Ná die eerste paar episodes van Een keer om die son se tweede seisoen, blyk dit dat dié omwenteling kykers ewe veel as die eerste seisoen ontroer. Dié familiedrama, wat onder leiding van die akteurs en storieskeppers Ivan Botha en Donnalee Roberts vervaardig is, sien die terugkeer van al die hoofspelers in hul onderskeie rolle – en ook enkele nuwe gesigte – soos ons die Van Wyk-familie se doen en late (en trane en trauma) oor die verloop van nog ’n kalenderjaar volg.
Jacques Bessenger is dr. Ruan van Wyk, en sy kinders word gespeel deur Liam Bosman (Markus), Alma van Heerden (Leandri) en Klara van Zyl (Sophia). Jana Kruger (Lani), wie se dood Ruan en die kinders steeds verwerk, is weer in terugflitse te sien. Amé (Donnalee Roberts), Ruan se jonger suster, se huwelik het in die eerste seisoen in die hek geduik. Albert Maritz is te sien as Sebastian, ’n afgetrede professor in insektekunde. Joanie Combrink is Elma, die Van Wyks se matriarg wat in die eerste seisoen met Alzheimer se siekte gediagnoseer is.
Een van die nuwelinge op stel is die bekroonde Binnelanders-alumna Cindy Swanepoel. Sy is te sien as Erika du Randt, ’n maatskaplike werker by die hospitaal waar Ruan nou die hoof is. Heinrich Wentzel van Niggies– en Die Nuusmakers, betree ook in dié seisoen die Van Wyks se wêreld as Elijah Smith.
Kyk saam met Terloops na wat op die stel van dié dramareeks tussen tonele gebeur het. (Die foto’s is deur kykNET verskaf.)

















Die tweede seisoen van Een keer om die son saai Dinsdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook die eerste seisoen op Showmax.