Menu terloops
In Recaps & Resensies [26 Okt 2023]

‘Die brug’: Resep vir ’n (leierskap)ramp?


‘Die brug’, die splinternuwe kykNET-realiteitsreeks wat pas begin uitsaai het, is alles behalwe boring! Die uitdaging is uniek – want wie sou ooit kon dink dat spanwerk in die natuur so vinnig sou hoogmode raak?

Deur Bouwer Bridges

Stroom nou aanlyn

‘Die brug’: Resep vir ’n (leierskap)ramp?
Kyk lokprent

Neem 12 wildvreemde spelers (wat mekaar van geen Adam af ken nie) en plaas hulle in ’n baie afgeleë gebied wat oor ’n watermassa beskik: of dit nou ’n dam, rivier, of vlei is. Verskaf net genoeg boumateriaal om hulle veilig te laat voel, en maak seker dat die boutoerusting nie die beste van die beste is nie. Nog beter: maak dit oud en amper verby hul tyd. Maak seker dat die spelers baie uiteenlopende agtergronde het: eerste prys is afvlerkvoëltjies wat iets het om te bewys. Vra hulle om in 22 dae ’n brug van 250m, vanaf die oewer na ’n platform-vlot (wat Die Eiland genoem word) in die middel van die watermassa, te bou. Een deelnemer sal dan aan die einde van die bouery die kans kry om oor die brug te stap en die prysgeld van R1 miljoen in harde kontant te gaan haal. 

Die brug

Klink maklik, nè? O, wag, dit is ’n realiteitsreeks – so dit kan beslis nie so maklik wees nie. Wat sal die armchair psychologists, conspiracy theorists, hoogheilige keyboard warriors, en skaamtelose plesierjagters dan nou hê om oor te skinder, skryf en lees as die episode sy gat gesien het? En hoekom sal ’n kykgenot-kanaal nou ’n vaal dis voorsit as dit reeds wenresepte soos Boer soek ’n vrou, Kokkedoor en Op my Eish! vir sy honger kykers bedien het? Die brug gaan beslis opinie uitlok – en nog baie meer! – wanneer die reeks se spelers eers sitkamervriende geword het. 

Die span spelers moet saamwerk om die brug te bou, maar gaan op die ou einde slegs een van hul eie spanmaats moet kies om oor die brug te stap om die prysgeld-kissie te gaan haal op Die Eiland. Die kinkel? Daadie speler sal moet kies of hulle teruggaan om die jackpot met die res te deel, en of hulle daardie einste skip wat ingekom het, gaan gebruik om te ontsnap… Sonder om ’n enkele ZAR te deel. Daar is dus ’n miljoen redes om ’n vark in die verhaal te word – en heelwat minder redes om ’n held te word!

Die brug
Die skat! Foto: Skermgreep

Hier is elemente van ander realiteitsreekse teenwoordig. Vreemdelinge op ’n afgeleë plek kom van Survivor, Shipwrecked, Naked and Afraid, Love Island, Love or Money, en talle ander realiteitsreekse. Maar waar die onus gewoonlik op ’n stadium, lank voor die einde, begin val op ’n individu se eie belange, blyk dit dat hierdie resep meer vra vir ’n spangees en samehorigheid om die groot doel te bereik. Veral hier met die eerste episode voel dit so bietjie soos ’n hybrid-reeks juis omdat dit elemente van vele ander neem – maar hopelik daarop verbeter – terwyl dit ook ’n unieke spandoel het wat gekelder kan word deur ’n individu se definisie van integriteit en belange. 

Vark, vreemdeling, of vriend?

Ontmoet dan nou die hoofkarakters van dié reeks: 

  • Robert is 34 jaar oud, en ’n afgetrede rugbyspeler. Sag op die oog, maar met ’n lyf wat gebou is om te hou. Ontipies het hy nie ’n probleem om die trane te laat role en sy emosies ten toon te stel nie.
  • Arnold is 43 jaar oud, en ’n industriële ontwerper. Dié lang man lyk asof hy ’n kop vol planne kan hê, maar ek vermoed sy krag lê in sy stil en stemmige persoonlikheid.
  • Marna is 53 jaar jonk, en ’n geleentheidsbeplanner. Marna het ’n storie wat ek wil hoor, want dit klink asof haar lewe regtig eers op 50 begin het. 
  • William is ’n duiker, en 32 jaar oud. Daar is ’n ondeundheid om te bespeur, maar ek sal wag om te hoor waar sy stoute smile vandaan kom. 
  • Tina is ’n 45 jarige weduwee met drie kinders, en ’n ekwiteitsverkoper. Geen idee wat sy werklik doen vir ’n lewe nie, maar om jou man op 39 te verloor klink na ’n hele Survivor-episode op sy eie. 
  • Nonnie is 55 jaar oud en ’n padstal-eienaar. Nonnie lyk vir my asof sy die real-life kind kon wees van Liewe Heksie en Blommie die Kabouter – en ek wil haar onmiddellik net in ’n veld loslaat om reënboë te jag. 
  • Jamie is ’n 38-jarige bemarkingsassistent, en iets sê vir my hierdie reeks gaan vir haar ’n persoonlike uitdaging wees – maar een waarvoor sy kans sien. 
  • Iana is ’n 24 en letterlik ’n avonturier. Ek is nie seker wat ’n avonturier nou regtig doen om aan die lewe te bly in die gewone rand-en-sent ratrace waarin ons onsself bevind nie. Maar okay, duidelik iemand wat in haar element gaan wees met hierdie reeks. 
  • Larry is ’n 57-jarige korporatiewe afrigter – en as ek geweet het wat dit was, sou ek beïndruk gewees het. Ek weet dit het niks met sport uit te waai nie, maar ek dink die man mag dalk net ’n bok vir sports-skadukant hê wat ons dalk later sal ontdek. 
  • Avril is ’n 39-jarige modelagentskap-eienaar en TikTok-influencer met ’n Italiaanse man. 
  • Sam is ’n 32-jarige joga-instrukteur met lang hare wat die tannies by die huis se tonge gaan laat wapper – veral ook dan nou wanneer hulle uitvind hy is gay. Kan nie wag vir daardie lieflike kommentare op Facebook nie. 
  • Geo is ’n 35-jarige welvaartsbestuurder en is duidelik ’n gefokusde man. En ’n bitter mooi man daarby. 
Die brug
Robert is nie bang vir ’n traan nie. Ons hou daarvan. Foto: Skermgreep

Dis ’n mooi spannetjie: verskillende ouderdomme, verskillende lewensfases, verskillende filosifieë, lewensdrome, en lewensuitkyke. ’n Lekker kardoes van kleure, geure, en maniertjies om te entertain, verlief op te raak, of om net te haat. Hul motivering om deel te neem aan die program verskil ook seker in publiek, maar privately is ek van mening dat hulle almal een doel het: daardie hard cash in die metaalblik op Die Eiland. Ek dink dit is vreemd om daardie aanname te maak nie, want wie gaan nou deelneem aan ’n realiteitsreeks net vir die fun daarvan? 

Kom ons wees vir ’n slag eerlik met mekaar: money makes the world go round, en wanneer daar ’n miljoen redes is wat jou lewe makliker of gemakliker kan maak, dink ek nie ’n mens moet skaam wees om te erken dat dit is waarvoor jy bereid is om jouself af te sloof en af te sonder nie. Hierdie reeks lyk na alles behalwe fun in the sun

Die eerste taak

Almal behalwe Geo en Tina ontmoet mekaar op die oewer voor die houthuis wat hulle hul woning gaan maak vir die volgende 22 dae. Terwyl daar gegroet en voorgestel word, ontmoet Geo en Tina mekaar op die halfweg-vlot, 125m van die oewer af. Die vlotbesoekers kry ’n fakkel-geweer waarmee hulle die oewer-staners se aandag mee moet trek. Wanneer die fakkel afgevuur word, en die oewer-staners die viotbesoekers sien, word daar inderhaas ’n span afgevaardig om hulle met kanoes te gaan haal. Saam met Tina en Geo is daar ook ’n melkkan wat van die vlot af gebring word, en so leer ons dan hoe daar met die deelnemers gekommunikeer word – want daar is geen aanbieder van die reeks nie. 

Die melkkan verduidelik dan vir die deelnemers wat hulle oorhoofse uitdaging van die reeks is: hulle moet Die Eiland bereik sonder om soontoe te swem of te roei. Die deelnemers verken dan die leefarea, kombuis, koue water buitelug-stort, en buitehuis-badkamers – en begin onder mekaar te wonder hoe hulle die taak sal kan verrig sonder om te kan swem of roei. 

Welkom in jul nuwe beskawing, skree die ruigtes – maar die verwelkoming eggo nie so hard deur die tribe soos jeugdige Marna se besluit om geslagte toe te ken aan die badkamers nie. Sam is veral nie gelukkig oor die situasie nie, maar neem die wyse besluit to let sleeping dogs lay. Ek dink geslagsbadkamers is die minste van die deelnemers se probleme – en soos wat my pa altyd sê: choose your battles carefully

Dit is wel interessant om op te let hoe hierdie spannetjie van 12 nogal erg op geslag fokus: dit slaan deur in waar hulle slaap, en die uitdeel van take. Blykbaar het die badkmer-indeling ook meer te doen met higiëne – en wie nou eintlik wat en waar moet skoonmaak, as enige ander geheime agenda.  

Die tweede taak

Die brug
Die omgewing is mooi, maar die spelers se taak is minder so… Foto: Skermgreep

Kort voor ete skrik almal hulself boeglam wanneer daar nog ’n fakkel afgaan – en hulle besef daar is weer ’n melkkan wat gehaal moet word. Die probleem is dat die kanoes nou nie meer aan wal is nie, en kan bespeur word by die halfwegvlot. Geo word nie twee keer genooi nie, en laat die klere waai om te swem tot by die vlot; Robert is kort op sy hakke. 

Terug op wal word die melkkan oopgesluit en die eerste groot taak word bekend gemaak: die groepie moet ’n leier kies. Hulle moet iemand kies wat hulle sal kan motiveer om die take op hande uit te voer om by die prysgeld uit te kom. Maklik? Dink weer. Hoe kies jy iemand om jou te lei as jy die mense nog nie eers dag lank ken nie? 

Die plan waarmee die groep vorendag kom, is dat almal wat graag baas van die plaas wil wees hulself moet identifiseer, en dan moet motiveer waarom hulle die posisie wil bekleë. Sam, Avril, en Larry verf elkeen ’n teiken op hul rûe deur op te staan en hul sê te sê. Avril word verkies, en die groep sug van verligting nou dat die moeilike taak van die dag afgehandel is. 

Dit is opvallend dat nie Robert, Geo of Arnold hulself benoem het nie – en in ’n off-screen onderhoud vertel Geo dat hy nie nog meer aandag op homself wou vestig ná hy geswem het om die melkkan en kanoe te gaan haal nie. Dit is baie duidelik dat Geo reeds Survivor-strategie na hierdie speletjie toe gebring het. 

Maar saam met die verantwoordelikheid van leier kom daar ook ’n briefie wat Avril dan nou ook hardop lees voor die span. Haar eerste belangrike taak op hande is om iemand te identifiseer in die volgende 24 uur wat sy wil uitstem. Avril is sommer tranerig oor die vooruitsig, want sy mag niemand raadpleeg nie – sy is dus alleen verantwoordelik daarvoor om iemand se skattejagdroom te beëindig! 

Totsiens, Avril! Hello, Queen Bitch! 

Avril gaan slaap soos ’n engel met ’n gebed in haar hart, maar die volgende oggend is dit duidelik dat haar masker afgeval het iewers tussen droomland en die harde werklikheid van die oggend. Die cutesy Avril van die vorige dag het haar tasse gepak en gevlug, want Avril 2.0 is ’n Trump-wannabe wat enige ander dictator op die neus sal laat kyk. 

Die brug
Grawe Avril haar eie gat? Baie beslis. Foto: Skermgreep

Ek hou onmiddellik nie van Avril nie, want sy is beslis dronk op power. Die manier waarop sy praat met die res, en die manier waarop sy take uitdeel asof sy totaal en al in beheer is van die speletjie/wedstryd/reeks krap my so om dat ek amper nie woorde het om haar mee te beskryf nie. Terwyl ek dan nou ook nie wil sê presies wat ek dink nie, want ek wil nie gedagvaar word vir naamskending nie, is dit tog duidelik dat sy hierdie geleentheid gebruik om nie net haarself te bewys nie – maar om ook seker dan nou mense in haar verlede verkeerd te bewys oor wie en wat sy werklik is.

Ongelukkig werk daardie tipe van storielyne net in Amerikaanse sepies, en hoort dit nie op ’n realiteitsreeks nie – maar Avril sal dit besils nou eers uitvind, indien sy dit ooit raaksien, terwyl sy na haar optrede gedurende die reeks kyk. 

Avril het deur die loop van die nag, tydens haar afskuweilke transformasie, ook reeds besluit wie die twee is wat sy die meeste gaan dophou: Marna en Arnold. Marna is in haar visier omdat sy volgens Avril die swakste speler is, en Arnold omdat hy die sterkste speler is – maar ek dink dit gaan meer daaroor dat hy dalk die grootste bedreiging vir haar inhou. 

Ek hou onmiddellik nie van Avril nie, want sy is beslis dronk op power. Die manier waarop sy praat met die res, en die manier waarop sy take uitdeel asof sy totaal en al in beheer is van die speletjie/wedstryd/reeks krap my so om dat ek amper nie woorde het om haar mee te beskryf nie.

Bouwer Bridges

Die res van die spelers probeer om nie klei te trap terwyl hulle hul beste voetjie voorsit nie, maar onderlangs brom almal maar oor wat die kanse is dat sy hulle wel gaan uitstem wanneer die son later begin sak. 

Die derde taak

Gedurende ontbyt word hulle herinner dat hulle nie hier is om vakansie te hou nie: nog ’n fakkel sien die lug. Iana wil gou vir almal bewys dat sy wel kanoe kan ry (nadat sy die vorige dag met haar aankoms amper haarself uit die reeks gehaal het) en spaander om die melkkan te gaan haal. Avril is van mening dat Iana nie genoeg in haarself glo nie, en dat sy graag vir Iana wil bemagtig om haar vrou te staan. Ek is nou nie seker wie sy ontmoet het gister nie, maar die Iana wat ek gesien het, het beslis nie ’n eks-modepop se tutoring nodig nie. 

Iana bevry die boodskap uit die melkkan, en die deelnemers se brandende vrae van die vorige aand word beantwoord: hulle gaan nie roei of swem na Die Eiland nie, maar hulle gaan loop. Na vele vraende oë word die nuus dan gebreek dat hulle 125 vlotte sal moet maak om die afstand tussen die oewer en Die Eiland te kan oorsteek. Wiliam is die enigste een wat later vertel dat hy al op so tipe van projek gewerk het – en het dus soort van ’n idee het van wat van hulle verwag word. Die nuus word ook gebreek oor die een persoon wat sal moet oorloop… En onmiddellik begin vertroue ’n onderwerp van interne en eksterne bespreking raak. 

Vele hande maak ligte werk?

Avril se diktatorskap kom sterk na vore wanneer sy vurig charge begin neem en begin orders blaf. Sy wil alles gedoen hê soos wat sy dit gedoen wil hê. Dit is baie duidelik dat sy nie ’n goeie tipe leier is nie, want sy wil net die sweep klap en stel nie regtig belang om te luister na dit wat die ander te sê het nie. Spanwerk lei onder haar leierskap, terwyl haar leierskap so onvanpas is soos ’n tweedehandse matriekafskeid-rok van 1953 op die loopplank van ’n modehuis in Parys, Frankryk in 2023.

Die brug
En dié swaar dra is maar net die begin… Foto: Skermgreep

Die een helfte gaan na die woud om te kyk vir planke en stompe, terwyl die ander helfte begin kyk na die bou-toerusting wat tot hul beskikking is. Daar moet ook met konsepte vorendag gekom word om te kan bepaal wat presies hulle sal moet bou om by Die Eiland uit te kom. Al wat die deelnemers weet, is hoe groot die vlotte moet wees – en dat daar 125 van hulle moet wees. 

Ná ’n lang dag van swoeg en sweet is daar uiteindelik ’n prototipe wat die span op die water kan gooi – maar ongelukkig is dit ’n verskriklike groot flop. Dit float net so goed soos ’n yster-albaster, en dit koer Avril se moer dat die hele dag se harde werk ’n anker opgelewer het wat hulle geensins iets in die sak gebring het nie. 

Die brug
Helaas… dié vlot-prototipe het nie veel sukses gehad nie. Foto: Skermgreep

Haar skellende negatiwiteit en vloekende misnoeë word deur almal verduur, maar in stilte veroordeel. Sonder dat Queen A dit eers besef, verloor sy meeste van haar onderdane – en sonder onderdane sal sy self haar hande moet vuilmaak om iewers uit te kom. Die enigste rede hoekom niemand haar swetsende verwyte challenge nie, is omdat almal weet sy maak haar guillotine gereed vir iemand se kop…

Met die eerste dag se swoeg-en-sweet wat op niks uitgeloop het nie, loop die gemoedere hoog (maar in stilte) – en almal staal hulself om te hoor wie Queen A se wraak op die hals gaan haal. 

Ongelukkig moet ons nou weer wag tot volgende week om uit te vind wie daardie persoon is, want Neil Sandilands (die bekende stem agter die verteller van die reeks) kondig aan dat daar nog net 19 dae oor is – en nog geen meters is gevoeg by die brug nie. 


Die brug saai Donderdagaande uit om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar. Ons resensent, Bouwer Bridges, se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer
Sien alle opsies