Verlede week het ons die slapende deelnemers verlaat terwyl Melanie en Larry tien van die reeds voltooide vlotte verwoes het om elkeen R50 000 in te palm. Hierdie week se episode begin wanneer Jacques op ’n trietsige oggend die verwoesting moet aanskou. En dít nog voordat hy sy oggendkoffie gedrink het.
Vlot-vernietiging
Soos wat Sam dan nou ook tereg sê: dit lyk soos roadkill waarop hulle afgekom het. Planke, toue, en floating devices wat die hele wêreld ronddryf maak eers meeste van die groepie hartseer voordat dit ’n vuur onder hulle gatte begin stook. Alhoewel daar heelwat destruction is om oor laatnag wakker te lê en te wonder, is daar gelukkig nie tyd om te ponder oor wat hulle te doen staan nie.
Sam voel hulle het nou iets om te bewys. Dié is ’n ordentlike uitdaging wat hulle nou met mening moet aanpak. Maar terwyl die groepie skouer aan die wiel (of is dit nou vlot?) sit, word daar baie besin oor morele kompasse, lojaliteit, en integriteit. Larry en Melanie s’n word bevraagteken, terwyl die sabotasie van die brug ’n voor die hand liggende keuse vir baie sou wees indien hulle uit die spel geskop is – en daar geld in hierdie vernietigende aksie was.
Suurknol Geo
Dit is veral Geo wat suur is oor die hele Larry en Melanie-sabotasiesaga. Dít ontlont weer ’n paar gesprekke rondom wie die regte persoon is om oor die brug te stuur. Rob het sterk gevoelens oor hierdie uitsprake, want hy dink Geo is skynheilig om só uit te vaar teenoor veral Larry.
Later gesels Sam en Rob verder oor hierdie topic, en Sam dink Geo en Larry is die mense wat die hardste game gespeel het. Vir Larry het sy game plan net glad nie uitgewerk nie. Oor hoe om hierdie game dan te speel, stem die twee ouens wel saam: om true tot jouself te wees is beslis die koers om in te slaan.
Wonderwerke gebeur wél
Teen die einde van die voorlaaste dag het die deelnemers 12 vlotte in die water gekry. Dit beteken hulle moet 13 vlotte op die heel laaste dag bou. Dit neem ’n paar senutergende oomblikke op skerm om hierdie taak te verrig. Maar raai wat? Wonder bo wonder, met die klein hoeveelheid mense wat hulle is, voltooi hulle die brug. Die Eiland kan nou van die oewer per voet bereik word. Daar lê nou net een groot keuse oor wat gemaak moet word.
Wat/wie is eg (of nie…)
Sam het wel tussendeur ’n baie eerlike gesprek met Tina gehad. Tina voel dat Geo met almal praat, en vir almal dieselfde ding sê. Sam voel ook asof sy vriendskap/showmance met Geo nie regtig real is nie. Tina en Sam vra dan vir mekaar die harde vrae: dink hulle Geo gaan wen? En moet Geo wen? Beide dink hy staan ’n baie goeie kans, maar nie een van die twee dink hy moet wen nie. Dit is duidelik dat betrayal en wantroue dik in die lug hang.
Tyd om te stem
Die volgende oggend maak hulle dan nou ook so: Geo lees vir hulle ’n BRUG-briefie wat vir hulle die reëls van die stemmery verduidelik – en dat hulle nie vir hulself mag stem nie. Sam dink hulle moet vir elkeen die geleentheid gee om te verduidelik wat hulle met die geld sou doen, en hoekom elkeen dink hy of sy behoort die geleentheid gegun word om oor die brug te stap. Die enigste een wat werklik dié vraag in volheid beantwoord is William. En ná sy speech is daar nie ’n droë oog om die tafel nie.
Elkeen besin oor wie hul stem verdien, en neem dan die lang pad na die Melkkan om hul stembriefie te gaan ingooi. Die laaste een is Sam, en hy bring die Melkkan na die Houthuis. Ek sou reken dat hierdie ’n maklike stemproses moes wees, maar dit is toe nou nie.
William of Rob?
William en Robert is gelykop na die eerste rondte. Sam verduidelik dan dat daar ’n volgende stemrondte gaan wees, waar nie Robert of William sal stem nie. Daar sal ook slegs vir een van hierdie twee kandidate gestem kan word. Op die ou einde van die dag is dit Robert wat gekies word, en onder vele gejuig en applous vat die lenige eks-rugbyspeler sy treetjies na die jackpot op Die Eiland.
By Die Eiland aangekom sak Robert op sy knieë, en wanneer hy die skatkis oopsluit en die oorblywende geld sien is dit waar ’n mens so bietjie ophou asemhaal wanneer hy dit laat blyk dat hy nou ’n baie moeilike besluit moet neem… Wat jy waar kry? Dit het dan die hele tyd geblyk dat Rob aan die kant van ‘deel’ is, maar blykbaar begin ‘steel’ in sy kop te kuier?
Deel… of steel?
Nadat Robert ’n kort tydjie (wat voel soos ’n ewigheid) gekry het om te dink oor wat hom te doen staan, is dit nou die beurt van die res van die span om een vir een oor die brug te stap – elkeen met sy eie verwagtings oor wat volgende gaan gebeur, wat hierdie avontuur vir hulle beteken het, en ’n montage van elkeen se hoogtepunte wat die kyker beslis na die tissues gaan laat gryp…
Eerste aan die beurt is Jacques, en wanneer Jacques by Robert opdaag wag daar die grootste verrassing op hom: Rob sê dat hy eerste aan sy familie moet dink, en daarom gaan hy nie die geld deel nie! Sjoe! Praat van ’n vuishou in die maag…
En so herhaal Rob sy kort sinnetjie met elke ander persoon wat oor die brug gestap kom. Robert deel nie die geld nie, en elkeen van die spelers moet dit aanhoor, en gee dan hul reaksie. Hierdie is realiteitstelevisie gold: ek het lanklaas so jammer gevoel vir iemand wat nie aangewys is as die Bachelor se keuse nie, die naaswenner van Survivor, of die naaswenner in een of ander kook-kompetisie.
’n Laaste kinkel
Die laaste persoon wat oor die brug stap is William – en hier wag weer ’n verrassing op die kyker, en die spelers. Robert gee vir William die R50 000 wat hy gesteel het saam met Geo vroeër in die game. William sou R200 000 vir homself gehou het indien hy die BrugStapper was, en dit sou hy aanwend om sy en sy vrou se skuld te delg. Ten spyte loop hy nie met leë hande weg nie, en die vreugde wat oor sy gesig versprei is iets besonders om te aanskou.
Met die laaste van die deelnemers dan nou ook verby, is dit net Robert en sy geld wat oorbly op Die Eiland – en dan is dit die einde van die episode.
Tot weersiens
Die brug is beslis een van die beter nuwe generasie realiteitsreekse wat ek in ’n lang tyd gesien het, juis vanweë die uitmergelende emosionele aspek daarvan. Ek dink ’n mens leer die deelnemers baie beter en vinniger ken as enige van die ander speletjies van sy soort. En met die onus wat lê op die span, en nie die individu nie, is daar ’n lang rakleeftyd vir hierdie tipe speletjie. Die produksiegehalte is ook van só ’n aard dat ’n mens hierdie reeks beslis gaan mis – en dit is nie net die deelnemers wat hulle weg na ’n mens se hart vind nie!
Hopelik sal kykNET eersdaags aankondig of daar ’n tweede seisoen in die mou gevoer word, want hierdie is een avontuur wat selfs ek beslis sal wil aanpak.