600 meter se ronde stompe, 3120 meter se gesnyde planke, 7.5 km’s se hennep-tou, 1560 wit dromme vir die vlotte en duisende houtsplinters. Met dít en niks meer as ’n paar sae en hul kaal hande, het ’n groep vreemdelinge in ’n afgeleë wildernis die onmoontlike taak aangepak om ’n brug te bou in die hoop om prysgeld van R1 miljoen weg te stap.
Salig onbewus van die groot taak wat op hulle wag – of die program waarvoor hulle regtig ingeskryf het – het 12 dapper en avontuurlustige mans en vroue ingestem om deel te wees van kykNET se splinternuwe werklikheidsreeks, Die brug. Hulle het aanvanklik vir ’n TV-avontuurreeks onder ’n skuilnaam, Die Groot Avontuur, ingeskryf. Eers toe die kameras op dag een begin rol, het hulle uitgevind wat hul taak is. Maar dit het hulle nie afgeskrik nie. Al 12 het onmiddellik die uitdaging aanvaar om binne 20 dae ’n reuse-brug te bou. Hierdie brug is hul enigste manier om by ’n eiland te kom waar daar prysgeld wag vir die gelukkig wenner(s) wat dit tot die einde kan uithou.
Selfs storms en woes winde in die Swellendam-vallei kon hulle nie keer nie. Kykers sal vanaf Donderdag, 26 Oktober 2023, kan inskakel om te sien hoe hierdie deelnemers se geestesgesondheid, liggaamlike vermoëns en uithouvermoë tot die uiterste getoets word.
Die brug is ’n eerste van sy soort in Suid-Afrika en is die plaaslike weergawe van die gewilde internasionale reeks The Bridge. Dié reeks het oorspronklik in Spanje begin onder die naam El Pointe. Sedertdien is dit ook in onder meer Australië en die VSA geskiet. Die brug is die 11de verwerking van hierdie internasionale treffer en sal vir die eerste keer 11 aangrypende episodes hê. Tot dusver het elke land nog net ses episodes per seisoen uitgesaai. Maar in ware Suid-Afrikaanse styl, gaan die spanning oorloop en was daar net te veel om in ses episodes uit te pak.
Om te kyk hoe mense ’n brug bou mag dalk nie interessant klink nie, maar met so ’n groot prys op die spel en uitdagings om elke draai, gaan daar meer as genoeg aksie wees. Elke deelnemer het hul eie persoonlike brug wat hulle moet oorsteek en dit is juis daardie menslike stories wat aan kykers se hartsnare gaan trek. Dan is daar ook natuurlik, soos met enige kompetisieprogram, baie rugstekery. Almal probeer mos maar aan hul plekkie vasklou vir solank as wat hulle kan. Almal kan mos doen met ’n miljoen, of hoe?
Ons gesels met Freddy Louw, die kreatiewe regisseur en vervaardiger van Red Pepper Pictures, oor hoekom hulle gedink het Suid-Afrikaanse kykers van dié reeks sal hou, en wat dit so besonder maak.
Dit is geen geheim dat Suid-Afrikaners mal is oor realiteitsprogramme nie, maar wat van hierdie formaat het vervaardigers laat glo dat ons gehoor by dié reeks sou aanklank vind?
“Die formaat maak staat op mense wat bymekaarkom om as ’n span ’n byna onmoontlike uitdaging te oorkom. As ’n nasie, is dit nie deel van ons DNS as Suid-Afrikaners nie? Ons weet dat dit ons samesyn is wat ons sterker maak, en dit is hoekom hierdie formaat perfek is vir ons.”
Hoekom het julle gevoel die reeks sou suksesvol wees in Afrikaans? Of was taal nie regtig ’n faktor nie?
“Taal was nie ’n faktor nie, nie in die minste nie. Trouens, ons het gedink die formaat werk beter in Afrikaans as enige ander taal, want kommentaar soos “spanning gaan oorloop” werk net in Afrikaans. Dit is die beste!”
Om te kyk hoe mense ’n brug bou klink nie juis baie interessant nie. Dit maak hoe die storie vertel word seker een van die belangrikste aspekte van ’n reeks soos hierdie. Hoe het julle te werk gegaan met die storievertelling van hierdie reeks?
“Casting het ’n groot rol met die storievertelling op Die brug gespeel. Elke speler het opgedaag met hul eie persoonlike agtergrond en met hul eie persoonlike doelwit vir die program. Hulle het almal klein ‘brûe’ gehad om te bou. Maar ook hoe die spelers op die vele uitdagings en kinkels op Die brug gereageer het, het storielyne en drama geskep wat kykers vasgenael sal hou. Die brugbou-aspek van die reeks word die agtergrondmusiek en die menslike drama en voortdurende ontwikkelende persoonlike reise op Die brug neem centre stage van die begin van die reeks af. Ons wou onmiddellik vestig dat die reeks oor persoonlike stories en menslike drama gaan – nie brugbou nie.”
Maak die feit dat hulle soveel tyd daaraan bestee om ’n brug te bou dit meer uitdagend as gewoonlik vir die produksiespan om ’n opwindende reeks te verpak?
“Die deelnemers het nie opgehou praat (en plot) nie, selfs terwyl hulle hout gesaag het of terwyl hulle besig was om die vlotte aanmekaar te sit. So nee, dit was nie meer of minder uitdagend as byvoorbeeld skietuitdagings vir Survivor nie. Ons het soveel inhoud gekry tydens bou as voor of ná bou. Hulle het net vir ongeveer agt uur elke dag gebou, van sonop tot wanneer ons ’n toeter blaas, wat die agt uur-afsnypunt aandui. Almal het ook nie gelyk of heeltyd gebou nie. Soms het twee of drie spelers ander take gehad. Ons het eintlik aan die einde te veel inhoud gehad.”
Die kamera- en postproduksiewerk aan hierdie reeks laat dit regtig soos ’n fliek voel. Hoe belangrik is ligging en postproduksiewerk vir ’n reeks soos hierdie?
“Baie! Die location op Die brug is een van die karakters wat letterlik moods het, gegrond op die weer. Tydens goeie weer was die ligging ’n vriendelike karakter op die program en ander kere was dit dreigend en skrikwekkend soos tydens ’n storm. Ons het twee groot storms gehad en die spelers moes aanhou bou deur die reën en wind. Ons skietbenadering was altyd om so filmies as moontlik te wees. Die bedoeling was absoluut om die Die brug te skiet sodat dit soos ’n film lyk en nie ’n realiteitstelevisieprogram nie. Postproduksie op Die brug is ’n groot onderneming, want ons het geëindig met meer as dubbel die hoeveelheid beeldmateriaal as wat ons gedink het ons sou skiet. Ons is steeds in postproduksie en sal tot middel Desember steeds wees. Ons het ook die reeks geskiet sodat die kleurgraderingspyplyn baie soortgelyk is aan dié van ’n film.”
Was daar enige unieke elemente wat julle ingebring het, wat ons nie noodwendig in die internasionale weergawes sal sien nie?
“Ja, ons het melkkanne gebruik om pos by die spelers af te lewer. In ’n poging om so omgewingsbewus as moontlik te wees, het ons re-purposed dromme gebruik as drywingstoestelle op ons vlotte, en sowat 70% van die materiaal wat gebruik is om die houthuis te bou, is re-purposed of materiaal wat weggegooi is. Ons het ’n skattejag ingebring en dit was splinternuut vir die formaat. Ons houthuis was ook gestileer om baie Suid-Afrikaans te lyk en te voel. Ons het ook ’n hele paar nuwe kinkels, wat nog nooit in enige van die internasionale formate was nie, maar ek sal nie die verrassing bederf nie.”
Gee asseblief vir ons die inside scoop vir meer interessante feite of beserings wat julle op stel gehad het?
“Ons het altesaam 22 fakkels afgevuur en vir veiligheidsdoeleindes moes ons ’n brandweerenjin en brandbestryder 24 uur per dag daar op stel hê. Ons het vir die spelers ’n wye verskeidenheid sae en toerusting gegee om hulle te help bou, maar dit was alles baie basies. Op die ou end was al wat hulle eintlik nodig gehad het, sae en hul kaal hande. Maar daar was ook ontelbare houtsplinters en blase! Een gebreekte groottoon en een gat in ’n speler se skeen. Gelukkig was daar geen ernstige beserings nie, behalwe ’n paar gekneusde ego’s. Gelukkig het ons ’n medic 24 uur per dag op die perseel gehad, maar die arme man was baie besig. Ons het ook baie trane gehad, van beide die mans en die vroue, en selfs van ’n speler wat gesê het dat hy nooit sou huil nie.
Die brug word uitgesaai op DStv Premium op kykNET (DStv-kanaal 144) vanaf Donderdag 26 Oktober om 20:00. Dit sal ook via DStv Stream gestroom kan word en beskikbaar wees op DStv Catch Up ná elke uitsending.