Anders as talle vorige rolprent-weergawes van Carlo Collodi se klassieke verhaal van die hout-seuntjie wie se neus groei as hy jok, is Del Toro en Gustafson se animasie-weergawe van Pinocchio beslis nie vir kinders bedoel nie. Dit is eerder ʼn kunsfliek wat jou aan die diepkant van eksistensiële angs indompel.
Daar ís resensente wat meen die fliek is uitbundig-optimisties en daar is verseker ligte, helder oomblikke. Vir my was dit ná hierdie jaar, wat baie van ons as buitengewoon uitmergelend ervaar het, soos ʼn skop in die maag.
Fantasie, meen Del Toro, bied die ideale medium waarbinne komplekse politieke en filosofiese idees verhelder kan word. Dít doen sy Pinocchio, wat hy saam met Patrick McHale geskryf het, met temas van georganiseerde geloof tot radikale nasionalisme; die dood en verhoudings tussen pa’s en seuns.
Die storie van ʼn houtseuntjie
Die storie word verplaas na die Italiaanse platteland, aan die begin van die Eerste Wêreldoorlog. Die fokus word vir die grootste deel van die fliek verskuif na Fascistiese Italië in die 1930’s, aan die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog.
Geppetto (David Bradley) is ʼn skrynwerker wat sy seuntjie, Carlo (Gregory Mann, ook die stem van Pinocchio), tydens ʼn lugaanval verloor. In die jare daarna kan hy nie sy seun se dood verwerk nie.
Terwyl Carlo nog geleef het, het die dorpenaars hom as ʼn voorbeeldige pa beskou; ʼn man waarop hulle kon trots wees terwyl hy en sy kind die Christusbeeld in die dorpskerk voltooi het.
Ná Carlo se dood word hy in sy dronkenskap as randfiguur beskou. As ʼn dronkaard wat selde iets sinvol met sy hande doen. Die Christusbeeld bly onvoltooid.
In ʼn dronk woede en desperate verlange na Carlo kap hy een aand ʼn boom af en bou ʼn houtseuntjie om die leemte te vul.
Wat volg is ʼn teer ontwaking van ʼn naïewe, spontane en kinderlike houtseuntjie, wie se uitbundige vryheid in skreiende kontras staan met die outoriteitsfigure wat sy pad kruis. Almal het verwagtinge van hom. Hy moet konformeer. Hy moet iets, of iemand, anders wees. Hy moet “iets” simboliseer. Gebruik word vir ander se gewin.
Reeds ʼn ‘regte’ seun
Anders as ander weergawes van Pinocchio, waarin die houtseuntjie dikwels sy behoefte uitspreek om “ ʼn regte seun” te wees, is hierdie Pinocchio gemaklik in sy eie houtlyfie. Hy ís mos regtig. En dat Geppetto sy “papa” is, is vir hom ʼn veel belangriker strewe. Daar is iets kwesbaar aan hom. Terselfdertyd is daar iets vasgevang van hoe dwars kinders soms kan wees, hoe eiesinnig en hoe selfsugtig.
In ʼn onderhoud met Hollywood Reporter het Del Toro gesê hy het gehou van die idee dat Pinocchio optree as vry-agent en ongehoorsame siel in ʼn tyd waarin gehoorsaamheid van alles en almal verwag is. Del Toro, wat ʼn Oscar as beste regisseur vir The Shape of Water gewen het, was immers nog altyd ʼn kampvegter vir buitestaanders. Selfs Spazzatura die aap (klanke deur Cate Blanchett), wat op die oog af geen hart het nie, kry ʼn tweede kans.
Anderwêreldse karakters
Daar is ʼn paar antagoniste wat Pinocchio se pad kruis. Die sirkusbaas, Count Volpe (Christoph Walz), is seker die goorste een. Selfs Mussolini maak ʼn draai – komies uitgebeeld in ʼn versinnebeelding van kortmannetjie-sindroom. Harteloos wanneer hy die houtpop deur een van sy soldate laat afmaai.
Del Toro het nie simpatie met boelies nie. Vir elke een (ook ʼn gruwelike reuse-vis) is daar ʼn gru-dood op die kaarte. Vir ander karakters, is die dood sagter. Mooier. Die betekenis van die lewe en die rol van die dood daarin, is ʼn belangrike tema in die fliek. Vir Pinocchio lê die antwoord oor wat menslikheid beteken dalk daarin opgesluit, eerder as om ʼn mens van vlees en bloed te word.
Op sy reis om dié antwoord te vind, word Pinocchio vergesel deur die ietwat egoïstiese Sebastian J. Cricket (Ewan McGregor). Om die tonele met hom uit te beeld, is reuse-weergawes van Pinocchio gebou.
Tilda Swinton het die stemwerk gedoen vir sowel die woudfeë wat lewe in Pinocchio se houtlyfie blaas, as in die gevleuelde Dood. Die karakters is anderwêrelds en mitologies uitgebeeld.
Animasiekunstenaars as akteurs
Dat Mark Gustafson een van die legendes van stop-aksie-animasie is, blyk duidelik uit elke ingewikkelde animasiedetail. Dit het animasiekunstenaars meer as 935 dae geneem om die fliek te verfilm en sowat 1000 dae om die fliek te vervaardig, wat pre- en postproduksie uitsluit. (Kyk Guillermo Del Toro’s Pinnochio: Handcarved Cinema vir meer.)
Del Toro beskou animasie as een van die hoogste rolprentkunsvorme. Dit was met die intrapslag vir hom ononderhandelbaar dat die animasiekunstenaars as akteurs beskou moes word. Hulle het ʼn aandeel gehad in hoe tonele verloop en kon self besluit hoe hulle karakters sou reageer. So hoog ag hy hulle, dat die animeerders se name naas dié van die akteurs vertoon word tydens die openingstitels.
“Ek dink daar is ʼn heilige verhouding tussen die animasiekunstenaar en die pop. Geen ander vorm van animasie het so ʼn tasbare verbintenis nie,” het Del Toro gesê.
Geen detail ontsien
Elke pop is met die hand gemaak en geen detail is ontsien nie. Buiten vir Pinocchio, het al die karakters meganiese gesigsuitdrukkings, wat die animasie-kunstenaar met die hand kan manipuleer. Om getrou te bly aan Pinocchio se houtlyfie en die feit dat hy nié ʼn regte seun is nie, is verskillende poppe gemaak – alles uitgedruk met ʼn 3D-drukker.
Die detail en tekstuur is merkwaardig – van die fyn lyntjies op Geppetto se verouderende hande, tot die houtspykers agterin Pinocchio se lyfie en die veranderende uitdrukkings van karakters. Geen moeite is ontsien nie. Karakters vroetel met hulle hande, soos regte mense sou en daar is flikkeringe van emosie in hulle oë.
Daar is ook ʼn ingeleefde, egte gevoel aan die landskappe en dorpstonele en aan elke enkele “ekstra”.
ʼn Mens staan eintlik verstom oor wat die skeppers van die grillerige reuse-vis met sy drillerige lyf reggekry het. In sy maag het iemand wat hy seker jare tevore ingesluk het, ʼn vuurtoring gebou; groen watervalle stroom oor sy ingewande.
Ook die klankbaan en klank-effekte is met besonderse detail aangepak. Pinocchio se houtklanke verander deur die loop van die fliek, namate hy as karakter groei. (Ek moet bieg, ek sal dit weer moet kyk om fyner op te let, maar so sê Guillermo.)
Ligte kykstof is Pinocchio nie. Maar dit is ʼn studie in menslikheid en menswording. En op die ou einde, is dit ʼn verhaal oor hoe ons mekaar nodig het om minder eensaam te wees. Net soos ons is, krakende ledemate, los skroewe en al.
Meer oor flieks
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →