Menu terloops
In Wat om te kyk [23 Feb 2026]

Wat om te kyk: Die beste tranetrekkers om jou hart te ontdooi


Romanse? Check. Voorspelbaarheid (en tog ook nie). Check. Tranetrekkers? Check.

Deur Riëtte van der Wat en Rozanne Els
Wat om te kyk: Die beste tranetrekkers om jou hart te ontdooi

Van ʼn brutaal eerlike blik op rou, tot geheime wat nie saam met die dooies begrawe bly nie – jy hoef nie ver te soek as jy lus is om ʼn tranetrekker te kyk nie.

1

Good Grief

Kyk dit op Netflix.

Die akteur en skrywer Dan Levy maak sy debuut as regisseur met dié diep insiggewende drama-komedie oor liefde, leed en verlies. Soos die titel aandui, is die omvangrykheid van rou – die goed, die sleg, die onverwagse en selfs die bisarheid daarvan – deur die storiedrade verweef. 

Levy vertolk Marc, wie se lewe in duide stort ná sy man, Oliver (Luke Evans), se dood. Dan vind hy ook ’n paar ongemaklike geheime oor die liefde van sy lewe uit wat hom absoluut verpletter. Een hiervan is die ontdekking van ’n woonstel wat Oliver in Parys gekoop en geheim gehou het. Marc reis dan na Frankryk saam met sy twee beste vriende, Sophie (Ruth Negga) en Thomas (Himesh Patel), maar hulle het ook hul eie rou om te verwerk. 

Die film gryp jou aan die strot – hoewel daar ’n ondertoon van ligte humor heers, is die allesomvattendheid van rou ’n onvergewensgesinde karakter wat in elke toneel, elke skoot deursypel.

2

From Scratch

Kyk dit op Netflix.

Hou ʼn hele pak snesies byderhand vir die agt-episode reeks From Scratch, want jy gaan huil. Baie huil. Dié reeks het alles wat ʼn mens van ʼn weepy verwag: ʼn mooi liefdesverhaal; mooi mense; mooi bestemmings… Jy hoef net terug te sit en mooitjies meegevoer word.

’n Amerikaanse student Amy (Zoe Saldana) bring ’n somer in die Italiaanse stad Florence deur waar sy die Sisiliaanse sjef Lino (Eugenio Mastrandrea) ontmoet en hul lewens vir altyd vervleg raak. Dit klink soos ʼn tipiese Hallmark-fliek scenario, behalwe dat dié verhaal op die waarheid gegrond is.

Die fliek is gegrond op Thembi Locke se topverkoper-boek,  From Scratch: A Memoir of Love, Sicily and Finding Home. Locke en haar suster Atticia Locke het die reeks geskep en Atticia was ook die reeks se uitvoerende vervaardiger. Saldana, wat in die regte lewe met ʼn Italianer getroud is, is lieflik as Amy. Mastrandrea, op sy beurt, oorrompel ʼn mens met sjarme.

Dit is hierdie twee se verhaal wat die reeks voortdryf, maar ook die alledaagse dramas en intrige van die meeste families. Daar is teleurgestelde pa’s; familie-binnegevegte; katterigheid; ontluikende liefde; die kompleksiteit van ʼn huwelik oor ras- en kultuurgrense heen.

Die reeks vat dinge stadig – elke episode is ʼn hoofstuk in die paartjie se lewe. Soms voel dit effens langdradig, maar byt vas. Daar is iets gerusstellend en menslik aan die regisseur Nzingha Stewart se aanslag. Enigiemand wat al ervaar het hoe ʼn geliefde stadigaan van hulle af wegglip, sal die teerheid van Lino se sterwenstonele waardeer. Dit is aangrypend en hartseer en die emosie word rou weergegee.

3

Kyk dit op Showmax.

Dié roerende drama gee ’n dapper, en amper wreed-eerlike blik op rou en hoe dit deur ons lewens vervleg word. 

Andrew Garfield en Florence Pugh vertolk die rolle van Tobias en Almut en hul storie word stukkie vir stukkie oor die verloop van etlike jare vertel soos hulle verlief raak, ’n gesin begin, saam ’n huis maak… en dan voor tragedie te staan kom. 

Dié akteurspaar se chemie is tasbaar en juis daarom vat dié verhaal dan ook so intens raak. 

Empire Magazine skryf dat dié fliek jou “tyd en trane” waardig is, terwyl Time Out dit as “eg en eerlik op ’n manier wat te min romantiese flieks regkry” beskryf.

4

Kyk dit op Showmax.

Dis voel haas onmoontlik dat Past Lives die skrywer Celine Song se debuut as regisseur is. Dié vertelling is só merkwaardig dat dit jou lewenslank sal bybly – dalk selfs, soos Empire Magazine skryf, tot in jou volgende lewe. Dís deels te danke aan die meesleurende spel van hoofspelers Greta Lee en Teo Yoo, en deels aan die magiese aard van die vertelling self. 

Die storie speel oor die loop van 24 jaar af – dit begin in 2023 en flits dan terug na 1999 aanwaarts wanneer Nora en Hae Sung, twee boesemvriende, as kinders van mekaar weggeruk word as Nora se gesin uit Suid-Korea emigreer. Hulle sien mekaar eers weer twee dekades later as hulle vir een enkele week herenig word. 

Past Lives is een van die mooiste rolprente oor die afgelope dekade. Foto’s: Verskaf/Skermgrepe

Die premis is semi-outobiografies – geïnspireer deur Song se werklike ervarings – en is ’n absolute hartverskeurende rondomtaliedans tussen ‘wat as?’, lotsbestemming, menswees en realiteit. 

Song se aanslag met dié romantiese drama is stadig en smeulend; anderwêrelds. Min stories kan só ontroer – ’n moet-sien vir ieder en elk, en vir die eeue. 

5

The Noel Diary

Kyk dit op Netflix.

The Noel Diary is een van Netflix se Kersflieks wat met die intrapslag lyk of dit ʼn formulistiese, corny Hallmark-tipe fliek gaan wees. In sekere opsigte is dit seker die geval, maar op al die beste romantiese-Kersfliek maniere. En dis ook een van daai flieks wat nie net vir Kerstyd bedoel is nie.

Jake Turner, Justin Hartley van This is Us, is ʼn topverkoper-skrywer met hartseer herinneringe aan sy kinderdae en sy ouers. Wanneer hy moet terugkeer na sy grootwordhuis ontmoet hy vir Rachel (Barrett Doss), wat self worstel met vrae oor haar herkoms. Die twee vreemdelinge onderneem op die ingewing ʼn road trip deur sneeubedekte landskappe in Jake se Land Rover en kry meer as waarop hulle gereken het.
Ja-ja, rol maar jou oë.

Hartley se Justin is aantreklik, opreg sjarmant en eensaam. Doss – sy het onder andere ʼn rol in Grey’s Anatomy gehad – is ʼn onopgesmukte, warm, maar deurmekaar Rachel. Die twee vind mekaar met jazz (Doss is ook ʼn sanger en sy haal hier uit en wys), eerlikheid en plattelandse gastehuise. Te danke aan die klaarblyke goeie Netflix-begroting en die fantastiese vonk tussen die hoofspelers, is dit egter soveel meer as net nog ʼn Hallmark Movie.

6

Lady Chatterley’s Lover

Kyk dit op Netflix.

Lady Chatterley’s Lover is die soveelste televisie-verwerking van DH Lawrence se omstrede roman. Toe die boek bykans ʼn eeu gelede gepubliseer is, is die verhaal oor ʼn rykmansvrou Connie Chatterley (Emma Corrin) wat ʼn intieme verhouding met die opsigter van haar man se landgoed aanknoop, wêreldwyd verban. Die openlike seksualiteit, seks oor klasgrense heen, Lawrence se klem op die skoonheid van sensualiteit en die feit dat ʼn vrou besluite oor haar eie liggaam neem, is van die redes waarom die boek op die spreekwoordelike brandstapel beland het.

In ʼn onderhoud met Digital Trends het Laure de Cleremont-Tonnerre, die regisseur van dié weergawe van die boek, gesê die verhaal is vandag steeds relevant omdat die stryd om vroue se eienaarskap van hulle eie liggame, lank nie verby is nie.

Corrin (Diana in The Crown) se Connie het ʼn lewenslustige uitbundigheid. Haar vlam word egter stadig uitgedoof ná haar nuwe man Clifford (Matthew Ducket) van die Eerste Wêreldoorlog terugkeer huis toe. Sy vind herlewing in die arms van Oliver Mellors (Jack O’Connell – ernstig, deernisvol).

The Atlantic beskryf die sekstonele tussen die twee as kunswerke in sonlig en mosbedekte gras. Volgens De Cleremont-Tonnerre, was dit vir haar belangrik om die emosie en narratief agter elke beweging, elke aanraking en elke kyk vas te vang. En sy het.

7

Maxton Hall

Kyk dit op Prime Video.

Maxton Hall, gegrond op Mona Kasten se topverkoperboek, Save Me, se eerste seisoen begin met Ruby Bell (Harriet Herbig-Matten), ’n beursstudent aan die gesogte Maxton Hall-privaatskool, wat iets sien wat niemand moes nie. En dít laat die arrogante rykmanskind James Beaufort (Damian Hardung) sweet, want daar is baie op die spel as Ruby dié geheim uitlap. Maar as hy haar konfronteer en haar probeer omkoop om haar mond te hou, is daar ’n onmisbare chemie en die vonke spat…

WAT OM TE KYK Maxton Hall
James (Damian Hardung) en Ruby (Harriet Herbig-Matten) se smartsaga is heerlik meeslepend!

Maar, vind ons met die aanvang van die tweede seisoen uit, blyk ’n gelukkige einde nie vir die twee beskore te wees nie. Iets gebeur in James se familie wat als verander én Ruby se hart in stukke laat. Sy is vasbeslote om haar ou lewe terug te kry. Die lewe waar niemand geweet het wie sy is nie en sy nie deel van die elite se speletjie is. Maar dis makliker gesê as gedaan, want James doen alles in sy vermoë om vir Ruby terug te wen. 

Die drama is nie noodwendig altyd te diep nie – en is ook redelik voorspelbaar – maar daar is baie daarvan. Universele temas – soos ’n goeie skeut teenage heartbreak, familiespanning en -konflik, en aanvaarding – maak die reeks ook maklik om by aanklank te vind en in te koop… Ongeag hoe bisar en ongewoon van die situasies is.

8

Kyk dit op Showmax.

Kompleks is ʼn reeks oor die liefde: die soort wat ʼn mens deur jou vingers laat glip en waaroor jy jare later steeds wonder. Die soort tussen ouers en kinders. Die soort wat jou lewe in ʼn ander wentelbaan stuur.
Dis die perfekte reeks om te binge as jy meegevoer wil raak deur goeie akteurs en ʼn ongewone storie.

In die een heelal ontmoet twee tieners, Sean (Arthur Falko) en Mika (Melissa Myburgh), mekaar in die wintervakansie van 2019 op die landgoed waar hulle woon. Hulle knoop ʼn vriendskap aan wat hul lewens sal definieer.

In ʼn ander heelal, heeltemal anders, maar tog dieselfde, is dit die begin van 2019 en Sean en Mika is heelwat ouer. In dié heelal word die rolle deur Armand Aucamp en Roeline Daneel vertolk. Daneel sê die reeks is geskiet tydens die inperking en dat dit interessant en vreemd was, omdat daar geen fisieke aanraking tussen die karakters is nie. Sy beskou dié reeks as baie spesiaal.

Met Koos Kombuis as verteller en die sanger en liedjieskrywer Deon Meiring se musiek, is dit iets heel anders in Afrikaans.

9

Kyk dit op Showmax.

Donnalee Roberts en Ivan Botha se romantiese komedie Vir Altyd bly pure vakansie-kykplesier.

Die aand voor Nina (Robberts) se troue, verskyn haar kleintydvriend Hugo (Botha) weer in haar lewe. Wanneer sy dan voor die kansel gelos word en sy en Hugo die aand saam wild partytjie hou, besluit die twee om saam op Nina se “wittebrood” Mauritius toe te gaan.

Op die eilandparadys leer die twee by twee ander paartjies meer van die liefde en herontdek die vonk tussen hulle.

Roberts en Botha weet maar net hoe.

10

Kyk dit op Showmax.

Die 2004-fliek The Notebook is ʼn kultusfliek wat oor die afgelope twee dekades miljoene mense met sy epiese liefdesverhaal laat snik het.

Die fliek is gegrond op die gelyknamige topverkoperboek deur Nicholas Sparks. Dit vertel oor die lange en boeiende liefdesreis van ene Noah (Ryan Gosling) en Allie (Rachel McAdams) wat in die 1940’s hul harte aan mekaar verloor. Die storie word in die hede deur ʼn ou man aan ʼn vrou in ʼn ouetehuis uit ʼn notaboek voorgelees. Eers later besef die kyker dat dit einste Noah is wat sy en Allie se storie aan sy geliefde Allie, wat nou demensie het, voorlees.

Kyk, daar is geen ander manier as om met snot en trane dié fliek te beleef nie. Dit was hartverskeurend mooi toe dit destyds uitgekom het, en die mooi (en moeilik) van die lewe is steeds ewe meesleurend al die jare later. Goue oue, beslis.

11

Kyk dit op Showmax.

Meer as twee dekades ná Bridget Jones’s Diary in ’n absolute fenoneem ontaard het, vertolk die aktrise Renée Zellweger vir ’n vierde keer die geliefde titelkarakter. Soos die vorige drie romcoms, is die nuutste aflewering ook gegrond op Helen Fielding se topverkoperboeke.

In dié fliek is Bridget in haar 50’s en wéér enkellopend ná haar man se skielike afsterwe. Sy sukkel egter om aan te pas in ’n wêreld waar sy haar kinders sonder haar geliewe Mr. Darcy moet grootmaak. Dis veral wanneer sy met ’n jonger man (Leo Woodall) begin uitgaan dat die lewe se groot vraagstukke begin kop uitsteek. 

Bridget Jones Mad About the Boy
Renée Zellweger en Leo Woodall gryp harte aan in Bridget Jones: Mad About the Boy.
12

Dawson’s Creek

Kyk al ses seisoene op Showmax.

Vir Millennials is hierdie ’n nostalgiese reis om die TV-herinneringe van ons jeug te herleef. Vir ander kykers is hierdie ’n geleentheid om vir die eerste keer die karakters van die ikoniese tienerdrama te leer ken. Dawson’s Creek vertel oor die wel en weë van vier tienervriende: Dawson, ’n aspirant-filmmaker; Joey, Dawson se lewenslange beste vriendin; parmantige Pacey; en Jen, ’n stadsmeisie wat met haar aankoms op dié klein dorpie ’n hele paar dinge omdompel.

Dis al dekades ná die reeks se 1998-debuut, maar daar is steeds aanhangers wat wonder of Joey eerder met Dawson of met Pacey moes opeindig… 

Diesnieteenstaande – die reeks was ’n ongelooflike wegspringplek vir die loopbane van die onlangs ontslape James van Der Beek (Dawson), Katie Holmes (Joey), Joshua Jackson (Pavey) en Michelle Williams (Jen).

13

Dear Edward

Kyk dit op Apple TV.

Rou is ’n eienaardige ding. By tye ’n lewendige herinnering van liefde, verlies en menslikheid. Ander tye weer ’n onwaarskynlike bron van vreugde, as die verlange lank genoeg bedaar om asem te skep. In Dear Edward (gegrond op Ann Napolitano se gelyknamige boek) is rou die spil waarom die storie draai. Die vreeslik visceral bestaan daarvan is helder in die oë van ’n 12-jarige seun – die enigste oorlewende van ’n vliegtuigongeluk.

Maar, soveel as wat die reeks Edward se trauma en tragedie – met meesterlike sorg en tempo – beskou, is daar ook ander rouklaers wat mekaar by ’n ondersteuningsgroep ontmoet. Dis hier waar ons vignette – soos in die regte lewe ook maar – van diegene wat agterbly kry. Deur die verskillende ervarings van die nagevolge van ’n tragiese gebeurtenis te verweef, word Dear Edward ’n amperse portretstudie van rou, van die mense se diepste begeerte tot heling. 

Linda Holmes van NPR skryf:  “Hierdie is ’n ruk-jou-binnestes-uit-reeks. Dis ’n reeks waar elke oomblik, al blyk dit oënskynklik klein te wees, eintlik konseptueel groot is – gelaai met gevoelens, gelaai met betekenis…” 

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies