Menu terloops
In Recaps & Resensies [2 Nov 2023]

‘Die brug’: Hout ‘floats’?


‘Die brug’ maak hierdie week die onbekende speletjie net soveel moeiliker vir die deelnemers wanneer hulle te staan kom teen rateltaai keuses wat die res van die spel gaan beïnvloed – en Avril se leierskap word sterk in twyfel getrek!

Deur Bouwer Bridges

Stroom aanlyn

‘Die brug’: Hout ‘floats’?
Kyk lokprent

Verlede week het Die brug se spelers gesukkel om hul eerste prototipe-vlot in die water te kry. Hulle is nog besig om idees ter tafel te lê, en hulle word bewus gemaak van die feit dat tyd nie aan hulle kant is nie. Gaan hulle spanwerk onder leierskap van Avril die deurslaggewende faktor wees? Of is een van die twee elemente juis die vlieg in die salf?

X marks the spot! 

Terwyl almal aan die gang spring om die dag se kwota vlotte te vervaardig, is dit avonturier Iana wie se valkogies ’n nuwe teken op die kaart in die kombuis ontdek. En dit nogal in rooi. Niemand weet waarvoor dit staan nie, maar Iana dink dit is belangrik genoeg dat hulle kosbare tyd daaraan moet afstaan om hierdie “leidraad” verder te ondersoek. Almal is oortuig daarvan dat hierdie die plek sal wees waar hulle floating devices sal opspoor om hul vlotte te laat dryf. Iana besluit om vir Geo en Sam met haar te neem. Vrou-alleen wil sy nie terugkeer met moontlike slegte nuus nie. 

Terwyl die driemanskap die kanoes neem om die onbekende waters en terrein te verken, besluit Jamie, Avril, en Nonnie om dieselfde te doen – maar voetstoots in die ander rigting. Nodeloos om te sê, kom hierdie trio terug met leë hande. Dít terwyl Iana se soekgeselskap terugkeer met “wit goud”. Hulle vind die plastiekkanne wat hulle een stappie nader bring aan Die Eiland. Om die kanne aan wal te kry by die Houthuis is nie ’n maklike taak nie, en hulle moet diep delf om die energie in te span. Die drie redelike sportiewe individue moet eers ’n koppie amper uitklim om die kanne te kan sien. Dan daarna moet hulle twee ure roei om die kanne (wat vasgestring is aan mekaar en saam ook ’n groot gewig in die water vorm) terug te neem kamp toe – terwyl die afstand maar 800m is.

Die brug episode 2
En daar vind hulle toe die kanne! Foto: Skermgreep
Die brug episode 2
Dit het hulle omtrent twee ure geneem om net sowat 800m met die kanne te roei. Foto: Skermgreep

Avril se besluit!

Hierdie nuwe hulpbron dra die moraal van die span grotendeels deur die res van die dag. Maar net ná aandete is dit tyd vir Queen Bitch Avril om een van haar onderdane huis toe te stuur. So, wie het Avril gekies? Is dit die swakkeling, Marna (wat sy reeds in die vorige episode uitgesonder het)? Of is dit die sterkste opponent, Arnold? Avril stuur vir Arnold huis toe – en haar keuse is beslis nie gewild nie. 

Die brug episode 2
Dis toe Arnold wat sy rugsakkie moes pak om terug huis toe te gaan. Foto: Skermgreep

Avril voer aan dat Arnold haar leierskap ondermyn om elke hoek en draai. Sy maak almal deeglik bewus van die feit dat sy net mooi niks daarvan hou nie. Sy vertel ook dat sy nie dink Arnold is iemand wat vertrou kan word nie. Dít verras nogal baie van die spanlede. Avril se besluit mag dalk strategies lyk omdat sy die persoon uitstem wat vir haar die grootste bedreiging inhou, maar uiteindelik blyk dit eerder bloot uit pettiness. Haar rede vir Arnold se trekpas dra nie water nie. Tog bly sy dit indril by die res dat sy baie gemaklik met haar keuse is.  Avril stuur duidelik ’n boodskap aan die res dat niemand haar leierskap moet bevraagteken – of onderskat nie. 

Avril besluit om vir Arnold die trekpas te gee, maar haar redes maak nie sin vir die ander spanlede nie. Foto: Skermgreep

Persoonlik dink ek Avril sit die pot mis. So vroeg in die spel is dit nie ’n goeie ding om een van jou sterkste mans uit te stem nie. Veral ook nie in die lig gesien dat Arnold ’n industriële ontwerper is nie. Arnold het ook nooit, in dit wat ek kon sien, Avril teengegaan nie. Hy het maar altyd net ’n ander kant van die saak gestel. Indien dít rede is vir ’n trekpas, sou ek seker nooit die eerste dag gemaak het (onder Avril se toegewyde leiding) nie. 

Dit is veral Sam, Larry, Tina, Iana, en William wat nie met Avril se besluit saamstem nie. Nonnie probeer benadruk hoe moeilik die besluit vir Avril moes gewees het, al pik sy self ’n traan. Nonnie lyk soos iemand wat graag die vrede wil bewaar, maar daar is ook ’n bietjie van ’n onderlangse gatkruip te bespeur. Probeer Nonnie haar bas red deur Avril se besluit goed te keur? Of is die inwoner van Blommeland maar net ’n goedgelowige wat nie enige teenkanting wil aanhits nie? 

’n Mens vergeet maklik dat die spanlede baie opgee om aan hierdie reeks deel te neem. Jamie se oudste dogtertjie verjaar – en sy is nie daar om die dag spesiaal te maak vir haar nie. Die arme vrou! Maar sy is nie die enigste ma se hart wat swaar trek hier aan die begin van die avontuur nie. Tina het ook in die vorige episode te kenne gegee dat sy drie kinders by die huis agtergelaat het om haar avontuurlustige passie te volg. Dit maak dit net nog meer hartseer as ’n mens besef dat nie almal wat in episode twee teenwoordig is tot heel aan die einde gaan bly nie. Nog nie eers te praat van die kans om gekies te word om oor die brug te stap na die miljoen wat op Die Eiland wag nie. 

Iana is een van die spelers wat Avril se besluit bevraagteken het. Foto: Skermgreep

Swaardra al aan die een kant

Die span het slegs agt ure per dag om hul kwota vlotta te vervaardig. Die begin- en eindtye word aangekondig met ’n sirene wat die fakkelskote kompetisie gee. Daar word baie hard gewerk deur almal – al stem nie almal saam nie! – en al is die vlotte wat op hierdie stadium gemaak word nog net idees wat saamgegooi is. Wanneer hulle die eerste van die nuwe vlotte – met die floating devices – in die water loods, is die goeie nuus dat die vlot eindelik dryf.

Die slegte nuus is dat dit nie almal se gewig gaan kan dra in die water nie. Die kanse vir omkantel is groter as die kans op standvastigheid. Dit wil voorkom dat die enigste manier hoe ’n mens die huidige vlotte sou kon gebruik, is om hande-viervoet te moet loop… En daar is maar ’n handjievol wat dit met sukses sou kon behartig. Die veiligheid van die vlotte (wat die brug gaan vorm) begin ook ’n kollektiewe bekommernis vir die groep te raak.

Spanwerk kom ook ter sprake. Nonnie verduidelik die komplikasies met die werk so mooi wanneer sy vertel dat almal hulle eie idees het – en dat dit nie altyd strook met die res nie. Hulle het nog nie ’n vloei van idees nie, en almal probeer nog op hul eie manier hul visie vir die vlotte verwesenlik. 

Avril is die enigste een wat dwarstrek oor die nuwe vlot. Sy voel die vlot werk, en dat hulle moet voortgaan om hierdie prototipe te maak. Weereens stem nie almal saam met haar nie. Hulle is egter te bang om hulle sê te sê – net ingeval Avril die teenkanters dalk mag brandmark om volgende huis toe gestuur te word. Nie dat enigiemand weet of die trekpas-besluit by haar gaan lê nie.

Avril se voortdurende negatiwiteit met betrekking tot die werk wat die span doen (dis of nooit genoeg nie, of nie vinnig genoeg nie, of nie “saam” genoeg nie) begin ook nou die moraal van die span te beïnvloed. Dit begin die span nie net te irriteer nie, maar ontmoedig hulle ook. Avril voel ook dat die spanlede nie op hierdie huidige stadium met enige nuwe idees vorendag moet kom nie. Sy steek beslis ’n stokkie vir vooruitgang.  

Lagtyd!

Wanneer ’n fakkel afgevuur word om almal bewus te maak van die feit dat daar ’n melkkan-boodskap is, is dit Larry en Nonnie wat besluit om hul kanoe-vaardighede uit te toets. Dit het natuurlik skreeusnaakse gevolge wanneer die twee dit maak tot by die vlot en die melkkan, maar met groot moeite weer terugkeer na die wal. Hulle is nie uitermatig behendig nie, en dit wil voorkom of hulle rigting-bedonnerd is op die beste van dae. Hulle gaan maak ’n effense detour amper aan die anderkant van Die Eiland. Dis natuurlik tot groot vermaak van die skare op die wal. Nonnie en Larry mag dalk ’n onpaar paartjie wees, maar hulle gee almal ’n welverdiende blaaskans van die swaarmoedigheid van die dag. 

Nuwe opdrag

Die melkkan lewer darem nie net slegte nuus op nie – daar is ook ’n tikkie hoop vir die span. Die belangrikste boodskap van die dag is dat hul vlot-idee nie veilig is nie. Hulle móét ’n ander plan bedink. Maar hierdie keer hoef hulle nie alleen te sit en dink oor waar hulle hulp vandaan gaan kom nie. Die boodskap lui dat hulle twee spanlede moet afstaan om die regte tipe hulp te ontvang, in die vorm van nuttige toerusting. 

Die opdrag is eenvoudig. Die span moet een spanlid kies om ’n opdrag uit te voer wat die verkose spanlid weg van die Houthuis gaan neem. Dit is ’n oornag-uitstappie, en die span kies sonder skroom vir Geo om die uittog te lei. Geo wil eers hoor of daar nie ander kandidate vir die ontdekkingstog is nie. Almal is dit egter eens dat Geo die man for the job is! Geo moet weer op sy beurt een van die spanlede kies om saam met hom die uitstappie mee te maak. 

Geo is een van die meer strategiese spelers. Foto: Skermgreep

Geo kies dan vir Robert – vir drie eenvoudige redes. Die grootste rede is dat die hulp wat hulle gaan ontvang een of ander tipe toerusting gaan wees. Aangesien hulle nie weet watse tipe toerusting dit gaan wees nie, het Geo ’n ander sterk man nodig om hom te help. Geo dink ook dat hy en Robert baie goed oor die weg kom. Hulle het min of meer dieselfde waardes en lewensuitkyke. Die laaste rede is ’n bietjie meer geheimsinnig. Iana het reeds met Robert gepraat oor die vorming van ’n alliansie – en sy wil vir Geo ook deel maak daarvan.

Hierdie is dus die perfekte geleentheid vir Geo en Robert om te praat, weg van almal se ore en speurende oë. Geo het ook reeds ’n vermoede gehad dat hulle een of ander keuse sou moes uitoefen op hierdie ekspedisie. Hy meen dat hy vir Robert sou kon kry om saam met hom te stem oor die “beste” keuse vir die “span”. 

Geo is van die begin af een van die meer strategiese spelers. Hy dink oor elke keuse wat hy uitoefen, en maak seker dat hy nie vir homself ’n teiken op die rug besorg nie. Geo het ook reeds in die eerste episode gesê dat hy nie die titel van leier nodig het om ’n leier te wees nie – en dat daar verskillende maniere is om leiding uit te oefen. 

Vertroue is op almal se lippe

Dit raak gou duideilk dat die hele span vir Geo vertrou. Nie net dat hy die beste keuse vir die span sou maak nie, maar ook dat hy sal terugkeer na die Houthuis met goeie nuus! Geo verduidelik ook dat hy vir Robert vertrou. Dít terwyl Robert erken dat hy nie aan die begin gedink het dat hy en Geo oor die weg sou kom nie. 

Wanneer die twee mans by die oornag-rivierhut aanland, is daar ’n brief vir hulle op die deur. Hierdie opdrag is nie so maklik soos wat hulle gedink het nie: hulle moet weliswaar ’n keuse uitoefen. Hulle kan of 1 500 spykers en twee nuwe hammers saam met hulle terug neem na die span toe, of hulle kan splinternuwe sae en ’n bloudruk-plan vir verbeterde en veiliger vlotte saam met hulle neem… Maar daar is ’n prys wat hulle sal moet betaal.

En wat is die prys wat hulle moet betaal? Hulle moet ’n R100 000 van die totale R1 miljoen prysgeld steel en dan dié ‘diefstal’ van die ander wegsteek. Indien enige lid van die span by die Houthuis van die geld uitvind, sal hulle die los gelukkie verloor. 

Dit is vir my ’n baie maklike keuse om te maak. ‘n Bloudruk-plan wat hulle verder sal neem in die kompetisie (en in die rigting van R1 miljoen) is tog nie te versmaai nie! Die enigste boetedoening in hierdie verband is hul eie gewetes, en die feit dat hulle inderdaad van die span ‘steel’. Kykers sal ongelukkig moet wag tot volgende week se episode om te sien wat hierdie twee besluit het. 

Wat gaan Geo en Rob besluit om te doen? Ons vind eers in die volgende episode uit! Foto: Skermgreep

(Effense) identiteitskrisis

Terwyl daar met groot vraagstukke gestoei word in die tweede episode, is daar nog ’n belangrike een wat aandag moet geniet. Verlede week was die opwinding van die begin van die reeks te groot, en het ’n mens nie aandag gegee aan al die ander fyner tegniese besonderhede van die reeks self nie. Die fotografie op hierdie reeks is beeldskoon. Daar is letterlik honderde prentjies wat die mooiste versamelaars koffietafelboek sou kon maak. Maar ai, kon hulle nie maar meer close-ups met die deelnemers gedoen het vir hulle off-screen-onderhoude nie? Elkeen van die deelnemers het die mooiste persoonlike verhale wat hulle deel. Close-ups sou ’n mens net meer intiem met elkeen van hulle laat voel het. 

Die identiteitskrisis van die reeks is ook in hierdie episode baie duideliker. Ja, dit is lekker om ons eie stukkie Hollywood te hê om die verteller van die reeks te wees. Neil Sandilands doen ’n uitstekende job, maar die teks is hier en daar heeltemal oorskryf. Dit laat ’n mens wonder of hierdie reeks weet dit is ’n realiteitsprogram (seker meer van ’n realiteits-speletjie!) en nie ’n film du noir, ’n drama-reeks (in die styl van Donkerbos), of ’n uitgerekte 50/50 spesiale episode nie. Ek het niks teen ’n narratief wat bitterlik mooi geskryf is nie. Wanneer dit die drama van die spel effens oorskadu, raak dit egter ’n probleem. 


Die brug saai Donderdagaande uit om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar. Ons resensent, Bouwer Bridges, se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om kortfilms en dokkies die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies