Verlede week het Jacques by Die brug se groepie spelers aangesluit, en vinnig vir kykers gewys hoe wreed hierdie nuwe toevoeging tot ons kykgenot-spyskaart kan wees. Terwyl Jacques bewys dat hy oor die nodige ervaring – en breinselle! – beskik om regtig ’n aanwins tot die goep se aktiwiteite te wees, is dit die prys wat die groep moet betaal wat almal van ons verlede week reeds by die huis op die punte van ons stoele gelaat het.
Die program draai nie doekies om nie, en hervat presies waar dit verlede Donderdag geëindig het: Jacques moet sy besluit (oor wie hy huis toe stuur) aan die groep bekend maak. Maar eers is daar ’n off-screen onderhoud of twee waar ander deelnemers hul misnoeë uitspreek oor die gawe kêrel met die tydelike magsposisie – en wat sy besluit vi die groep kan beteken.
Ek het so ’n bietjie in my kussing gelag toe Jacques aankondig dat hierdie die moeilikste besluit van sy lewe is. Regtig?! Dit is nou nie asof hulle Hunger Games speel of deelnemers aan die Koreaanse rilreeks Squid Games is nie. Die verkose persoon gaan nie op een of ander wreedaardige manier tereggestel word nie. Die verkose persoon gaan bloot net huis toe, en hul kans om ’n deel van die fortuin op die spel in die hande te kry, is daarmee heen. Bowenal is dit nie asof Jacques al lank genoeg daar is om al die deelnemes se name (of agtergrondstories) te ken nie. Die besluit behoort baie maklik en onemosioneel te wees – veral vir ’n cowboy wat nie cry nie…
Stomme bomskok
Marna se drome word in stukke gelaat met Jacques se besluit, en die skok is so groot vir haar dat sy totaal en al aan bomskok ly – en ook stom. Die ironie van die besluit is dat Jacques self nie weet hoekom hy haar naam geuiter het nie: hy het geen konkrete rede vir haar vertrek nie, en ek wonder so onderlangs of sy dalk die maklikste naam gehad het om te onthou…
Terwyl ’n stomgeslaande Marna soort van groet en haarself op die bootjie bevind wat haar terug na die beskawing toe neem, is daar uiteenlopende reaksies (met dieselfde boodskap) wat vir die gehoor opgedis word: meeste is dit eens dat Marna hul keuse sou wees, of ten minste in hul top-twee. Marna se exit bring William en Sam nader aan mekaar, en hulle begin fluister: dit raak gou duidelik dat hulle van Queen Avril ontslae wil raak – en dat hierdie dalk ’n opportunity missed was.
Avril maak natuurlik geen geheim van die feit dat sy beslis van Marna ontslae sou raak nie – en sê dan ook dat sy uiters teleurgesteld is in die manier waarop Marna stil-stil die spel verlaat het. Sy vertel dat sy weet mense hanteer skok op verskillende maniere, maar dat hierdie beslis nie die manier is waarop sy die spel sou verlaat het nie.
Avril is nie my kopppie tee nie – veral as sy bewys dat sy logies kan dink, maar dat haar oggend- en aandpraatjies nie dieselfde is nie. Queen Avril maak ’n dramatiese meal van hierdie exit, en ek wonder of sy besef dat sy eintlik strategies maar net die kollig weer terug na haar toe skuif – en dit plaas haar nie in ’n goedgunstige lig nie. Ek is gelukkig nie die enigste een wat dink dat Avril in the wrong is nie, want Geo maak ook nie ’n geheim daarvan – tussen sy vertrouelinge! – dat “sekere mense” se reaksies op Marna se exit nie reg sit met hom nie…
Marna se vertrek lewer nie net ‘sonde met die bure’-storielyne op nie. Tussendeur die gewerkskaf begin Jacques, Geo, en Robert mekaar te vind, en hulle kom agter dat hulle eintlik goed saamwerk. Dit kom as geen verrassing nie, want hulle is tog al drie verskillende variante van dieselfde spesie: die Alpha Male. Hulle begin ook agterkom dat ander lede ook groepies begin vorm, en Jacques besef hy moet nou baie vinnig begin om meer strategies te speel – ’n substorielyn waarvan Robert en Geo eintlik al baie weet.
Lees ook
Belonings en bande
Die volgende dag kry hulle, na sewe dae in die woud, ook twee belonings: die eerste is vrye toegang tot die hot tub, en die ander is iets wat ’n blessing en ’n curse kan wees. Jamie ontdek ’n plakkaat met verskillende bottels drank in hul slaapkwartiere – en ’n klein plakkertjie met GPS-koördinate! Die groep maak dan die logiese sprong om die koördinate in die Garmin te tik, en drie mense gaan soek die nuwe skatkis. Dit is ’n cooler box met ’n bietjie drank, maar Iana sou eerder melk of kaas wou gehad het. Larry is uit sy vel uit van opgewondenheid, maar is nie die enigste een nie…
Die ongure reënweer – en seker ook die verligting ná die skok van nog een persoon wat die spel verlaat het – laat ’n paar mense dieper delf in hul mede-deelnemers. Tina en Iana ontdek dat hulle nogal genuine van mekaar hou, en dit wil voorkom of Iana haar TV-mamma ontdek het. Larry en Nonnie praat diep hartsake, en Larry onthul dat hy as ’n getroude man in die spel ingekom het – en dat hy as ’n geskeide man die spel gaan verlaat. Larry ontdek ook weer ’n gedeelte van homself in hierdie tydperk, want hy onthou weer skielik dat hy ook ’n sterk emosionele kant aan hom het.
Avril ontdek niks en braak net gal: sy voel hulle werk te stadig aan die brugbouery – en lyk asof sy nie dink die reën moet enigsins ’n faktor wees in die gesloer van die werk nie. Maar dit is net hier waar sy haar Moses begin teëkom, want Sam wil by haar weet wat sy dink hulle anders moet doen… En sy sit met ’n bek vol tande. Geo laat ook vir die eerste keer amptelik van hom hoor wanneer hy vir haar sê dat hy nie harder kan werk as wat hy reeds doen nie. Die slawedrywer is besig om die werkers se moere te koer: saggies, maar baie duidelik.
Moed in die skoene…
Avril is nie die enigste probleem wat geïdentifiseer word nie: ’n tou-tekort word voorspel, en die manskappe moet ’n plan beraam om te verseker dat hulle nie uit hierdie broodnodige hulpbron hardloop nie. Jacques se briljante plan is om die oorblywende tou te ontrafel, sodat hule tou kan spaar – maar dit bring ook ’n nuwe dividend voort: hulle sal stywer knope kan maak met die dunnet stukke tou, want ook sal lei tot meer stabiele vlotte.
Die einde van die sewende werksdag bring ook ’n baie onrustige besef: hulle het al 32 vlotte geloods, maar is reeds 12 vlotte agter van waar hulle moet wees. Almal se moed sak so bietjie in hul skoene met die besef dat met elke dag raak hulle net al hoe meer agter met hul doelwitte – en ek is seker die senuwees begin knaag indien hulle sou agterkom dat dit dan nou ook beteken dat hulle eintlik agteruit boer en dalk heeltemal verniet hard werk. Op die ou einde van die dag het hulle ’n sekere aantal vlotte nodig om die skatkis te kan eis – en soos wat hulle nou werk, is daar verseker nie ’n manier waarop hulle ’n bietjie meer finansieël ryker uit die spel gaan stap nie.
Terwyl die sirene die einde van die werksdag aandui, is die aandag uiteindelik op die hot tub wat die moeë lywe moet lawe – en die gesprek tussen die mans draai na ’n gesprek oor nuwe leierskap. Terwyl daar ’n mutiny bespreek word, is dit Nonnie se waardering van die kliein dingetjies in die lewe wat ook aandag geniet. Sy het stil-stil tussendeur die harde dag se sweet-werk ’n krat vol elemente bymekaar gemaak sodat elkeen van die deelnemers oor ’n sopie vir hulself ’n herinnering kan aanmekaarslaan van hul tyd op die reeks: sy gee vir hulle die geleentheid om ’n klein vlotjie te maak wat hulle saam kan neem huis toe as ’n memento. Hoe absoluut cute is dit?
Boeremeisie op ’n quad bike
Die volgende dag is daar ’n nuwe verrassing – en vrees! – wat die deelnemers begroet wanneer ’n Rooikappie op ’n quad bike haar verskyning maak. Melanie is ’n boeremeisie in murg en been, en sy is die nuutste toevoeging tot die spel. Sy is ook bewapen met nog ’n brief. Die grootste vrees wat onmiddellik inskop, is dat sy iemand gaan vervang, en ’n mens kan amper hoor hoe die nuweling ’n swaar stilte saam met haar bring. Die brief word voorgelees, en ek spring letterlik uit my stoel uit van opgewondenheid wanneer die opdrag in die brief is om te besluit of hulle ’n nuwe leier wil hê of nie.
Geo probeer die situasie beredder deur ’n goeie stukkie PR te pleeg en sê hardop dat hierdie nie gaan oor of Avril ’n goeie of ’n slegte leier is nie (terwyl ons almal weet wat die waarheid is!) en dat hierdie besluit vir hom daaroor gaan dat hulle dalk net bietjie vir iemand anders ’n kans met gee… Mooi gestel, Geo, maar ek dink almal is dit eens dat Avril se tyd vir crown and sceptre op Die brug is nou eers verby – en die guillotine wag vir die Queen om haar titel te eis.
Nodeloos om te sê, stem almal behalwe Nonnie, Avril, en Jamie vir ’n nuwe leier, en die groep moet dan die verkiesing ook sommer onmiddellik afhandel. Die kandidate wat hulself verkiesbaar wil stel, moet hul mandaat in 30 sekondes kan lewer, en Sam, William, en Jamie gryp die geleentheid met ope arms aan. Beide William en Jamie is ’n verrassing vir die groep – asook sekerlik die kykers by die huis! – maar waar ek dit nogal kan sien dat William in ’n prins kan verander, is ek nie seker oor Jamie nie.
Sam slaan die spyker op die kop wanneer hy aanvoer dat Jamie nog onder Avril se magspel is – en ek dink sy sou net nog ’n puppet wees… Maar, kudos vir die girl dat sy nie net uit die kombuis wil ontsnap nie, maar dat sy ook kans sien om haar stem nog dikker te maak. Sy begin nogal op my te groei, want dit is hierdie tipe van mannemoed – of is dit nou girl power? – wat die lewe soveel meer interessant maak. Hierdie is ook hoekom ek soms van mense hou: want daar is party mense wat besef hulle is heel mooontlik hul eie grootste vyand – en verslaan nie net hul dragons nie, maar verras die res ook in die proses. Good for you, Jamie, maar dalk nog net nie nou nie…
’n Nuwe leier vir die spelers
Die onderlangse groepies wat gevorm is, wen wel hierdie rondte, want Sam tree as leier uit die stryd. Tina verklap in ’n off-screen interview dat Sam maar nog eintlik altyd die leier was, want onder Avril se tiraniese bewind was hy eintlik die een wat maar die calls gemaak het… Is Sam, nes Nonnie, eintlik die mense vir wie die Alpha Males moet bang wees? Is hierdie die mense wat gesien word as dood goed, en goed dood? Is hierdie die tipe mense wat die Alphas op hulle dinges sal kan gee, sonder dat hulle dit besef? Hierdie tipe mense is natuurlik my favourites, want underdogs word nie net altyd onderskat nie – maar is ook gewoonlik gewillig om die onmoontlike te doen om bo uit te kom! En wie hou nou nie van ’n aanhouertjie wat uiteindelik ’n wennertjie word nie?
Maar terwyl Sam sy oorwinning met ’n stille trots vier, is dit Avril wat weer haar irritasie met venom uitspreek oor die #papgatgeid van die ander mans wat nie hulself verkiesbaar gestel het nie. Sy voel selfs William se opstaan was ’n “whatever entry”. Sy sit nie die pot heeltemal mis wanneer dit kom by Geo en Rob nie – maar sy is ook nou nie die mees strategiese persoon op die speletjie nie. Geo en Rob se spannetjie se strategie het duidelik gewerk met Sam wat nou leier is, en hulle volgende stap is om nader aan Melanie te kom deur middel van Iana.
Hulle deel ook dan nou later casually hul vrees met haar dat sy die persoon gaan wees wat volgende iemand gaan moet uitstem. Melanie lyk asof sy wil-wil in ’n flatspin gaan, maar iets sê vir my hierdie boeremeisie met ’n glamour model attitude het al vir baie groter dinge in die lewe ook nie geskrik nie – en dat hierdie maar net ’n act is om hulle kalm te maak oor wie nou eintlik in beheer van Die brug is.
Geo is die enigste een wat erken dat hy dink Melanie gaan nie alleen daardie besluit moet neem nie, en dat nuwe leier saam met haar daardie besluit gaan moet neem. Ons gaan ongelukkig moet wag tot volgende week of hierdie enigsins ’n opsie is, want die episode eindig weer met daardie lastige cliffhanger!
Só doen mens ’n cliffhanger!
Baie van die TV-sepies en telenovelas kan maar by hierdie reeks gaan aanklop oor hoe om ’n cliffhanger die impakspeler van ’n episode te maak. Die brug kry dit baie goed reg om ’n kyker te laat skree oor die einde van ’n episode – en nie uit blydskap nie. Hierdie reeks het die potensiaal om selfs die mees geharde realiteitsreekskyker se gunsteling te word, juis oor sy onvoorspelbaarheid en sy non-pattern-patroon. Hoe moet ’n mens nou jou oë vir ’n sekonde wegskeur om jou sosiale media te beloer as elke episode jou só boei dat jy vergeet van die foon in die hand?
Die brug saai Donderdagaande uit om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar. Ons resensent, Bouwer Bridges, se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.