Die bekroonde akteur Albert Pretorius – bekend vir sy skitter-vertolkings in reekse soos Niggies en Nêrens, Noord-Kaap, vertel meer oor sy hoofrol as Flip, die bestuurder van die polonieverspreiders Deluxe Processed Meats, in die Afrikaanse weergawe van die alombekende en gevierde The Office-franchise wat pas op kykNET begin uitsaai het.
Die kantoorbestuurder is ’n ikoniese rol wat vir beide Ricky Gervais en Steve Carell hul eerste Golden Globes besorg het, onderskeidelik as David Brent in die oorspronklike Britse weergawe van The Office en Michael Scott in die Amerikaanse weergawe. Het jy onder druk gevoel oor die groot skoene wat jy moet volstaan?
“Ja, dit is ’n angswekkende enetjie, want dis een van dié droomrolle. Bitter min mense kry ooit die kans om so ’n groot rol te speel.”
| Agter die skerms |
| The Office is geskep deur Ricky Gervais en Stephen Merchant. Metacritic lys die oorspronklike Britse weergawe as die mees hoogaangeskrewe komediereeks van alle tye. Die Amerikaanse weergawe het vyf Emmys gewen, insluitend die toekenning vir beste komediereeks, en was die mees gestroomde program ter wêreld in 2020. Die Bafta- en Golden Globe-bekroonde kultuskomedie is ook vir gehore dwarsoor die wêreld verwerk – die Suid-Afrikaanse uittog is die 14de verwerking van dié formaat. Rapid Blue, deel van BBC Studios, vervaardig dié Showmax Original-reeks, met die Safta- en Silwerskermwenner Bennie Fourie (Hotel) as hoofskrywer en regisseur. |
Vertel ons meer oor jou karakter, Flip.

“Flip sien homself as die Rassie Erasmus van polonie. In sy kop maak die dokumentêre span sy Chasing the Sun, oor hoe hy hierdie span na die volgende vlak van sukses neem. Hy het grootgeword met Leon Schuster. So, hy is lief vir poetse en candid camera-grappies en probeer dit ook in die dokumentêr inbring.
“Hy worstel met wat dit beteken om ’n man te wees – ’n Afrikaanse man – maar hy besef nie dat baie van die eienskappe waarna hy streef argaïes is nie. Of dat hy eintlik baie min van hierdie eienskappe enigsins het nie. Dis waar die komedie lê, want hy probeer so bleddie hard om net aanvaar te word.
“Is dit nie maar wat cringe-komedie is nie? Mense wat hul bes probeer deur absoluut die ergste weergawes van hulself te wees nie?”
Wat was jou eerste indruk van die draaiboek?
“Ek is eers net een monoloog gestuur, sonder konteks, en my onmiddellike reaksie was: ‘Ons kan niks hiervan op TV sê nie’.”
Wat het jou toe laat instem om betrokke te raak?
“Toe ek die volledige draaiboeke lees, het ek besef daar is baie onnoselheid, maar daar is ook baie hart en dinge waarmee mense hulle sal kan vereenselwig. Daar is wel onvanpaste goed, en op die eerste dag het Bennie (hoofskrywer en regisseur) vir die rolverdeling en span gesê: ‘Luister, Flip het geen filter nie, maar Albert is die gaafste ou. Wat ook al oor sy lippe rol oor die volgende sewe weke – moenie aanstoot neem nie.’
“Maar wanneer Flip iets ergs sê, is daar gewoonlik ’n kyk na die kamera, of hy betrap homself, of een van die ander karakters is duidelik geskok. Daar is dus ook kommentaar op dié onvanpastheid.”
Hoe was dit om saam met die hoofskrywer en regisseur van die reeks, Bennie Fourie, te werk?
“Dit was een van my beste ervarings. Dit was net so lekker. Die hoeveelheid kere wat ons moes stop omdat almal uitgebars het van die lag… Ek hou altyd daarvan wanneer ’n span ook lag – dis ’n groot aansporing.
“Wat ek daarvan hou om saam met Bennie te werk, is dat hy regtig veg vir tyd om toneel te speel. Vertolking is belangrik vir hom. So, alles was ingestel daarop om tyd te spaar vir ons om langer te kan speel. Daar was nie beligtingverstellings ná elke toneel of baie kostuumveranderings nie. Dit het beteken ons kon tonele verskeie kere skiet en só regtig die toneel en die karakters en die grense verken. Ons sou twee of drie keer voor ’n toneel repeteer en dan omtrent vier keer uit verskillende kamerahoeke skiet, wat ongehoord is op plaaslike TV.”

Was jy ’n aanhanger van The Office voordat jy deel van dié projek geword het?
“Ek het die Britse weergawe as dramastudent aan die Universiteit van Kaapstad gekyk en vir die eerste 15 minute nie besef dit is nie regtig ’n dokumentêr nie. Daarna was ek soos: ‘Julle ouens! Wow! Oukei, oukei, dis geniaal.’
“Ek was so mal daaroor dat ek aanvanklik geweier het om die Amerikaanse weergawe te kyk. Maar daardie een het my toe deur Covid gedra. Die twee weergawes is baie verskillend, maar albei briljant.”
Watter een het jy verkies?
“Ek kan nie sê nie. Ek hou van die cringe-faktor van die Britse een en die hart van die Amerikaanse een. Ek is mal oor Ricky Gervais: Hy is die oorspronklike baas, en dit (die reekskonsep) is sy breinkind. Maar daar is ook iets aan Steve Carell… Ek dink sy verhouding met Holly (vertolk deur Amy Ryan) is een van die mooiste romanses in televisie-geskiedenis.”

Aan watter weergawe is Die Kantoor die naaste of meer soortgelyk?
“Ons het ons eie sin vir humor. So, ons s’n is anders as beide. Dit is nie heeltemal die Britse cringe of so oordrewe soos die Amerikaanse humor nie.”
| Die ensemble |
| Benewens Pretorius sluit die rolverdeling die Safta-wenner Schalk Bezuidenhout (Kanarie, Hotel), die legendariese veteraan Lida Botha (Die Kwiksilwers), Carl Beukes (Jozi, The Shakedown), Silwerskermwenner Ilse Oppelt (Oh Schuks I’m Gatvol, Fishy Fêshuns), Daniah de Villiers (Mia in Mia and the White Lion), Mehboob Bawa (Bhai in Bhai’s Cafe), voormalige KFM-aanbieder Sipumziwe Lucwaba en die nuweling Gert du Plessis in. |
Jy het met ’n sterk ensemble akteurs gewerk. Moes hulle regtig by hul lessenaars bly soos agtergrond-ekstras selfs wanneer hulle nie in ’n toneel was nie?
“Ja. Die kameras kon hulle enige oomblik vang. So, hulle moes in karakter bly. Dit het ongelooflik baie bygedra daartoe om dit soos ’n regte kantoor te laat voel. Hulle het baie tyd gehad. Ilse (Oppelt, in die rol van Joanne) het haarself in dié tye leer teken, en op die laaste skietdag het sy vir elke akteur en spanlid ’n tekening gegee wat sy gemaak het.
“Ek is seker daar was tye wat hulle gevoel het, ‘Vandag is ek net in die agtergrond.’ Maar wanneer jy die eerste episode kyk, sien jy hoe gereeld ander spelers gewys word en jy besef dat hoewel Flip baie van die praatwerk doen, elke toneel 100% ’n ensemble-poging is. Dit is Joanne wat ’n kyk gee; Gavin wat ’n foto neem van ’n uitbarsting; Joubert wat ’n wenkbrou lig… Dís wat die reeks regtig laat werk.”
Nuwe episodes van Die Kantoor is weekliks op kykNET (DStv-kanaal 144) en Showmax beskikbaar –Sondae om 20:00 op kykNET en Dinsdae op Showmax.