Wie wil jy naby aan jou hê?
By wie wil jy vir oulaas lê?
By wie gooi jy jou laaste draai?
Kleinmond koebaai
Só lei die eerste strofe van die hartroerende huldeblyk, “Kleinmond Koebaai”, deur Koos Kombuis en Valiant Swart aan Ralph Rabie (beter bekend as Johannes Kerkorrel) in 2008, sowat ses jaar ná sy selfdood op 12 November 2002 in Kleinmond.
Dit is surrealisties dat Kerkorrel ons reeds 20 jaar gelede verlaat het. Tog voel dit gepas dat die nuwe uur lange dokumentêre film, Kerkorrel: 20 Jaar Later, Suid-Afrikaners aan die stem van ’n generasie herinner. Maar nie net aan sy stem nie. Ook aan die absolute leemte wat sy ontydige afsterwe op die kruising van ons politieke én musikale erfenis gelaat het.
Nostalgies, selfondersoekend en anekdoties
Die aanbieding is nostalgies, selfondersoekend en anekdoties van aard. Dit gee ons ’n blik op die lewe van ’n uiters talentvolle, dog gepynidge, siel deur middel van onderhoude met kollegas, vriende en dié wat in sy nabye wentelbane beweeg het. Die lys van name sluit onder andere joernaliste in soos Kerneels Breytenbach, Jan-Jan Joubert, Danie Marais en die biograaf, Willem Pretorius. Dan is daar ook kollegas in die musiekbedryf soos Amanda Strydom, Jannie “Hanepoot” van Tonder (tromspeler in die Gereformeerde Blues Band), Willem Möller (kitaarspeler), Valiant Swart , Schalk Joubert, Riku Lätti en Stef Bos. Iets wat nogal onverwags opduik, is die gesprek met sy seun, Reuben Grobler. Dié het sy wêreldberoemde pa verloor, en wonder hoe Ralph, sou hy nou hier wees, sy kleinkinders sou geniet het.
Onwillige held
Ons word ook herinner daaraan dat Johannes Kerkorrel, deur sy musiek, ’n simbool van rebelsheid en teenstand geword het. Ook een van hoop vir die destydse Afrikaner wat wel die noodsaaklikheid van noodgedwonge verandering in Suid-Afrika kon insien. Die Voëlvry-beweging, waarvan Kerkorrel sekerlik die grootste deel gevorm het, en wat hom bykans in sy geheel gedefinieër het, het gehelp om die Afrikaner van die houvas van die establishment te bevry. Die verligtes het Kerkorrel as die poster child van die beweging gekies.
Só het Kerkorrel as die onwillige held na vore getree. In Suid-Afrika was dit ’n tyd van isolasie, die noodtoestand en die stryd teen kommunisme. Internasionale sanksies, township-geweld en die sogenaamde “swart gevaar” het gesorg vir vrees en onsekerheid. Kerkorrel en sy bende van mede-musikante het hierdie establishment beveg, ten spyte van die feit dat hy en sy orkes dikwels met die dood gedreig is. Dit was bevrydend vir ’n generasie wat nodig gehad het om hulself uit te druk. Ook bevrydend vir Ralph omdat hy van nature ’n teruggetrokke, eenkant mens was wat homself deur die Kerkorrel-persona op die verhoog uitgeleef het.
Stem van ’n generasie
Alles kom egter met ’n prys. Om die stem van ’n generasie te wees, was soos ’n albatros om sy nek. Sy roem en sukses in Europa (veral België en Amsterdam) was aansienlik groter as wat dit in Suid-Afrika was, want in Europa was daar geen bagasie nie. Hy die masker afgehaal en kon vrylik gay wees (lees: homself). In Suid-Afrika… Wel, ons weet mos wat die stand van sake hier is. Suid-Afrikaners hou dikwels te veel van oordeel fel.
Ek dink nie ons besef eintlik aldag hoe gewild Kerkorrel eintlik oorsee was nie. Dis ook geen wonder dat hy gereeld daar ontvlugting gaan soek het nie. Die establishment het druk op hom begin uitoefen om sy bek te hou en hy was gereeld op die polisie se radar. Verregse groepe het selfs by van sy konserte opgedaag en hom geteister. Hulle het hom met stinkbomme gegooi en selfs sy kar se bande stukkend gesteek. Hy is gebrandmerk as ’n sataniese vampier en iemand met ’n sielkundige afwyking.
’n Sameloop van omstandighede het uiteindelik tot sy sy selfdood op 12 November 2002, 20 jaar gelede, gelei. Daar was sprake van self-doubt, onsekerheid, ’n finansiële verknorsing en die afguns en nydigheid van mede-kunstenaars wat veronderstel was om hom te ondersteun. Dit het alles moontlik bygedra tot ’n gevoel van volslae eensaamheid wat sy depressie vererger het. Die mees akkurate en onstellende koerantopskrif wat die nuus gebreek het, het gelui:
“Gefolterde mens. Eensaamheid kulmineer in wanhoopsgordel”
Die hartseerste realiteit van die nadraai van Kerkorrel se dood word die beste deur vriend en musikant, Schalk Joubert, in die dokumentêre film opgesom:
“Die oomblik wat hy weg is, is almal sy grootste fan weer gewees en almal bring hulde. Maar mense vergeet van half-vol kamertjies en klein teatertjies en swak bywoning by feeste. Dis tipies van hierdie industrie – ons kyk nie na ons mense nie. Nico Carstens is in ’n agterkamertjie in armoede oorlede. Soveel mense wat absolute juwele in ons land was, is net nie na gekyk nie…”
Johannes Kerkorrel was nie net die stem vir ’n generasie nie, maar ook die gewete daarvan. Sy musiek, tydloos.
Kerkorrel: 20 Jaar Later word op Sondag, 13 November, om 20:30 op kykNET en DStv Online uitgesaai. Later ook via Catch Up beskikbaar (as jy aan die internet gekoppel is). Kyk gerus ook die 2003 dokumentêre film Johannes Kerkorrel op Showmax.