Menu terloops
In Silwerskermfees [10 Jul 2026]

Silwerskermfees: Dié nuwe TV-reekse by vanjaar se fees geloods


Die loodsepisodes van ’n opwindende dramareeks gegrond op Deon Meyer se ‘Blood Safari’, die première van die tweede seisoen van ‘Spinners’, asook drie Afrikaanse dokumentêre reekse word by vanjaar se Silwerskermfees bekendgestel.

Deur Redaksie
Silwerskermfees: Dié nuwe TV-reekse by vanjaar se fees geloods

Vanjaar word die loodsepisodes van vyf nuwe reekse wat vir DStv bestem is, by die Silwerskermfees vertoon.

Invisible 

Silwerskermfees, Invisible

M-Net se Invisible, met Jozua Malherbe as regisseur,beloof spanning soos min met ’n verhaal gebaseer op Deon Meyer se Blood Safari. Die sterbelaaide rolverdeling word gelei deur die Australiese aktrise Abbie Cornish (Limitless, Three Billboards Outside Ebbing, Missouri) en die Skotse akteur Dougray Scott (The Hack, The Crow Girl). Plaaslike akteurs soos Tim Theron (Trackers, Heart of the Hunter), Tumisho Masha (Isibaya, Silverton Siege), Frank Rautenbach (Summertide, Beter as Gister), Kim Engelbrecht (Reyka, Dominion), Chi Mhende (Generations: The Legacy, Queen Sono) en Siv Ngesi (The Woman King, Unseen) is ook deel van die rolverdeling.

Wanneer die Londense skakelwese-konsultant Emma le Roux ’n desperate oproep ontvang van haar broer wat dekades tevore verdwyn het, keer sy terug na Suid-Afrika. Sy word ingetrek in ’n dodelike sameswering rondom wildstropery, politieke korrupsie en die geheimsinnige dood van ’n Mosambiekse presidentskandidaat. Met die hulp van haar lyfwag, Martin Dekker, en polisiespeurder kol. Jack Phatudi begin Emma ’n netwerk van mag, geweld en geheime in die Laeveld ontbloot – geheime wat al meer as twintig jaar begrawe lê.

Regie: Jozua Malherbe 
Draaiboek: Deon Meyer, William Schneider, Amy Jephta
Met, onder andere: Abbie Cornish, Tim Theron, Tumisho Masha, Dougray Scott, Kim Engelbrecht, Frank Rautenbach, Chi Mhende, Siv Ngesi

Die loodsepisode van Invisible word op Woensdag 19 Augustus by die Silwerskermfees vertoon. Die reeks sal vanaf 14 Oktober op M-Net (DStv-kanaal 101) uitsaai.

Spinners S2

Silwerskermfees, Spinners

Die bekroonde Suid-Afrikaanse reeks Spinners sal ook sy tweede seisoen by die fees bekendstel. Die reeks, ’n ko-produksie van StudioCanal en MultiChoice, is geskep en bestuur deur Benjamin Hoffman, geregisseer deur Jaco Bouwer en geskryf deur Matthew Jankes en Sean Steinberg.

Die Underdogs het intussen groot sterre in die spinning-wêreld geword en geniet ’n nuwe lewe in Johannesburg. Ethan (Cantona James) besef egter gou dat hy nie van sy verlede kan wegkom nie. Wanneer Hercules hom vir een laaste taak nodig het, word hy weer ingetrek. Terselfdertyd bots hy met die grootste misdaadfamilie in Soweto wanneer hul moeilike seun, Sayi, sy grootste teenstander op die spinning-baan word. 

Regie: Jaco Bouwer
Met, onder andere: Cantona James, Braedon Buys, Dillon Windvogel, Nahum Hughes, Chelsea Thomas, Clementine Mosimane, Aphiwe Mkefe, Luyanda Zwane en Mondli Makhoba 

Die loodsepisode van Spinners S2 word Vrydag 21 Augustus by die Silwerskermfees vertoon. Die reeks sal vanaf 25 Oktober op Mzansi Magic (DStv-kanaal 161) uitsaai. 

Die Bom

Silwerskermfees, Die Bom

Die wêreld was nog nooit só naby aan ’n kernoorlog soos nou nie. Die sogenaamde “Doomsday Clock” staan op 85 sekondes voor middernag. Suid-Afrika is die enigste land in die wêreld wat sy eie kernbomme gebou en toe vrywillig afgetakel het. Die verhaal is een van uiterste geheimhouding, spioenasie, terreur en politieke intrige. Daar word ook gekyk na die land se kernenergie-program die rol van die Koeberg-kernkragsentrale. 

Pieter Steyn, ’n joernalis en dokumentêre filmmaker met meer as 20 jaar se ervaring, ondersoek verskeie kwessies in dié reeks. Soos bekommernisse oor Namakwaland, waar Suid-Afrika se kernafval gestort word; vrae rondom radioaktiwiteit wat in Australiese skape opgemerk is en wat van die hoogs verrykte uraan geword het wat in die land se bomme was. 

Regie: Pieter Steyn
Met, onder andere: Prof. Jo-Ansie van Wyk, prof. André Buys, prof. Anna-Mart van Wyk, Rodney Wilkinson, Barend du Plessis, Abdul Minty, Mike Kantey, Lydia von Wielligh-Steyn en Riaan Cruywagen

Die loodsepisode van Die Bom word Donderdag 20 Augustus by die Silwerskermfees vertoon. Die reeks sal vanaf Woensdag 23 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitsaai. 

Meer as warm gloede

Silwerskermfees, meer as warm gloede

In die reeks Meer as warm gloede word die stilswye en mites rondom menopouse gebreek. Met Antoinette Louw se persoonlike reis, ontmoet ons Suid-Afrikaanse vroue wat openhartig en eerlik praat oor al die veranderinge: slaappatrone en emosies tot breinfunksie, identiteit, verhoudings en intimiteit. Kenners belig die fisiologiese aspekte van menopouse, en hoewel daar nie een enkele benadering tot of behandeling vir menopouse is nie, bied dit ’n insiggewende blik op die rol van hormone. Daar is raad oor leefstylaanpassings, en met hoop en humor word vroue aangemoedig om hulself te aanvaar.

Regie: Hanneke Schutte
Met, onder andere: Antoinette Louw, Marianne Thamm, Melanie Verwoerd, Elsabé Brits, Lucinda Bosch, Zelda la Grange, dr. Renscha van den Berg, dr. Liana Roodt

Die loodsepisode van Meer as warm gloede word Vrydag 21 Augustus by die Silwerskermfees vertoon. Die reeks sal vanaf Woensdag 9 Desember op kykNET (DStv-kanaal 144) uitsaai.  

Tweespalt

Silwerskermfees, Tweespalt

Tweespalt ondersoek een van rugby se grootste wedywerings deur ’n unieke Suid-Afrikaanse lens. Dis ’n verhaal oor die ondersteuners van die Springbokke en die All Blacks, saam op dieselfde bodem, maar nie verenig deur sport nie. Die reeks delf diep in identiteit, lojaliteit, geskiedenis en verdeeldheid. Hoekom ondersteun soveel Suid-Afrikaners die All Blacks met soveel passie? Deur onderhoude met oudspelers, joernaliste en ondersteuners, ontbloot die reeks dekades van spanning gevorm deur apartheid, politiek en persoonlike oortuigings. Deur ikoniese wedstryde en rou persoonlike stories wys dié dokumentêr ’n wedywering wat baie verder strek as wat die telbord weerspieël.

Die reeks is vervaardig deur IdeaCandy.

Regie: Janina Oberholzer
Met, onder andere: Wynand Claassen, Benna October, Breyton Paulse, Victor Matfield, Marco Botha, Heindrich Wyngaard

Die loodsepisode van Tweespalt word Vrydag 21 Augustus by die Silwerskermfees vertoon. Die reeks sal vanaf Woensdag 9 September op kykNET uitsaai. 


Die 14de kykNET Silwerskermfees word van 19 tot 22 Augustus in Kampsbaai, Kaapstad, aangebied. Kaartjies vir filmpremières, TV-loodsepisodes, asook die prestigeryke toekenningsgeleentheid op Saterdag 22 Augustus, is beskikbaar by Quicket. 

Vir die volledige program, besoek www.silwerskermfees.co.za.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies