Menu terloops
In Sepies [21 Okt 2025]

Die Viljoens maak golwe: 5 skokkende oomblikke sedert ‘Diepe Waters’ se nuwe familie Boskruin binnegestorm het


Toe kykNET se ‘Diepe Waters’ aan die einde van Augustus die Viljoen-gesin bekendgestel het, het kykers vinnig besef hierdie is nie sommer net nog ’n mooi gesin nie… Watwou! Ons kyk terug na die tonele wat ons (sover) die meeste laat sidder het. 

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Die Viljoens maak golwe: 5 skokkende oomblikke sedert ‘Diepe Waters’ se nuwe familie Boskruin binnegestorm het

Op die oog af lyk Diepe Waters se Schalk (Izak Davel), Leandri (Christel van den Bergh), Marco (Xander Venter), Danie (Chartyn van Heerden) en Hanneli (Carla Schönfeldt) soos net ’n sportiewe familie met gekoördineerde oefenpakke en ’n liefde vir wen. Maar agter die glimlagte en sosiale media-profiele lê daar ’n wêreld van koue beheer, druk en manipulasie met die krake wat vinnig begin wys het.

Hul donker familiedinamika het hulle vinnig ’n intense en boeiende deel van die storie gemaak. Elke koue kyk, elke gefluisterde dreigement, elke emosionele uitbarsting – als word uitstekend gespeel. Izak Davel en Christel van den Bergh se vertolkings as die ouerpaar Schalk en Leandri is eenvoudig briljant: koel, beheersd en net genoeg ongemak om jou na jou asem te laat snak.

Selfs Gys (Justin Strydom), lyk half gefassineer deur Schalk se ongenaakbare dissipline. Miskien sien hy iets van sy jonger self in die man se teleurstelling in sy kinders. Veral met sy eie seuns wat onlangs die familieklub verlaat het om hul eie pad uit te kerf. En terwyl Hanneli en Danie aanvanklik stil en gehoorsaam gelyk het, is dit nou duidelik dat Hanneli haar eie wil ontdek het en geensins van plan is om dit prys te gee nie.  

Hier is vyf tonele wat Diepe Waters-kykers sedert die Viljoens se aankoms behoorlik laat sidder het:

1

Leandri se ysige ontvangs

Viljoen-gesin, DIEPE WATERS
As Leandri (Christel van den Bergh) emosioneel manipulerend is, is Schalk (Izak Davel) net eenvoudig genadeloos. Foto’s: Skermgrepe

Dit vat baie om Sanet (Nadia Valvekens) te skok, maar Leandri het dit binne minute reggekry. Toe Sanet probeer het om haar by die kring van ma’s van professionele atlete in te nooi, het Leandri dit baie duidelik gemaak dat sy nie daar is om gevoelens te deel of,  in haar eie woorde, “ongevraagde raad”, te ontvang nie. Haar koue reaksie was reeds genoeg om die atmosfeer te vries, maar toe sy daarna huis toe gaan en haar eie dogter aanval omdat sy met ander swemmers gesels het, was die oordeel finaal: dié ma is giftig. Toe sy boonop vir Schalk aansê om Hanneli te straf en haar berispe omdat sy “terugpraat”, kon aanhangers hulself nie keer nie… Sommige kykers het woedend op sosiale media uitgevaar, terwyl ander stomgeslaan was. 

2

Die vlog wat ’n mens laat huil het

Christel van den Bergh het in hierdie toneel gewys hoekom sy een van die sterkste aktrises is, maar dit was Carla Schönfeldt as Hanneli wat harte laat breek het. In een van die mees ongemaklike tonele van die seisoen, dwing Leandri haar dogter om ’n video op te neem oor hoe sy haar gesin teleurstel. Sy coach haar selfs om harder te huil “sodat dit eg lyk”. Sosiale media het ontplof. Kykers het gesê hulle het die koue manipulasie letterlik aan hul eie lyf gevoel. En asof dit nie genoeg was nie, het ons toe nog gehoor dit was Leandri se idee om haar seuns teen mekaar af te speel vir ’n sosiale media-veldtog. Dit was daardie toneel wat Leandri haar plek as Diepe Waters se nuwe “karakter wat ons graag wil haat” verseker het.

Diepe Waters, Viljoen-gesin, viljoens, hanneli
Carla Schönfeldt as Hanneli.
3

Schalk se yskoue beheer

As Leandri emosioneel manipulerend is, is Schalk (Izak Davel) net eenvoudig genadeloos. Sy gebrek aan warmte of empatie is amper skokkend. Sy obsessie met beeld bo gesin het breekpunt bereik toe hy vir Hanneli in die openbaar verneder het nadat sy teen wat hy “’n middelmatige swemmer” noem, verloor het. Nina (Reza-Tiana Wessels) se gesig het alles gesê, sy was gereed om hom te konfronteer. Maar die ergste was nog toe hy sy eie dogter wou wegstuur na ’n dissiplinêre skool vir problematiese kinders. Ek het onmiddellik die vergelyking met dokumentêre oor mishandeling in sulke instellings getrek – baie van ons het mos al dié dokkies op Netflix gesien. Daardie toneel het Hanneli se transformasie van sagte kind na vasberade jong vrou begin.

4

Marco se verraad

Elke gesin het sy goue kind, en vir die Viljoens is dit Marco (Xander Venter). Maar lojaliteit is beslis nie sy sterkpunt nie. Toe Hanneli se geheime gedigte, haar enigste uitlaatklep, ontdek word, was dit haar eie broer wat haar verklik het. Hy het boonop die afrigters van die mededingende klub beledig en selfs begin weddenskappe aangaan met Juvan (Christiaan Ackermann) teen sy eie familie. Gelukkig wys Juvan se lojaliteit en integriteit dat ware vriendskap steeds iets beteken, selfs in Boskruin. Soos een aanhanger op X geskryf het: “As snitches stitches kry, is Marco se beurt lankal oor.”

5

Hanneli se groot oomblik

Hanneli, Diepe WAters
Hanneli: Die kind wat altyd stil was, het haar eie stem gevind.

Ná al die vernedering, straf en verraad het Hanneli uiteindelik haar krag teruggeëis en wát ’n toneel was dit nie! Sy het opgestaan teen haar ouers, hul manipulasie en mishandeling ontbloot en onderneem om haar eie pad te stap. Sy het haar broer Danie beskerm, aangekondig dat sy weer onder Jacques (Werner Coetser) gaan swem en gesê sy sal self besluit wie haar vriende is en watter beeld sy aan die wêreld wil wys. Dit was die oomblik toe kykers saam met haar asemgehaal het. Die kind wat altyd stil was, het haar eie stem gevind. Maar vir hoe lank? Dít is die groot vraag.


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies