foto’s: Skermgrepe/Verskaf

“As akteur het ek nogal lank gebid vir ’n rol wat my kan uitdaag tot op ’n volgende vlak. Toe kry ek hierdie rol en besef ek het nou my hande vol; ek het hiervoor gevra,” vertel Izak Davel laggend. Izak het destyds in die sepie Egoli bekendheid verwerf en is ook meer onlangs in Reënboogrant te sien.

Op haar beurt, vertel Christel dat sy al ’n paar keer vir rolle in Diepe Waters oudisie het, maar dat die regte karakter net nie oor haar pad gekom nie – tot Leandri. 

Diepe Waters, Leandri
“Hoe ek aanvanklik vir Leandri in my geestesoog gesien het, en wie sy is, is heeltemal verskillend,” verduidelik Christel van den Bergh.

“Leandri is heel moontlik die mees normale karakter wat ek ooit gespeel het. Sy is ’n baie plain Jane, anders as ek,” sê Christel.

“Hoe ek aanvanklik vir Leandri in my geestesoog gesien het, en wie sy is, is heeltemal verskillend,” verduidelik Christel. In daardie stadium was sy nog “salig onbewus” van haar karakter se geskiedenis en toekoms.

‘Alles wat ek nie is nie’

Toe Izak oor die karakter begin lees, het hy hom gehaat. “Ek haat hom steeds, want alles wat hy is, is ek nie. En alles wat ek is, is hy nie. Ek was verskriklik emosioneel moeg in die aande omdat ek so diep moes gaan in sy karakter op ’n plek waar ek nie kan wees nie.”

DIEPE WATERS
Toe Izak Davel oor sy karakter, Schalk, begin lees, het hy hom gehaat. En daai gevoel geld steeds, sê hy.

Stelselmatig het kykers se haat vir die individuele lede van die Viljoen Vyf begin opdroog soos die winde van verandering begin waai het. Eers het Hanneli teen haar ouers opgestaan, toe Danie nadat hy in die hospitaal weens ’n oordosis vitamienaanvullings beland het.

Dié gesondheidskok het ook die oogklappe van Leandri se oë laat afval: Só kon dinge eenvoudig net nie aangaan nie.

“Soos hulle sê: ‘A leopard never change its spots.’ Schalk het probeer, maar hy het net ongelukkig daardie element tot sy karakter dat hy enige oomblik kan ontplof,” verduidelik Izak.

Toe verander álles. Schalk lig sy hand teenoor Leandri en hul huwelik lei finaal skipbreuk. Dit sou egter nie die enigste keer wees nie. “Ek was baie chuffed met Leandri wat ná een keer wat Schalk haar geslaan het, besluit het om te waai. Want ek sou dit ook gedoen het as ek in haar skoene was,” vertel Christel.

Marco, wat tot op daardie stadium sy pa verafgod het, kon net nie die feit verwerk dat sy pa handgemeen met sy ma kon raak nie.

DIEPE WATERS
Ook Marco (Xander Venter) het nou sy pa afgeskryf…

Eg – al is dit nie lekker nie

Vir Izak was dit veral spesiaal om op die stel van Diepe Waters te stap, omdat hy weer met die regisseur Gert van Niekerk kon werk. “Ek het in Egoli begin by Gert. Hy is ’n pa vir my in die vermaakbedryf. Hy het ’n amazing manier om jou te guide en te push,” vertel Izak.

Dit is einste saam met Gert, en met die ondersteuning van die ander akteurs, wat Izak so lekker kon werkskaf aan Schalk se moeilike karakter.

“Ek en Gert het besef we had to play it real. Mense moet in sommige aspekte kan assosieer met die karakter, al is dit nie ’n lekker ding nie,” sê hy. “Christel en die kinders het my ook baie gehelp en ondersteun.‘

Kykers se reaksie: ‘Toe weet ek die karakter werk’

Schalk se publieke woede-uitbarstings, dreigemente teenoor Leandri en manipulasie van sy gesin, was later algemeen in Boskruin. Beloftes van verandering en verbetering was volop, maar Schalk se gedrag wou net nie met sy verskonings strook nie.

Sepievoorskou, Diepe Waters
Hoewel Schalk nog ’n aanhoudende bedreiging vir die inwoners van Boskruin is, kry boontjie deesdae beslis sy loontjie.

En dít is wat kykers die harnas in gejaag het. “Mense het my begin aanvat op sosiale media,” verduidelik Izak. “En toe dit gebeur, toe weet ek die karakter werk. Mense is nie veronderstel om van dié ou te hou nie. Hy is ’n narsis en psigopaat.”

Dis ’n wipwaentjierit, want hoe minder kykers van Schalk hou, hoe meer ondersteun hulle vir Leandri en die kinders. 

Boontjie kry nou sy loontjie

“Ek is al lank in vermaakbedryf, daarom was dit baie lekker om ou vriende en mense wat soos familie is, te sien,” deel Christel. Christel was al voorheen saam met akteurs soos Altus Theart en Werner en Marijke Coetser in Getroud met rugby te sien. “Maar my gunsteling-deel van om op stel te gaan, was om saam met Izak, Chartyn, Carla en Xander te werk. Hulle is incredible,” voeg sy by.

Izak beaam: “Al vyf van ons is lekker laf. Ons het ons eie WhatsApp-groepie.”

Hoewel Schalk nog ’n aanhoudende bedreiging vir die inwoners van Boskruin is, kry boontjie deesdae beslis sy loontjie. En dit is ook maar goed so, meen Izak. “Ons ouers het mos altyd gesê: ‘As jy nie wil hoor nie moet jy voel!’”


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies