Bittermin Suid-Afrikaners sal weet wie W.C. Fields was. Ekself was today years old toe ek van die omie uitgevind het. Fields was ’n Amerikaanse akteur (en boemelaarhanswors) wat sy loopbaan in die dae van klanklose films in 1915 uitgekerf het. Hy het ’n pad geloop met talkies (flieks met klank), en was só ook deel van die aanvang van kleurfilms. Hy het uiteindelik sy laaste rol ’n musikale komedie vertolk sowat ’n jaar voordat die Tweede Wêreldoorlog tot ’n einde gekom het. As jy egter ’n aanhanger van die Beatles en in besit van die 1967-album, Sgt. Pepper’s Lonely Hearts Club Band is, kan jy ook sy gevreet op die plaat se albumomslag sien.
Fields se komiese personas in films was oorheersend dié van ’n misantropiese en harddrinkende egoïs wat ’n simpatieke karakter gebly het ten spyte van sy veronderstelde minagting vir kinders en honde. Sien, hierdie oom is verantwoordelik vir ’n wêreldbekende frase in die vermaakbedryf: “never work with children or animals”. Dis die aksioma waarmee die meeste wat nog ooit voor of agter ’n kamera sy brood en botter moes verdien, sou saamstem.
Ek het onwillekeurig aan hierdie quote gedink en dit gaan naslaan toe ek Carla Smith se Desemberdiewe begin kyk het. Desemberdiewe is ’n splinternuwe Afrikaanse feel-good Kersfeesfliek wat die feestyd deur die oë van kinders beskou. Dis ’n fliek vir die hele gesin, wat nie net die temas van omgee, vriendskap en mededeelsaamheid ondersoek nie, maar ook dié van eensaamheid en swaarkry. Die verhaal is eenvoudig en formulêr van aard, in die sin dat dit min of meer ’n Robin Hood-resep volg van herverdeling van goedere van die rykes na die armes.
Karma en Kersfees
Desemberdiewe vertel die storie van ’n haas onmoontlike stoute dogtertjie, die 11-jarige Jó (Judi Hattingh) wat moet leer om meer gehoorsaam te wees, selfs as niemand daar is om te sien wanneer sy tjol aanjaag nie. Dis somer en Kersfees is vlak om die draai. Jó en haar ma, Retha (Roeline Daneel), het pas na ’n klein dorpie getrek. Dis ’n plek wat Jó tot die dood verveel. Sy sal liewer op enige ander plek op aarde as dáár wees.
Jó leer vinnig wat karma is. “As jy slegte dinge doen, sal slegte dinge met jou gebeur”, aldus haar ma. Sy besluit om haar karma met goeie dade op te top. Wel, haar definisie daarvan in elk geval… Sy beplan om Kersfeesgeskenke van die ryk mense se kinders te steel en aan die kinders by die weeshuis uit te deel. Sy glo vas dat dít die ideale manier is om aan die universe te bewys dat sy mos beter behandeling verdien.
Sy kan dit egter nie alleen doen nie en skraap haar eie bende van Desemberdiewe bymekaar.

Die bende
Daar is Lem (Juan-Christoff Smith), die duiweltjie op Jó se skouer. Hy het niks of niemand nodig nie en sy brandstof is avontuur en gevaar.
Azul (Blake Pharo) word ingesluit, want as daar ’n duiweltjie is, kort ’n mens ’n engeltjie vir balans. Azul is ’n goeie, hulpvaardige laaitie wat skofte werk by sy antie se kafee. ’n Gebore smous en handelaar, maar sy omgee en sy eerlikheid ondermyn dikwels sy sakevernuf… Sien, dit is báie moeilik vir hierdie kind om te jok. Ander mense se geluk is sy geluk.
Dan is daar ook Funeka (Nozuko Mab), vir wie Jó nie juis ooghare het nie. Sy is ’n rykmanskind met oorvloed, maar stel ten spyte daarvan stalletjies orals deur die dorp op met duur speelgoed wat geen kind werklik kan bekostig nie. Funeka is baie parmantig en beterweterig, maar in daardie opsigte is sy eintlik baie soos Jó: baie trots en moeilik om mee tjommies te raak. Haar stalletjies is eintlik maar ’n verskoning om mense te lok, want nes Jó is sy eintlik maar net te skaam om haar hart op haar mou te dra.
Die grootmense wat onder deur die kinders se streke deurloop sluit in Jó se ma, Retha, (Roeline Daneel) wat as ’n verpleegster in die dorp se ouetehuis werk. As ma moes sy die besluit neem om agter ’n nuwe werksgeleentheid ter wille van ’n nuwe begin aan te trek. Sy het dit nie maklik met Jó wat gedurig haar geduld beproef nie.
Sersant Anthony Kleingeld (Marvin-Lee Beukes) is die veiligste dorpie in die land se trotse polisieman. Met die aankoms van Retha, kuier die sersant skielik baie meer by sy ma in die ouetehuis. Sy romantiese planne word tot sy irritasie gedurig onderbreek deur die kersgeskenke wat skielik op die dorp begin verdwyn.
Sandy Kleingeld (June van Merch), is die sersant se ma. Sy is ’n bejaarde en soms bedonderde tannie met ’n vonkel in die oog wat net ’n pakkie sigarette wil hê omdat die ouetehuis haar verveel.
Knap gedaan
Van die hoofredes hoekom mense in die vermaaklikheidsbedryf bang is om met diere en kinders te werk, is omdat hulle onvoorspelbaar is en dikwels die kollig steel. Die mense agter die skerms van Desemberdiewe stem egter nie saam nie. Jaco Nothnagel, die vervaardiger, reken dat dit ’n lang proses was om die drie kinderakteurs te kry, maar dat hulle werklik ’n baie spesiale groep kinders is.
Regisseur Carla Smith stem saam.
“Om goed voorbereid te wees en duidelik en gaaf met almal te kommunikeer, is die enigste manier,” sê sy.
“Om die stel ’n lekker plek vir kinders te maak, is maklik. Hulle het almal van die eerste dag maats geword. Toe was die film eintlik die laaste ding waaraan hulle gedink het. Die uitdaging was om dit vir hulle pret te maak. Baie energie, grappies en lekkers was die antwoord. Maar ons het die mees professionele, lieflikste kinders ooit gehad en ek het my amper nooit oor hulle bekommer nie.”
Jy hoef jou dus nie aan W.C. Fields se bekende woorde te steur nie, want die kinders het hulleself knap van hul taak gewkyt. Ek is opgewonde om te sien waar hul loopbane hulle uiteindelik gaan neem. Ironies genoeg is Fields in 1946 op Kersdag oorlede – die dag van die jaar wat hy die meeste verag het.
Desemberdiewe maak vir nostalgiese, stoutgat-samesyn vir die hele gesin. Dit is op DStv Catch Up beskikbaar om te kyk.
Kyk ook gerus dié Afrikaanse Kersfeesfilms op Showmax: