In die tweede seisoen van Een keer om die son, word dit vinnig duidelik dat Markus (Liam Bosman) aan pynpille verslaaf is. Hy sal enigiets doen om aan sy dansloopbaan te bou, maar met ’n enkel wat net nie wil saamspeel nie, voel hy pille is die enigste oplossing. Dis egter nie net die enkel nie. Markus sukkel met angsaanvalle – net soos sy ma, Lani (Jana Kruger), wat ook daarmee geworstel het.
‘Alledaagse’ verslawing
Wanneer dit by verslawing kom, is Markus beslis nie die enigste een wat met hierdie probleem sukkel nie. Verslawing aan voorskrif-pynstillers is wêreldwyd ’n krisis en die dwelmprobleem wat die vinnigste in Amerika groei. Volgens die Suid-Afrikaanse Raad van Psigiaters sukkel een uit vyf volwassenes met chroniese pyn en is sowat sewe persent van mense wat in rehabilitasiesentrums opgeneem word daar omdat hulle aan voorskrifmedisyne verslaaf is.

“Ons wou ’n storielyn van verslawing vir Markus skep – veral binne sy karakter wat ook met angs en depressie sukkel,” sê Ivan Botha, regisseur en mede-skrywer van Een keer om die son.
“Ons wou ’n verslawing vind wat nie algemeen is soos byvoorbeeld harde dwelms of drank is nie, maar iets wat alledaags is; ’n verslawing wat as’t ware maklik kan gebeur. Daar is verskeie mense waarvan ons weet wat amper onskuldig aan pille soos pynpille of slaappille verslaaf geraak het. Markus se storielyn was ook ’n manier om sy pa, Ruan (Jacques Bessenger), te betrek om hul verhouding te verdiep.”
Iemand sál aanklank vind
“Die relevantheid van verslawing vandag is in die klein gewoontetjies wat mense nie besef ’n probleem kan raak nie,” sê Donnalee Roberts, wat nie net die rol van Amé speel nie, maar ook mede-regisseur en -skrywer van dié reeks is. “Selfs sosiale media en die impak wat skermtyd op mense se lewens het, is verslawings wat amper ongesiens ’n probleem kan word.”
“As skrywers voel ons sterk dat dramareekse kwessies soos hierdie moet aanspreek,” sê Ivan. “Dinge soos angs, depressie, selfdood, verslawing soos in hierdie geval, of die sonde van die vaders – óftewel hoe die verlede ’n invloed op jou lewe kan hê.

“ ’n Mens kan swaar kwessies aanspreek en daar sal altyd kykers wees wat daarby aanklank gaan vind. Ons wil nie lessies gee nie en het nie al die antwoorde nie. Ons hou net ’n spieël op vir die kykers om na te kyk en só begin ons gesprekke. Een keer om die son kry dit so mooi reg om die lig en donker van die lewe vas te vat en dit was nog altyd ons doel. Dis nie net swaar nie. Dis die vloei tussen die mooi en die seer van die lewe wat ons probeer uitbeeld,” benadruk Ivan.
“Ons voel baie passievol daaroor dat karakters en storielyne, soos hierdie een met Markus, oor die vermoë beskik om gesprekke oop te breek en genesing te bring,” sê Donnalee. “Mense moet weet hulle is nie alleen nie.”
Die tweede seisoen van Een keer om die son saai Dinsdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook die eerste seisoen op Showmax.