Hoeveel red herrings lê daar nog in Die brug voor vir reailteitsreeksverslaafdes? En hoeveel kinkels kan hierdie reeks inhou? Net sodra ’n mens dink jy weet wat gaan gebeur, en net sodra ’n mens wil berus in die selfvertroue dat die reeks voorspelbaar is, gebeur die onvoorspelbare!
Ná verlede week se opskuddings (Rob en Geo wat R100 000 van die prysgeld gesteel het, en Avril se feëtjieland-toespraak) is kykers op die punte van hul stoele gelaat met Jacques se aankoms by sy oornag-hut. Die onheilspellende introduction wat gepaard gegaan het met weinig of enige inligting rondom sy rol of doel, het my laat dink hy is dalk ’n geheime saboteur wat by die span sal aansluit om hul harde werk in die wiele (of water) te ry…
Die antwoord op wie Jacques nou eintlik is, is toe nie so onheilig soos wat ’n mens verwag het nie: Jacques is maar net nog ’n speler wat by die speletjie aansluit. Maar sy aankoms kom teen ’n baie onverwagse prys!
Last Man Standing?
Jacques sê ander mense beskryf hom as ’n rowwe ou – en hy ontken dit nie. Hy stem saam met die siening dat “cowboys don’t cry” en hy dink dis okay om ’n traan te pik, maar dat dit nie baie produktief is nie. “Emosies lei nie tot aksies of planne nie,” sê hy. En onmiddellik dink ek dat daar ’n paar mense is wat hy gaan af-piss met dié opinie. But time will tell of hy regtig die breker is wat hy dink hy is. Hy mag dalk water en hout verstaan, maar sy mensekennis gaan beslis getoets word indien hy hierdie groepie, wat reeds sterk bande gevorm het, wil inflitreer en oorwen.
Wat my wel opgewonde maak oor hierdie man, is dat hy ook self erken dat hy seker daarvan is dat hy in hierdie speletjie genoodsaak sal wees om besluite te neem wat teen sy normale morele waardes is – en dat dit vir hom moeilik sal wees. Onmiddellik raak hy vir my baie meer interessant met hierdie uitlating, en verander die prentjie in my kop van hom van ’n tough guy na ’n shady character wat ongesiens heel moontlik vuilspel as ’n geheime wapen kan inspan.
Op die ou einde van die dag maak dit nie saak wat ek van hom dink nie, maar wat die spelers van hom dink. Sam is onder die indruk dat hulle nie oor die weg gaan kom nie, terwyl Iana weer in haar noppies is oor iemand wat moontlik ’n kindred spirit kan wees. Geo is onseker oor wat hierdie deelnemer vir die groep beteken, veral omdat hy nie hierdie detour verwag het nie, en Avril neem haar leierskap ernstig op deur vir Jacques te vertel wat alles moet gebeur.
Jacques neem die wind uit almal se seile uit wanneer hy die blinkste gedagte in dae uit die lug uit gryp, en voorstel dat hulle ’n slee moet prakseer om die hout vinniger – en met minder inspanning – na die werkstasie te neem. Sy bydrae word opreg waardeer deur die res, terwyl Jacques die span se gebrek aan ervaring blameer vir die feit dat hulle nie prakties dink nie. Jacques se toevoeging is beslis ’n aanwins – en sy insae veroorsaak ripples in die groep.
Leier of Lyer?
Jacques se vars nuwe praktiese idees, en die feit dat Avril alweer net wil skel oor feëtjieland – asook die feit dat sy sommer net van Arnold (wat in ’n vorige episode huis toe gestuur is) se bestaan wil vergeet – laat almal weer van vooraf besef dat Avril nie die beste kandidaat vir leiersposisie was nie.
Larry is die een wat weer die onderwerp met Sam opper, en voer aan dat hulle almal op dieselfde bladsy moet kom oor wie verkies moet word as leier indien hulle die geleentheid kry. Larry neem sy campaigning verder, en hy praat ook met Nonnie en Marna oor die moontlikheid van Sam.
Moeder Natuur besluit om ook haar stem te laat hoor gedurende hierdie speletjie, en stuur winterreën om die temperatuur onder die deelnemers te verhoog. Niks is so aaklig as om nie regtig volstoom te kan werk nie, en die stoom begin opbou tussen die deelnemers wat nou vasgevang is met mekaar in en om die Houthuis.
Die reën bring ook die kwaai in Avril uit. Sy vloek en skel wanneer die span ’n bietjie stadiger te werk gaan, en almal se opinies oor haar effektiwiteit as leier word oral gehoor. Sy piss meer mense af as wat die reën hul gemoed kan breek, en dit raak baie duideik dat Avril se dae as die draer van die septer en die crown getel is. Haar woorde en haar aksies begin die klein skeurtjie wat reeds bestaan tussen haar en die res verander in ’n donga wat nie maklik uitgewis sal kan word nie.
Die reën beteken nie net slegte nuus vir Avril se leiersposisie nie, maar eis ook hul eerste slagoffer: Jacques raak siek. Terwyl dit ’n definitiewe demper op die deelnemers se gemoedere is, is dit Avril se skielike besorgdheid oor die nuwe deelnemer wat ’n nuwe fokus op haar as mens plaas. Sy smother hom met haar moederlike instinkte – sny selfs uie vir sy voete en sy bors om die verkoue uit hom te trek – maar kry onderlangs ook onverwagse kritiek omdat sy té besorgd is oor iemand wat homself nog moet bewys.
Niemand wil hul misnoë hardop uitspreek oor Avril se gedrag nie – en dan verander die stormdag-gesprekke na wie volgende uitgestem sal word indien dit van die leier afhang. Avril noem dat sy twee mense in gedagte het, maar wanneer sy later alleen met die kameraman praat, is dit duidelik dat sy sommer almal as huistoe-kandidate beskou. “Mense wat bietjie kan relax, as ’n mens dit so kan stel, is Nonnie, Sam, Jamie, en Iana. William depend op Larry op die oomblik, en Tina is tussen die boom en die bas. Rob is ’n ander een. Groot, sterk, fris, maar hy sit net daar: hy het al gate in die stoele gesit. En unfortunately, is Marna die swakste. Sy kla bietjie oor alles, en ek dink nie sy is sterk genoeg nie,” vertel Avril. Maar gaan haar oordele haar dalk later in die voet skiet?
Gelukkig klink dit asof Avril nie onder haar eie illusies ly nie, want sy erken ook dat sy weet dat die spel op enige oomblik kan verander, en dat die groep enige tyd van haar as leier kan ontslae raak. Ek wonder net of sy regtig dink dat dit ’n baie definitiewe moontlikheid is, en of sy onder die illusie verkeer dat dit baie onwaarskynlik sou wees dat ’n groep mense haar so vinnig soos blits onder die bus sou gooi…
Aanhouer wen?
Larry en Nonnie se ontluikende vriendskap is een van die baie mooi dinge op die reeks. Van vreemdes tot meer bekendes in ’n kwessie van meer as ’n week, tot skaterlagvriende wat saam werk om die einddoel te bereik: nie net ’n brug in ’n realiteitsreeks nie, maar ’n vriendskap waaraan daar gebou word wat Die brug gaan oorbrug.
Maar Larry is nie die enigste een wat besig is om te wen nie! Sam is ook besig om sy veldtog as die volgende leier volstoom aan te durf. Hy kry kans om ’n skelm geselsie met Geo in te werk, en begin solank die voornemende stemlys bymekaar te trek. Dit lyk asof Geo heel in sy skik is om Sam as nuwe leier te verkies, sou die geleentheid hom voordoen – en dit is duidelik dat Geo sy veldtog as titellose leier ook met hierdie gesprek wen.
Sam se coming out-storie, en die gevolge van sy coming out, maak dit duidelik dat Sam ’n speler is wat nie onderskat moet word nie. Geo verklap ook in ’n off-camera onderhoud dat hy nader aan Sam gekom het, soos wat sy en Robert se plan was, maar nou dat hy meer van Sam weet, dit ook vir hom duidelik geword het dat Sam ’n sigbaar-onsigbare bedreiging inhou vir sy veldtog om as wenner van die speletjie uit die stryd te tree. Die spelers raak toenemend strategies, soos verteller Neil Sandilands dit stel, maar hoe strategies kan ’n mens nou raak wanneer die speletjie enige tyd die reëls kan verander?
’n Onverwagse raaisel, wat begin met ’n woordspeletjie in die kombuis, eindig met ’n Garmin wat uit die dak van die spens soos ’n trofee in die hand voel. Maar niemand het ’n idee wat hulle daarmee gaan moet maak nie. Is hierdie ’n prys, ’n troosprys, of die begin van ’n payback waarna die spelers moet uitsien? ‘Wenners, wenners, wenners” wil hulle almal wees, maar met so ’n toestel in die hand is ’n mens nooit seker of hierdie die begin van goeie of slegte tye is nie…
Die prys?
Die span sit na ’n harde dag se werk om ’n vuurtjie en gesels oor hul klein oorwinnings van die dag. En net soos wat almal begin rustig raak na die geroer en gemoer van die opwinding van die laaste twee dae (die toevoeging van Jacques, sy skielike siekte wat soos mis voor die son begin verdwyn, en die onderlangse mutiny) is dit ’n fakkel wat hulle almal tot skokkende stilte bring.
’n Trotse Jamie bring die Melkkan-briefie na die wal, maar die opskrif van die brief – Die Verwydering – laat almal so bietjie kortasem raak. Die brief verduidelik dat Jacques nou, op daardie oomblik, iemand moet huis toe stuur – en dat hy alleen daardie keuse moet maak!
Talk about a tall order! Die arme man is nog nie eers so lank daar nie, en hy moet reeds so ’n groot besluit neem – terwyl hy self erken dat hy nog nie eers almal se name ken nie! Die spelers voel bedreig, en die feit dat ’n redelike onbekende, amper onvertroude, soveel mag het om die klein groepie op ’n grootskaal te beïnvloed, maak almal ongemaklik – en op hul senuwees. Wie gaan Jacques kies, en waarop gaan hy sy besluit grond?
Natuurlik gaan kykers moet wag tot volgende week om hierdie antwoorde te hoor. Met net 14 dae oor en 198m om te gaan, is Jacques se besluit van kardinale belang, want dit kan sy keuse wees wat hulle nader – of verder – van die skat kan bring.
Die brug saai Donderdagaande uit om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar. Ons resensent, Bouwer Bridges, se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.