Menu terloops
In Onderhoude [28 Jan 2026]

‘Die Kantoor’ laat dié grapjas sweet


Om die ikoniese reeks ‘The Office’ vir ’n Afrikaanse gehoor te verwerk, sit nie in sommer enigiemand se broek nie, maar as medeskrywer saam met Bennie Fourie is ‘Die Kantoor’ nou ‘iets wat net in Suid-Afrika kon afspeel’, vertel die komediant en akteur Schalk Bezuidenhout oor sy ervaring.

Deur Redaksie

Stroom 'Die Kantoor' op Showmax

‘Die Kantoor’ laat dié grapjas sweet
Kyk lokprent

Schalk Bezuidenhout is veral bekend as ’n stand-up-komediant, maar hy het stilletjies aan ’n ewe indrukwekkende loopbaan as akteur gebou. Hy het reeds vier Safta-benoemings vir toneelspel ontvang – vir onder meer sy vertolking van Johan Niemand in die speelfilm Kanarie, Attie in die komediereeks Taktiek en Danny in die mokumentêre komedie Hotel. Laasgenoemde het vir hom die Safta vir beste manlike byspeler in ’n TV-komedie gewen.

Sy nuutste uittog op die skerm is as ene Tjaart in Die Kantoor, die Afrikaanse verwerking van The Office.

Die storie

In Die Kantoor speel Schalk teenoor onder andere die 2025 Fleur du Cap- en Woordtrofee-wenner Albert Pretorius (NiggiesNêrens, Noord-Kaap) as Flip, die kantoorbestuurder by die polonie-spesialiste Deluxe Processed Meats.

Flip, ’n groot aanhanger van Rassie Erasmus en Leon Schuster, verwelkom ’n dokumentêre span om sy opgang in die sakewêreld vas te lê – en ook só sy Schuster-agtige poetse. Tjaart is Flip se regterhand met sy blou sonbrille soos ’n ekstra ledemaat, en sy selfoon – waterdigte houer inkluis – aan sy belt vasgegordel. Die jeans sit hoog en sy belt sit hoër. Weg ook is die krullebos wat hom so herkenbaar maak. En met goeie rede, sê Schalk.

“Hy is amper die teenoorgestelde van Danny van Hotel, wat naïef en oulik was,” sê Schalk. “Tjaart is geskei met ’n kind. Hy kettingrook, en hy sit nooit stil nie. Hy is lekker kômmin. Ek het staatgemaak op my Kempton Park-wortels en van die mense waarmee ek daar grootgeword het om die karakter in te kleur. Ek het baie Tjaarts geken.”

Schalk Bezuidenhout, Die Kantoor
Selfoon, brille, jeans, belt. Als wat Tjaart (Schalk Bezuidenhout) nodig het. Foto’s: Verskaf

Spanwerk

Schalk was medeskrywer van sewe van Die Kantoor se episodes. Die hoofskrywer en regisseur van die reeks is die veelbekroonde Bennie Fourie, met wie hy op Hotel gewerk het en goeie vriende is.

“Wanneer ek bloot ’n akteur in ’n reeks is, kom ek gewoonlik net aan die einde in om te help om van die grappe ’n bietjie sterker te maak. Dit was die eerste keer dat ek van die begin af saam met Bennie geskryf het,” sê Schalk oor hoe dié ervaring anders was.

“Hy het die harde werk gedoen. Ek was meer die ou wat idees rondgegooi het oor ’n glasie wyn en grappe gemaak het terwyl hy die storie en struktuur uitgesorteer het. So ons was ’n goeie span.”

In November 2024 het Schalk en Bennie in ’n gastehuis in Bellville gesit en gewonder wie en hoe die karakters gaan wees. “Ons het baie vryheid gehad,” vertel Schalk. “Ons kon die baas ’n swart man gemaak het. Of ’n vrou. Maar Albert Pretorius is so ’n goeie akteur dat ons hom eenvoudig die rol moes gee. Anders sou ons dalk meer oorspronklik kon wees.” 

Ook in die rolverdeling is akteurs soos Carl Beukes, Daniah de Villiers, Gert du Plessis, Ilse Oppelt, Lida Botha, Mehboob Bawa en Sipumziwe Lucwaba. En dié is almal aangemoedig om te improviseer. “Bennie is mal oor improvisasie, so baie van die beste oomblikke het uit daardie spontaniteit gekom,” sê Schalk.

Hoë verwagtinge

Schalk erken om so ’n ikoniese reeks aan te pas het hulle laat sweet. “Mense het baie hoë verwagtinge. Ek is ’n puris. So, ek wys altyd daarop dat die Britse weergawe die oorspronklike is, maar Suid-Afrikaners ken die Amerikaanse weergawe beter, en Michael Scott is so geliefd as die baas. Ons wou regtig iets maak in dieselfde klas as die Amerikaanse en Britse weergawes –  ’n reeks met net so ’n groot cringe-faktor en wat net so goed en snaaks is.”

Schalk Bezuidenhout, Die Kantoor
“Al is dit deel van ’n franchise, wou ons dit ’n oorspronklike reeks maak, vol van ons mense en iets wat net in Suid-Afrika kon afspeel,” sê Schalk oor The Office se verwerking na Afrikaans.

Schalk sê hul grootste uitdaging was om aan die aanhangers van The Office se hoë verwagtinge te voldoen. “Dit was ’n fyn lyn: om naby genoeg aan die oorspronklike te bly sodat dit steeds soos The Office voel, maar anders genoeg dat dit ook soos ’n inheemse reeks voel. Al is dit deel van ’n franchise, wou ons dit ’n oorspronklike reeks maak, vol van ons mense en iets wat net in Suid-Afrika kon afspeel.”

‘Humor wat grense toets’

Schalk meen baie van die grappe op die reeks is gewaagd. “Ek is ’n groot aanhanger van humor wat die grense toets,” sê hy. “Die sleutel is om die gehoor te laat lag oor hierdie karakters se onkunde, eerder as saam met hulle oor ’n bedenklike grap of aanmerking. So, baie van die komedie kom uit die reaksies van die res van die rolverdeling op die dinge wat Flip en Tjaart kwytraak en aanvang.”

Wanneer hulle nie deel van ’n toneel was nie, moes die rolverdeling steeds by hul lessenaars bly, amper soos agtergrond-ekstras, om die gevoel van ’n 9-tot-5-kantoor te behou. “Ek het so baie Solitaire op my foon gespeel dat Bennie my uiteindelik moes dwing om dit te verwyder, want dit het soveel van my aandag geëis,” vertel hy verder.

Veranderende TV-wêreld

Kykers is deesdae meer gewoond aan die mokumentêr-genre, maar Schalk onthou nog die begindae van Hotel toe kykers nie geweet het wat om van dié reeks te maak nie. (Buiten Hotel is die briljante Magda Louw nog ’n goeie plaaslike voorbeeld. Internasionaal is die genre versterk deur reekse soos Parks and Recreation, Arrested Development, Modern Family en Abbott Elementary).

Schalk Bezuidenhout, Die Kantoor
Schalk meen baie van die grappe op die reeks is gewaagd. “Ek is ’n groot aanhanger van humor wat die grense toets,” sê hy. 

“Mense was baie verward. Ek was so trots op die reeks (Hotel), maar ek het nie gedink ons gaan ’n tweede seisoen kry nie omdat die reaksies op kykNET se Facebook-blad so oorweldigend negatief was. Ek onthou een spesifieke kommentaar wat gekla het dat die kamerawerk van die reeks onprofessioneel was omdat die beeld gedurig geskud het. Die kamera was op ’n driepoot en die fotografie-regisseur het die kamera doelbewus laat beweeg sodat dit kan lyk soos ’n dokumentêr wat rukkerig met ’n handkamera geskiet is.

“Dit was frustrerend, en ek het gedink: ‘Julle kyk almal na Modern Family. En hier is ’n reeks wat dieselfde doen met rukkerige kamera-onderhoude, en skielik verstaan kykers nie, net omdat dit in Afrikaans is.’

“Maar weet jy wat? Almal het baie te sê gehad oor Hotel aan die begin van die reeks. In seisoen 2 het dit momentum gekry en teen seisoen 5 was al daardie mense getroue kykers omdat hulle deur die innemende sjarme van die reeks oorrompel is. Teen die vyfde seisoen het ek geen negatiewe kommentaar meer gesien nie. Mense het soos die karakters aangetrek vir partytjies en Halloween. Die reeks het ’n kulturele fenomeen geword.

“Ons kry nou nog mense wat vir ons sê hulle was verveeld in Desember en het toe al vyf seisoene weer gekyk,” voeg hy by.

Grappe vir genesing

Schalk berei tans voor vir ’n toer in Australasië en Europa in Februarie met sy jongste stand-up-vertoning, Hey Hey Divorcé. Dié materiaal is deur sy egskeiding in 2024 geïnspireer. “Dit was regtig terapeuties,” sê hy oor die skryf van dié vertoning.


Nuwe episodes van Die Kantoor is weekliks op kykNET (DStv-kanaal 144) en Showmax beskikbaar –Sondae om 20:00 op kykNET en Dinsdae op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies