Menu terloops
In Wat om te kyk [7 Des 2022]

‘My Father’s Dragon’ is ʼn kosbare fonds in ʼn verglanste animasiewêreld


Die animasiefliek ‘My Father’s Dragon’ is ʼn sonderlinge 2D-wonder, skryf Riëtte van der Wat.

Deur Riëtte van der Wat
‘My Father’s Dragon’ is ʼn kosbare fonds in ʼn verglanste animasiewêreld
Kyk lokprent

In ʼn era van gepoetste kinderflieks met moderne digitale animasie wat soos blinknuwe sportmotors met brullende enjins oor skerms flits, is My Father’s Dragon ʼn seldsame, kosbare fonds.
ʼn Vintage motor met so ʼn paar moderne verstellings.
Die fliek is gemaak deur die Oscar-benoemde Ierse animasie-ateljee Cartoon Saloon. Die hart van hul flieks is illustrasies wat lyk of dit van die bladsye van ʼn prenteboek af kom.
Dís omdat hul liefde vir illustreer die bestaansrede vir Cartoon Saloon is, vertel een van die ateljee se stigters, Paul Young.
Hul styl is 2-dimensionele animasie en al het dit ʼn old school-gevoel, is dit tog ook vars en modern en bly dit relevant vir hedendaagse kykers.
Twee dimensioneel of nie, emosie word vasgevang met kleur – helder kleure vir geluk; donker, broeiende kleure vir gevaar en terugslae.
Moenie afgeskrik wees deur die idee dat dit net vir “gesofistikeerde” kykers bedoel is nie. Die fliek is toeganklik vir groot en klein.

My Father's Dragon
My Father’s Dragon is ʼn wonderlike fliek wat op die gelyknamige kinderboek deur Ruth Stiles Gannett gegrond is. Foto: Netflix © 2022

Verbeelding as redding

ʼn Seuntjie, Elmer (Jacob Tremblay), verloor skielik alles van die bekende, gelukkige lewe wat hy ken as sy ma, Dela (Golshifteh Farahani), haar winkel verloor. Hulle moet noodgedwonge verhuis na die vaalgrys Nevergreen City waar reën neergiet en mense op sypaadjies verby mekaar stamp.
Dela probeer Elmer opgewonde maak oor hul nuwe lewe in ʼn klein dakwoonstel met krakende pype. Maar dan verloor sy self ook moed verloor en haar kalmte verdamp in ʼn moedelose uitbarsting teenoor haar seun. Want ouers is ook maar net mense…
Die ontnugtering van dié besef dryf Elmer weg en tot in die arms van ʼn verbeeldingryke avontuur met pratende katte (met stemkuns van Whoopi Goldberg), jillende ronde walvisse, tiere met reuse koppe en langneus-krokodille op ʼn sinkende eiland in die middel van die see.
Hiér moet hy ʼn draak red wat gevange gehou word en die eiland dag ná dag uit die water moet ophys. Hy hoop dié draak sal vir hom en sy ma ʼn nuwe begin kan beteken. Uitkoms te midde van die nuwe vaalgrys van hulle lewe.
Maar die draak, Boris (Gaten Matarazzo), is eintlik maar ʼn klein ou drakie – ʼn kinderlike, spelende outjie wat uitbundig rondbons selfs wanneer hy en Elmer op die vlug moet slaan. Matarazzo se stemwerk is baie oulik. Dit ondergaan deur die loop van die verhaal ʼn treffende transformasie, net soos die karakter.
Terwyl Boris onbeskaamd nuuskierig is, is Elmer gedrewe om van die eiland af en terug by die huis te kom. Sy kosbare kleinood is die inhoud van sy rugsak – ʼn paar items wat hy bymekaar kon skraap uit sy ma se winkel. Hy glo kinderlik dié handjievol items, waaronder ʼn gebreekte suigstokkie, is sleutels tot ʼn nuwe begin.

Vind jou vuur

Elmer hoop Boris sal vir hom uitkoms bied en Boris wil sy vuur vind. Op hul beurt glo die inwoners van die eiland hul bestaan hang van die draak af. Dis omdat hul leier, ʼn wyse ou gorilla, Kwan (Chris O’Dowd), dink dis al manier om te keer dat hulle hoop verloor.
Hoewel Kwan se metodes bevraagteken kan word, is hy nie ʼn tipiese bad guy nie. Hy doen wat hy dink die beste is vir die diere wat na hom opkyk, al weet hy eintlik dis nie die regte ding om te doen nie.
Daar is baie temas wat hier ter sprake kom: vriendskap; die leuens wat ons vir ander en onsself vertel ter wille van ons geestelike oorlewing; die bereidwilligheid om vrees in die gesig te staar en dit te oorkom; die stryd tussen mens en natuur; dapperheid; kindness; verandering; die krag van verbeelding en die wilsbesluit om te probeer om die beste van ʼn situasie te maak… Maar dis eintlik ook net ʼn storie van ʼn klein seuntjie en ʼn draak wat ʼn groot avontuur saam beleef, maats word, en albei meer heel aan die ander kant uitkom.
Daar is nie veel verduidelikings om “hoe, wat, waar”-vrae te beantwoord nie. Niks word onnodig uitgespel nie. Jy kan daarvan wegneem wat jy wil – of dit nou pure vermaak is en of jy nou die ui wil wegskil om by die dieper lae uit te kom.

My Father's Dragon
Die regisseur van My Father’s Dragon is die Oscar-bekroonde Nora Twomey, ook een van die stigters van Cartoon Saloon. Foto: Netflix © 2022

Stories met hart

Die regisseur van My Father’s Dragon is die Oscar-bekroonde Nora Twomey, ook een van die stigters van Cartoon Saloon. In ʼn kort bemarkingsdokkie vir die fliek vertel sy dit neem tot ʼn week om slegs vier sekondes van animasie vir hul flieks te skep. Die voltooiing van ʼn 90-minuut lange fliek kan dus vir jare duur.
Omdat die proses so arbeidsintensief is en lank is, is dit dus belangrik om te werk met stories waaroor hulle passievol is.
Volgens Twomey, neem bloot die ontwikkeling van die idee en die draaiboek tot vyf jaar. Daarom is daar daarom ʼn erns in die projekte wat hulle aanpak: “Five years is a long time. You need to put your hand on the heart of your story and let that sustain you.
Die inspirasie vir My Father’s Dragon was dié keer ʼn boek met dieselfde naam deur Ruth Stiles Gannett wat reeds in 1948 gepubliseer is.
Op besoek aan die 99-jarige Gannett, het Twomey besef waarom die storie na soveel jaar steeds aangrypend is: “Haar karakters dink regtig vir hulself en sy aanvaar nooit kinders en hul verbeeldings as vanselfsprekend nie.”

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
10

Gesinsvermaak: Kyk dié 10 reekse en flieks saam-saam

Van ‘Finding Optel’ en 'The Wild Robot' tot ‘Fuller House’ en 'Een keer om die son' – daar is heelparty TV-reekse en flieks wat jy oor die lang skoolvakansie as gesin saam kan kyk. 

Meer
3

‘Skemergrond’ in Desember: Hou dié storielyne dop

'Skemergrond' se mense beleef ’n stormagtige Desember met van liefde wat blom tot pynlike herlewings uit die verlede. Hier is die storielyne wat jy vandeesmaand moet dophou.

Meer
Sien alle opsies