Die week se episode van Die brug is hopelik die eerste en die laaste vervelige hoofstuk in die reeds spannende ‘feëtjieland’-verhaal. Wanneer ’n mens die oor-dramatiese ‘skel’ van Avril in die episode ignoreer, is daar nie veel wat eintlik gebeur nie – of is dit dalk net die stilte voor die storm?
Die episode begin presies waar ons vir Geo en Rob laaste gesien het: by die oornag-rivierhut waar hulle ’n moeilike keuse in die gesig staar. Hulle moet besluit of hulle ’n bakkie spykers en twee hammers gaan terugneem na die Houthuis toe, en of hulle R100 000 van die jackpot gaan steel, en daarmee saam dan ’n bloudrukplan vir veilige vlotte en twee nuwe sae ontvang. Volgens my is dit ’n complete no-brainer, want dit is duidelik dat die 11 deelnemers nie nog ’n dag kan verloor op die design van veilige vlotte nie. As dit van Avril afhang, sal hulle ’n menslike ketting vorm wat sy met spykerhakke sal aandurf om die jackpot in die hande te kry – en dit wil nie vir my voorkom of sy enigsins sou bekommerd wees oor wie sink of swem in die stryd nie.
Vertroue en broederskap
Die twee dapper mans besluit dan om die laasgenoemde keuse te maak. Hulle steek die geld wat hulle gesteel het diep in hul sakke weg, en belowe mekaar dat hulle mekaar vertrou – en dat hulle nooit ooit weer hieroor sal praat nie. Iets sê vir my hierdie is ’n klomp stront, en dat hierdie net ’n inleiding tot groter drama gaan wees. Sien, Rob voel al klaar skuldig oor die geldjies, en praat oor integriteit en sy kinders se trots, wat my onmiddellik laat wonder of hy nie die eerste een gaan wees wat die geheim gaan uitlap nie.
Dan het ons vir Geo, wat reeds ’n plan uitgewerk het indien hul geheime fondse ontdek sou word: hy het reeds ’n storie om Rob onder die bus te gooi indien hierdie sou gebeur. So much vir vertroue en broederskap, nè? Ek dink al die tekens van verraad en wraak is reeds te bespeur in hierdie twee se pad vorentoe…
Wat hierdie reeks so interessant maak, is dat ’n mens ’n geheelbeeld van die deelnemers vorm – of die geheelbeeld wat die storievertellers of vervaardigers wil hê ’n mens van hulle moet kry. Robert se off-camera onderhoud maak van hom ’n Goliat met ’n klein hartjie, ’n man wat die swaar in die lewe ken, en wat ’n mens mee kan vereenselwig. Met elke traan wat rol voel ek net meer en meer vir die dude veral wanneer hy praat oor die einde van sy rugbyloopbaan en sy ma. Wat is dit met Afrikaanse seuns se verhouding met hulle ma’s wat my so diep tref? Robert se storie met sy ma, en hoe hy oor haar voel, laat my dink dat ons Suid-Afrikaners nie te veel verskil van die Griekse, Indiese, Joodse of Latyns-Amerikaanse verhoudings tussen ma en seun wat heel dikwels die komiese element in rolprente of reekse is nie.
Dawid en Goliat
Ek wonder nou maar net in my stilligheid of Geo nie reeds vir Rob geïdentifiseer het as ’n Goliat nie – en dat hy homself begin inwerk as die Dawid-figuur in die verhaal? Want hierdie ‘stelery’ is ’n lekker klippie om in jou kettie te hê wanneer die tyd ryp is…
Wanneer die twee opregte mans voet aan wal slaan, is dit Sam wat eerste nie die vrede vertrou nie; Iana volg kort op sy hakke. Gelukkig is die twee dudes goed genoeg akteurs om hul storie te verkoop sonder te veel vrae of enige indication dat hulle soos twee glyjakkalse lieg oor die ware stand van sake, en tree hulle as twee heroes uit die stryd tussen truth en deception – veral met die bloudrukplan wat almal se gemoedere lig, en ’n baie goeie distraction is vir die twee helde se gemoedere wat hulle probeer staal teen die innerlike nare waarheid.
Die goeie nuus stop nie daar nie, want wanneer ’n mini-skattejag ’n groot fles koffiebone oplewer, is daar net vreugde en vrede wat heers – en dit nou ook nog op William se verjaardag. Die deelnemers probeer om dit vir hom net so spesiaal te maak soos wat dit sou wees in die regte lewe. As hierdie ’n dramareeks was, sou al hierdie gebeure die gedeelte in die reeks wees waar almal vir die laaste keer happy sou wees voor tragedy strike.
Slang in die gras…
Die eerste ‘slang’ wat sy kop uitsteek tydens die verwoede en opnuut begeesterde vlotbouery, is ’n ander tipe spangees – een wat dalk net ’n paar mense rustiger sal laat slaap. Iana is ’n ywerige spelertjie, en word nie maklik van stryk gebring nie: sy versamel vir Geo, Rob, Marna, en Tina om ’n alliance te vorm. In die derde episode voel hierdie move dalk ’n bietjie te vinnig, maar as ’n mens dink dat daar net 22 dae is en 13 episodes vir hierdie reeks, is dit dalk net die move wat die ander ook moet oorweeg. Die enigste ding met Iana se move is dat sy dit te hard speel – want elke liewe dingetjie word ontleed en sy wil besluite reeds nou al vasmaak. Ek sou ’n bietjie wag met daardie tipe van strategie-konsepte, want ‘vroeg ryp, vroeg vrot’ kan intree nog voor ’n mens dit besef.
Die watertoets van die eerste veilige vlot wat gebou is volgens die bloudrukplan is ’n sukses, en almal lyk of hulle baie verlig en bly is oor die produk wat ter water gelê word. Natuurlik is dit die getroude, getroue (?), bitsige Avril wat vir Geo vra om sy hemp uit te trek – seker om fees te begin vier oor haar harde werk en leiding. Dit lyk wel of dit vir Geo ’n lyding is, maar omdat ons ook reeds weet dat hy ’n giftig-gevaarlike speler is voer hy haar opdrag uit…
’n Tirade soos min
Ongelukkig is hierdie offerande nie genoeg vir haar nie, want wanneer Marna een van haar bitsige vrae nie korrek antwoord in die kombuis nie is dit die groep wat tydens middagete die toorn van Avril moet trotseer – teen wil en dank! Marna displeased die Regina (Italiaanse koningin) omdat sy durf waag het om te sê dat sy nie die volgende dag in die kombuis gaan werk nie. Dis nie asof die groep tussen 7 en 8 vlotte per dag moet vervaardig nie, nè?
Avril verander mid-way haar tirade in ’n damsel-in-distress soos wat sy tekere gaan oor mense wat dink hulle gaan hier wees tot die einde, en omdat niemand wil maak soos wat sy sê nie. Dit blyk uit haar epiese gevleuelde woorde dat sy voel almal moet alles kan doen – wat kosmaak insluit – en dat niemand te rustig moet raak in die rolle wat hulle tans vir hulself toegeken het nie. In her defense is sy reg – maar ek dink waar sy die pot mis sit, is dat sy glo niemand dink daaraan dat die speletjie in ’n oogwink kan verander nie. Klink vir my meer asof sy na haar eie raad moet luister, want iets sê vir my dat sy nie vir een oomblik daaraan dink dat haar sash and crown met die klap van ’n vinger van haar af weggeneem kan word nie…
Ek wonder of sy na die hele petalje by die huis sit en kyk na die episodes en vir haarself cringe? Of is sy regtig so oblivious dat sy nie eers kan agterkom dat sy haar naam krater gemaak het elke keer wat sy haar mond oopgemaak het nie?
Bouwer Bridges
Die ‘gepeupel’ raak gatvol
Avril se gewraakte en geniepsige woorde – al is dit bietjie royalist en realisties – sit nie goed met die groep onderdane nie. Meer as een is dit eens dat Avril hul werksetiek kritiseer, weeg en te lig bevind – en dit is net hier waar selfs die mees gehoorsaamste pion vinnig en skerp teen haar begin draai. Sam som dit so mooi op wanneer hy sê: “Avril se manier om mense te probeer inspire, is besig om te backfire!” En hy is nie alleen in hierdie opsomming nie: Larry, Marna, en Iana beaam dit luidkeels tydens die onderonsie, waar hulle as “obsternaat’ uitgekryt word. Wat vir ’n woord is “obsternaat”? Dit klink na ’n vieslike Anglisisme, een wat ek seker daarvan is ’n rooi pen in my opstelle op skool sou verdien het. Dis seker maar een of ander koninklike uitdrukking wat nie normaalweg deur plebs gebruik word nie…
Nonnie probeer die vrede te bewaar met ’n paar pêrels van wysheid – en ’n positive reframing van die situasie – maar Sam se moer is gekoer, en hy wil aan die werk spring. Avril laat haar onderdane verstaan dat hulle haar hof mag verdaag indien hulle klaar is met middagete. Terwyl almal weer aan die werk spring, is dit die Regina wat alleen sit en herkou aan haar eie woorde – terwyl die res van die gepeupel reeds hul messe skerp te maak vir die rewolusie wat nou vlam gevat het.
Wie de hel dink die vrou is sy? Is sy besig om dronk te raak op mag? Of verteer sy haarself op vernedering? Want dit is baie duidelik dat Avril nie ’n leier is nie – nie ’n goeie een in elk geval nie. Party mense reageer goed op ’n diktatorskap, maar ek is nie een van hulle nie. Indien ek op daardie verlate stukkie land was, sou daar baie vinnig ’n vermiste persoon gewees het – indien nie ’n verlate stukkie siel op ’n ver wegdrywende half-gemaakte vlot nie! Verwaandheid is een ding, maar om jouself op ’n troontjie te plaas (wat vlietend is) gegrond op ’n tydelike tipe titel, is dit ’n ander tipe onvleiende en unfashionable straightjacket wat vir jou moet wag aan die einde van jou heerskappy. ‘Let them eat cake’ kan baie vinnig verander na ‘let her vacate’!
Ontdekkingsreis of reality show?
Dit is nog nie die einde van die groot gesprekke nie. Teen die einde van die dag is dit Jamie wat haar hart ’n bietjie skoonmaak. Die bemarkingassistent wil baie graag haar horisonne verbreed tydens hierdie buitewêreldse ervaring. In ’n off-camera onderhoud vind ons uit dat Jamie voel sy het haar stem verloor tydens haar mislukte huwelik, en dat sy stadig maar seker weer uit haar dop kruip – and sister is feeling herself again!
Kyk, alles goed en wel: Jamie het seker die reg om haarself te toets tydens hierdie once in a lifetime event, en dit is ook seker goed om jou limits te toets en te beproef tydens ’n reality show. Niemand wil hierdie ervaring en karaktertoets van haar af wegneem nie, but come on! Ons het reeds ’n hele paar afvlerkvoëltjies wat iets wil bewys, en ander vermistes wat hulself weer wil vind tydens hierdie reis – sal die deelnemers slaag in hulle doel indien almal nou eers hulle persoonlike demone wil vanquish?
As ek dit nie mis het nie, is hierdie ’n reality show waar die doel is om ’n brug te bou om ’n jackpot van R1 miljoen – askies, R900 000! – op ’n eiland-vlot op ’n rivier te gaan haal. Indien deelnemers hul siele voed, en hul karakters ontdek, en nuwe aanlegte leer, tydens hierdie uitdaging is dit fantasties – maar hierdie is nie ’n selfverbeteringskamp of die een of ander find yourself journey nie.
Indien die doel is om jouself te verbeter deur uit jou gemaksone te kom, is ek seker dat die een of ander slimkop reality show-bouer iets omtrent dit kan doen – of daar is reeds bestaande avonturier- of kerkkampe om daardie jeukplek te bevredig. Dis absoluut fantasties dat sy bereid was om haar stem te verhef en haar hart te laat hoor, maar ek dink nie hierdie is die platform of speletjie – of TV-skerm! – om dit te doen nie.
Ses vlotte verder is daar ’n verrassing in die kombuis vir die deelnemers: ’n middelmatige boks vrugte! Dat ’n mens nou so liries kan raak oor vars vrugte, beteken dat hulle of baie hard werk, of regtig na hulle creature comforts tuis verlang. Dit laat ’n mens ook dink aan hoeveel ’n mens voor dankbaar moet wees, en dat dit ook die klein dingetjies in die lewe is wat vreugde verskaf. Dit is ook natuurlik ’n manier om ’n groep mense te beheer…
Geo speel slim
Saam met die soet, kom die suur, want Iana scheme net die hele tyd met vrae en stemprosedures, en allerlei ander aandag-afleibare strategieë. Alhoewel ek verstaan wat sy probeer doen, is ek van mening dat dit net moeilikheid soek is en dat ’n target in hoë definisie op haar rug geverf word, sonder dat sy dit besef.
Later is dit Geo wat aan Robert erken dat hy nie twee keer sou dink om van haar ontslae te raak indien dit ’n goeie skuif is vir sy eie spel nie. Geo het ook vroeër ruiterlik aan Iana erken dat sy solank die leiding kan neem, en dat hulle haar hand versterk… Dat Iana nie kan sien dat Geo haar reeds begin voorberei vir die een of ander offer nie, slaan my effe dronk. Is sy so goedgelowig dat sy nie reg deur Geo se plannetjie kan sien nie? Komende van ’n baie strategiese speler, is dit glad nie ’n slegte idee nie. Tussen Avril en Iana is daar nou genoeg aandag om te verdeel – en om te verseker dat dit nie op hom val nie.
Dis baie duidelik dat hierdie groepie se onderstromings glad nie aandag trek nie, want Avril en Jamie is geensins bewus van enigiets wat ’n bedreiging kan inhou nie. Dit kan wees dat Avril net te veel hooi op haar leierskapvurkie het, en dat Jamie so hard besig is om haar karakter te toets – nie te praat van haar horisonne te verken nie – dat die spel en die spelery heeltemal lost op hulle is.
Die een persoon wat ek vir so lank as moontlik op die program sou wou hou, is Nonnie: sy is die hardwerkendste individu, en sy maak nie ’n issue van enigiets wat sy aanpak nie. In haar eie woorde is sy ’n werkdonkie, en sy is duidelik nie bang vir harde werk nie. Ek like haar, want ek dink daar steek meer in haar as wat sy te kenne wil gee. Wie weet, dalk is sy een van daardie Survivor-deelnemers wat onder die radar vlieg, tot dit te laat is – en dan die kroon en septer wegraap voor iemand kan besef dat sy ’n bedreiging is!
Grootprater Avril
Dit is nogal ironies om te sien hoe Avril die spel ervaar, want volgens haar is sy completely en independently in charge. Sy vertel op ’n stadium dat sy as ’n leier altyd die voortou neem, en vir mense wys hoe dinge gedoen moet word – en dat die res dan haar voorbeeld volg om die taak op hande te voltooi. Ironies genoeg was sy die een wat luilekker op die stoep gesit het en langtand haar middagete klaar gemaak het, rustig en op haar tyd, toe die res van die span net ná middagete – kort ná haar tirade – ingespring het om weer te begin met die maak van die vlotte.
Ek wonder of sy na die hele petalje by die huis sit en kyk na die episodes en vir haarself cringe? Of is sy regtig so oblivious dat sy nie eers kan agterkom dat sy haar naam krater gemaak het elke keer wat sy haar mond oopgemaak het nie?
Ek wou haar ’n bietjie jammer kry na sy gaan sit en tjank het in die hoenderhok nadat sy moes gehoor het hoe Sam haar werk gekritiseer het. Maar ongelukkig het my hart teenoor haar verhard die oomblik toe sy die ‘Feëtjieland’-toespraak gelewer het. Haar houding staan my glad nie aan nie, en haar minagting van die span gee my ’n lelike knop op my maag. Sy moet maar sit en huil, want ek het ’n idee – nee, eintilk ’n wens – dat haar dae getel is… En indien dit nog nie duidelik is nie: ek en Avril sal beslis nie om dieselfde vuur sit nie – en dit wil vir my voorkom dat die meeste van die ander deelnemers ook na dese so sou voel.
‘Pyn of plesier’
Die episode sluit af op ’n cliffhanger wat my die dae laat aftel na die volgende episode. ’n Nuwe karakter word aan die gehoor voorgestel: ’n bebaarde man met klein kraalogies wat ’n jagmes vashou op ’n manier wat my ’n rilling teen my ruggraat af laat voel. Sy naam is Jacques, maar dit is sy woorde wat my vinnig yskoud laat: “Vertroue is ’n verskriklike moeilike konsep. Jy moet oplettend wees, jy moet iemand wat besig is om iets te beplan, kan raaksien voor hulle enige iets kan uitvoer. Daar is net twee goed wat mense werklik kan motiveer in die lewe: pyn of plesier.”
Met net 16 dae oor, en nog net 11 voltooide vlotte, raak hierdie minder van ’n sprokieswêreld, en baie meer van ’n lewende nagmerrie. Wie is Jacques, en wat gaan hy in die reeks doen? En wanneer word Avril se storie fluit-fluit kortgeknip?
Die brug saai Donderdagaande uit om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar. Ons resensent, Bouwer Bridges, se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.